kategorieë: Sukses en geld

Tuiskantoor – paradys of tronk?

Wonderlik by die huis

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Dis wonderlik om van die huis af te werk sê Zaritha van Wyngaardt van Forest Town in Johannesburg opgewonde. Haar stylvolle tuiskantoor is deel van die huis, maar het ’n buitedeur vir kliënte.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

“Dis vir my belangrik om professioneel voor te kom en daarom bly die deur na die huis stewig toe. Tog is daar van my vriende wat suksesvol van die huis af werk en nie verskoning maak vir die kinders onder hul voete nie. Dit hang seker maar van jou persoonlikheid en die aard van jou werk af.”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Zaritha werk al sedert 1994 van die huis af. Vir haar was dit ’n logiese uitweg toe die kinders opdaag. Sy het voorheen wynproe-geleenthede gereël, maar ná die eerste baba kon sy nie meer die land vol reis nie. Tog is dit ’n tweesnydende swaard om met klein kinders van die huis af te werk.

“Aan die een kant kan jy oor die telefoon praat terwyl jy borsvoed, maar aan die ander kant is dit moeilik om professioneel te klink as die kinders soos maer varkies op die agtergrond skree! Jy het ook die weelde om in ’n krisis beskikbaar te wees.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

“Ek spaar baie tyd omdat ek nou my tyd soos ’n volwassene kan reël. Ek kan die middag afneem om ’n belangrike wedstryd van die kinders by te woon en saans die werk inhaal, of soggens vroeg gim toe gaan en in my gimklere en vuil hare sit en werk. Dis my reg en my voorreg. Die feit dat ek in beheer van my eie tyd is, bevry en bemagtig my.”
Maar jy moet ferm wees met familie en vriende wat vergeet dat jy eintlik werk en vir koffie en ’n geselsie inloer.

Dis belangrik om ekstra professioneel te lyk wanneer jy kliënte spreek. “My ‘kantoorstem’ waarmee ek die telefoon beantwoord, is so drie oktawe laer. Ek hoef net ’n paar werksuitrustings te hê en spaar heelwat geld. Boonop is dit vir kliënte heerlik om my te kom spreek, want ek sal middagete voorsit en dis vir hulle lekker om uit die kantoor te kom.
“My lewensgehalte is soveel beter by die huis. Ek kan oor middagete vinnig swem om af te koel, en ek eet ook gesonder, want ek maak die vorige aand genoeg kos sodat daar oor is vir middagete.”

Selfdissipline is vir sommige tuiswerkers ’n probleem, maar vir Zaritha is dit nie ’n kwessie nie. “My man werk ook van die huis af en hy sê altyd dat die bankbestuurder jou baas is. As jy nie werk nie, verdien jy nie geld nie. Ek is meer gefokus en toegewyd sedert ek van die huis af werk, want as ek tyd af-neem, werk ek harder om dit later in te haal.
“Die nadeel is dat jy vasgevang kan voel as jy nie af en toe kliënte sien nie, en as jy nie ’n sosiale mens is nie, kan jy maklik ’n kluisenaarsbestaan begin voer. Tog mis ek glad nie die buzz van die kantoor nie en dis hemels om nie deel van die kantoorpolitiek te wees nie. Kliënte kan ook soms jou be-skikbaarheid misbruik deur enige tyd van die dag te bel en eise te stel.”

Salig terug by die kantoor

Terésa Coetzee van Florida Hills aan die Wes-Rand is ’n joernalis en die ma van twee seuntjies van sewe en vyf. Sy het twee jaar gelede, ná drie jaar se werk by die huis, weer in ’n kantoor begin werk.

“Dis salig. Ek sal nooit weer van die huis af werk nie. ’n Mens besef nie hoe geïsoleerd jy by die huis raak nie. Die dinamiek in die nuuskantoor is stimulerend en selfs die geskarrel van mense rondom my gee energie af. Ek het by die huis ook baie langer ure gewerk omdat ’n mens maklik gou winkel toe ry, of ’n kind iewers gaan op- of aflaai. En dan sit jy saans of naweke om die werk in te haal.

