Maagseer: die 10 vrae wat almal het

Maagseer: die 10 vrae wat almal het deur Salomé Delport.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Hier is die antwoorde op 10 dinge waaroor almal wonder …

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

1. Wat presies is ’n maagseer? En wat is eintlik fout as jy ’n maagseer het?

Dit is ’n werklike seer of wond in die wand van jou spysverteringskanaal, net soos ’n seerplek op jou vel.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

‘Ulser’ impliseer ’n wond wat nie genees nie, of baie stadig genees.

En net soos ’n seerplek op jou ‘buitevel’ seer kan wees, is ‘n seerplek aan ’n ‘binnevel’ soos jou maagwand ook baie seer.

Dokters benoem maagsere volgens die plek waar dit aangetref word:

  • ’n Gastriese ulser beteken ’n seer in jou maag self
  • ’n Duodenale ulser beteken ’n seer in jou dunderm, gewoonlik in die deel net na jou maag
  • ’n Esofageale ulser beteken ’n seer in jou slukderm, met ander woorde in die deel net bokant jou maag
  • ’n Peptiese ulser is die versamelnaam wat dokters gebruik om aan te dui jy het iewers ’n maagseer, en sluit dus aldrie van die voriges in.

Lees ook: Waar jou maag seer is, kan aandui wat die pyn veroorsaak

2. Wat is die simptome van ’n maagseer? Hoe voel dit? Hoe weet ek ek het ’n maagseer?

Baie mense het ’n maagseer sonder dat hulle enige simptome het. Ander weet maar te goed dat hulle ’n maagseer het want hulle ervaar ’n sterk branderige pyn bo in in die buik of selfs oor die borskas.

Baie dikwels kan mense die pyn aan etenstye koppel.

Jy kan die plek waar jy ’n pyn het koppel aan die soort maagseer wat jy het. So veroorsaak ‘n gastriese ulser, of ’n maagseer wat regtig in jou maag is, pyn terwyl jy eet of net na ete. Daarom verloor baie mense met ’n gastriese ulser hul eetlus – én gewig.

’n Duodenale ulser, of ’n seer in jou dunderm, veroorsaak eerder pyn drie of meer uur nadat jy geëet het. Die pyn is dikwels die ergste as jou maag leeg is, soos deur die nag of soggens vroeg of as jy lanklaas geëet het. Die pyn kan verlig word deur weer te eet. Daarom tel baie mense met ’n duodenale ulser gewig op.

’n Esofageale ulser veroorsaak eerder ’n brandpyn oor jou borskas, want dit is waar jou slukderm is. Dit kan ook seer wees om kos in te sluk. Party mense kla van ’n suur smaak in die mond, terwyl ander ’n droë hoes ontwikkel.

Aldrie tipes kan mens laat naar en/of opgeblaas en/of winderig voel, en/of sooibrand of refluks veroorsaak.

#rrWenk: Onthou, moet liefs nie jouself diagnoseer nie. Maak ’n afspraak by jou mediese praktisyn om vas te stel wat fout is – dis baie belangrik om die korrekte diagnose en behandeling te kry.

Lees ook: Die beste raad vir hardlywigheid

3. Ek het soms maagpyn, soms nie. Kan ek ’n maagseer ‘aanval’ kry?

Beslis.

Soos jy hierbo kan sien kan die pyn van jou maagseer met tye erger wees, wat dikwels afhang van die soort maagseer wat jy het.

As jy tipies snags ’n ‘aanval’ kry het jy moontlik ’n duodenale maagseer. Maak ’n nota van wanneer jy so ’n pynlike aanval kry, want dit kan jou dokter help met die regte diagnose en behandeling.

En ja, dit is waar dat ’n maagseer mense laat les opsê, veral kos wat in olie gebraai is soos tjips, samoesas, gebakte vis en kalamari, vetkoekies, koeksisters, donuts, oliebolle, pizza met baie kaas, sjokolade en so aan.

