kategorieë: Lees

Krismis op Avondster: Hoofstuk 4

HOOFSTUK 4

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Magdalena vryf oor die meisie se natgeswete voorkop. Die baba maak sagte kreungeluidjies terwyl hy aan sy ma drink. Buite hoor Magdalena hoe mans op die stoep gesels. Sy bid dat dit mense is wat kan kom help. Die bloeding het gestop, maar sy weet die hoeveelheid bloed wat die meisie verloor het, is te veel.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

“Mary? My kind, jy het die pragtigste seuntjie. Voel jy hom aan jou drink? Hy is ’n fris knapie hoor? Ai my kind, word net wakker.”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Josh kom sit by die voetenent van die bed.

“Antie? Hoekom is sy nie wakker nie. En al die bloed? Gaan sy dood, Antie?”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

“Jy moet bly glo, my kind. Kom sit hier by haar en hou haar hand vas. Vertel haar hoe lief jy haar het. Dan bid jy vir haar.”

Magdalena luister na sy kinderlike gebed. Sy glo dit vlieg van Josh se lippe tot by God se ore.

“Ag Liewe Jesus, jy moet Mary help. Sy is ’n goeie girl. Sy is my Mary, my Mary quite contrary. Maak haar oge asseblief oop.

Magdalena luister hoe die stemme van die mans van die stoep tot in die kombuis beweeg. Dan verskyn Krisjan in die kamerdeur.

“Enige verandering?”

“Nee, sy lê nog net so. Wie is daar in die kombuis?”

“Dis drie Oosterse toeriste. Op pad na die Sterrewag. Verkeerde pad gevat.”

“Die tyd van die nag?”

“Dis al dagbreek, my vrou. Dis Kersfees. Watter verskriklike Kerfees.”

Magdalena druk haar man teen haar vas.

“Dis Kersfees, Krisjan. Jy sal sien, vandag gaan ’n mooi dag wees. Het jy vir die mans koffie aangebied? Hulle is seker gedaan?”

“En honger, hulle is besig om jou beskuitblik leeg te eet. Kan skaars Engels praat. Genade vrou, wat gaan hier op ons plaas aan? Vir weke sien ons niemand. En nou is ons huis vol vreemdes!”

Magdalena lag en pomp haar man goedig in die ribbes.

“Ek het jou mos gesê mens weet nooit wie die Here op ons pad stuur nie.”

Josh kom staan voor Krisjan. Hy neem beide sy hande en kyk smekend op na die groot ou man.”

“Oompie? Die Here sal na jou luister, sal jy vir my Mary bid?”

Magdalena vou haar arm om haar man se groot ou lyf. Sy weet onder sy harde dop is ’n klein hartjie.

“Sal jy vir ons bid, my man?”

Krisjan sug hard en kyk op na die plafon asof hy hulp soek in ’n moeilike situasie.

Dan doen hy iets wat soos ’n knop in Magdalena se keel gaan sit. Hy sit sy arm om die skraal jong man se skouer.

“Seun, kom staan hier by my, dan bid ons. “Onse God, dis Kersoggend op Avondster. Ons het ’n moeilike nag gehad. Ons dank U vir die gesonde baba wat vandag hier gebore is, en ons dra Mary aan U op. Ons vra dat U haar lewe sal spaar. Dis in die naam van U seun Jesus wat ons dit vra.”

Lank nadat Krisjan uitgestap het, staan Magdalena nog stil om die omvang van die atmosfeer in te neem. Sy stuur ’n dankgebed op om God te bedank vir haar liewe ou man wat pas die gees van Kersfees uitgestraal het.

XXXXXXX

Magdalena hoor hoe lekker Krisjan en die toeriste in die kombuis gesels. Krisjan se Engels is self nie van die beste nie, maar blykbaar verstaan die klomp mekaar. Die drie mans staan hoflik op langs die kombuistafel as sy inkom.

“This is my wife. Vrou, die mans wil ry. Hulle vra of hulle die baba kan sien.”

Magdalena gaan haal die baba en die mans bekyk die kofiebruin baba met bewondering. Hulle brabbel in hul eie taal en vat versigtig aan die handjies.

“We all baby,” verduidelik een. Magdalena en Krisjan moet na verskeie kinderfoto’s op selfone kyk. Josh staan skaam eenkant.

“This is Josh, the father,” stel Magdalena hom voor.

Die mans skud Josh se hande en dan begin hulle een na die ander banknote in die verskrikte jong man se hande druk.

“For the baby.”

