kategorieë: Gesondheid

Maak ’n detoks jou gesonder?

Maak ’n detoks jou gesonder? Is gereelde detoksifisering, of ’n detoks, soos dit in die omgangstaal bekend staan, goed vir jou? Dis nou ’n detoks soos ons leke dit verstaan, met ander woorde ’n amperse vas vir ’n dag of drie, met op die spyskaart hoofsaaklik vrugte, groente, water en rooibos, terwyl jy vette, proteïene, stysel, koffie en alkohol uitsny. Vir die meeste van ons is dit “erg”. Ons eet nie normaalweg so nie. En daarom verg dit ’n vrag moed om sover te kom. Met ons Nuwejaarsvoornemens pas gemaak, het jy dalk meer moed vir ’n detoks – as jy moet.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Is dit goed vir jou?

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Is al die hongerly eintlik ’n vergeefse oefening? En hoe detoks jy behoorlik?

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Vir Annette Scholtz (37) van ons Leserspaneel is ’n detoks “wonderlik!”

“As ek net eers verby die eerste middag kom, voel ek energiek en verfris. Dis beslis ’n heerlik ‘gesonde’ gewaarwording, en ek wens ek kan altyd so voel. Ek skryf hierdie gevoel van welheid daaraan toe dat my liggaam met die detoks ‘inhaal’ op agterstallige skoonmaakwerk en ’n bietjie ruskans kry.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

“Dit val my elke keer op hoe emosioneel sterk ek ná ’n detoks voel. Dis asof die feit dat ek 48 uur of langer by ’n besluit kon hou, my wys dat ek ander dinge ook kan regkry.

“Daar’s ’n bonus: ná ’n paar dae se detoks is my eetgewoontes in die geheel ’n bietjie beter, so asof ek minder smag na soet en ryk kosse.”

Wat sê dieetkundiges?

Die meerderheid dieetkundiges, onder wie Julia Fourie, Kaapse dieetkundige in privaat praktyk, twyfel sterk aan die waarde van ’n detoks, as manier om jou liggaam te ontgiftig. Sy sien eerder ’n ander rol vir detoks.

Hoekom werk ’n detoks nie?

“Die aansprake van hierdie diëte is nie bewys nie. Sterk, betroubare wetenskaplike bewyse oor die voordele van detoksdiëte is nog nooit gevind nie en daarom kan ons dit nie aanbeveel nie. Die indruk oor die voordele van detoks is geheel en al gegrond op mense se persoonlike belewenisse, en glad nie op wetenskaplike bevindings nie.

“Mense sê byvoorbeeld dat hulle minder winderig en/of opgeblase voel. Maar dit is bloot omdat hulle nou kosse uitskakel wat by baie mense winderigheid veroorsaak, soos alles van meel, wat  rood, pasta, pizza, beskuit, donuts, samoesas en koekies inlsuit. Detoksers sny suikers en versoeters uit. Te veel van altwee is berug daarvoor dat hulle jou gasserig maak.  Hulle sny ook groentesoorte uit wat veral aan winderigheid gekoppel word, soos broccoli, kopkool en uie. Verder vermy hulle melkprodukte wat by mense met laktose-intoleransie winderigheid veroorsaak.

Hulle sny ook op gaskoeldranke en bier – nog twee items wat byna almal gebruik sonder om te besef dat dit die rede vir hul winderigheid kan wees. En hulle sny op kunsmatige versoeters, wat by baie mense winderigheid en selfs diarree veroorsaak. Hulle sny ook op kitskosse wat dikwels soja bevat, waarop baie mense reageer. As ’n detoks jou winderigheid en opgeblaasdheid verlig is dit ’n  dat jy eintlik moet uitvind watter kos vir jou ’n probleem veroorsaak, sodat jy dit liewer meestal vermy, en nie net tydens ’n detoks nie.

Ander meen hul vel lyk beter. Dis nie aan die detoksdieet te danke nie, maar aan die gesonde hoeveelheid water wat hulle drink.

Chroniese hoofpyn kan dui op voedselintoleransies

“Party mense sê hulle kry minder hoofpyn ná en tydens detoks, maar dit kan meestal toegeskryf word daaraan dat ’n detoks koffie, kaas en alkohol uitsny – bekende oorsake van gereelde hoofpyne.

