kategorieë: InspirasieJou lewe

Mej. Dowe Suid-Afrika se oorwinningsverhaal

Deur Mariette Snyman. Foto’s verskaf.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Chantelle Pretorius (26) het op die plaas Orla aan die voet van die Drakensberge naby Elliot in die Oos-Kaap grootgeword. Op sewe maande het sy ’n lewensgevaarlike vorm van breinvliesontsteking opgedoen.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

“My kans om te oorleef is op 5% geskat, maar ná ’n stryd om te bly leef – en gebede van oral – het God my genees. Vier maande later het ’n ander vorm van meningitis my getref. Dit het my gehoor aangetas en my heeltemal doof gelaat. Toe ek vier jaar oud was, was ek egter die gelukkige ontvanger van ’n kogleêre inplanting.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

“Sonder my gehoorapparate kon ek niks sagter as 90 desibel hoor nie. Dit beteken al het ek langs ’n brullende enjin gestaan, kon ek skaars ’n vae, dowwe geluid hoor. Die kogleêre inplanting het my deel gemaak van die wêreld van horendes. Vir die eerste keer kon ek ’n ‘s’ uitspreek. My ma moes net keer, want toe ek ‘s’ kon sê, wou ek voor elke woord ’n ‘s’ sit: ‘Smamma’, ‘seet’ …

“Ek en my ouers het ingeskakel by die Carl du Toit-sentrum in Kaapstad, waar dowe kinders leer praat. Ouers kry ouerleidingsessies; berge huiswerk om hulle kinders te leer liplees en praat sonder gebaretaal. Ons gesin was elke drie maande twee weke lank in Kaapstad om by hul program in te skakel. My broers was altyd baie opgewonde hieroor –  vir hulle was dit ’n vakansie in die Kaap! Die Carl du Toit-sentrum het my gehelp om vastrapplek tussen twee wêrelde te kry. Dit het my gehoorgestremdheid iets van die verlede gemaak en my gehelp om met meer gemak te kommunikeer.”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Moeilike jare

“Op skool het ek baie swaar gekry, veral toe ek jonger was. Op laerskool moes ek kort-kort my maatjies se aandag kry deur aan hulle te raak en te vra: ‘Wat het juffrou nou gesê?’ My hart was sommer seer as ek moes hoor: ‘Vra self vir juffrou’ of ‘Moenie aan my raak nie, dis irriterend.’ Kinders kan lelik optree. Hulle weet nog nie wat aanvaarbaar is nie. My ma het altyd gesê: ‘Aanvaar elkeen soos hy of sy is, maak nie saak hoe oud of jonk, klein of groot, gebrekkig of nie. Elkeen is uniek op sy of haar eie manier. Maar hoe moes ek dit vir my maatjies sê? Met wonderlike onderwysers wat my geken het, kon ek egter die lewe in die gesig kyk en aangaan.

“Op hoërskool het die emosionele stryd van voor af begin. Die onderwysers was nie gewoond aan my nie; die kinders was nie gewoond aan my nie, maar ek het probeer inpas waar ek aanvaar sou word. Weer eens het ek besef: tieners raak lelik en hulle wil net die beste hê, ook die beste vriende. Ek wou net aanvaar word. My tienerstadium was die moeilikste in my lewe, maar tog het dit van my ’n rots gemaak. Ek sê altyd: aanvaar die boelies, hulle leer jou wat jy nié moet wees nie.

Ek sê altyd: aanvaar die boelies, hulle leer jou wat jy nié moet wees nie

“Universiteit was ’n groot aanpassing. In die eerste week van klasloop het ek my ma-hulle gebel en gesê: ‘Kom haal my, hier sal ek dit nooit maak nie. Die klasse is groot, die boeke is in hoog-Engels, hoe nou?’ Nadat ek ’n paar dosente gaan sien het, het hulle my beter verstaan en my beter geakkommodeer. Maar kort voor lank moes ek weer staatmaak op ander studente se aantekeninge. In 2015 het ek my B. Ed. graad in die grondslagfase verwerf, en deesdae hou ek skool op Barkly-Oos in die Oos-Kaap.”