Toe hulle motor se stertliggies by die draai van die tweede hek verdwyn, vee Magdalena haar wange droog. Sy weet haar ou man besef ook dat hier besig is om ’n groot wonderwerk op hulle plaas te gebeur.

“Wat kom hulle by die Sterrewag maak?”

“Vrou, soos ek verstaan, is hulle sterrekundiges. Die een of ander studie wat hulle hier kom doen. Ek het hulle die regte pad beduie. Wat is dit so met almal wat die verkeerde pad in ons koers vat?”

“My man, jy weet, ek dink nie hulle vat die verkeerde pad nie. Die Here stuur hulle. Josh en Mary, hulle het ons net weer kom herinner dat ’n kind se geboorte ’n wonderwerk is. Jy sal sien, Mary gaan ook beter word. Sy gaan leef, want dis Kersfees, my man.”

Krisjan steek sy pyp op en mor die kamma – ’n mor wat Magdalena al weet is meer blaf as byt.

“Jy is seker reg, soos altyd, Magdalena. As David daardie kinders nie gekry het nie. Jy weet hoe min mense ons afdraai vat.”

“Dit moes so gebeur het. Dankie my man, dankie vir wat jy in die nag gedoen het. Ek weet dit was moeilik vir jou.”

Krisjan grom onderlangs.

“Het ek ’n keuse gehad?”

“Nee, jy het nie. Hier was niemand anders nie. Dis die werkie wat die liewe Heer vir jou vir hierdie Kersfees uitgesoek het.”

Die ou man sug swaar.

“Ja, wat ’n Kersfees. Die dag gaan nog lank word. Ek wonder hoe laat Kris gaan bel.”

XXXXXXX

Josh staan nog met die baba in sy arms in die kombuis. Hy wieg die kind heen en weer en sing Jingle Bells. Voor hom op die kombuistafel lê ’n hopie note.

“Jissie Antie, kyk net al die geld wat die Chinamen vir die baby gegee het! ’n Klomp geld. Hulle sê dis ’n good luck baby dié. Daai een hy het die baby in sy taal gebless. Dink antie dis ’n goeie ding dat die vreemde mense so vir die kind bid as hulle nie Christians is nie?”

“Hulle bedoel dit goed, Josh. Hulle gebede sal by die regte plek beland. God verstaan ander tale ook.”

“Mary? Dink Antie sy gaan ok wees?”

“Die oom gaan weer probeer om ’n ambulans te kry. Anders moet ons self ry. Sy moet by ’n hospitaal kom.”

Hulle gaan lê die baba weer saggies by Mary neer. Hy drink gulsig en sterk aan sy mamma. Mary begin kreun en probeer bedwelmd regop kom.

“My Mary! Praize God. Jirre as jy vandag hier ’n miracle laat gebeur, ek sweer ek sal die beste dada vir die laaitie wees. Ek sal hom alles leer. Ek sal vir Mary oppas.”

Magdalena vee Mary se natgeswete voorkop weer af.

“God hoor jou Josh, Hy hoor. Mary? Hoor jy my?”

Mary maak haar oë half oop.

“Dis ’n goeie teken as sy begin bykom. Bring vir my skoon koue water uit die kombuis, ek wil haar weer afvee. Sy bly warm.”

Die foon lui verder af in die gang.

“Dis seker nou Kris! Krisjan!”

Maar Krisjan is eerste by die foon.

“Seun? (STILTE) Ja, Geseënde Kersfees vir jou ook. (STILTE) Hier? Ons het ’n vreeslike nag gehad. Ek en jou ma het ’n baba gevang! (STILTE) Nee, ’n mensbaba! Die mense se kar het hier naby gaan staan. Die hitte het die meisie gevang en toe gaan sy in kraam. (STILTE) Pragtige bulletjie. Te pragtig. (STILTE) Wag, hier is jou ma. Jy sal moet raad gee, die meisie lyk nie te goed nie. Sy het baie gebloei. Maar ’n ambulans kom hopelik later van Laingsburg (STILTE) Dis reg, jy ook. Hier’s jou ma. Ek moet krale toe.”

Magdalena sien hoe haar man trane afvee. Kris is sy trots. Al boer Kris nie, is hy sy pa se groot trots.

Soos dit ’n ma betaam, berispe sy Kris eers oor hy so rondloop.