As ’n detoks jou hoofpyn verlig, dink ek dat dit die beste vir jou langtermyngesondheid is om vas te stel vir watter kosse jy intolerant is en hulle dan altyd uit te sny – weer eens nie net tydens ’n detoks nie.

“Ander kry weer erge hoofpyne – en lees dit as ’n teken dat die liggaam besig is om toksiene uit te skei.

Maar jou liggaam skei elke liewe dag afvalstowwe soos koffie, preserveermiddels, soute en so aan sonder ’n sweempie pyn uit. Hoekom sal dit tydens ’n detoks pynlik wees – veral as jy juis dan minder toksiese stowwe in jou liggaam insit, soos tydens die tipiese detoksdieet?

“Die rede vir jou detoks-hoofpyn is bloot dat dié soort dieet jou bloedsuikervlakke verlaag, wat jou sleg laat voel.

“Daarby kry jy nou skielik nie jou daaglikse dosis kafeïenskop in nie en sit jy nou met onttrekkingsimptome, wat  opsigself die kenmerkende hoofpyne verklaar.

“Die hele teorie agter ’n detoks strook ook nie met die menslike fisiologie en biochemie van eliminasie nie. Die uitskeidingsvermoë van die longe, niere, lewer, gastro-intestinale kanaal en vel is juis so ontwerp dat toksiene gewoonlik binne ure ná inname uitgeskei word. Dit bou dus nie ‘oor jare’ op nie, en jy hoef nie ‘spesiaal’ te detoks nie.”

Maar mense sê tog dat hulle beter voel as hulle detoks?

“Ja, dit hoor én glo ek. Maar hulle voel maar beter omdat hulle vir ’n slag gesonder eet. Mense wat ’n gesonde leefstyl volg, voel élke dag asof hulle pas gedetoks het.

“Ek glo dat as jy eerstens reg eet – matige hoeveelhede, iets van alles en min of niks wat jou persoonlik affekteer nie – kan jy heeltyd presies dieselfde voordele as ’n detoks ervaar.
Jou liggaam het elke dag ’n detoks nodig – nie net af en toe nie. Help jou liggaam deur elke dag gesond te eet, genoeg te slaap en ’n halfuur oefening te kry.

“Maar ek sit party van my pasiënte met ’n ander doel op ’n detoksdieet: die idee is om hulle by ’n keerpunt te bring.

Dié dissipline gee vir baie mense die nodige hupstootjie na ’n gesonder en meer gebalanseerde en gematigder lewenswyse. Dít is kosbaar – en ’n goeie rede vir ’n sogenaamde detoks.
‘Maar ek wil benadruk dat die soort ‘detoksdieet’ wat ek voorstaan is eintlik ’n doogewone gesonde dieet. Dit is lig in die sin dat jy minder eet en net maklik verteerbare kosse eet wat min mense affekteer. Dit beteken nie dat jy dae lank net water drink nie.”

Die dieetkundige Sally-Ann Creed, skrywer van Let Food be Your Medicine, is sterk ten gunste van die detoksdieet.

Maar as jy kyk na haar idee van ’n detoksdieet sien jy dit verskil prakties gesproke nie veel van Julia s’n nie.

Albei sien die ideale detoks as ’n projek oor twee tot vier weke, met vis (gestoom of oondgebak maar nooit in olie gebak nie) as die volmaakte detoksproteïen, hoenderborsies as ’n gesonde tweede keuse, groente (gaar of rou), bruinrys, water en kruietee, en ’n maksimum van twee vrugte per dag. Dié dieet stem in beginsel ooreen met die bekende ontbytvervaardiger se tiendag-detoksplan.

Maar dis nie ons idee van detoks nie: daardie ware vasbyt-en-hongerly-tot-jy-lekkerkry-of-flou-val soort ding nie, die ware Jakob soos dit by die meeste spa’s gedoen word.

Diegene wat dit kan bekostig, is gek daarna – die rede waarom die meeste teruggaan vir meer van dié “karige” spyskaart van verruklik opgediende vars vrugte, rou groente en water (warm, lou, koud, met ysblokkies, sonder ysblokkies, met suurlemoensap – maar water en nogeens water).

Benader dit omsigtig

Dr. Geraldine Mitton, mediese direkteur van die Santé Winelands-hotel en -gesondheidsentrum gee toe dat die liggaam homself diens en suiwer.