Gekroon as Mej. Dowe Suid-Afrika in September 2017

Kommunikasiegapings

“Mense diskrimineer soms teenoor gestremdes omdat hulle dink jy kan nie normaal funksioneer nie. Dowe mense kan enigiets doen wat normale horende mense kan doen; ons kan net nie hoor nie. Waar daar egter ’n wil is, is daar ’n weg.

Waar daar egter ’n wil is, is daar ’n weg

“Gehoorgestremdes werk drie keer harder om te kommunikeer, en dit verg baie inspanning. Maar ek gebruik nie my gehoor as ’n verskoning nie en ek laat nie toe dat dit my terughou nie. Omdat ek staatmaak op liplees, lag mense as ek sê: ‘Sit aan die lig sodat ek jou kan hoor.’ Dowe mense is soos motte, want hulle volg die lig. Sonder lig is dit moeilik om te kommunikeer.

“Ek bid elke dag vir wysheid. Gelukkig het ek skerp oë, en met my oë lees ek jou liggaamshouding. As ek jou raad kan gee: hou jou liggaamstaal vriendelik, en ontspan. Ek kom ’n lang pad hiermee. Hou op stadiger praat, hou op oorartikuleer. Ek verstaan jou! Gehoorgestremdes is nie stupid of dom nie.

“In ’n dowe wêreld is daar baie humor. Omdat ons soms die snaaksste woorde hoor wat iets heeltemal anders beteken, kan ons nogal in komiese situasies beland. Toe ek so ses jaar oud was, het die hoenders een dag vreeslik te kere gegaan. My twee broers, Ulrich en Gunther, was ook daar. Die hoenders se geraas het vir my geklink na ‘Oeriggggg, oerigggg …’ Na die hoeveelste keer wat die hoenders so tekere gegaan het, hardloop ek by die huis uit en skree vir my ma: ‘Ulrich is nie hier nie, hy is by die skuur!’

Die Mej. Dowe Heelal-kompetisie

“My bestuurder, Franscois Britton, het onverwags oor my pad gekom. Hy is ’n ontwerper van Aliwal-Noord. Ek het hom genader om vir my ’n rok te maak vir die Mej. Dowe Suid-Afrika 2017-kompetisie. Hy het aangebied om al my aandrokke te borg. Hoe geseënd is ek nie? Hy laat my altyd soos ’n superster voel en lyk. Hy is my mentor en my steunpilaar.

“Op 9 Julie 2018 gaan ek, Franscois en my stileerder, Biah Crous, na Praag. Ons is altesaam 90 gehoorgestremde dames van regoor die wêreld wat gaan deelneem. Ek glo en vertrou dat ek Suid-Afrika trots kan maak en die kroon huis toe kan bring!”

Chantelle sien die lewe só

  • Dalk is dit skokkend om te hoor dat ek dankbaar is ek het gehoorgestremd grootgeword. Dit het my die lewe laat proe, my voorberei op wat voorlê en my laat besef daar is nie “ag siestogs” in die lewe nie. Moet jouself nooit jammer kry nie! Moenie tou opgooi nie, al is die pad nie aldag gelyk nie.
  • Ek het nie in weelde grootgeword nie, maar met liefde en vreugde. Ek het geleer om ewigheidswaardes soos liefde, vreugde, vrede, geduld, goedheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing te omarm – die gawes van die gees soos in Galasiërs 5:22.
  • Natuurlik het ek my nukke en grille. As kind het ek ook onder die houtlepel deurgeloop. Ek kon op ’n ashoop van selfbejammering gaan sit het, maar die keuse bly myne. Óf ek groei, óf ek gaan dood.
  • Ons is geneig om die lewe te kompliseer; om meer te wil hê, beter te wil wees … Ons keuses, ons gesindheid bepaal die gehalte van ons lewe. Staan ’n bietjie stil en sê dankie. Omhels die lewe! Leef met entoesiasme, passie en liefde.
  • Sonder my geloof sou my lewe leeg en sinneloos wees. Besluit vandag dat God vir jou veg. Let go, let GOD!

Deel
Gepubliseer deur
Mariette Snyman

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

12 hours Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

17 hours Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

20 hours Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

21 hours Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 day Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 day Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.