kategorieë: Funksie artikels

Leandie du Randt en die mans in haar lewe

* Hierdie artikel het in die Desember 2015-uitgawe van rooi rose verskyn.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Leandie se talent ken skynbaar geen perke nie. Op 27 kan sy veel meer as net fliek- en sepierolle agter haar naam skryf. Sy was in 2014 naaswenner van die werklikheidsreeks Strictly Come Dancing, en het in dieselfde jaar ’n topverkoper-selfhelp-boek vir tienermeisies gepubliseer. Haar B.Com.-graad en honneursgraad in bedryfsielkunde aan die Universiteit van Johannesburg het sy cum laude geslaag, en in haar eerste jaar is sy as die beste eerstejaarstudent aangewys. En wanneer hierdie uitgawe op die rakke verskyn (middel-November 2015), sal sy die pas getroude mevrou Bouwer Bosch wees.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

En as jy dalk gewonder het: sy is nog gaaf ook, en diep gelowig, en baie bewus van al haar seëninge. Nie dat sy terugsit en wag vir die lewe om te gebeur nie. Inteendeel.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Ons ontmoet mekaar op die stel van Binnelanders, die kykNET- sepie waarin sy deesdae die rol van Ivanka vertolk. Maar sy is geen TV-groentjie nie. Haar eerste rol was dié van Mieke in Getroud met Rugby, en vir haar vertolking van Lea in Vlug na Egipte is sy met ’n Huisgenoot Tempo-toekenning vereer.

“Ek was al in ’n paar reekse sedert 2005, maar danksy Ivanka sien mense my nou raak.”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Op die silwerdoek was sy onlangs te sien in Hollywood in my Huis en vorige flieks op haar kerfstok sluit Klein Karoo, Die Windpomp, Strikdas en Mooirivier in. Glad nie sleg vir iemand wat eers op universiteit half per ongeluk in die dramawêreld beland het nie. En dit alles danksy ’n skoonheidskompetisie. Haar prys as die Skoonveld-koshuis se Mej. Persoonlikheid was ’n dramakursus by die bekende aktrise Brümilda van Rensburg.

“Ek wou drama doen vir myself, en het dit nooit eens as loopbaan oorweeg nie,” vertel sy in haar kenmerkende heserige stem.

Maar Brümilda het duidelik gedink sy het meer talent, en haar vertel van en help voorberei vir die oudisie vir Getroud met Rugby. Dit was so hittete of haar dramabootjie het sommer in die hawe gesink.

“Ek daag toe by die oudisie op ‘in karakter’, met die grimering en klere wat ek dink die karakter sou dra,” onthou sy laggend. (Sy het ’n oudisie gedoen vir die rol van Kiki.) Die regisseur Cobus Rossouw jnr. was nie beïndruk nie.

“Hy het my dadelik gestuur om my grimering te gaan afwas, en ek was so geïntimideer dat ek in trane uitgebars het. Ek het eers later geleer jy gaan verkieslik oudisies toe sonder grimering en dinge sodat die regisseur ’n beter kans het om jou potensiaal vir verskillende rolle te kan beoordeel.”

Sy het daardie eerste oudisie afgelê met rooi oë en ’n skoongeskropte gesiggie, en het glad nie verwag om weer ’n woord daarvan te hoor nie.

“Ek was stomverbaas toe ek teruggeroep is vir ’n opvolg-oudisie.” Vier oudisies later – “drie van hulle het in trane geëindig” – het sy die rol van Mieke gehad, ’n karakter wat spesiaal vir haar geskep is.

Vandag beskou sy Cobus as een van die mans wat ’n vormende invloed op haar lewe gehad het. “Hy het my met daardie oudisie gedruk sodat ek kon wys hoe graag ek ’n aktrise wil word, en hy het my alles geleer wat ek nou van toneelspeel weet. Ek was maar negentien toe ons die eerste reeks van Getroud met Rugby verfilm het, en was meer as een keer in trane op stel. By Cobus het ek ook geleer om nooit kritiek op my werk persoonlik op te neem nie.”

Johan Scholtz, wat haar pa in Getroud met Rugby gespeel het, is ook op die lysie van spesiale mans in haar lewe.

“Hy het my baie gehelp op stel en van dinge soos stel-etiket geleer. Hy is ’n toegewyde Christen en vir baie jonger akteurs ook ’n rolmodel as dit kom by die uitlewing van geloof in die werksplek. Johan het my geleer dat jy nie soos die bedryf hoef te word net omdat jy daarin werk nie, en om nooit te oordeel net omdat iemand anders as jy is, of anders as jy glo nie. ‘Raak almal met liefde aan,’ sê hy altyd. Johan se persoonlikheid is baie soos my pa s’n. Is dit nie wonderlik nie? Hier beland ek die eerste keer op stel, en ’n man soos my pa speel my pa.”

Leandie glo jy kan leer by elke mens wat jou pad kruis.

“Almal laat ’n stukkie van hulself by jou agter. Daarom glo ek ook jy moet elke mens behandel asof hy of sy belangrik is. Jy kan iets uit elke situasie gebruik om jou te laat groei.”

Voordat sy met Bouwer begin uitgaan het, was sy twee jaar lank in ’n verhouding met iemand wat nie haar geloofsoortuigings gedeel het nie.

Lees ook ons onderhoud met Bouwer Bosch hier.

“Ek het wonderlike dinge by hom geleer. Soos om met sagter oë na ander mense te kyk en hulle te aanvaar vir wie hulle is.” Hy het haar ook een van haar kosbaarste lesse oor geloof geleer.

