Deur Margaret Gardiner.
In September 2025, tydens die Toronto Internasionale Rolprentfees (Tiff), het ’n fliek oor Shakespeare se vroeë lewe, Hamnet, gehore op hul voete vir ’n dawerende applous gehad. Dit het die People’s Choice-toekenning by die rolprentfees gewen, wat dikwels ’n voorspelling van Oscar-guns is.
Van daardie oomblik af is Jessie Buckley die vrou om te klop vir die Oscar vir Beste Aktrise, ’n kategorie wat sy by die onlangse Golden Globe-toekennings gewen het.

Jessie Buckley (Foto: Amy Sussman/Getty Images)
Die titelkarakter, Hamnet, was die naam van een van Shakespeare se kinders. Moet liefs nie verder lees as jy dit nie weet nie: Shakespeare se grootste toneelstuk Hamlet is geïnspireer deur sy kind wat oorlede is.
Die fliek is deur Zhao, van Maggie O’Farrell se 2020 historiese fiksieroman met dieselfde naam, verwerk. Die storie word vertel vanuit Shakespeare se vrou, Agnes, se oogpunt. Onder leiding van een van slegs twee vroue wat ’n Oscar vir Beste Prent gewen het (Nomadland – 2021), neem Chloe Zhao ons op ’n ingrypende reis van ’n vrou wat haar tyd vooruit was. Onafhanklik van aard weier Agnes om te buig voor die beperkinge wat vroue in Engeland van 1580 opgelê is. Wild in haar liefde vir die natuur en die gebruik van kruiemiddels, vang sy die oog van haar broers en susters se Latyn-onderwyser William Shakespeare (Paul Mescal).
Shakespeare val halsoorkop verlief op Agnes se rebelse kant. Die twee begin ’n verbode romanse omdat hulle weet dat hul ouers ’n verhouding sal afkeer. Shakespeare se ouers beskou Agnes as vreemd omdat sy gereeld alleen in die bos rondloop, sy ’n noue band met die natuur het en sy 26 jaar oud is terwyl hy 18 is. Haar familie beskou hom as onaantreklik en onaanvaarbaar, aangesien sy pa skuld gemaak het en hy ’n dramaturg wil word.
Wanneer Agnes swanger raak, stem die families darem in dat hulle trou. Shakespeare, met Agnes se seën, gaan na Londen om sy droom van skryf na te jaag. Hy is nie by die familie met hul seun se dood nie. Hul hartseer skeur die familie amper uitmekaar, totdat Agnes Hamlet by The Globe sien opvoer, en die hartseer en rou verstaan wat haar man ook verduur het en wat hy in die toneelstuk gestort het. Die gehoor sien dele van die opvoering en resoneer met Shakespeare se woorde opnuut deur die raamwerk van Hamnet se dood. Jesse Buckley is boeiend en verteer die skerm in ’n wellustige vertolking van ’n eiesinnige vrou wat met haar hart lei.

Jessie Buckley en Paul Mescal (Foto: Michael Loccisano/Getty Images)
Jesse Buckley het ’n loopbaan gemaak deur anderste vroue uit te beeld (The Lost Daughter, Fargo, Women Talking). Die Ierse talent is baie privaat en het slegs haar man se voornaam gedeel, Freddie, wat Engels is en ’n aanleg vir kook het. Hy het Jesse se gunstelinggereg, ansjovispasta, geskep en het teruggekeer universiteit toe om te spesialiseer in studies wat op geestesgesondheid fokus. Dit volgens die podsending: Table Manners.
Toe ek met die regisseur en ster in ’n eksklusiewe onderhoud by Tiff gepraat het, het die oorwinnings en benoemings nog nie plaasgevind nie. Die vroue het, op die boonste vlakke van die Ritz Carlton met die hoë glasgeboue soos moderne kuns as agtergrond, gepraat oor hul invloede in die vorming van hul keuses. “Hamnet het in my lewe gekom soos ’n fluistering wat in ’n orkaan verander het,” het Chloe Zhao gedeel. Sy het die fliek opgedra aan “al die vroue van die verlede en hede wat groot pyn en verlies gely het, en die mans wat hul gevoelens onderdruk het en van hulself weggehardloop het om ons te lei”. Dis ’n interessante huldeblyk, aangesien dit nie net die gewoonlik stille pyn wat vroue in die samelewing verduur, ten toon stel nie, maar ook die druk op mans om emosies te oorkom. In die geval van Hamnet, wat tot die meesterstuk Hamlet lei.

