kategorieë: Bekendes

Margaret uit Hollywood: Sam Heughan

Sam Heughan het die DNS van ’n hartebreker: lank, gespierd, aantreklik … Die Skotse akteur staan 1,89 m in sy sokkies en is nou gewoond daaraan om ’n sekssimbool te wees. Sam speel die rol van Jamie Fraser in Outlander, die TV-reeks wat op Diana Gabaldon se suksesvolle reeks boeke gegrond is. Toe ek hom die eerste keer in 2015 ontmoet het, was hy baie ongeërg oor die gewildheid van die reeks ná net een seisoen. Dit gaan vir hom oor die werk en hy was onbewus van die herrie wat op die Internet losgebars het nadat hy in ’n kilt by die Outlander-première opgedaag het. ’n Paar maande later was ek gelukkig genoeg om by ’n ete op ’n Skotse landgoed tussen hom en Caitriona Balfe, sy medespeler, te sit. Hy is intelligent, en het ook in my werk en lewe belang gestel.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Outlander is ’n romantiese, geskiedkundige drama. ’n Tydreisiger, Claire Randall (Caitriona), ’n Engelse verpleegster wat in 1946 terugreis na die Skotland van 1743, ontmoet ’n aantreklike Skotse Hooglander (Jamie) en word gedwing om met hom te trou. Sy raak later wel op hom verlief. Die rol van die skurk, en Claire se eietydse, Engelse man, word deur dieselfde akteur, Tobias Menzies, gespeel en sorg vir baie drama en ingewikkelde emosies. Die eerste seisoen speel hom in die Skotse Hoogland af en die tweede seisoen het die Franse aristokratiese leefstyl as agtergrond. Die kostuums is ongelooflik. Ek het nog nie ’n vrou ontmoet wat nie gaande oor die reeks is nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Ons het eksklusief met Sam gesels oor wat ons te wagte kan wees in die tweede seisoen van dié gewilde reeks.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Waar het jy grootgeword? Hoe was jou kinderjare?

Ek is op Dumfries & Galloway in die suidweste van Skotland gebore. My kleintyd was idillies – grootgeword in gerestoureerde stalle op die terrein van ’n ou kasteel langs ’n meer. Ek dink dis waar my passie vir toneelspeel vandaan kom. Ek het altyd met ’n pyl en boog gespeel. Op twaalf het ek en my ma Edinburg toe getrek waar ek by die dramaskool in Glasgow, The Royal Scottish Academy, ingeskryf is. Daarna het ek ter wille van my loopbaan twaalf jaar lank in Londen en Los Angeles gebly. Dis wonderlik om nou in Skotland te kan werk.

Wanneer het jy geweet dat jy ’n akteur wil word?

Ek het nog altyd daarin belang gestel. Toe ek klein was, wou ek ’n towenaar wees. Die plaaslike teater het een keer per maand ’n gratis optrede gegee en my ma het my altyd gevat. Dit het my gefassineer.

Is jy nog altyd sportief?

Ja, ek dink so. Ek het van kleins af geswem en gehardloop.

Weggehardloop van vroue wat jou jaag?

(lag) As dit maar net so was! Ek het aan atletiek deelgeneem maar om fiks te wees vir Outlander is ’n ander storie. Ek werk baie met gewigte. Dit help om van lastige aanhangers ontslae te raak (grappie).

Hoe moeilik is die aksietonele? Doen jy jou eie waagtoertjies?

Ja, ek doen alles. Dis baie pret – perdry, gevegte …

Sal jy ’n kilt dra wanneer jy nie toneelspeel nie?

Beslis!

By die huis?

Terwyl ek stofsuig en kos maak (lag). Nee, dis net vir spesiale geleenthede, soos troues. Dalk vir ’n rugbywedstryd, of verjaarsdae.

Jy hou van kook? Wat maak jy?

Ek het ’n ruk lank in ’n Suid-Afrikaanse koswinkel gewerk waar ek geleer het om geregte soos kerries en koeskoes te maak, krummelpap en boerewors ook (hy sê dit met ’n Suid-Afrikaanse aksent!) en sous. En Mrs Balls se blatjang. Dit het my belang-stelling in kos maak geprikkel en my geleer om met geure te eksperimenteer.

Is dit waar dat jy en Caitriona ’n verhouding het?

Sjoe, waar het jy dit gehoor?

Daar was gerugte …

O, ek sien. Ons kry gereeld daardie vraag. Nee, ons het nog nooit ’n verhouding gehad nie. Ons kom net baie goed oor die weg. Dis snaaks dat mense dit so graag wil hê. Ek dink dit beteken dat ons ons goed van ons taak kwyt! Maar dis nogal hartseer wanneer ons moet sê ons is nie saam nie.

Jy steel glo Caitriona se eetgoed op stel?

Ja, heeltyd. Sy het altyd sulke lekker gesonde kos, soos guacamole. Hulle het intussen begin om vir my ook gesonde eetgoed te gee. Ons kry gewoonlik aaklige goed om te eet.

Sny jy jou hare tussen elke seisoen van die reeks?

Nee, daar sal nie genoeg tyd wees om dit weer lank te laat word nie. Dis beslis ’n groot deel van Jamie se identiteit maar ons sal sien wat gebeur.

Die eerste seisoen van Outlander het so dramaties geëindig! Waar staan Jamie aan die begin van die tweede seisoen?