“Dit was ’n moeilike tyd in my lewe, en ek het baie gewroeg oor werk, oor geld, oor my boek se verkope … Op ’n dag sê hy toe vir my: ‘Julle Christene glo in ’n almagtige God, maar ek het nog nooit mense so baie sien stres soos julle nie.’ Dit het my tot stilstand geruk en my vasbeslote gemaak om hom verkeerd te bewys. En op ’n manier het hy ook my oë oopgemaak sodat ek Bouwer kon raaksien.”

‘Jy weet net dis die een vir jou’

Haar oë skitter wanneer sy oor die sanger Bouwer Bosch praat.

“My ma het altyd gesê ek sal weet as ek my man ontmoet het, en dit was ook so. Met vorige verhoudings het ek altyd vir my pa gevra of hy dink ek sal met hulle kan trou. Met Bouw het ek vir my pa gesê: ‘Pa, ek gaan met hom trou.’”

Hulle het mekaar op die stel van Klein Karoo ontmoet, en was byna vier jaar lank beste vriende voordat hulle in April 2014 begin uitgaan het. Hoewel hulle baie ernstig is oor hul privaatheid, ’n les wat sy by haar vriendin Hanna Grobler geleer het, is sy tog bereid om ietsie oor haar aanstaande te deel.

Lees ook ons onderhoud met Hanna Grobler hier.

“My pa en Bouwer het baie dieselfde temperament – albei is sulke kalm, rustige mense. Hulle is my go-to-guys, die eerste mense met wie ek groot nuus deel. Hulle anker my. Anna-Mart van der Merwe het onlangs in ’n onderhoud gesê ’n mens vlieg net so hoog as wat jou nes sterk is. Liewe Jesus is my nes, en my pa en Bouw ook. My pa het gesorg vir ’n sterk fondament, en Bouw sorg dat die kante sterk is.”

Sy vertel dat Bouw, soos sy hom noem, die perfekte teenwig vir haar halsoorkop-geaardheid is.

“Hy is baie realisties en analities. Hy het my geleer om eers terug te staan en die positiewe en negatiewe van ’n saak deeglik te bekyk.

“Hy is ’n sagte, gentle mens, en hy laat my veilig voel. Saam met hom sien ek kans vir enigiets, want hy ken my hart én gee my vlerke. Ek sweer Jesus het vir hom ’n handleiding vir my gegee,” sê sy laggend. “He gets me. En hy laat my lag – elke dag saam met hom is ’n komedie.”

Humor het ’n belangrike plek in hul gesin, vertel sy. “Humor, saam met geloof, het ons gesin dikwels deur die donker tye van my ma se siekte en dood laat regop bly. My broer, Corné, het dieselfde droë sin vir humor as my pa en hy laat my al van kleintyd af lag.”

Corné (32), ’n geoktrooieerde rekenmeester, is ook op die lysie van spesiale mans in haar lewe.

“Hy is logies en sien dinge in swart en wit wanneer ek alles met emosies wil begin inkleur. Hy het my al baie gedwing om die drama en tierlantyntjies te laat staan.”

Die jongste man in haar lewe is Corné en sy vrou, Michelle, se seuntjie Caleb (20 maande). Toe sy van hom vertel, wys sy ook ’n paar foto’s op haar selfoon.

“Hy het my laat uitsien na my en Bouwer se kinders, eendag.” Wanneer presies dit sal gebeur, het hulle nog nie besluit nie.

‘Ek bewonder my pa oor soveel redes’

Die gesprek draai kort-kort na haar pa, Neels, ’n predikant.

Dis duidelik dat hy ’n baie spesiale plek in haar hart beklee.

“My ma, Elmarie, is verlede jaar op die ouderdom van 58 aan Alzheimer se siekte dood. Sy het siek geword toe ek ’n eerstejaar was, en dit bly vir my verskriklik dat so ’n briljante, dinamiese vrou juis Alzheimer se siekte moes kry. Ironies genoeg het sy altyd ’n briljante geheue gehad. Met haar siekte het ek ’n ongelooflike kant van my pa gesien. Hy het haar met soveel liefde versorg, tot op ’n punt waar dit onmoontlik geraak het en sy professionele versorging nodig gehad het. Hy het haar roudiens gelei, want sy het hom laat belowe hy sal. Kan jy dink hoe moeilik dit vir hom moes wees?”

Sy het ook baie oor die lewe by haar pa geleer.

“Hy het my geleer om oop te wees vir ander mense se perspektiewe. Dit beteken nie jy stem met hulle saam nie, maar ander perspektiewe kan jou eie wêreld vergroot. Toe ek in graad nege erg geboelie is, het my pa my geleer dis eintlik net die meisies se eie onsekerheid en afguns wat hulle so laat optree. Hy het gesê ek moet dit aanvaar en daarmee deal, want dit gaan nie verander nie.”

Leandie dink dit kon nie vir hom maklik gewees het om twee sulke uiteenlopende kinders soos sy en Corné groot te maak nie.

“Ek is ’n algehele ekstrovert en my broer ’n introvert. My pa het ons albei die Myers-Briggs-persoonlikheidstoets laat aflê toe ons in graad agt was, en ons volgens ons persoonlikhede grootgemaak. Hy het ons nooit dinge verbied nie, net altyd gewys op die negatiewe gevolge van slegte besluite. Ek het ook baie oor ouerskap by hom geleer.”

Al is hy ’n dominee, vertel sy, was hy nooit ’n predikant by die huis nie.

“Dan was hy net ons pa en my ma se man. Alles wat ek is, is dinge wat hy my geleer het. Ek kry my hardwerkende geaardheid ook by hom. Daar is so baie dinge van hom wat ek bewonder.”

Leandie is beskikbaar as geleentheidspreker. Bespreek deur haar webwerf www.leandiedurandt.co.za. Haar selfhelpboek Gemaklik in jou eie lyf, is ook in Engels beskikbaar en word deur Struik uitgegee.

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.