kategorieë: Bekendes

Margaret gesels met Chris Hemsworth

Chris Hemsworth laat my aan Suid-Afrikaanse mans dink. Hy is ’n regte man en hy lyk soos een – nie soos sommige Hollywood-hunks wat jou dikwels teleurstel wanneer jy hulle in lewende lywe ontmoet nie. Die 31-jarige mis die twee meter-merk net-net en verdien vir seker People Magazine se titel “Sexiest Man Alive 2014”. Maar die Aussie lag oor die ophef wat van hom gemaak word.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Chris is getroud met die Spaanse aktrise Elsa Pataky. Hulle het drie kinders.
In 2013 het hy lof ontvang vir sy rol in Rush, waarin hy die renjaer James Hunt gespeel het. Hierin het hy bewys dat hy meer as net ’n aksieheld is, nadat hy sedert 2011 in verskeie Marvel-films die rol van Thor vertolk het. Sedertien het hy gespeel in In the Heart of the Sea (2015) en The Huntsman: Winter’s War (2016).

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Hoewel hy lighartig is in onderhoude, is hy baie ernstig oor sy werk, nes sy twee akteur-broers, Liam en Luke.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Hoe gemaklik is jy met tegnologie?

Ek het maar min daarvan geweet voor ek aan Black Hat begin werk het. Gelukkig het die regisseur daarop aangedring dat ons maande lank rekenaarklasse bywoon, waaroor ek nou dankbaar is. Maar heel eerste moes ek leer tik. Ek het altyd rondgesoek en met twee vingers na die letters gepik. Daarna het ons met ’n paar kuberkrakers gesels wat vir hul misdade toegesluit is. Ek kan jare lank rekenaarlesse neem en sal nooit naby hierdie ouens kom nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Is dit waar dat jy tien weke lank in die regisseur se kantoor moes sit en leer tik?

Jip. Ek het wel in die kantoor langs syne gesit, en hy het gereeld daar ingekom en gesê: “Wys my wat jy kan doen. Tik die bladsy.” Ek het gevoel asof ek weer op skool was en asof ek gestraf word vir al daardie jare wat ek nie opgelet het nie (lag). Maar die oefen help ’n mens om te fokus wanneer jy begin skiet, want dan kan die goed organies gebeur. Boonop kan ek nou vinniger e-posse stuur.

Maak tegnologiese vooruitgang jou bang?

En hoe. Soms wanneer ek kuberkraker-nuus hoor, besef ek dat die dinge waaroor ons twee jaar gelede net gegis het, nou regtig gebeur. Dis erg om te weet wat moontlik is en hoe kwetsbaar ons stelsels eintlik is.

Het die fliek jou meer bedag gemaak op wagwoorde en identiteitsekuriteit?

Dit was skokkend om te besef dat mense jou inligting kan kry as hulle dit wil hê – ongeag al jou wagwoorde. Dit het my twee keer laat dink oor wat ek op my skootrekenaar en foon sit en hoe toeganklik die inligting is. Daar was in elk geval nie veel om te sien nie (lag), maar ek hou nou eerder my geheime in my kop (lag). Hulle kan darem nog nie daarby uitkom nie, maar dit sal seker ook eendag moontlik wees. Dit maak ’n mens nogal paranoïes, maar ek dink dis maar die wêreld waarin ons leef. Tegnologie groei so vinnig dat dit binnekort ons kennis daarvan gaan verbysteek. Wie weet wat in die toekoms gaan gebeur? Ek dink ons is baie naïef oor tegnologie en maak aannames wat ons valse sekuriteit gee.

Hoe voel dit om drie kinders onder drie jaar te hê?

Ouerskap is wonderlik. Enige ouer sal vir jou sê wanneer jy kinders het, dit voel asof hulle nog altyd daar was. Dis moeilik om te onthou hoe dit voor hul geboortes was. Ons hele familie het pas ons eerste Kersfees by die huis gevier. Al die kinders – my broer se kinders, ons kinders – dit was wonderlik chaoties (lag) en ongelooflik! Dis nou vir my moeilik om hulle by die huis te los wanneer ek gaan werk. My dogter is al oud genoeg om te weet wanneer ek weggaan, voorheen was sy nie regtig bewus daarvan nie.

Ruil jy doeke om?

Ja. Ek en my vrou werk ewe hard. Niemand anders gaan dit vir ons doen nie. Dit hou ’n mens nederig.

Wat het jou vrou van die “Sexiest Man Alive”-titel gedink?

Ek mag net 24 uur lank daaroor gespog het (lag) en toe was alles weer normaal. Nee, ek speel, sy het gedink dis baie snaaks.

En jou ma?

Sy het al die werk gedoen. Wel, sy en my pa (lag). Hulle moes die toekenning gekry het. Ek het niks daarmee te doen gehad nie. Ek kan nou aftree en myself laat gaan, terugsit en eet en drink (lag).

Gaan jou gesin saam wanneer jy op ander plekke gaan werk?

