kategorieë: Bekendes

Liam Neeson: Sagmoedige reus

Liam Neeson loop half vooroor, asof hy heeltyd moet afbuk om te hoor wat gesê word. Die krommerige liggaamshouding het opvallender geword ná die tragiese ongeluk op 18 Maart 2009 waarin sy vrou, aktrise Natasha Richardson, dood is. Natasha, dogter van die bekende aktrise Vanessa Redgrave, het kopbeserings opgedoen in ’n ski-ongeluk in Quebec, Kanada, waar die gesin met vakansie was. Liam was in daardie stadium elders met die verfilming van ’n rolprent besig maar het dadelik teruggevlieg om by Natasha te wees. Direk ná die ongeluk het dit gelyk of haar beserings nie ernstig is nie, maar sy is later onverwags in die hospitaal dood. Liam was skielik wewenaar en enkelpa van hul twee seuns, Michael (15) en Daniel (14). Die hospitaalpersoneel het hom nie herken nie en wou hom nie by sy vrou toelaat nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Hy is vir ’n Oscar vir sy rol in Schindler’s List benoem en is wyd bekend vir sy sterk vertolkings van karakters soos die Ierse patriot Michael Collins en die seksnavorser Alfred Kinsey. Hy was ook te sien in lokettreffers soos Star Wars: Episode 1 – The Phantom Menace en meer Liam Neeson is ’n man wat jy aan jou kant wil hê.
Liam is ’n uiters private mens en om hom te oorreed om oor sy persoonlike lewe te praat is bitter moeilik. Hy spring effens rond as hy antwoord en bly dan skielik stil sodat jy nie seker is of hy nog met jou praat of oor iets nadink nie. Maar gee hy sy mening oor iets waaroor hy sterk voel – solank dit nie sy persoonlike lewe is nie – praat hy vinning en hoor jy sy sterk Ierse aksent.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Hoewel sy vrou hom as “rustig” beskryf het en hy hom daarop roem dat hy dit regkry om sy karakters op stel te los, erken hy dat die onsekerheid van toneelspel hom op sy tone hou: “Ek dink ’n mens raak vervelig en voorspelbaar sonder die angs en stres.” Sy  prent, Unknown, is ’n aksiebelaaide fliek oor ’n man wat met harsingskudding in ’n hospitaal wakker word, net om agter te kom dat hy nie is wie hy gedink het hy is nie en eintlik die lewe van ’n ander man lei. Sy vrou; sy herinneringe; die mense op wie hy staatmaak om sy identiteit te bevestig; alles en almal ontken sy waarheid. Mettertyd kom hy agter dat baie van sy kennis wel op feite gegrond is. Die fliek is sy soektog na sy identiteit. Hy probeer vasstel hoekom sy vertrouelinge so hard werk om sy weergawe van die waarheid te ontken. Unknown is ’n kombinasie van rolprentgenres wat jou op die punt van die stoel sal hou. Diane Kruger, January Jones en Aiden Quinn is sy medespelers.

Kan jy ’n tydperk onthou toe jy nog onbekend was?
Ek voel steeds onbekend. Ek sê dit nie om snaaks te wees nie. Miskien is dit omdat ek nie in Los Angeles bly nie en nie omring word deur al die brou-ha-ha oor bekendes en beroemdes nie. In New York gee niemand om wie jy is of wat jy doen nie. Wanneer ek ’n akteur moet wees om ’n fliek te bemark, doen ek dit, maar ek kan ook net ’n pa wees wat sy kinders skool toe vat of in die straat loop.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Jou karakter verloor sy geheue. Is dit iets waarmee jy jou kan vereenselwig? Het jy al harsingskudding gehad?
As seun het ek geboks. Toe ek 16 was, het ek harsingskudding opgedoen ná ’n boksgeveg wat net twee minute geduur het. Maar ek het gewen! My pa en afrigter het iets vir my gesê soos: ‘Maak gereed, gaan na die aantrekkamer toe, ons sal jou buite kry,’ maar dit was asof hulle Arabies gepraat het. Ek kon glad nie verstaan wat hulle sê nie. Ek het niks verstaan nie en dit het gevoel asof ek van Mars af hier geland het. Daardie gevoel het my bygebly en uiteindelik veroorsaak dat ek opgehou het om mededingend te boks. Ek het nie in daardie stadium besef dit was harsingskudding nie maar dit het my gehelp om die rol met meer insig te vertolk.