“My kind! Waar het jy rondgeloop? Ons het gebel en gebel. (STILTE) Dit was ’n vreeslike geboorte. (STILTE) Sy het gesukkel want sy was swak van hitte-uitputting. Sy het baie gebloei. (STILTE) Ja, dit bloei nie meer nie, maar sy raak soms bewusteloos. (STILTE) Die mense is van die Kaap. Nog bloedjonk. (STILTE) Van die Kaapse Vlakte. (STILTE) Ja, (LAG) jy ken jou pa, vreeslik gemor, maar hy is nou kalm. (STILTE) Kan jy dit nou glo? Ja, sy knor is mos maar nie te ernstig nie. Hy het maar ook geskrik toe die meisie so swak is. (STILTE) Stuur liefde vir Michelle. Wanneer bring jy haar om vir ons te wys? (STILTE) Ons sal seker later almal saam Kersete eet. (STILTE) Jou pa? Het hy ’n keuse?”

XXXXXXX

David hou in ’n stofwolk voor die agterdeur stil. Sonder sy ma.

“David! Waar’s jou ma?”

“Ai Mevrou, dit gaan baie sleg daar by oompie Koos. Ma kan regtig nie kom nie. Maar sy stuur hierdie bossiemedisyne. Mevrou moet dadelik vir die vrou twee eetlepels vol gee en daarna een elke uur.”

Krisjan bekyk die botteltjie agterdogtig.

“Vrou, jy kan nie vir Mary daai goed gee nie. Sy begin nou net beter lyk. Die baba drink aan haar. Netnou? Watse goed is dit, David?”

“Ag my man, as Anna iets gemeng het, vertrou ek dit.Sy ken haar bossies.”

Krisjan weet as hy ’n geveg nie gaan wen nie.

“Ek hoop jy weet wat jy doen. Kom David, ons moet voor middagete daardie skape gaan haal wat jy daar by die hoofpad-kamp gelos het. Hoop hulle is nog daar.”

David stap gewillig saam. As die Meneer gepraat het, het hy gepraat.

“Is reg Meneer, en Meneer, Geseënde Kersfees. Ma vra of dit nog reg is dat die statte se kinders vanmiddag kom? Meneer weet? Met die ding met die vrou en die baba?”

Magdalena luister glimlaggend hoe haar man se hart verkrummel.

“Ja jong, is reg so, jy kan maar vir Harold met die trekker en trailer stuur om hulle te gaan haal.”

David vertel opgewonde van die middag se konsert.

“Die kleintjies oefen al weke lank aan hulle show. Om te dink net anderdag was ek ook in die show, onthou Meneer?”

“Ja, en jy was vrek stout ook. Stoutste engel in die koor. Amper die hele spul aan die brand gesteek het met jou kers!”

“Lekker tye Meneer, ek sal dit altyd onthou, die lekker tye op Avondster.”

XXXXXXX

Mary sit half regop teen die kussings. Josh hou aan haar hand asof sy lewe daarvan afhang.

“Mary? Tannie is so bly jy is weer met ons. Jy het ons laat skrik hoor!”

“Ek vertel die ding vir haar Antie, hoe baie ons gebid het. Die oompie ook.”

Mary verkyk haar aan die baba.

“Hy is pragtig, nê Antie?”

“God het vir julle ’n volmaakte kindjie gegee, en, julle moet onthou om altyd vir hom te vertel watter wonderwerk sy geboorte was. Kom, sluk hierdie medisyne wat David se ma gestuur het. Ek glo dit gaan jou sterk maak.”

Magdalena wys haar hoe om die baba te laat drink.

“Hy drink sterk nê? Wens so my mamma kon hier wees.”

“Die oom sê ons moet jou ma bel, sy moet weet van jou en die baba. Die oom gaan eers jou pa bel. Moenie bekommer nie, die oom sal weet hoe om hom te hanteer. Dan praat ons daarna met jou ma. My kind, jy was amper dood, jou ma moet weet hoe dit met jou gaan. Dis haar reg.”

Josh rek sy oë groot oor die nuus.

“Ja, Mary, dié oompie is ’n kwaai ene, hy weet hoe om met die Here te praat, en die Here luister as die oompie bid. Genuine. Hierdie oom is die regte man om met Daddy te praat.”

Mary begin huil.

“Ek wens my mamma was hier. As als beter is, gaan haal ons my mamma, hoor jy Josh?”

“Net so Mary, Mary quite contrary, net so.”

XXXXXXX

Krisjan bring die foon met ’n verlengtou na die slaapkamer. Hy sit op die stoel langs die bed en bel die nommer wat Josh neergeskryf het.