Vir party mense is kos met sterk kruie soos kerrie, sitrusvrugte, koffie en sjokolade die snellers. Alkohol kan ongelukkig ook jou maagseer pynliker maak.

As jy na die lys kyk sal jy sien dit gaan oor vette, sure en kafeïen. Gelukkig reageer almal nie ewe erg op alles nie. Sny al die items op die lysie uit en sit een vir een by, en kyk wat gebeur. Dalk pla net een of twee jou regtig.

Lees ook: 11 dinge wat jy oor mantelvliesbreuk of hernia moet weet

4. Is bloed as ek opgooi ’n teken van ’n maagseer of van maagkanker?

Dit is meestal ’n teken van ’n ulser van die maag of slukderm. Maar laat jou dokter kyk om presies vas te stel wat fout is.

Dit sal jou dokter baie help as jy oplet hoe die bloed lyk: is dit vars, rooi bloed; is dit bloed gemeng met kos of lyk die bloed meer soos koffiemoer?

Party mense let op dat hul feses teeragtig, taaierig en swart lyk. Dit kan ook met ’n maagseer verband hou.

Jou risiko op maagkankers is groter as jy ’n maagseer het. Daarom moet jou dokter jou goed ondersoek.

5. Hoe word ’n maagseer gediagnoseer?

Jou simptome – veral die tipiese branderige maagpyn – sal jou dokter ’n maagseer laat vermoed, of nie. Soms sal jou dokter jou net op grond van jou simptome behandel en kyk of die simptome verdwyn.

Maar as jy nie binne twee tot vier weke beter is nie, word verdere ondersoeke gedoen, aangesien ’n hele aantal ander toestande simptome toon wat baie ooreenkom met dié van ’n maagseer, soos gastritis, pankreatitis, maagkanker, refluksprobleme en selfs sekere harttoestande.

Verdere ondersoeke kan x-strale en gastroskopie insluit. (Gestroskopie: jy ‘sluk ’n kameratjie’ wat in jou slukderm af gestuur word, tot in die maag en dunderm.)

Lees ook: Het jy dalk divertikulitis?

6. Ek voel skaamskuldig oor my maagseer. Het ek ’n maagseer omdat ek te vet is – eintlik te veel eet?

Vandag weet ons dat kos nie ’n maagseer veroorsaak nie. Dit kan net ’n maagseer vererger – of selfs heel.

Die maag bevat van die sterkste ensieme en sure bekend aan die mens – sterk genoeg om rou vleis te verteer – sonder dat dit sy eie wandweefsel, wat in effek dieselfde as vleis is, te verteer.

Beskerming word bewerkstellig deur ’n balans tussen faktore wat die maagwand beskerm (spesifiek ’n slymlaag op die maagwand en slymafskeidings, en prostaglandiene) om dié wat help met vertering (soos maagsuur, die ensiem pepsien en dinge wat jy van buite af inneem soos nikotien, drankies en sekere medikasies).

As iets hierdie balans omvergooi verloor jou maagwand (meestal darem net ’n deeltjie daarvan) die vermoeë om intakt te bly, en so begin die maagsure die maagwand verteer – wat jy as ’n maagseer ervaar.

Van die bekende dinge wat jou maagwand se beskermingsfaktore beskadig is nikotien (rook in enige vorm, plus kougom en lekkergoed met nikotien) pynpille van die NSAID-klas, drankies en ’n organisme met die naam Helicobacter pylori. Elkeen destabiliseer die maagwand, waarna ’n oop seer ontwikkel wat moeilik genees.

Kos veroorsaak dus nie jou maagseer nie. Tog kan kos dit vererger of help genees. Dus moet jy versigtiger eet as jy ’n maagseer het.

Lees ook: Eet jou maag gesond

7. Is daar ’n dieet vir ’n maagseer?

Daar ís.

Die regte dieet kan jou op twee maniere help: dit kan jou maagwand help stabiel hou en dit kan jou maagwand help genees as jy reeds ’n seer het.