Die gebeure van die eerste seisoen het hom diep geraak. Hulle is skielik in die vreemde wêreld van Parys – en Claire is swanger. Boonop is daar ook baie nuwe drama en politieke struwelinge. Hulle is daar om die geskiedenis te verander en te keer dat die toekoms waar word. Intussen probeer Jamie om homself weer te vind en sy krag en moed terug te kry.

Hoekom is die reeks so gewild?

Dis alles aan Diana Gabaldon se skryfwerk te danke. Sy het tussen 25 – 26 miljoen boeke verkoop. Die storie dek nie net een genre nie. Dis ’n romanse, maar ook ’n tydsreisigerstorie en geskiedkundige en politieke fiksie. Daar is iets van alles.

Die aanhangers van die reeks is fanaties! Het jy ’n lyfwag? Het daar al vreemde goed met jou gebeur, of het jy vreemde geskenke gekry?

Ons het ’n wonderlike aanhangerbasis op Twitter en Caitriona gaan baie ontsteld wees, maar ek kry baie meer geskenke as sy (lag)! Dis gewoonlik eetgoed en ek toets dit meestal op een van die drywers of iemand wat gewillig is. Ek het onlangs ’n liefdadigheidsgeleentheid aangebied en die ondersteuning was ongelooflik. Ons het meer as R1,8 miljoen vir navorsing oor leukemie ingesamel.

Hoe ontspan jy?

Ek is mal oor die buitelewe en hou van stap. Stap in Los Angeles en stap in Skotland verskil hemelsbreed. Hier het jy net ’n paar tekkies en ’n kortbroek nodig maar in Skotland moet jy vir die nat weer en koue aantrek.

Hoe voel dit om al daardie ongelooflike kostuums in die tweede seisoen van Outlander te dra?

Ek moet eerlik wees, toe ek die eerste keer die tweede seisoen van Dragonfly gelees het, het ek in ’n koue sweet uitgebars! Maar Terry Dresbach, ons uitstekende kostuumontwerper, het vir alles gesorg. Dit was van die begin af vir ons belangrik dat dit nie bloot ’n kostuumdrama is nie – dis beslis ’n karakter gedrewe storie. Parys was ’n heerlike verandering ná al die reën en modder in Skotland. En die kostuums gee jou insig in die karakters en hoe hulle gelewe het. Wanneer ons in die tweede helfte van die seisoen na Skotland terugkeer, voel dit of ons huis toe gekom het. Dit was ’n verligting om weer my kilt aan te trek en byna twee uur ná ons begin skiet het, het die reën uitgesak (lag) en almal het dadelik tuis gevoel.

Ek was verras om te hoor dat Jamie Frans praat! Kon jy nog altyd Frans praat of moes jy dit leer?

Op skool het ek my Franse eksamen gedruip! Maar ek het so daarna uitgesien om weer Frans te kon praat. Dis was belangrik om daardie deel van Jamie uit te beeld – ’n sterk Skotse heer in die Franse koningshuis. Maar Jamie praat steeds met ’n Skotse aksent, al praat hy Frans (lag)!

Deesdae is romanse baie meer informeel as in die 1740’s. Wat verkies jy?

Vra jy my of Jamie Fraser op Tinder is (lag)? Ek dink nie hy sal dit op Tinder baie goed doen nie. Dis ’n baie romantiese reeks, maar dis nie al wat daarin steek nie – dis baie ongewoon. Jamie en Claire word gedwing om te trou nog voordat hulle mekaar leer ken het of ’n verhouding gehad het. En hy raak verlief op haar. Die twee karakters het albei so ’n sterk wil dat hulle eintlik goed bymekaar pas. Wanneer hulle voor ’n uitdaging te staan kom, glo Jamie dit kan net op een manier opgelos word terwyl Claire met haar meer moderne uitkyk dink iets anders sal beter werk. Maar hulle kan wel daaroor praat en saamwerk om die probleem op te los. Uiteindelik maak dit hul verhouding sterker. Ek dink dis hoe ’n moderne huwelik werk – om saam met jou eggenoot deur probleme te kan werk.

Jy word nou as ’n sekssimbool beskou – jy was onlangs kaalbolyf op ’n tydskrifvoorblad. Hoe voel jy oor hierdie aspek van jou werk?

Dit was ’n voorblad vir Entertain-ment Weekly en ek was baie trots op daardie voorblad en ja, dit was nogal sexy, maar dit was vir my baie belangrik dat Jamie se littekens sigbaar moes wees. Ek het die rugprostese aangehad en jy kon al die ander littekens op my lyf sien. Dit het nie net oor ’n kaalbolyfman gegaan nie. Vir my gaan dit oor die karakter en die pad wat hy moes loop tot waar hy nou is. Die littekens op sy lyf is ’n belangrike deel daarvan.

Dink jy jy is romanties of meer pragmaties?

Dit hang af wat die omstandighede is. Ek dink ek is pragmaties maar ek raak baie verlief, veral in Los Angeles. Daar is baie mooi mense! Jamie Fraser is beslis romanties en passievol maar sy kop is reg aangeskroef … hy verras my somtyds. In die tweede seisoen het hy skielik ’n ou geslaan oor iets wat nie juis ’n kwessie was nie. Maar dis wie hy is – hy is passievol en neem standpunt in. Hy is ’n man van aksie.

Gaan romanse oor die groot gebare of alledaagse klein goetertjies?

Dit lê beslis in die alledaagse dinge. Almal hou daarvan om ’n bos blomme te kry, of vir ete genooi te word, maar ek dink dit gaan oor konsekwentheid in ’n verhouding, hoewel sensitiwiteit en bedag-saamheid ook belangrik is. rr

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.