“Hallo? Mevrou, kan ek met Pastoor praat? (STILTE) Dis Krisjan Naudé van Sutherland, ek het Mary en Josh hier. (STILTE) Pastoor, luister nou baie mooi na my. Die kinders is veillig hier op my plaas, en voor jy by hulle kan uitkom, moet jy verby my kom. (STILTE)

En ek, is ’n bebliksemde ou man. Jy gaan hierdie kind nooit weer met jou vuiste bydam nie, verstaan jy my? Jou kleinkind is vanoggend gebore, ’n volmaakte baba, en jou dogter is byna dood. (STILTE) Ons het haar lewe van God af gebid en jy en jou vuiste bly van haar af weg. En laat ek net hoor dat jy haar ma weer slaan. Ek het vriende in die polisie daar in die Kaap. Hulle sal vir jou kom uithaal, pastoortjie, dan sal jy voel hoe om met iemand van jou eie size te baklei. En nou, gaan roep jy jou vrou om met Mary te praat. En as jy haar keer, bel ek my vriende. (STILTE) Mevrou, ek het Mary hier by my, sy wil met jou praat.”

Mary se stem is sag en huilend.

“Mamma! Die baby, hy is gebore, hy is so pragtig. Al die vingers en tone, ’n seuntjie! (STILTE) Ons het verdwaal en toe gaan staan Josh se kar. Maar die Here het ’n oompie en antie gestuur anders het die son ons vrek gebrand. (STILTE) Ek het baie gebloei Mamma, ek het gevoel hoe ek wegswewe, maar iets het my heeltyd teruggehou. Dis die Here Mamma, Hy het my teruggestuur, na Josh en my baby. Is Mamma ok? Het Daddy?

Ek worry oor Mamma, kan ma nie by Josh se mammie gaan bly tot ons terug is nie? Asseblief Mamma?”
Krisjan neem met die groetslag die foon by Mary.

“Mevrou, ek hoop die pastoor is naby sodat hy my kan hoor. Sê vir hom ek het elke woord bedoel wat ek sê. As hy weer aan jou raak, laat sluit ek vir hom toe. Mary is nog swak, ’n ambulans kom haar haal, sy kan weer bel as sy beter is.”

XXXXXXX

Josh en David is doenig in die kombuis en eetkamer. Krisjan deel bevele uit en die twee jong mans spring. Ekstra plekke word aan tafel gedek en kos word opgewarm.

“Josh, Mevrou het gesê ek en jy en Meneer eet aan tafel en Mevrou en Mary in die kamer.”

Josh verkyk hom aan die silwer eetgerei.

“Hei man, fancy stuff. Lyk soos ’n hotel!”

“Is Mevrou se beste goed, moenie daai borde laat val nie.”

Krisjan val hulle knorrend in die rede.

“Is julle twee klaar? Ek pak solank die opskepbakke op die tafel. Ek is honger. En, gaan was julle hande. Julle kom sit nie so aan tafel nie!”

“Ja Meneer, maak so! Kom Josh, ons beter spring.”

Magdalena kom inspekteer die tafel en skuif die messegoed netjies reg.

“En toe, my man? Is julle reg? Darem meer plekke aan tafel as net twee armsalige oumense, né my man?”

Krisjan brom.

“Bleddie Capey en plaasvolk aan my tafel, jy kan bly wees dis Kersfees, anders …”

Maar sy vrou praat hom dood.

“Sien jy, nou het ons genoeg kos vir almal. Ek het jou mos gesê mens weet nooit wie die Here almal op ons pad stuur nie.”

XXXXXXX

Die plaasvolk se kinders se Kerskonsert is soos gewoonlik ’n effense chaos met skaapwagters wat Josef met hulle stawwe bydam en Maria wat op die top van haar stem gil dat een van die engele haar geknyp het.

“Sien jy my man, dit was die mooiste Kersspel nog!”

Sy maak of sy nie raaksien hoe aangedaan die ou knorpot is nie.

“Jy sê dit elke jaar.”

Sy trek speels aan sy vals wit baard.

“Waar het jy toe jou pa se Kersvaderpak gekry? Sien dit sit maar knap en jy ruik die ene motballe!”

Krisjan kan nie help om saam te lag nie.

“My ma draai in haar graf om oor die heidense klere!”

“Het jy gehoor hoe jil en skree die kinders? Vir hulle was jy vandag die regte egte Kervader.”

Krisjan probeer sy siniese waardigheid behou.

“Hulle kan mos sien dis ek.”

“Ag Krisjan, partykeer sien jou kop een ding en jou hart glo ’n ander. Veral as jy ’n kind is. Dankie, dankie vir hierdie Kersfees, my man.”

Sy soen Kersvader op die wang.

