kategorieë: Bekendes

Krotoa van die Kaap

Vir langer as drie honderd jaar was daar min belangstelling in Krotoa (Eva vir die Hollanders), ’n Khoi-meisie wat na Jan van Riebeeck se kinders omgesien het, en tussen die Hollanders en die Khoi-Khoi getolk het.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Maar die afgelope paar jaar was Krotoa nie net ’n karakter in die gevierde Afrikaanse roman Eilande deur Dan Sleigh nie, maar het sy nou die wêreldverhoog betree in ’n Suid-Afrikaanse rolprent oor haar lewe.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Krotoa van die Goringhaicona (die Strandlopers) was die niggie van Autshumao, ’n Khoi-leier en tolk vir die Nederlanders. Die blanke setlaars het Autshumao Harry (Herrie) genoem.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Daar is verskillende stories oor hoe Krotoa in die eerste kasteel beland het. Sommige sê sy het gekies om vir die kommandeur en sy vrou te gaan werk. Sy was toe reeds ’n paar Hollandse woorde magtig nadat sy as kind op ’n Hollandse skip gewerk het wat in die Kaap anker gegooi het. ’n Ander storie wil dit hê dat sy ’n weeskind was en dat haar oom Autshumao haar na Van Riebeeck geneem het en dat hy voordeel uit die transaksie getrek het.

Hoe ook al, die elfjarige Krotoa het in die vroeë dae van die Hollandse nedersetting aan die Kaap as kindermeisie vir Van Riebeeck se vrou, Maria, gaan werk.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Van Riebeeck het haar vir die eerste keer in ’n dagboekinskrywing in Januarie 1654 genoem. Volgens Eilande het sy Jan van Riebeeck as ’n vaderfiguur beskou en sy het haar bes gedoen om hom tevrede te stel, en nie net Nederlands goed bemeester nie, maar sy kon ook Engels en Portugees praat. Sy het Maria in stemtoon en maniere nageaap en saam met die gesin aan tafel geëet. Sy het Oosterse klere en Hollandse klompe gedra. Sy was ontvanklik vir die Christelike geloof waaroor Maria met haar gepraat het.

Namate Krotoa al hoe meer vertroud geraak het met Nederlands en met die koloniste se gewoontes, het sy as tolk tussen die twee tale en kulture opgetree. Omdat sy verskeie Khoi-Khoi-stamme geken het – onder andere ook vir Oedasoa, ’n opperhoof wat met ’n suster van haar ma getroud was, het sy vir Van Riebeeck waardevolle inligting oor die Khoi-Khoi se politiek en planne vertel. Eers het dit die Hollanders gehelp om vee by die Khoi-Khoi vir tabak, koper, krale en drank te ruil, later oor hoe die Khoi se koppe oor oorlog werk.

Op van die togte na die binneland het sy haar kasteelklere weggebêre en tradisionele Khoi-uitrustings gedra en soos die Khoi op ’n bees gery.

Die vredevolle onderhandelings tussen die twee kulture het nie lank geduur nie. Toe dit vir die Khoi duidelik word dat die Hollanders gekom het om te bly, het hulle Krotoa as ’n verraaier beskou.

Toe die konflikte oor beeste en grond heftiger geword het, is die Vryburgers se huise afgebrand en is daar strafekspedisies teen die Khoi uitgestuur.

Krotoa het probeer om alliansies tussen die Hollanders en die Khoi te bewerkstellig. Een keer het sy selfs die kommandeur so ver gekry om ’n vioolspeler te stuur om ’n potensiële bondgenoot te vermaak.

Sy het ook sterk verskil van Doman wat die eerste Khoi-Hollander-oorlog in 1659-60 begin het. Krotoa het geweet dat as die Khoi die oorlog verloor, die Hollanders hul grond sou afneem. Dit het dan ook presies so gebeur. Doman was wel ’n briljante strateeg, maar hy is vroeg in die oorlog reeds gewond. Die Hollandse soldate en boere was verbaas omdat Krotoa, wat ’n Christen geword het, ook vir Heitsi Eibib om leiding gevra het. Maar dit was Krotoa wat aan die einde van die oorlog as die vredemaker uitgeblink het – “waarskynlik die hoogtepunt van haar loopbaan aan die fort”, haal The Mail & Guardian vir dr. Willa Boesak, kenner van dié mense, aan.

