kategorieë: Ons menseBekendes

Lee Thompson: Ons hubaarste vrygesel

Lee Thompson: Ons hubaarste vrygesel deur Ilse Salzwedel. Hooffoto: Sean Brand.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Lee Thompson is as ’t ware met die hand uitgesoek deur die vervaardigers van die eerste Suid-Afrikaanse weergawe van dié baie gewilde internasionale reeks The Bachelor.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

By ’n onlangse geselligheid waar hy aan lede van die media bekend gestel is, was dit duidelik hoekom dié topfikse internasionale model en entrepreneur so ’n indruk gemaak het. Nie net is hy voorbladmateriaal nie – hy was al op ’n paar voorblaaie van plaaslike én internasionale uitgawes van Men’s Health – maar hy is ook regtig vriendelik. Hy het ons op die rooi tapyt ingewag en elke joernalis persoonlik gegroet – die vroue met twee wangsoene (soos die Europeërs dit doen) en die mans met ’n stewige handdruk, met elkeen gesels en alte gewillig vir foto’s poseer.

En het ons genoem dat dit gelyk het asof sy aandpak spesiaal vir sy gespierde lyf ontwerp is, en dat hy ’n sagte plekkie in sy hart vir troeteldiere het?

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Vertel ons ’n bietjie meer van jou grootwordjare …

Ek is in Port Elizabeth gebore. Ons het daar gewoon tot ek twaalf was, en toe het ek, my ma en my broer Pretoria toe getrek. Ek was in Pretoria Boys High. Deesdae woon ek in Kaapstad.

Jy is baie sportief, en het selfs ná skool vir die Sharks rugby gespeel

Ja, ek het twee jaar vir die Sharks se onder 21-span gespeel, en daarna ook twee jaar vir die Sharks XV. Ek was ook Tuks se eerstespankaptein die jaar toe ons die Varsity Cup gewen het, en het vir die Blou Bulle se onder 19-span ook gespeel.

Was jy van kleins af ’n rugbyspeler? En hoekom het jy opgehou?

Ek het in graad agt al besef rugby kan dalk ’n loopbaan word, al was ek net in die onder 14E/F-span. Ek het besef dit sal baie werk verg, maar het ’n brandende begeerte gehad om professioneel rugby te speel. Uiteindelik was ek kaptein van die skool se eerste span! Maar ek het ophou rugby speel toe ek besef ek het my passie daarvoor verloor – ek glo wanneer dit gebeur, moet ’n mens aanbeweeg. Ek het op skool ook krieket gespeel, en speel deesdae sosiaal gholf. Ná skool het ek verder studeer in sport en fiksheid.

Hoe het dit gebeur dat jy ’n internasionale model geword het?

Iemand van Boss Models het my raakgesien, en ná my eerste sessie in Kaapstad het Next Models, ’n Londense modelagentskap, my genader vir my eerste internasionale werk. Sedertdien het ek al op ’n paar plaaslike en internasionale veldtogte gewerk, en ek sou graag my modelloopbaan wou uitbou. Ek het selfs aanvanklik dramaklasse oorweeg om my te help om meer TV-advertensies en ander televisiewerk te kry.

Jy het ’n graad in bemarking. Het jy al ooit in bemarking gewerk?

Nog net wanneer ek my eie besigheid bemark – ek doen steeds die meeste van die bemarking vir my fiksheidsreeks, skoonmaakbesigheid en webwerf-ontwikkelingsmaatskappy self. Ek het my eie gimnasium besit, maar het dit in 2016 verkoop. Ek beplan nog nuwe projekte vir vanjaar en wil ook my bestaande ondernemings verder ontwikkel.

Watter wenke het jy vir ander entrepreneurs?

Moet nooit moed verloor nie. Dit kan dalk die eerste paar keer nie uitwerk nie. Volhard en wees meedoënloos in die najaag van dit wat jy wil bereik.

‘Ek het ophou rugby speel toe ek besef ek het my passie daarvoor verloor – ek glo wanneer dit gebeur, moet ’n mens aanbeweeg’

Vertel ons meer van jou #LiveHopeLoveSA-projek. Wat presies is dit?

Dis ’n nie-winsgewende projek wat ek meer as ’n jaar gelede begin het. Ek vra plaaslike glansmense om ’n kort selfie-video te maak met ’n boodskap van hoop, liefde en bemoediging, wat hulle dan vir my stuur. Die boodskap is gemik op mense wat deur ’n moeilike tyd gaan, of dit nou fisiek, geestelik of emosioneel is. Ek het ’n argief van sulke video’s opgebou, en dit toe van verlede jaar af gereeld op sosiale media begin deel. In die plasings tag ek hospitale en die relevante gehore wat iets uit die boodskap sal kry. Die projek is nog maar in sy kinderskoene, en vanjaar wil ek dit meer persoonlik maak – dalk deur video’s waarin individue vir persoonlike boodskappe van bekendes vra. Dis ’n projek wat vir my baie innerlike vrede en vreugde bring – ek wil graag daardeur ’n positiewe verskil in Suid-Afrika maak.

