Resensente en gehoorlede wat dit by die Silwerskermfees gesien het, is dit eens dat My f*k, Marelize! een van die flieks is wat jy vanjaar móét sien. En die goeie nuus is dat jy dit dadelik in ’n teater kan gaan kyk, want Marelize het vanaf vandag 29 Augustus in bioskope in Suid-Afrika en Namibië begin draai.
Dis aangewys as die gehoor se gunsteling by vanjaar se Silwerskermfees, en by die glansryke Silwerskermtoekennings vir Film en TV het My f*k, Marelize! nog twee groot pryse losgeslaan. Je-ani Swiegelaar, wat Heidi Horn speel, het gewen in die kategorie vir beste aktrise, en Zandélle Meyer het vir haar vertolking van Marelize Horn die toekenning vir beste vroulike byspeler ingepalm.
“Dié eersteklas- Afrikaanse rolprent is nie wat jy verwag nie, en dis verkwiklik. Dit is ’n bekoorlike fliek oor barmhartigheid en die hegte bande in ’n gesin. Dit sal ’n pleister oor jou depressie plak. Gaan kyk – dis buitengewoon!” – Leon van Nierop, Rapport
“Swiegelaar hou en stuur dié prent soos Heidi haar gesin. Nooit wankel sy na goedkoop emosie nie, nooit tap sy of speel sy vir effek nie. Heidi is soos ’n boegbeeld in ’n stormsee, Swiegelaar speel haar met stil oortuiging.” – Laetitia Pople, Netwerk24
“Die storie agter die titel was verrassend. Net weer ’n bewys dat daar altyd ’n storie agter die storie is. My f*k, Marelize! is ’n verhaal wat diep snare roer – van gewone familie-dinamika, liefde en humor ten spyte van klippe wat in ons pad gerol word. Uitstekende fliek!” – Justine Krige ná afloop van die première
Hier is nog vyf redes om nie My f*k, Marelize! mis te loop nie.
- Die fliek vertel die storie agter die storie van die selfoonvideo wat ’n ma van haar dogter geneem het waar sy teen ’n rugbypaal vasry. Die woorde “my f*k, Marelize” het ’n gewilde uitdrukking in die volksmond geword, en skielik het almal geweet wie die Horns van Windhoek is. Dis ’n rolprent oor hierdie gesin se lief en leed en is vol humor, familieliefde en medemenslikheid.
- Die regisseur is Zandré Coetzer, en die draaiboekskrywer is Brett Michael Innes. Beide is vir Silwerskermtoekennings vir My f*k, Marelize! benoem. “Dis ’n storie oor familie,” sê Zandré Coetzer. “Hierdie is ’n fliek vir enigiemand wat weet hoe familie-dinamiek ook familie-dinamiet kan wees. Die storie is in sy wese eintlik so klein, maar dit tref so diep. Dis ’n storie oor die lewe.”
- Die rol van Tiaan Horn word deur Neels Clasen (Niggies, Spoorloos: Losprys) gespeel, en Nichola Viviers is Marelize se ousus, Wilmari. Nichola, wat drama aan die Universiteit Stellenbosch studeer het, het vroeër vanjaar die Fleur du Cap-toekenning vir belowendste student gewen.
- My f*k, Marelize! is in Windhoek verfilm en deur Nagvlug Films en Nostalgia Productions van Suid-Afrika, en Joe Vision Productions van Namibië vervaardig. Indigenous Film Distribution versprei die film.
- Die Horns van Windhoek was gaste by vanjaar se Silwerskermfees en was nie net daar vir die première nie, maar kon ook in die vreugde deel toe Je-ani en Zandélle Saterdagaand hulle toekennings gewen het.

Hiermee die lys van fliekteaters waar dit gaan wys in Suid-Afrika en Namibië:
Ster Kinekor
- Bay West – Port Elizabeth
- Blue Route Mall Tokai – Kaapstad
- Brooklyn Mall – Pretoria
- Cape Gate – Kaapstad
- Cradlestone Mall – Johannesburg
- Cresta Mall – Johannesburg
- The Grove – Windhoek
- Maerua Mall – Windhoek
- Garden Route – George
- Waterest – Pinetown
- Ilanga Mall – Mbombela
- Mall of the North – Polokwane
- V&A Waterfront – Kaapstad
- Mimosa Mall – Bloemfontein
- Mooi River – Potchefstroom
- Rosebank Nouveau – Johannesburg
- Somerset Mall – Somerset West
- Rustenburg – Rustenburg
- Eastgate – Johannesburg
- Irene – Pretoria
- The Grove Lynnwood – Pretoria
- Tygervalley – Kaapstad
- Vaal Mall – Vanderbiljl Park
Nu Metro
- Canal Walk – Kaapstad
- Menlyn – Pretoria
- Ballito Junction – Kwazulu-Natal
- Worcester – Wes-Kaap
- Boardwalk Casino – Port Elizabeth
- Loch Logan – Bloemfontein
- Woodlands – Pretoria
- Galleria – Amanzimtoti
- Clearwater Mall – Johannesburg
- The Pavillion – Durban
Onafhanklik
- Whale Coast Roadhouse – Hermanus
- Epic North Ridge – Bloemfontein
- Movies @ Montecasino – Johannesburg
- Movies @ Silverstar – Krugersdorp
- Grand West Casino – Kaapstad
Lees ook: Charl Arangies gesels oor Vaal Riviera se verassings en sy liefde vir motorsport







