Deur Margaret Gardiner.
Toe Maggie Gyllenhaal vir Jessie Buckley in Lost Daughter ontmoet het, “was daar ’n samekoms van siele en denke,” vertel dié aktrise, wat ’n regisseur geword het. Toe Maggie dus op The Bride! vir haar tweede regisseursrol besluit het, was Jessie ’n natuurlike keuse vir die titelrol. Die rolprent – wat nooit ’n boek was nie – is deur die 1935-gruwelfliek, Bride of Frankenstein, geïnspireer.

Jessie Buckley is in die titelrol van ‘The Bride’ te sien. (Foto: THE BRIDE! A Warner Bros. Pictures release.)
Maggie merk op dat die bruid, ten spyte van die titel, skaars in die fliek is en nie eintlik praat nie. “Dit het my nuuskierig gemaak oor wat sy dalk dink of voel. Soos baie vroue in rolprente wat lank gelede gemaak is, kry ons nie die kans om haar perspektief te verken nie. Dit was die oorspronklike vonk van inspirasie, veral omdat sy haarself in so ’n waansinnige situasie bevind, nadat sy sonder haar toestemming uit die dood opgewek is om die vrou te wees van iemand wat sy nog nooit ontmoet het nie.”
Sy het The Bride! in die jare dertig in Chicago geplaas. Die baanbrekerswetenskaplike, dr. Euphronious (Annette Bening), word deur Frankenstein se monster (Christian Bale) genader om ’n bruid te skep. Hy is eensaam en word vervolg. Sy enigste vreugde kom daarvan om hom te verbeel hy is die sang- en dansster (Jake Gyllenhaal) van musiekblyspele.
Die dokter wek ’n vermoorde jong vrou (Jessie Brinkley) uit die dood uit op om ’n metgesel vir Frankenstein se monster te wees. Die kinkel is dat sy in die herskepping deur Mary Shelly (wat Frankenstein geskryf het) beset word. Met tussenposes beset sy die nuutgeskepte ‘bruid’, wat dade van ontwrigting en geweld uitlok. Penelope Cruz is die verslaggewer/speurder wat die monsters agterna sit en ontbloot die politieke misbruik wat gelei het tot die dood van die meisie wat “die bruid” geword het.

Chrisitan Bale vertolk die rol van Frank en Jessie Buckley is as ‘The Bride’ te sien. (Foto: THE BRIDE! A Warner Bros. Pictures release.)
Dit klink ingewikkeld en dit is, maar dit is ook ’n groot, oproerende visie met dansnommers en ’n Bonnie en Clyde-gevoel. Die toneelspel is uitstekend en die stelle suggestief. Dit het ondertone van vroulike mishandeling en bemagtiging.
“Elkeen van ons het monsteragtige aspekte binne-in ons. Dinge wat ons vertel word ons mag nie dink, voel of doen nie, wat vreesaanjaend voel en asof ons daarvan ontslae moet raak. Hierdie fliek is ’n viering van al die dele van ons almal wat nie in die boks sal pas waarin ons vertel is ons moet inpas nie,” sê die Crazy Heart-aktrise.

Die fliek bevat ondertone van vroulike mishandeling en bemagtiging.(Foto: THE BRIDE! A Warner Bros. Pictures release.)
Die fliek, wat vier jaar in wording was, stel die slagspreuk bekend: ‘Ek verkies om nie’, en moedig veral vroue aan om dit as ’n reg aan te neem en te gebruik. “Die rolprent is ’n soort uitdaging wat sê: Ek daag jou uit om om te draai en hande met jou monster te skud.”
Jessie Buckley was steeds besig om The Bride! te verfilm, terwyl sy die kostuums vir Hamnet aangepas het. Sy skryf haar werk aan The Bride! toe aan die bemagtiging van haar Oscar-bekroonde vertolking in die daaropvolgende fliek. “Die vrou wat jy aan die begin van Hamnet ontdek, is die vrou wat ek in myself in The Bride gebaar het! Ek moes kostuums vir Hamnet aangepas het met gebleikte wenkbroue en ’n elektriese stroom wat deur my gepols het. Oor ’n tydperk van twee weke moes ek daardie ongelooflike energie van The Bride! gedistilleer het en my hande in die grond vir Hamnet gedruk het. Ek was mal oor wat ek in The Bride verken het! My hart het wawyd oopgebars. Wat ’n geskenk om albei hierdie karakters binne-in my te hê. Ek gaan hulle nooit laat gaan nie.

Jessie Buckley het die Oscar vir Beste Aktrise by die 98ste Academy Awards vanjaar gewen (Foto: © 2026 Academy of Motion Picture Arts and Sciences)
“In The Bride! het ons die skaduryke dele binne onsself ten toon gestel. Sy het ’n gees en liggaam wat opgewek is op ’n manier wat sy nie verwag nie. Daardie gevoel is so lewendig, so monsteragtig op die wildste, briljantste laserstraal-manier.”
“Haar verstand en liggaam was in ’n diep gesprek met die werklikheid waarin sy wakker geword het. Sy skree nie en sê nie ‘nee’ nie. Sy vra, waar is ek? Wat is dit? Wat is liefde? Wat is die huwelik? En wat sê ek in hierdie wêreld wat alles van my kan hou, nie net ‘n stukkie van my nie. Sy vra uit oorlewing, om haarself te ontdek en om haar eie stem, hart en verstand te vind.”
Jesse is vir ’n oomblik stil asof sy oor haar woorde en hul relevansie in vandag se samelewing nadink. “Ek hoop dit is die begin van ’n lang liefdesverhouding met Maggie Gyllenhaal. Sy is my Scorsese.” Vir Maggie is haar regiebenadering: “Ek sien jou en daag jou uit om na die plek te gaan wat jy dalk nog nie ken nie, maar ek weet en ek kan jou lei.”
Uiteindelik gaan die fliek oor eensaamheid en die behoefte om liefgehê te word. Wat hierdie monster monsteragtig maak, is eensaamheid. Dis ’n verkenning van die idee van liefde; hoe ons ware, diep, gevaarlike liefde aanbeveel waar almal wie ons is, gesien kan word, insluitend die monsteragtige wat terselfdertyd ook mooi kan wees.
Volg Margaret op Youtube, Facebook, Twitter en Instagram!
Lees ook: 20 jaar, 2 kinders en steeds verlief: Nico en Christi Panagio vier hul 20ste huweliksherdenking
