kategorieë: Bekendes

Margaret kuier met Mark

Daar is ’n sagtheid en ’n bestendigheid aan Mark Ruffalo wat jou sommer saggies teen hom wil laat leun. Al is hy nie ’n spierpaleis nie, weet jy hierdie groot teddiebeer sal jou dra en steun. Hy het ’n persoonlikheid wat mense kan kry om hul samewerking te gee. Hy is sedert 2000 getroud met die aktrise Sunrise Coigney en hulle het ’n seun, Keen (2001), en twee dogters, Bella Noche (2005) en Odette (2007). Mark het ’n string goeie flieks agter sy naam, soos Collateral saam met Tom Cruise en Reservation Road saam met Leonardo diCaprio. Hy speel ook die strokieskarakter The Hulk in The Avengers-reeks. Meer onlangs was hy te sien in die bekroonde dramas Foxcatcher en Spotlight. Vanjaar is hy terug in Now You See Me: The Second Act, waarin vier kulkunstenaars weer saamkom om ’n onmoontlike rooftog van stapel te stuur. Soos die Ocean’s Eleven-flieks, is hierdie reeks ’n heerlike springmieliefliek wat jou sal vermaak en laat glimlag.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Was jy al te bang om ’n rol te aanvaar?

Die een oudisie waarheen ek nie gegaan het nie omdat ek gedink het ek sou dit nie kon doen nie – en ek dink steeds so – was vir No Country for Old Men. Ek het nie geweet hoe om die rol te vertolk nie. Ek was ook bang vir die Coen Brothers. Ek was bang ek stel hulle teleur. En toe moes ek Foxcatcher doen, wat my ook bang gemaak het. Ek het glad nie geweet hoe ek die rol fisiek gaan aanpak nie. Dit was seker een van die moeilikste goed wat ek tot nog toe gedoen het. Maar ek is bly ek het. Dinge wat jou nie doodmaak nie, maak jou sterker (lag)

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Watter akteurs het jou geïnspireer toe jy jonger was?

Die mens wat die grootste indruk op my gemaak het, was Marlon Brando in A Streetcar Named Desire. Ek was seker so agt of nege toe ek een aand laat saam met my ouma na die fliek kon kyk. Ek wou heeltyd by haar weet wie hierdie man is. En wat doen hy? Ek het nie verstaan wat toneelspel was nie. Ek het net geweet dié ongelooflike man trek my soos ’n magneet. Ek wou dit ook doen. Hy het die saadjie geplant en van toe af was ek baie bewus van geregtigheid, hulpvaardigheid en moraliteit. Al die goed wat God ons geleer het, het sin gemaak. Baie dinge het toe nie sin gemaak nie, maar dit het vasgesteek. Heldhaftigheid is ’n goeie maatstaf vir die lewe en dis hoe ek my lewe van toe af probeer leef het.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Hoe belangrik is jou geloof vir jou?

Ek dink elke mens se verhouding met God is persoonlik, en mense het die reg om dit op hul eie manier uit te leef solank dit vreedsaam is. Ek dink dis ’n belangrike deel van ons kultuur. Ek het in ’n huis met Christene, Katolieke en Moslems grootgeword en elk van die gelowe het ’n invloed op my lewe gehad. Ek het ook gesien hoe belangrik elkeen se geloof vir hom was. Die morele standpunte van elkeen stem baie ooreen, en dis jammer dat geloof soms gebruik word om mense seer te maak – dis heeltemal die teenoorgestelde van wat dit veronderstel is om te doen.

Jou vrou is Frans, so waar bly julle?

In die noorde van die staat New York. Ons is mal daaroor, ons skaats en ry Kersfees met ’n slee, bou sneeuhuise en hou sneeugevegte.

Hoekom het julle besluit om Ooskus toe te trek?

Ek wou op ’n plek bly waar daar meer water is en dit groener is. Ons het die plek al lankal, en dit het baie duur geword om in Los Angeles te bly. Ek moes heeltyd werk om ons leefstyl te finansier. Ons kon hier meer ekonomies lewe, en ek sou minder werk en meer tyd saam met my gesin kon deurbring.

Jy het ’n paar karakters vertolk wat baie woede in hulle het. En jy het ook rustige ouens gespeel. Hoe hanteer jy die twee emosies?

Ek het gou kwaad geword toe ek jonger was maar is nou baie bedaarder. Daar is goed wat my kwaad maak, maar ek verloor nie my humeur soos The Hulk nie. Goed soos ongeregtigheid, skade aan die omgewing, al die slegte goed wat deesdae gebeur, maak my kwaad. Soms maak my kinders my vies. Elke ouer het daardie oomblikke. Wat maak my kalm? Die natuur. Ek gaan stap ’n ent en voel sommer beter.