“Op kantoor het ek vaste ure en smiddae skakel ek die rekenaar af en gaan huis toe. As ek tuis kom, kan ek al my tyd aan my man en kinders wy. Ek is dalk minder ure by die huis, maar ek bestee meer gehalte-ure saam met hulle. Ek werk nooit meer saans of oor naweke nie. Omdat joernaliste spertye het, moet jy jou werk betyds klaarkry. Ek het net ervaar dat my tydsverdeling nie so maklik by die huis was nie.”

Toe sy by die huis gewerk het, het sy ook nie altyd op haar beste gelyk het nie. “Nou moet ek my elke oggend regkry vir die dag.
“Toe ek die werk aanvaar, het ek gewonder of ek nie die grootste fout van my lewe maak en my gesinslewe onder groot druk plaas nie. Nou dink ek nie my kinders trek aan die kortste ent nie. Ek ry so vieruur van die kantoor af en die kinders is smiddae maar so twee tot drie uur sonder my.”

Sy kan reël om belangrike sportwedstryde by te woon en kies die geleenthede wat sy bywoon versigtiger.
Vir beroepsbevordering is dit ook belangrik om gesien te word. “Dis maar ’n geval van ‘uit die oog, uit die hart’ as jy tuis werk.“ Boonop hou sy van die sosiale interaksie. “As jy deur ’n slegte tyd gaan, is dit gedeelde smart as jy in ’n kantoor vol mense werk.”

Terésa meen jong mense moet in ’n kantoor werk. “Jy leer soveel deur idees uit te ruil met kollegas, en daarvoor het jy die dinamiek van ’n span nodig. Ek verkies om ’n kospakkie van die huis te bring, maar gaan sit steeds middagete saam met my kollegas in die kantien al eet ek my eie kos.”

Finansieel kan jy noustrop trek by die huis. “Jy spaar dalk baie deur by die huis te werk, maar binne sekere beroepe is dit moeiliker om elke maand soveel geld te verdien as wat jy in ’n maatskappy betaal word.”

My tuissalon is die beste besluit

My skuif huis toe was die beste besluit, sê Lisel de Wet van Randparkrif in Johannesburg. Sy het ses jaar vir ’n skoonheidsmaatskappy gewerk, maar toe hulle 13 jaar gelede besluit om met ’n gesin te begin, het sy ’n salon by haar huis aangebou.

“Dis moeilik as jy in ’n winkelsentrum werk omdat jy by die sentrum se ure moet hou en gewoonlik naweke moet werk. Ek dink dis elke skoonheidsterapeut se droom om vir haarself te werk. Die groot voordeel is natuurlik dat jy nie uitgelewer is aan die vreeslike huur wat jy in ’n sentrum moet betaal nie. As jy twee slegte maande het, kan jy maklik vasbrand as jy steeds die personeel moet betaal.”

Die aanvanklike kapitaaluitleg is redelik groot omdat ’n skoonheidsterapeut duur toerusting en produkte nodig het. “Ek moes alles nuut aankoop, maar ek het lank voor die tyd beplan vir die uitgawes en toe was dit nie te erg nie. Dis was die moeite werd omdat ek nie huur moes betaal nie.”

En dink maar mooi voor jy personeel aanstel. “Jy kan meer geld maak as jy personeel aanstel, maar jy moet dit opweeg teen die verantwoordelikhede. Sommige van my kollegas kla dat hulle heeltyd moet werk sodat hul personeel verlof kan neem. Dis ook stresvol as jy moet bontstaan as een siek is.”

Die nadeel van ’n eie salon is dat jy alles self moet doen en soms moet skarrel met die skoonmaak voor die nuwe kliënt kom, die verkoop van produkte en afsprake maak. Jy kan ook geïsoleerd voel.

