kategorieë: Bekendes

Cameron Diaz: Sonnig elke dag

Jammer ek’s laat,” sê Cameron Diaz met ’n groot glimlag. “Ek moes ’n draai loop en het ’n reuse-blaas, dit het vreeslik lank gevat om klaar te maak.” En soos ’n wafferse komediant brei sy nog drie minute lank uit oor die toilet-toe-gaan-proses – eerlik, half skokkend en snaaks. Dit is die ware Cameron Diaz. Sy sal jou help om met ’n glimlag deur die diepste waters te kom. Wanneer sy glimlag, sien jy spierwit tande en daardie besonderse blinkblou oë, en as sy eers haar hare oor haar skouers geskud het, lyk die hele wêreld na ‘n beter plek. Maar moenie haar positiewe ingesteldheid en vermoë om die lewe te geniet met ’n gebrek aan talent verwar nie. Cammy is ’n baie talentvolle komediant, maar het ook al haar staal gewys in dramas (My Sister’s Keeper) en aksieflieks (Charlie’s Angels, Knight and Day). Die meisie uit Kalifornië het haar deurbraak 13 jaar gelede saam met Jim Carrey in The Mask (1994) gemaak, en het ’n onvergeetlike indruk op fliekgangers gemaak in There’s Something About Mary (1998) en het kritici beïndruk met haar dramatiese rolle in Martin Scorsese se Gangs of New York (2012) en Being John Malkovich (1999).Dis seker: Die sonnige oud-model staan haar plek vol langs Hollywood se grootste name, en dit met gemak. Sy vier haar veertigste verjaarsdag op 30 Augustus en draai nie doekies om oor haar enkellopende en kinderlose status nie. Sy is ’n tipiese moderne vrou: bekwaam, talentvol, sterk, en sy leef haar lewe soos sy wil en nie volgens ander se verwagtinge nie. Cameron en bekendes soos Jennifer Lopez en Elizabeth Banks is te sien in die komedie What to Expect When You’re Expecting. Die fliek handel oor vyf paartjies wat babas gaan kry en uiteindelik besef dat jy nie regtig vir die lewe se onverwagte draaie kan beplan nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

In jou nuwe fliek speel jy die rol van ’n swanger vrou, wanneer kan ons verwag dat jy verwag?
(Lag). Daar was ’n gerug dat ek gesê het ek wil nie kinders hê nie. Dit het ek nie gesê nie. Eendag sal ek besluit of ek kinders wil hê of nie, maar nou is ek gelukkig en hou van my lewe soos dit is. Ek het nie ’n behoefte daaraan om na iemand anders om te sien nie. As ek kinders gehad het, sou ek nie die ander dinge in my lewe gehad het wat ek nou geniet nie. Ek gee nie om wat mense van my keuse dink nie. Ek is gelukkig en my vriende en geliefdes aanvaar my en my keuses.

Het jou idee van die liefde deur die jare verander?

Dit verander steeds. Ek het nie ’n definisie vir die liefde nie. As jy ’n vooropgesette mening oor die liefde het, gaan jy jou vasloop. Jy moet oop wees vir wat elke nuwe liefde bring, want elkeen is uniek. Jy leer iets nuuts uit elkeen. As jy probeer om dit in ’n boksie te druk en te definieer voor jy dit ondervind het, gaan jy verloor. Ek probeer om dit nie te beheer nie, en leef daardeur soos dit gebeur.

Voel jy terneergedruk wanneer iets in jou lewe nie uitwerk nie?

Ek leef nóú en probeer om my nie te veel oor die toekoms te bekommer nie. Dis nog nie hier nie; dit bestaan nog nie. As ek my heeltyd oor die toekoms bekommer, ervaar ek nie wat nóú gebeur nie. Wanneer mense iets vir volgende week wil reël, vra ek gewoonlik of dit nie tot volgende week kan wag nie (lag).

Jy vier binnekort jou veertigste verjaarsdag, baie geluk!

Ek is bly ek is nou nader aan veertig as aan dertig. Ouderdom is nie vir my iets vreesliks nie. As jy nie ouer word nie, is jy dood (lag) en ek word eerder ouer as om dood te wees. Dis deel van die lewe. Ek dink ek word al hoe beter en gelukkiger namate ek ouer word. Ek weet meer oor myself, oor die wêreld, meer oor wat ek wil hê en hoe om dit te kry. Dis baie bevrydend. Ek leef nie volgens ander mense se standaarde nie, dis nie interessant nie. Die lewe bring goeie en slegte dinge en dis vir my lekker om alles te ervaar en deel daarvan te wees.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Wat is jou droommotor?
Ek is versot op karre! Toe ek ’n kind was, wou ek ’n Ferarri gehad het, die kar het vinnig en cool gelyk. Nou is ’n Aston Martin en Maserati my gunstelinge omdat hulle vinnig en cool lyk. Maar ek bestuur die afgelope tien jaar al ’n Prius asof dit ’n Aston Martin is (lag).

Jy is baie eko-bewus …
My ouers het my geleer dat ’n mens nie moet mors nie, om bewus te wees van wat jy gebruik en hoe jy dit gebruik. Ek kan nie eens drie happies kos weggooi nie! Dit maak my siek. Ek sal dit in Tupperware bêre en later eet. Afhangende van die situasie, moet ’n mens soms toegeeflik wees, want dit help nie jy probeer iets afdwing wat nie gaan gebeur nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Wat is jou gunstelingkos?
Kos is op vele vlakke belangrik, veral vir jou gesondheid. Mense dieet om gewig te verloor, maar as jy behoorlik eet en oefen, sal jy gesond en fiks wees en goed voel en lyk. Ek is mal oor kos, dis een van die grootste vreugdes wat daar is. My swak is gebraaide en souterige kos. Ek is nie ’n suikertand nie en suiker, koek en poeding sal my nie verlei nie. Ek is ’n voorstander van gesonde kos en oefening.