Dis so maklik om jou identiteit in Hollywood te verloor, maar jy het nooit hierdie probleem gehad nie. Wat hou jou voete op die grond?
Ek was 35 toe ek in Hollywood beland het. Dit het gehelp dat ek nie 16 of 17 was nie. Ek het nooit gedrink of dwelms gebruik nie – iets wat dikwels tot jong kunstenaars se ondergang lei. Ek was in my dertigerjare en effens meer volwasse.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Wie bel jy wanneer jy in die moeilikheid is?
Seker Aidan Quinn. Hy was in verskeie situasies nog altyd daar vir my. Traumatiese situasies en ook ander. Ons is al twintig jaar lank vriende. Hy is ’n goeie ou.

En hy is jou medespeler in Unknown. Was dit jou idee om hom te gebruik?
Dit was die vervaardiger se besluit, maar ek het dit ondersteun. Toe ons deur die draaiboek werk, het ek gevra wie die karakter gaan speel. Hulle het nog nie iemand aangestel nie. Ek stel toe vir Aidan voor. En daar sê Joe Silver, die vervaardiger: “Wat het ek vir julle gesê?” Dit was die akteur wat hy heeltyd in gedagte gehad het.

Het dit gehelp om ’n vriend op die stel te hê?
Ons ken mekaar baie goed. Dit was voordelig toe dit by die fisieke bakleitonele kom, want ons is baie gemaklik met mekaar. Uit ervaring weet ek dat ’n mens regtig kan seerkry as jy teenoor iemand speel wat baie styf en huiwerig is. Die waaghals-choreograaf was ook ’n goeie vriend en ons moes op die ou end net leer om met mekaar te dans. Elke naweek het ons iets bygevoeg en uiteindelik het jy ’n hele gevegsekwensie saamgestel. Maar dit was nooit gevaarlik nie.

Dis fantasties om aan so iets te werk saam met iemand wat jy goed ken. Daar was ook baie jaagtogte in die fliek. Hoe het dit gewerk?
Wel, dit het ek natuurlik alles self gedoen (laggend). Nee, ek het niks daarmee te doen gehad nie. Ek en Diane (Kruger) was altyd saam in die kar, maar ons was nooit in beheer van die kar nie – twee ongelooflike Franse ouens was. Ons het tien nagte lank sekere strate in Berlyn net vir ons gehad. Dit was baie intens. Ons jaag reguit op die trems af en op die nippertjie draai die waaghals uit. Dit voel soos ’n wipwarit wat handuit geruk het maar alles is altyd onder beheer. Ek raak duiselig as ek net oor ’n dik tapyt loop en kan nie eens saam met my kinders op ’n rollercoaster ry nie. Maar om een of ander rede kan ek hierdie toertjies oorleef. Miskien omdat ek vir Diane saam met my in die kar gehad het en sy net so bang soos ek was (lag).

Wat lees jy nou?
Ek het gewoonlik byna vyf boeke waaraan ek gelyktydig lees. Drie daarvan gaan gewoonlik oor kunsvlieghengel (lag). Ek het pas Ghost Light van Joseph O’ Connor, Sinead O’Connor se broer, gelees. Hy is ’n fantastiese skrywer. Die verhaal is pragtig en romanties maar baie subtiel. Ek lees ook ’n boek met kortverhale van William Trevor, ook ’n Ierse skrywer.

Jy bly al sedert 1987 in Amerika. Dink jy aan jouself as Iers of eerder as ’n internasionale burger?
Ek het eers onlangs ’n Amerikaanse burger geword maar daar is ’n spreekwoord wat sê jy kan die Ier uit die modder uithaal, maar nie die modder uit die Ier nie. Ek is vir seker Iers, maar Amerika is my huis – dis waar ek my kinders grootmaak. Ierland is my spirituele tuiste. My drie susters bly nog daar.

Ons het jou nie baie gesien sedert Natasha se dood nie. Hoe gaan dit met jou en jou gesin?
Dit gaan goed. Dankie dat jy gevra het. Dit gaan goed met my seuns. Ons vat elke dag soos dit kom.

Jou seuns is half-Engels. Hoe hou jy hulle daarvan bewus?
Ons gaan een maal ’n jaar Engeland en Ierland toe. Ons het nog familie daar en die deure is altyd oop.

Waar is jy nou in jou lewe?
Ek weet nie hoe om dit te antwoord nie. Ek is gesond. Mense gee my nog werk. My rekeninge word betaal. Ek lewe van week tot week. Soms is dit van dag tot dag, maar dis wat ek op die oomblik moet doen. Ek dink dis ’n goeie plek om te wees.

Vertaal Deur Hannelie Diedericks

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.