“Ek sorg dat ek en ’n mede-terapeut mekaar gereeld ontmoet en koppe bymekaarsit oor probleme of nuwe idees. Ek woon ook elke drie maande ’n kursus by van die skoonheidshuis wie se produkte ek verkoop. So bly ek in voeling met die jongste onwikkelings, en die wisselwerking met ander mense in jou veld is stimulerend. Dit dien ook as waardevolle klankbord.”

Sy teken op ’n spesialistydskrif in en woon ’n jaarlike skoonheids-ekspo by. “Om dinge interessant te hou, verander ek gereeld die dekor van die salon effens sodat dinge weer vir my nuut voel.”

Kliënte hou van die rustigheid van ’n tuissalon, maar Lisel waarsku dat jy dit altyd professioneel moet hou en nie die grense tussen die huis en die salon moet laat vervaag nie. “Kliënte het al gekla dat hulle by terapeute vir lief moes neem met katte op hul skote en kinders wat onder die bed rondkruip. Ek sosialiseer ook nie met my kliënte nie. Ek weet van terapeute wat eers ’n glasie wyn saam met die kliënt drink en later sleg voel om vir die behandeling geld te vra. As ’n vriendskap sneuwel, verloor jy boonop ’n kliënt.”

Tog moet jy waak dat die kantoor nie jou lewe oorneem nie. “Ek sal soms saans net gou vir ’n halfuur kantoor toe wil gaan om my bestellings uit te pluis en dan twee uur besig wees. Ek het ook kliënte op Saterdae begin neem, maar voor ek my kom kry, kom ek mense tegemoet en bespreek dan op my af naweke. Dis meer ’n geval van jouself dissiplineer as dat kliënte jou misbruik. Besluit vooraf op werksure en hou streng daarby anders ly jou gesinslewe daaronder.
En hou maar die huisstories by die huis. “Ek moes leer om myself te dissiplineer om nie ’n frustrasie van die huis saam met my kantoor toe te neem nie.” Lisel beperk onderbreking deur ’n antwoordmasjien te hê en ’n spesifieke tyd af te spreek as ’n kliënt produkte wil kom koop.

Belastingsvoordele

Daar kan baie belastingsvoordele aan ’n tuiskantoor wees, maar maak seker dat jy van meet af aan ’n belastingsraadgewer spreek sodat jy weet watter aftrekkings vir jou geld, en ook al die toepaslike strokies en dokumente kan bêre.

Skryf duidelik agterop elke strokie waarvoor die transaksie was sodat dit maklik is om later te verwerk. Jy kan uitgawes soos telefoonkoste, versekering en onderhoud van kantoorruimte vir belastingdoeleindes eis, asook die versekering en onderhoud van ’n voertuig wat vir werk gebruik word, en die brandstof-uitgawes wat daarmee gepaardgaan.

Die koste om kliënte te onthaal, werks-gerigte reiskoste, skryfbehoeftes, en ’n toepaslike persentasie van die salarisse van personeel soos huishulpe en tuiniers kan ook moontlik vir belastingdoeleindes in aanmerking geneem word.
Maar dis belangrik dat ’n belastingdeskundige gereeld geraadpleeg word, omdat belastingwetgewing voortdurend verander. Probeer ook om deurlopend dieselfde raadgewer te gebruik, omdat hy of sy dan jou omstandighede leer ken, en vir jou spesifieke en waardevolle raad kan gee.

Kom ’n bietjie uit!

Tuiswerkers wil soms ’n bietjie uit die huis kom. Gaan werk in ’n koffieplek soos Mug&Bean (daar is gewoonlik ’n WiFi-koppeling) as jy vasgekeer by die huis voel. Dis ook die ideale plek om kliënte te ontmoet as jou blyplek nie daarvoor ingerig is nie.

Deel
Gepubliseer deur
Anelle Tewson

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

2 weeks Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

2 weeks Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.