kategorieë: Ons menseBekendes

‘Shark Tank’ se Marnus Broodryk

Marnus Broodryk (31) beskryf homself as ’n “regte Afrikaanse seun van die Vrystaat”. Dié Gautengse miljoenêr-entrepreneur se benadering tot die lewe is verfrissend en inspirerend, en gebore uit ’n kombinasie van swaarkry, vasberadenheid en baie harde werk.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

“My ma – die heldin van my lewe – was ’n enkelouer, en ek kom glad nie uit ’n ryk gesin nie. Ek moes vroeg al uitspring om my eie sakgeld te verdien.”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Sy skool het kinders se rapporte teruggehou as hul skoolfonds nie betaal is nie, en Marnus het nie vir die vernedering kans gesien nie. “Ek moes maar maniere kry om my eie skoolfonds te betaal.”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Waar dit ander tieners dalk verbitterd sou maak, het dit Marnus eerder aangespoor.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

“Ek het toe al besluit ek wil nooit in my lewe finansieel sukkel nie”

Op 24 het hy ’n miljoen rand in die bank gehad én ’n baie suksesvolle onderneming besit. Deesdae deel hy sy geldmaak- geheime op twee TV-programme: kykNET se Winslyn en op M-Net se nuwe realiteitsreeks Shark Tank South Africa.

Vertel ’n bietjie meer van jou kinderjare

Ek het op Harrismith in die Vrystaat grootgeword, en my ma, Delene, het vir makelaars gewerk. My oorlede pa, Marius, het ’n bestuurskool gehad en my ouers is geskei toe ek nege was. Ek is die jongste van drie seuns en ’n laatlam. Destyds was die Internet ’n nuwe ding en min mense op ons dorp het iets van rekenaars en IT geweet. Ek het rekenaars reggemaak en myself geleer om webwerwe vir plaaslike ondernemings te bou. Ek het motors gewas vir sakgeld. Eintlik het ek enigiets gedoen wat ek kon vir ekstra geld. Vandag is ek dankbaar oor die swaarkry – dit het my baie geleer. Ek het ’n broertjie dood aan ’n houding van entitle-ment – niemand is outomaties op enigiets geregtig nie. Jy werk vir jou sukses.

Toe word jy ’n rekenmeester …

In matriek het Enslins, ’n ouditeursfirma op die dorp, my ’n klerkskap aangebied. Toevallig het ek ook in daardie tyd gelees dat ouditeur die bes betaalde beroep in Suid-Afrika is. Ek het besluit dis wat ek wil doen, en bedags as klerk gewerk en saans vir my graad deur Unisa studeer. Ek het aanvanklik R1 800 per maand verdien, en my studie het R800 per maand gekos. Gelukkig kon ek by my ma bly. Ek het verskriklik hard gewerk en ná drie jaar my graad in my sak gehad. Ek is baie dankbaar vir die kans wat hulle my gegee het – dit was ’n wonderlike platform waarvandaan ek groter dinge kon doen.

Hoe beland jy toe in die Johannesburgse sakewêreld?

Toe ek my graad het, het ek met net my klere en ’n dubbelbed Johannesburg aangedurf. Ek het darem R38 000 gespaar gedurende my klerkskap, en was vasbeslote om ’n suksesvolle besigheid in Johannesburg te begin. Ek wou meer doen as net mense se boeke nagaan – ek het besef sakemense het ook dikwels praktiese raad nodig vir hul besighede, soos waar om uit te brei en waarop om te besnoei. Ek het my onderneming op 22 begin en dit The Beancounter genoem.

Twee jaar later het jy jou eerste miljoen in die bank gehad. Hoe het jy dit reggekry?

Ek het verskriklik hard gewerk, en net die heel beste mense vir my onderneming gekies. Ek het nie dadelik ’n huis en ’n duur motor gekoop nie, maar eers gespaar. Ons het almal ook aan die begin van ons huise af gewerk sodat ons nie vir duur kantoorruimte moes betaal nie. Met die Internet is dit heel moontlik en maklik om so te werk – ons is almal digitaal aan mekaar verbind deur ons stelsel, en sit al die inligting op een plek in die kuberruim sodat almal wat dit nodig het maklik toegang daartoe het.