Dieet as jy reeds ’n maagseer het

Die doel van hierdie riglyne is dat jy kos eet wat jou maag minder stimuleer om maagsuur te maak. Aangesien vette en vleis juis maagsappe stimuleer moet jy veral hierop sny.
Die vier belangrikste dieetreëls vir ’n maagseer is:

  1. Eet ’n bietjie minder proteïen – dus kleiner porsies vleis, vis, hoender, eiers en so aan. Eet ten minste een vegetariese ete per dag, met lensies of avokadopeer.
  2. Eet baie meer vesel, met ander woorde vrugte en groente. Vesel werk soos ’n buffer en help suurheid teenwerk. Probeer om behalwe jou groente ook elke dag ten minste ‘n appel, peer of hawermout te eet. Aldrie is uitstekende bronne van oplosbare vesel. Piesangs, papajas en waatlemoen is ook goed, terwyl jy versigtiger moet wees met lemoene en pynappels. Vermy suurlemoen.
  3. Stadig met die vette. Sny die sigbare vet van jou vleis af. Eet jou hoender sonder die vel. Moenie jou vleis, wors en eiers in olie bak of braai nie. Wag met die KFC, slaptjips, frikkadelle, gebakte eiers, samoesas, donuts, koeksisters en sjokolade tot jou maagseer genees het.
  4. Jy kan wel neute eet en olies soos avokado-olie en olyfolie gebruik vir slaaie.
  5. Vermy ook kase met ’n hoë vetinhoud – meestal die sagter kase, maskarpone en roomkaas. Jy kan wel laevet (1% en 2%) melk, harde kase en jogurt gebruik.
  6. En kyk hoe jy reageer. Die volgende kosse veroorsaak by party mense baie pyn terwyl dit ander glad nie pla nie: broccoli, blomkool, kool, komkommer, uie, soetrissies, bone, soetgoed, tamatiesous, mayonnaise en mosterdsous.

Dieet om ’n maagseer te help voorkom

Dit is maklik: jy kan van alles eet en drink, solank jy dit matig doen. Daar is net twee riglyne.

  1. Hou by matige hoeveelhede koffie en tee. Dit beteken dat jy per dag hou by 2-3 koppies matig sterk koffie of 1-2 koppies sterk koffie of minder, en/of rondom ’n maksimum van 5 koppies tee per dag.
  2. En beperk alkoholiese drankies tot een (twee vir mans).
  3. O ja, en onthou rook en NSAID-pynpille veroorsaak maagsere, veral as jy reeds vantevore ’n maagseer ontwikkel het.

#rrWenk: Bespreek jou dieet met jou dokter of ’n dieetkundige om seker te maak dat jy steeds gebalanseerd eet.

8. Ek weet ek moet koffie uitsny vir ’n maagseer, maar wat van dekaf koffie en tee? En rooibos?

Ongelukkig is tee net so uit as koffie as jy ’n maagseer het. Dit gaan daaroor dat kafeïen spesifiek nadelig is vir die maagwand – veral as jy reeds ’n neiging tot ’n maagseer het.

Daarom is tee – wat die helfte soveel kafeïen as koffie bevat – ook uit.

Ongelukkig lyk dit asof mense met ’n maagseer  nie goed vaar op gedekafeïeneerde koffie nie. En geen variasie van koffie-handelsmerk of tipe koffie is ’n opsie nie – nie eens geperkoleerde koffie, koffie in ’n French press, Turkse koffie, jou eie tuisgeroosterde bone, Arabica-koffie, robustakoffiebone en so aan nie.

Vir die meeste van ons is dit ’n ramp om die dag sonder ons koppie boeretroos of Engelse roos te begin.

Wat kan jy wel drink?