Die afgelope paar jaar het almal saamgekom, en dit was wonderlik. Die meeste van my flieks is in Londen geskiet, en omdat Spanje nie te ver daarvandaan is nie, kon my vrou sommer ook by haar familie in Spanje gaan kuier. Ek dink dit sal moeiliker word wanneer die kinders ouer en op skool is, maar ons sal daardie brug oorsteek wanneer ons daar kom.

Kan jy Spaans praat?

My vrou praat Spaans met my wanneer ek in die moeilikheid is (lag). Meestal verstaan ek niks. Ek leer seker die meeste by my dogter wanneer sy Spaans praat, want sy praat baie stadiger as die ander. Wanneer sy vir my iets sê, vra ek my vrou wat dit beteken en so leer ek. Maar ek gaan nie vir jou jok nie, my Spaans is nie wonderlik nie. Ek was lank laas in Spanje, maar ek dink ek gaan oor ’n paar weke soontoe. Ek is versot op Spaanse kos. Tortillas en tapas wat my vrou maak, paella en natuurlik sangria.

Hoe bly jy gesond?

Werk hou my fiks. Jy sit nie rond en kyk heeldag TV nie. Jy is heeltyd op jou voete. Wanneer ek skiet, eet ek doelbewus gesond. Ek hou ook daarvan om aktief te wees en te oefen. Al waarmee ek sukkel, is slaap – veral met hierdie fliek. Ons het baie tussen LA en Hongkong gereis. Soms het ons in die dag geskiet, ander kere saans, ses dae per week, 24 uur per dag. Dit was uitputtend.

En kry jy geslaap met jou kindertjies?

Mense haat my wanneer ek dit sê, maar hulle slaap goed (lag). Maar ek wil dit nie jinx nie (lag).

Wat het jy by jou ouers geleer wat jy vir jou kinders wil leer?

Ons was baie aktief. My pa het ons van kleins af gevat om branderplank te ry en sokker te speel. Ons het alles saam gedoen, selfs my ma het saamgespeel. Dis vir my belangrik. Ons was nie ryk nie en ons het alles waardeer wat ons gehad het. Ek het my ma onlangs gevra hoe leer jy kinders om goed te waardeer as hulle met genoeg geld grootgeword het? Sy het gesê jy moet net jou kinders liefhê en hoop op die beste. Dis al wat jy kan doen. Ek dink die detail raak irrelevant. Solank hulle net geliefd en veilig voel.

Kry jy en jou vrou soms tyd vir julself?

Gelukkig bly oupa en ouma naby, wat wonderlik is. Soms gaan ons uit vir ’n aand, gaan fliek en eet, die soort goed wat ons gedoen het voor ons kinders gehad het.

Kry julle nie baie aandag as julle uitgaan nie?

As ons gaan fliek, sit ek ’n hoed op en ons sluip by ’n agterdeur in. Gewoonlik werk dit goed. Ek gaan kyk net nooit na my eie flieks nie.

Hoe was die 17-jarige Chris?

Ek was toe in my laaste skooljaar. Ek wou enigiets doen behalwe skoolgaan. Ek het regtig niks van skool gehou nie. Ek het drama-klasse geneem wat vir my lekker was, ook omdat ek nie vir te lank kon stilsit nie en dié klasse was nie baie gestruktureerd nie. Al wat ek wou doen, was surf en aan sport deelneem. Ek het ook in daardie tyd ’n toneelspelkursus gedoen en was dadelik gek daarna. Dit het by my ’n obsessie geword en ek het oor en oor na flieks gekyk. Ek het nie eens aansoek gedoen om universiteit toe te gaan nie, ek het net op toneelspel gefokus.

Het jy toe ’n meisie gehad?

Ek dink nie so nie. Ek kan nie onthou nie. Ek het dalk met ’n paar meisies uitgegaan, maar ek wou net met mag en mening klaarmaak met skool en Hollywood toe gaan. Ek het ’n rol in ’n TV-reeks losgeslaan en het drie en ’n half jaar daarin gespeel. Daardie rol het my in staat gestel om foute te maak sonder dat enigiemand regtig aan my aandag geskenk het.

Het jy enige slegte gewoontes?

Koolhidrate. Pizza en vleispasteie. In Australië is daar ’n soort vleispastei met macaroni en kaas bo-op wat ek altyd by Doctor Foods gekry het. Dit klink nie baie lekker nie, maar dis fantasties. Ek het ongelukkig ’n paar jaar laas een geëet.

Hoe gereeld kul jy met jou dieet?

’n Mens moet ’n kuldag hê. Dis hoe dit vir my werk. Ek sal my op my kuldag ooreet aan dit waarvoor ek lus is en dan is dit verby. Ek eet ses dae per week gesond en eet net een dag iets slegs. Ek hou streng daarby.

Vier julle Valentynsdag?

Nee, Valentynsdag is nie groot in Australië nie. In my huis is elke dag Valentynsdag (lag). Ek weet nie eens wanneer Valentynsdag is nie (lag).

Sal jy en jou broers ooit saam in ’n fliek speel?

Ja, maar dit sal die regte een moet wees, want ons sal dit net een keer kan doen. rr

Deel
Gepubliseer deur
Nicole Kemp

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.