Het jy troeteldiere?

Ek het katte gehad, maar hulle is dood. Katte behoort mos nie aan jou nie. Hulle laat jou wel toe om ’n ruimte met hulle te deel; ek mag in die huis woon en mag daar kuier wanneer ek by die slag by die huis is.

Ek ken jou al soveel jaar en het jou nog nooit kwaad gesien nie. Wanneer laas was jy regtig woedend?
Ek was regtig vies toe hulle gisteraand nie twee skyfies suurlemoen in my vodka gesit het nie (lag). Nee, ek speel net. Ek glo nie woede is die moeite werd nie. Ek het my ma se geduld geërf en is ook diplomaties. Ek glo ’n mens moet rasioneel wees en dinge deurdink. Ek alleen is verantwoordelik vir my lewe en my geluk, en as ek irrasioneel, ongeduldig en ongeskik is, gaan ek sukkel-sukkel deur die lewe kom. Ek probeer so leef sodat ek die meeste uit my lewe kan kry. Wanneer ek my vervies, voel ek heeldag sleg, en dis nie die moeite werd nie.
Wat my wel soms onderkry, is dat mense nie respek vir my privaatheid het nie, maar ek probeer om nie te veel daarop te fokus nie. Soms sal ek dalk heeltemal te lank daaroor mor, maar gewoonlik probeer ek dit vermy.

Waarna streef jy uit ’n persoonlike en professionele oogpunt?

Net ek is verantwoordelik vir my geluk. Ek moet goed kry wat my gelukkig maak. Wanneer ek nie gelukkig is nie, probeer ek so gou moontlik vasstel waarom ek ongelukkig is en wat ek daaraan kan doen. Dalk moet ek ’n kwessie met ’n vriend uitstryk, of oor ’n struikelblok in ’n verhouding kom. Jy doen wat jy moet en gaan aan. Ek haak nie graag vas nie.

Probeer jy mense tevrede stel?
Ek het nog nooit iets gedoen net om iemand anders te behaag nie, nie op ’n slegte manier nie. Ek is regverdig en verwag dieselfde van ander. ’n Mens moet kompromieë aangaan, al weet ek nie altyd presies hoe nie. Jy moet na die groter prentjie kyk sodat jy alle kante oorweeg voor jy ’n besluit neem.

Jy het al soveel verskillende tipe karakters gespeel

’n Fliek vereis die samewerking van ’n klomp mense. Ek moet eers seker maak dat ek my karakter verstaan en wat haar rol in die storie is. Ek het die afgelope 18 jaar geleer hoe om dit te doen. Ek moet my plek in die storie kry. Dis ’n heerlike verbeeldingsvlug en jy kan doen wat jy wil.

Het jy loopbaanplanne?
Nee, ek het nog nooit ’n fliek gekies omdat ek gedink het dit sou goed vir my loopbaan wees nie. Ek doen dit omdat dit na pret lyk. Ek moet vir ’n paar maande aan ’n fliek werk, en dit moet vir my lekker wees. Dit hang ook af waar jy in jou lewe is. Nadat ek drie flieks agter mekaar gemaak het, het my pa gesterf. Ek wou ’n jaar afvat en by my familie wees en rus.

Is dit vir jou lekker om klere te koop?

Ek is nie mal daaroor nie. Klere is so ’n groot deel van my werk, en die aanpassery is fisiek uitdagend en uitputtend. Weet jy hoekom bly ek fiks? Omdat ek so baie klere moet aanpas! Jy moet omtrent soos ’n atleet daarvoor oefen. Weet jy hoeveel keer lig ek kledingstukke bo my kop, of buk om iets aan te trek, of om skoene aan te pas? As ek nie vir ’n geleentheid hoef aan te trek nie, dra ek sommer ’n week lank ’n “uniform” waaroor ek nie hoef te tob nie. Ek kies skoene, ’n serp en baadjie waarvan ek hou en verander net die jeans en top. Ek reis baie en kan nie my hele klerekas saampiekel nie, en dit het my geleer om ’n uitrusting bymekaar te sit.

Hoe voel jy oor ouer word?
Ek dink ek word aantrekliker. Regtig. Veroudering is deel van die lewe en jy kan niks daaraan doen nie. Ons is so behep met die ewige jeug dat ons vergeet hoeveel skoonheid en wysheid die jare bring. Jy kan nie wysheid deur plastiese chirurgie bekom nie. Ons is op hierdie planeet om te leer en as jy nie leer en wyser word nie, kan jy netsowel dood wees. Gun dit vir jouself om met grasie ouer te word. Ek sê nie jy moenie na jouself omsien nie, jy moet juis sodat jy die lewe kan geniet en waardeer. Ek is ook nie gekant daarteen wanneer vroue iets doen wat hulle goed oor hulself laat voel nie. Ek is bloot bekommerd oor mense wat glo hulle word jonger, maar eintlik het hulle vasgesteek; hulle beweeg nie vorentoe nie omdat hulle vasklou aan iets wat nie meer bestaan nie. Dit beteken jy is nie gelukkig met wie en waar jy is nie en leef nie jou lewe voluit nie.

Vertaal deur Hannelie Diedericks
Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.