Word jy gedryf deur jou hart of jou kop?

Dit hang af. Ek glo aan balans. Ek dink ’n mens se kop kan jou verlei. Ek glo nie jou hart sal dit doen nie.

Ek volg jou op Twitter (@MarkRuffalo) en jy is baie eko-bewus en veral gekant teen hidrobreking. Hoekom die spesifieke kwessie, en het dit ’n invloed op jou gesin?

Dankie dat jy my volg (lag). Ek dink soms ek maak mense mal. Wil hulle ooit hierdie goed hoor? Ek glo tog sekere kwessies is belangrik, maar ek probeer ’n balans handhaaf. Ek dink dis belangrik om te veg vir die dinge waarin jy glo. Soms bevind jy jou op ’n sekere plek en tyd en word daar letterlik van jou verwag om die soort mens te wees wat jy dink jy is. Jy word getoets. Ek het my met die omgewingsbeweging in so ’n situasie bevind en het besluit om standpunt in te neem. Die idee van Not In My Back Yard (NIMBY) is dat die hele wêreld ons agterplaas is en daar is nie ’n verskil tussen hier en aan die ander kant van die aardbol nie. Alles is met mekaar verbind. En dis waar alles begin het. Aanvanklik was dit angswekkend, want mense het verwag ek moet hulle help, want niemand wil na hulle luister nie en daar is niks wat hulle kan doen nie. Ek wou weghardloop! Ek het gedink ek is net ’n akteur, wat kan ek doen? Maar toe besef ek as ek nie help nie, is ek skynheilig. Maar dit gaan ook oor my gemeenskap, my bure, my kinders. Bietjie vir bietjie het ek my nek uitgesteek en niemand het my geskiet nie. Ek moes wel ’n paar beledigings sluk maar ek dit ook oorleef. As jy hou by die waarheid wat jy in jou hart glo, sal jy jou argument wen. As jy van ’n egotistiese plek af kom, gaan dit nie werk nie. Dis wat ek geleer het. Ek is geseën, my kinders het ’n goeie opvoeding, ons bly in ’n mooi huis, ons het versekering (lag). As iemand my nou afmaai, het ek ’n goeie lewe gehad (lag).

Twee van jou kinders is disleksies. Hoe hanteer jul gesin dit?

Dit was ’n groot storie om hulle op die regte pad te kry en die beste kanse in die wêreld te gee. Soms het dit gevoel asof ons deur ’n veld vol landmyne stap, maar ons was gelukkig genoeg om ’n goeie skool met die regte onderwysers te kry. Die gewone skole het probeer help, maar die kinders het nie gevorder nie en hulle het dom gevoel. My vrou het al die skole in New York besoek wat in disleksie spesialiseer om die regte een te kry. Albei vorder nou goed. My seun kry nou A’s waar hy voorheen skaars deurgekom het. Dis hartverskeurend om toe te kyk wanneer jou kind op skool sukkel, want hulle mis soveel geleenthede. Ons is baie gelukkig dat ons dit kon doen. Ek weet nie wat doen ouers wat nie die geleenthede of geld het om dit te kan doen nie. Hierdie kinders het meer aandag as ander kinders nodig. Die feit dat hulle nou kan leer, keer dat hulle hulself afkraak omdat hulle dom voel. Dis ’n wonderwerk.

Probeer jy die slimste ou in die vertrek wees? En wat doen jy as jy nie is nie?

Nee, ek wil wel die mees ingeligte ou wees. Ek doen my huiswerk oor al die dinge waarin ek belang stel, en wanneer ek ’n stelling oor iets maak, weet ek dit is korrek. Ek wil goed voorbereid wees. As ek iets nie weet nie, sê ek bloot “Ek weet nie.”

Toe jy jou vrou die eerste keer die jawoord gevra het, het sy “nee” gesê.

Ja. Twee jaar later het ek weer gevra, toe het sy ingestem. Sy het die twee jaar nodig gehad om my beter te leer ken. Die eerste keer was ek impulsief. Ons het by Big Sur gekampeer en het op die rand van die kloof gestaan toe ek na haar kyk en wonder wie anders dié soort goed saam met my sal doen? Toe vra ek haar om te trou. Sy het gesê: “Kan ek met jou terapeut praat?” (lag). Ek moes dit seker nie gedoen het nie. Ek het nie eens ’n ring gehad nie. Die volgende keer het ek seker gemaak ek is voorbereid en het ’n ring gehad. Ek het iets gehad om haar aan te bied. En toe het ek haar oortuig. Dit was baie romanties. rr

Deel
Gepubliseer deur
Nicole Kemp

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

5 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

6 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

6 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

6 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

6 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

6 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.