Hoe het dit gebeur dat jy gekies is as The Bachelor? Het jy ingeskryf?

Glad nie! M-Net en Rapid Blue, die vervaardigers, het my op ’n dag gebel en gevra of ek moontlik sal belang stel. Hulle het my Johannesburg toe laat vlieg vir ’n gesprek en toe die posisie aangebied.

Hoekom het jy ingestem?

Ek het dit aanvaar omdat ek dit gesien het as ’n teken wat die heelal vir my stuur. Dit was ook uitstekende tydsberekening in terme van waar ek my in hierdie stadium van my lewe bevind. Ek wil graag iemand in my lewe hê, maar het so hard aan my loopbaan gewerk dat ek my liefdeslewe eenkant toe geskuif het. Ek het gedink dit sal ’n wonderlike geleentheid wees om ten volle daarop te fokus om ’n maat te kry. Ek sal graag ’n spesiale vrou wil ontmoet en met ’n gesin begin. Om ’n pa te wees is een van my grootste drome.

Watter eienskappe is vir jou belangrik in ’n vrou?

Ek wil iemand hê met ’n omgee-hart, iemand gaaf wie se glimlag ’n vertrek sommer ophelder. Sy moet ’n goeie sin vir humor hê, en ek moet op my gemak voel by haar.

Beskryf jouself in ’n paar woorde …

Ambisieus, hardwerkend, gaaf, iemand wat omgee. Lomp, sonder fieterjasies, vol selfvertroue, dapper, passievol en avontuurlik.

‘Ek sal graag ’n spesiale vrou wil ontmoet en met ’n gesin begin’

Watter eienskappe bewonder jy in mense?

Ek hou van gawe, eerlike, dapper en lojale mense wat meelewing kan betoon. Ek hou glad nie van arrogante of ongeskikte mense nie.

Kan jy kook? En wat is jou gunstelingkos?

Ek kan inderdaad! Ek is mal oor Italiaanse kos, en pizza en pasta is my gunstelinge. Ek maak een van my gunsteling-pastageregte in die reeks, so lesers moet onthou om te kyk.

Hoe ontspan jy?

Gesondheid en fiksheid is deel van my lewe, en ek hou daarvan om te gaan stap – in die natuur of sommer net. Ek gaan graag strand toe, kyk sport, verken mooi landskappe, luister musiek en geniet dit om saam met vriende en familie te braai.

Is jy ’n leser?

So ’n bietjie. Ek lees op die oomblik The Alchemist – ek het gehoor dit is lewensveranderend.

Wat weet niemand van jou nie?

Ek mag dalk snork as ek slaap – wel, soms.

Agter die skerms van The Bachelor

Lee is baie opgewonde oor die troeteldier-aannemingsveldtog (geborg deur Dotsure) wat tydens die advertensiepouses van die weeklikse episodes van The Bachelor uitgesaai sal word. Hy beskou dit as ’n wonderlike platform om mense bewus te maak van diere wat huise soek, aangesien diereskuilings nie altyd geld het vir bemarkingsveldtogte nie. “Ek was nog altyd lief vir kinders en vir diere. Ek het grootgeword met honde en katte, en my onlangse fotosessie saam met ’n paar troeteldiere vir die aannemingsprojek was groot pret.”

The Bachelor is wêreldwyd ’n groot gunsteling onder TV-kykers. Daar was al 22 Amerikaanse reekse, en die regte is aan meer as dertig lande verkoop. In 2017 het kykers in Amerika, Kanada, Duitsland, Nieu-Seeland, Swede, Finland, Rusland, Switserland én die Oekraïne dit as nommereen op hul lysie van gunsteling-kykstof gekies. Die formaat is eenvoudig: die gelukkige vrygesel kry die kans om 25 meisies op droomafsprake te neem om hulle te leer ken, en uiteindelik moet hy een kies. Vir die Suid-Afrikaanse reeks het talle borge, stileerders en grimeerkunstenaars ingespring om te verseker dat kykers elke oomblik sal geniet. Suid-Afrikaanse inskrywings het die vervaardigers se verwagtinge heeltemal oortref – meer as drieduisend inskrywings is ontvang, en dit nog voor daar aangekondig is dat Lee gekies is.

Maar het Kupido se pyltjies tydens die program die kol getref? Lee wil niks verklap nie. “Julle sal maar moet wag en kyk!”

Loer hier vir nog lekker onderhoude met plaaslike bekendes

Deel
Gepubliseer deur
Catherine Schenck

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

22 hours Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 day Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 day Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 day Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

2 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

2 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.