“Lyk my elke jaar is daar moles in die engelekoor. Was dit Minnie se Jantjie en klein Bees wat so vuisgeslaan het? Mens het net gesien gansvere waai! Foei, en hulle ma’s het weke lank aan daardie vlerke gewerk. Het vir my gelyk die Josef en Maria was ook effens haaks! Die arme baba Jesus is maar taamlik hardhandig behandel!”

Al weet die plaaskinders dit is Krisjan agter die Kerspak, maak hulle of hulle dit nie weet nie. Kort-kort kom pluk een versigtig aan sy baadjie of baard.

Kersvader probeer sy bes om sy rol goed te speel en gee soms ’n goedige:” Ho ho ho.”

“Klein wetters moet vasgevat word. Heeltemal te Hans, sê ek jou.”

“Ja, my man, ek hoor jou. Wag, lyk my hulle gaan vir oulaas sing voor hulle ry. Toe Krismisvader, vat die sak lekkers en gaan staan gereed as hulle by die treiler opklim.”

XXXXXXX

Magdalena help Josh om ’n paar goedjeis vir Mary vir die hospitaal in te pak. Mary lê haar en verkyk aan die baba.

“Josh, die ambulans kom netnou. Jy beter Mary se tannie gaan bel en sê hulle neem haar Laingsburg toe.”

Die bossiemedisyne het ’n wonderwerk verrig. Mary lyk sommer heelwat sterker.

“Jissie my Antie, wat is in daai bossiegoed wat jy Mary gegee het? Mens kan baie geld maak met daai goed. Ek sien al die TeeVee advertisement, Wonder Cure for a Miracle.”

“Belowe my jy gaan baie mooi na Mary en die baba kyk? Het julle al op ’n naam besluit?”

Josh staan op en kom staan in groot erns voor Magdalena.

“My Antie, kyk na my, hierdie man is gecure van alle sone, van nou af loep ek die straight and narrow. Sal Antie die oompie roep? Ons wil hom iets vra.”

Krisjan kom by die kamer ingestap, steeds in sy Kersvaderpak.

“Ek kan nie wag om uit hierdie warm klere te kom nie.”

Magdalena kan nie help om te lag nie.

“En ek kan nie wag om die foto’s vir Kris te stuur nie!”

Krisjan gee sy gewone brom-antwoord en begin weer uitstap, maar Josh keer hom.

“Wag eers Oompie, ons wil iets important vra. Oompie moet eers die baby vashou. Ons het gewonner of ons die baby se naam nou kan gee?”

Krisjan Hou die baba ongemaklik vas.

“Nou wat gaan sy naam wees? Dit beter ’n goeie naam wees want hierdie klong gaan nog groot dinge bereik, ek voel dit aan.”

Josh staan nader. Hy hou Mary se hand vas.

“Oompie, dis hoekom ons gewonner het, kan ons hom maar Krisjan noem?”

XXXXXXX

Krisjan en Magdalena staan op die stoep en kyk hoe die ambulans wegry. Die son begin sak oor die plaas. Magdalena vee die trane weg.

“Ag ek hoop hulle gaan ok wees. Sy lyk darem heelwat beter.”

“Genade vrou, wat is in daardie mengsel van Anna?”

“Ek weet nie, maar ek glo geloof, hoop en liefde is van die bestanddele wat Anna altyd gebruik.”

Krisjan steek sy pyp op en blaas ’n paar rustige rookwolke in die lug.

“Kris het netnou gebel toe jy Mary help inpak. Hy wou hoor hoe dit met haar gaan. Ek het vir hom gesê hy beter meer kom kuier anders gaan hy sy erfporsie kwyt wees. Daar is mos nou nog ’n Krisjan wat kan aanspraak maak op die familiegrond.”

Magdalena stuur dankgebede op. Haar ou knorpot kon toe nie die vrede van Kersfees weerstaan nie.

“Dis so ’n lekker laatmiddag, my man. Kom ons stap af stalle toe net om bietjie stilte te kry. Die plaas was ’n malhuis van gister af.”

“Ja dit was. Wie sou gisteroggend kon dink al die goed kan hier op Avondster gebeur?”

Die twee oumense stap hand aan hand die grondpad af.

“Krisjan, soms vergeet ek om te kyk hoe mooi dit hier by ons is. Hoe mooi is al die kleure in die lug noudat die son gesak het.”

“En daar kom die eerste sterre uit. Jy is reg, ek sien dit ook nie meer altyd raak nie.”

“Kyk my man, kyk net!”

“Ek sien, die aandster hang vanaand laag oor ons huis. “

EINDE

* Lees ook hoofstuk 1-3 hier

Deel
Gepubliseer deur
Anelle Tewson

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.