Van Riebeeck is in 1662 na Malaga in Oos-Indië verplaas en die jong Krotoa was “vaderloos”.

Intussen het Krotoa en die Deense medikus Pieter van Meerhof op mekaar verlief geraak. Pieter het haar by die kasteel besoek en hulle het laatmiddag saam met ander jongmense langs die strand gaan stap. Pieter was, volgens Eilande, bekoor deur die jong meisie wat so anders as die Hollandse meisies aan die Kaap was.

Saam met Pieter, wat ’n hoë pos as soldaat in die Hollandse Oos-Indiese kompanjie gekry het, het sy gewerk om die Hollandse handel na die buitewyke van die nedersetting te bewerkstellig.
Hulle het drie kinders gehad. Die oudste, Pieternella, is die stammoeder van verskeie Afrikaanse, gemengde ras en selfs swart families. Twee van Krotoa en Pieter se kinders is gebore voordat hulle aan trou begin dink het.

Volgens Eilande het die nuwe kommandeur, Zacharias Wagenaar, Krotoa en Van Meerhof se “troubelofte op 26 April 1664 self ingesweer, in die bysyn van hulle twee kinders en ander getuies. Dit was die eerste keer, het hy gesê, dat ’n Europeër volgens die Christelike formulier met ’n Kaapse inboorling sal trou. Hy het hulle alle heil en seën toegewens. Daarna is die gebooie op drie Sondae afgekondig, en op 2 Junie is hul huwelik in die raadsaal voltrek, net ná die kerk.”

Dit was tydens kommandeur Wagenaar se tyd aan die Kaap dat Van Meerhof die pos as bevelvoerder op Robbeneiland aangebied is. Volgens Sleigh se vertelling in Eilande was hy nie gretig nie, maar Eva wat Robbeneiland nie geken het nie, was heel geesdriftig omdat sy dan meer van haar man sou sien en hy saans tuis sou wees. Maar sy is gou ontnugter.

Nie Pieter of Eva was gelukkig op Robbeneiland nie. Dit was te afgesonder, te onherbergsaam, te windverwaaid, sonder enige stimulasie. En vir Eva heeltemal te ver van haar eie mense.

Die kommandeur ná Wagenaar, Cornelis van Qualberg, het Meerhof na Oos-Afrika, Mauritius en Madagaskar gestuur om slawe te koop. Pieter is op Madagaskar in diens van die Kompanjie oorlede.

Krotoa se lewe het nou baie moeilik geraak. Sy moes nie net sonder Van Riebeeck se beskerming klaarkom nie, maar was ook nou ’n jong weduwee wat moontlik geen vriende onder die ander koloniste gehad het nie. En sy was bitter eensaam op Robbeneiland.

Ook het Pieter se dood geweldige finansiële implikasies vir sy dertigjarige weduwee ingehou. Volgens Eilande het sy niks gekry nie: “ … Pieter van Meerhof laat twee testamente na. In een gee hy sy besittings aan sy ou vader in Denemarke. Die ou vader sterf blykbaar, want in die tweede testament laat Pieter dit na aan die armes van die Kaap. Albei testamente is voor sy huwelik opgestel, en omdat hulle in gemeenskap van goedere getroud was, is altwee ongeldig. Die weduwee het geen testament in haar guns nie, en besit niks wat iets werd is nie, behalwe ’n slaaf … Alles wat hulle gebruik, kooi, tafel, klere, leie, potte en pan, behoort aan die Kompanjie en moet eendag teruggegee word.

“Daar is geen kontantuitbetaling aan die weduwee vir die verlies van die broodwinner nie, maar sy kry ná amper ’n jaar gratis woning aan wal … As die Kompanjie kontant aan haar voorsien het in haar armoede, onder watter voorwendsel ook al, sou sy beslis haar kinders kon onderhou het, sonder prostitusie.”

Nadat sy in die nuwe kasteel saam met haar drie kinders gaan bly het, word sy van dronkenskap, prostitusie en kinderverwaarlosing beskuldig en in die kerkers van die nuwe kasteel gegooi. Haar kinders is in pleegsorg geplaas en sy is na Robbeneiland verban. Daar is sy in 1674 op ’n baie jong leeftyd – 32 jaar – oorlede. Sy is in die Kasteel begrawe.