Wat is die beste raad wat jy kan gee vir iemand wat van sukses droom?

As jy drie jaar lank elke dag twaalf uur lank aan jou droom werk, móét jy sukses behaal. As dit nie gebeur nie, sal ek jou persoonlik vergoed. Ek het geleer sukses kom net deur vasbeslotenheid, deursettingsvermoë en báie harde werk. ’n Mens se kop moet ook reg wees. Gister was stemdag, en ek het tot gisteraand agtuur nog gewerk. Ek vat gewoonlik een dag in ’n naweek heeltemal af en skakel ook my foon vir 24 uur af, en fokus daarop om te ontspan. Ek glo ook daaraan om net die heel beste mense te huur. Dis iets waarop jy nie moet probeer spaar as jy suksesvol wil wees nie. Voordat iemand by ons kom werk, gaan hy of sy eers deur ’n hele paar onderhoude, ook om te kyk of die persoon by ons maatskappykultuur en -waardes sal inpas.

Jy glo aan ’n vaste roetine. Hoe lyk jou dag?

Ek staan elke oggend van my lewe 03:50 op. Van vieruur tot vyfuur is wat ek noem my “holy hour”. In daardie uur doen ek net goed wat my inspireer en fokus. Ek mediteer, lees en beplan my dag in my kop en geniet sommer net die stilte. Daarna gaan ek gim toe. Ek stort ook sommer daar en eet ontbyt, en agtuur is ek op kantoor, reg vir die dag.

Jy benut jou tyd uitstekend. Hoe kry jy dit reg?

Ek gebruik onder meer ’n elektroniese aanlyndagboek. Enigiemand wat met my ’n afspraak wil maak, doen dit sommer self daar – so mors ’n mens nie nog tyd met tye soek wanneer albei beskikbaar is nie. Ek gebruik ook ’n fantastiese apptodoist (laai dit hier af). Daarop boek ek al my tyd uit – selfs fliek! My moet-doen-lysies is ook daarop. Ek weet heeldag wat ek moet doen en waar ek wanneer moet wees. Natuurlik help my persoonlike assistent ook baie!

Wie inspireer jou?

Mense soos Richard Branson – ek lees alles oor hom. En as alles reg verloop, ontmoet ek hom een van die dae. Ek lees ook graag suksesvolle mense se biografieë.

Het jy ’n motto?

As jy niks het nie, kan jy niks verloor nie. Sit dus alles in – ook as dit beteken jy moet aan die begin 18 uur per dag werk.

Hoe gaan Shark Tank werk?

Ons is vyf sakemense uit verskillende agtergronde wat deelnemers gaan mentor. Daar was meer as duisend inskrywings. Mense moes hul sake-idees of sakeplanne van bestaande ondernemings instuur, en dan word die beste idees en besighede gekies en aan ons voorgelê. As ons daarvan hou, belê ons ons eie geld daarin, en mentor die deelnemer om ’n volwaardige besigheid daarvan te maak, of dit na die volgende vlak te neem.

Sal jy emigreer?

Nie sommer nie. Suid-Afrikaners besef nie in watter wonderlike sakeposisie hulle sit nie – ons is omring deur moontlikhede. Mense moet dit net besef en inspring! Ons is wel besig om ons maatskappy se dienste na Brittanje uit te brei – dis heel moontlik en maklik danksy moderne tegnologie, en buitelanders het baie respek vir Suid-Afrikaners se hardwerkendheid.

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

Kristen Raath oor haar snaaksste, en vernederendste, oomblik op die stel van Wyfie

Dié toekennings, wat deur Screen International aangebied word, word op 20 Mei 2024 in Cannes, Frankryk, uitgedeel.…

14 hours Gelede

Kokkedoor se inskrywings is oop! Is jy gereed om oor die kole gehaal te word?

Soos in die eerste aflewering van Kokkedoor Vuur & Vlam in 2023, moet deelnemers vanjaar…

2 days Gelede

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

2 weeks Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

2 weeks Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

2 weeks Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

2 weeks Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.