Iets eg Suid-Afrikaans! Ek wonder of ons besef hoe bevoorreg ons is dat ons beste inheemse tees – boegoetee, rooibos en heuningbostee – veilig is as jy ’n maagseer het? Hulle is kafeïenvry en dus vyfster vir ’n maagseer. Geniet hulle, en wissel hulle af vir ’n bietjie gesonde variasie.

Wat van ander drinkgoedjies?

Jy moet liewer alle soorte gaskoeldranke vermy.

Vrugtesappe werk vir baie mense terwyl sommige vind dat vugtesappe met ’n suur smaak soos lemoensap, lemoensapmengsels en rooibosbessiesap (cranberry juice) hul maagseer vererger. Toets en kyk of jou maag daarna pyn.

Drank is ongelukkig ook uit. Dit is die alkohol self wat jou pla. Jy kan alkoholvrye biere, koelers en mengeldrankies probeer en kyk hoe jou maagseer reageer.

Jy kan altyd stil water drink.

Lees ook: Jou maag – jou tweede brein

9. Watter vitamiene help vir ’n maagseer? Wat van probiotika?

Navorsing wys dat sink, selenium, vitamien A en vitamien C kan help.

Vermy egter superhoë dosisse, veral van vitamien A en C. Hou by ’n maksimum van 500mg vitamien C per dag.

Die een waarin jy kan belê is probiotika, veral die soorte wat lactobacillus (dit is die organisme wat melk in jogurt verander) bevat.

Een ondersoek wys selfs dat mense wat elke dag Bulgaarse jogurt drink baie laer vlakke het van Helicobacter pylori, die organisme wat jou maagwand destabiliseer.

Lees ook: Is laktose-intoleransie dalk die rede vir jou maagpyn?

10. Ek is al jare lank op protonpompinhibeerders vir my maagseer. Is dit veilig?

Protonpompinhibeerders of PPIs soos ons dit ken werk deur die suurheid van jou maag te neutraliseer. Die erge suurheid van die maagsure keer dat jou maagseer genees. Met ’n PPI gee jy dus jou maagwand kans om te genees.

Maar dit eis sy tol.

Sonder maagsuur neem jou liggaam baie minder kalsium, magnesium, B-vitamiene en yster op – wat lei tot ysterarmoede, bloedarmoede en osteoporose.

Langtermyngebruik van PPIs word ook verbind aan maag- en dermkankers.

Daarom word dit nié aanbeveel dat die meerderheid van ons PPIs sommer maar net jare lank, of selfs lewenslank, gebruik nie. Dit word heeltemal te maklik en te veel voorgeskryf, sê talle van die gesondheidsowerhede soos in Kanada en die VSA. Kanada sê dat tot die helfte van mense wat PPIs gebruik dit glad nie nodig het nie.

As jy egter ’n PPI moet gebruik moet jy óók jou dieet aanpas.

As jy reg eet behoort jy sodra jou maagseer genees het (sowat vier weke) daarsonder te kan klaar kom. Verder moet jy na die aanvanklike behandeling kyk wat is die kleinste moontlike dosis wat nog vir jou werk.

Baie dokters beveel aan dat jy dit net veertien dae lank gebruik en dan eers weer staak. Die VSA beveel selfs aan dat mense net drie behandelings van veertien dae per jaar doen. Jy behoort ook ten minste een keer per jaar te kyk of jy jou PPI kan staak.

Hoor by jou dokter of H2-blokkers vir jou kan werk.

Dit is ’n ander klas medisyne wat ook maagsuur teenwerk. Baie mense behandel hulself met Engelse sout, koeksoda of teensuurmiddels wat jy op die apteekrak kan kry. Baie hiervan werk vir ligter gevalle.

As jy egter sukkel met ’n maagseer is die beste plan om jou dieet aan te pas sodat jy sonder medisyne kan regkom.

Hooffoto: Polina Zimmerman vir Pexels

Lees ook: Wat is beter vir jou hart? Ons het gaan uitvind oor kosse en aanvullings

Deel
Gepubliseer deur
Salome Delport

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

6 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

6 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

6 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

7 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.