Krotoa ná haar man se dood

Oor Krotoa se gedrag net die volgende: Dit moet in aanmerking geneem word dat die Khoi taamlik vry grootgeword het in teenstelling met die formele, stywe lewe in die kasteel. Volgens Khoi-tradisies kon jy nie grond of iemand anders besit het nie. Hulle het ook nie manlike chauvinisme geken nie. Ook het dié mense nie drank geken soos die Europeërs wat dit al eeue lank geniet het nie. Die Khoi het dus geen genetiese weerstand teen drank gehad nie en het maklik daaraan verslaaf geraak.

Baie eerstes vir Krotoa

Sy was nie net die eerste Khoi-Khoi wat met ’n Europeër getroud is nie, sê dr. Willa Boesak, navorser oor die Khoisan in ’n berig in die Mail & Guardian (5 Sept. 2016). Krotoa was ook die eerste jong Khoimeisie wat in ’n Europese gesin aangestel is om na die kinders om te sien en met huistake te help. (Sy is volgens Eilande met brood, tabak en arak rysbrandewyn “betaal”.) Sy was ook die eerste vrou wat as tolk tussen die Hollanders en die Khoi aan die Kaap gebruik is en die eerste Khoi-Khoi wat in die Hollands Gereformeerde Kerk gedoop is en ’n Christelike begrafnis in die Kasteel gekry het.

Gedenkdiens in 2016

In Augustus 2016 is ’n gedenkdiens ter nagedagtenis aan Krotoa in Kaapstad gehou. Verskeie hooggeplaastes van die regering en afstammelinge van Krotoa het dit bygewoon.

Krotoa se dogter in die letterkunde

Buiten Dan Sleigh se veelbekroonde Eilande waarin Pieternella, Krotoa en Pieter se dogter, se lewe en voorlewe deur ’n aantal manlike karakters beskryf word, is Pieternella se jong lewe toe sy en haar broer Mauritius toe is, die kern van Dalene Matthee se jeugroman Pieternella van die Kaap. Albei die boeke is deur Tafelberg uitgegee.

Die rolprent

Die prent wat in Augustus 2017 is, gaan oor die lewe van die vurige Khoimeisie Krotoa en haar kennismaking met die Hollandse kultuur. Sy probeer die twee wêrelde met mekaar versoen, maar word uiteindelik deur haar stam verwerp en deur die Nederlanders vernietig.

Video: Krotoa-film se amptelike lokprent vrygestel

Die regisseur en vervaardiger Roberta Durrant se Suid-Afrikaanse TV-produksies, onder meer Home Affairs, Sokhulu and Partners en Madam & Eve is internasionaal vir verskeie pryse benoem. Die spelers in die hoofrolle van Krotoa is plaaslik bekend: Crystal Donna Roberts speel die naamrol, Armand Aucamp is Jan van Riebeeck en Marcel van Heerden Zacharias Wagenaar.

Volgens die rolprentmakers wil die verhaal met sy ryk en sterk karakters wat verskillende standpunte oor kolonisasie huldig, ’n unieke perspektief op ’n gedeelde Suid-Afrikaanse en Nederlandse geskiedenis bied. Identiteit, die behoefte om aan te pas en versoening is die universele temas van die sterk verhaal, volgens die regisseursnotas.

Die prent het voor sy plaaslike bekendstelling heelwat aandag oorsee getrek en was ’n treffer by internasionale feeste. Dit het ses amptelike keurings by internasionale rolprentfeeste gekry en agt pryse – onder meer ’n Beste Rolprent van die Fees-toekenning by die Depth Of Field International Film Festival, ’n platinum-toekenning by die Internasionale Rolprenttoekennings, ’n diamant-toekenning by die Wêreldfees vir Rolprentmakers en ’n Wêreld-platinumtoekenning by die World Woman-toekennings.

Plaaslik is die prent reeds deur sowat *23 500 kykers gesien (*getal korrek teen tyd van publikasie). Met nagenoeg 1½ miljoen rand in verdienste, het dit steeds ’n plek in die amptelike top 10 van die nasionale rolprenttrefferlys.

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

Kokkedoor se inskrywings is oop! Is jy gereed om oor die kole gehaal te word?

Soos in die eerste aflewering van Kokkedoor Vuur & Vlam in 2023, moet deelnemers vanjaar…

7 hours Gelede

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

2 weeks Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

2 weeks Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.