Chloé Zhao (Foto: Ben Kriemann/Getty Images)
Chloe, wat van Chinese afkoms is, betreur die “gebrek aan vroulike argetipes wat hul volle uitdrukking kry en nie terugdeins nie,” in die literatuur, kuns of samelewing terwyl sy grootgeword het. Sy maak ’n terloopse ironiese opmerking. “As hulle bestaan het, is dit diegene wat die monnik in die versoeking lei. ‘Sy gaan hom verlei en eet!’ Die vroulike regisseur wat haarself voortdurend deur blote talent in ’n manswêreld dwing, kom stemmig voor. Haar lang hare is gewoonlik los en word sywaarts gekam, soms in vlegsels. Haar klere is in neutrale kleure, los en elegant gesny, hoewel sy meer onlangs met kleur begin eksperimenteer het. As jy met haar praat, voel jy gesentreerd en kalm; sy lewer haar woorde met doelbewustheid en duidelikheid maar ook gemoduleerd.
“Ek het vier flieks gemaak oor karakters wat groot verliese ervaar en hulself deur aanvaarding vind. Hamnet is die voltrekking van daardie reis. Ek dink baie van ons het grootgeword in kulture wat terughouding gevier het; gevier het dat hoe meer jy jou gevoelens kan beheer, hoe meer jy as volwasse beskou is – en hoe meer het jy daaronder gely. As ’n vrou wat baie uitdrukking aan my gevoelens gee, is hulle (mans) geneig om van my weg te hardloop en nie huis toe te kom nie, want hulle het nie plek vir hulself nie. Vir baie vroue sou hulle gekruisig word as hulle eerlik is.”
Jesse is heel paslik die bynaam ‘The Lone Ranger’ gegee omdat sy as 15-jarige die bos in sou verdwyn of om 5:00 na die musiekkamer sou ontsnap om by haar kosskool te oefen. ‘Ek was skaam oor my behoefte aan kreatiwiteit,” sê sy in haar Ierse stem, en beklemtoon die woorde met haar beroemde skewe glimlag. “Ek hoop dat jong meisies soos ek op 15 was en hulle deur hierdie karakter kan herken dat hulle nie klein hoef te wees, weg te kruip of bekommerd hoef te wees oor ‘te veel wees’ nie.”

Joe Alwyn, Noah Jupe, Chloé Zhao, Jessie Buckley, Paul Mescal en Jacobi Jupe (Foto: Amy Sussman/Getty Images)
Spesiale vermelding moet gaan aan die ondersteunende rolverdeling van Hamnet: Jacobi Jupe is fenomenaal as die jong Hamnet, Emily Watson is fel as William se ma, en dis wonderlik om te sien dat Joe Alwyn die kans kry om sy vroeë belofte as Agnes se broer, haar rots en verdediger, na te kom. Hamnet het die prys vir Beste Rolprentdrama by die 2026 Golden Globe-toekennings gewen, benewens die oorwinning vir Beste Aktrise vir Jesse Buckley. Dit het agt Oscar-benoemings gekry, insluitend Beste Rolprent, Beste Regisseur en Beste Aktrise. Beste Aangepaste Draaiboek, Kostuumontwerp, Oorspronklike Musiek en die nuutste kategorie wat by die Oscar-lys gevoeg is: Beste Rolverdeling.
Volg Margaret op Youtube, Facebook, Twitter en Instagram!
Lees ook: Suid-Afrikaanse animasiefliek David klop Hollywood-reuse in VSA