“Maar ons elimineer nie almal en altyd ewe doeltreffend nie. Die waarde van ’n detoks is dat jou liggaam kans kry om in ideale omstandighede van opgehoopte gifstowwe ontslae te raak. Jy elimineer vir ’n slag doeltreffend en maak jou gestel skoon.”

Sy verduidelik dat die hele proses van doeltreffende eliminasie begin by hoe jy kou. As jy deeglik kou, word al die kos eerstens aan alkaliese ensieme in die mond blootgestel en afgebreek en dan in die maag verder deur die suurensieme afgebreek. Daarna, in die dikderm, onttrek galsappe die toksiese stowwe en bind dit aan vesel sodat dit uitgeskei word.

“Maar as jou dieet arm aan vesel is, word hierdie afvalstowwe nie behoorlik in die feces gebind nie en herabsorbeer jou liggaam dit. Dus hoop gifstowwe in jou liggaam op. Die eliminasieproses gaan ook mank omdat jou lewer byvoorbeeld oorval is met die afvalprodukte van toksiene soos preserveermiddels, koffie, wyn, suiker, vette en medisyne.

“Mense vas of volg suiweringsdiëte al oor duisende jare juis omdat dit hulle energiek, verfris en meer bewus laat voel. Baie geestelike leiers het gevas juis om die spirituele voordele daarvan – onder meer Jesus en Mahatma Gandhi.

“Ek beveel dit beslis aan. Maar nogtans dink ek ’n detoks moet met omsigtigheid benader word: dis onverstandig om drastiese detoksdiëte soos die Oostenrykse Mayr-kuur vir meer as ’n paar dae te volg. En dan moet dit liefs onder toesig plaasvind. As jy op jou eie detoks, is dit die beste om dit oor die naweek aan te pak wanneer jy redelik rustig is sodat jy fisiek en emosioneel ook kan rus.

Walliese wysheid

Met haar skeut unieke Walliese wysheid is Leslie Kenton een van die wêreld se bekendste detoksvoorstanders. Sy glo dat jou detoksdieet – en eintlik jou alledaagse eetpatroon – uit minstens 75 persent rou kos moet bestaan. Hoekom rou?

“Kos het nie net biochemiese waarde in die sin van vitamiene en minerale en so aan nie. Dit is eintlik ’n hele, lewende energiesisteem. Lewende, rou kos dra boodskappe oor die natuur aan jou liggaam oor. Dis jou band met Moeder Aarde en haar inherente vermoë om die lewe te laat gedy. As jy by hierdie energiestelsel inskakel, funksioneer jy mettertyd op ’n heel nuwe vlak van energiekheid, een waarin jy jou diepste mitiese kern sal ontdek en kan uitleef omdat jy nou die energie, vermoëns en innerlike krag het om die lewe te dien op maniere waarvan jy nooit tevore kon droom nie.”

Die sprong van gerasperde, rou beet na ’n lewe van algehele vervulling klink groot én vergesog. Maar dit is nie, sê sy, want namate jy een word met die Natuur ontdek jy jou ware natuur. Sy sê dat as jy die tipiese rougroentedetoks volg, sal jy oplet dat jy deur tipiese fases gaan.

“Die meeste mense ervaar heel eerste kleure en geure baie intenser, helderder en sensueler. Geleidelik sal jou geestesdenke begin ontluik en jy sal nou die fase bereik dat jy ook, soos die Natuur, wil koester en nie wil seermaak en skade doen nie. Jy sal ’n groeiende eenheid met ander begin aanvoel. In dié stadium sien ek ’n verdere ontluiking by die meeste mense: Hul verbeelding kry vleuels, en hulle ontdek in hulself nuwe ideale en drome wat kenmerkend mense nader aan mekaar bring.

“Wanneer dit gebeur, raak jy die diepste, mitiese kern van jou wese aan, en met jou voedende kontak met die Natuur sal jy ervaar dat jy nou ook oor die energie, vermoëns en innerlike krag beskik om die lewe lief te hê en te dien. Hieruit spruit ’n ware, diep vreugde wat jou koester en vrylik uit jou uitvloei om ander te koester. Dit is diep bevredigend en skep ’n harmonie wat die wêreld verander.”

Dís groot woorde, en miskien daarom die edelste motivering om die nuwe jaar met ’n ware detoks af te skop. Jy kan immers niks verloor nie – en dalk help skep aan ’n hele nuwe vlak van vrede en vreugde.

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.