kategorieë: InspirasieJou lewe

’n Kaleidoskoop van kleur met koffie

Deur Rentia Mynhardt

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Sandra de Clercq kan aan enige ding wat rondlê nuwe lewe gee. Vir haar is kreatiwiteit die geleentheid om uiting aan jou emosies te gee, wat beteken dat elke dag ʼn droomdag is  juis omdat sy die kans kry om dit te doen.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

As een van vyf sussies het sy in ʼn baie musikale huis grootgeword waar die instrumente Vrydagaande nader getrek is om dan vir almal wat wou luister musiek te maak. Sandra se musiektalent lê by dans, en al is sy al ʼn raps verby 50, is sy steeds mal daaroor om die heupe sommer in die kombuis ritmies te swaai en sal sy selfs ʼn paar tieners ʼn ding of twee op die dansbaan kan wys!

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Haar kreatiwiteit en liefde vir kuns kom van kleins af. Die voorbeelde wat sy gekry het, was blywend. Haar ma was ’n musiekonderwyser, die orrelis by die kerk, en het hul kamers met muurpapier mooi gemaak. Elke Dinsdagaand het sy vir hulle ʼn rolkoek gebak sodat hulle 20:00 in styl kon tee drink. Sandra se ouma het weer saam met haar Barbie-klere gemaak, wat die naaldwerk- en ontwerpvlammetjie in haar aangesteek het.

Vandat Sandra kan onthou, wou sy alles om haar mooi maak; of dit nou was om tafels mooi te dek, allerhande goed te verf, of in die tuin te werk. Sy het ná skool ʼn kursus in modeontwerp gedoen, maar die lewe was egter nie net altyd mooi en maklik nie. As enkelouer moes sy die pot vir haar en haar dogtertjie aan die kook hou deur bedags as mediese verteenwoordiger te werk en ná ure klere en skilderye te skep. Hierdie pragtige donkerkopvrou wéét wat harde werk is en is nie bang om haar hande vuil te maak nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Foto: Andrea Caldwell

“Op 42 het ek vir Gerhard ontmoet. Hy is steeds alles waarvan ek nog ooit in ʼn man gedroom het.” Sandra het George toe getrek en haar eie boetiek oopgemaak. Hulle is terug Pretoria toe nadat die kinders met skool klaargemaak het. Omdat stilsit nie een van Sandra se sterkpunte is nie, het sy vinnig-vinnig besluit om ʼn koffiekiosk binne ʼn kommersiële sakeperseel oop te maak.

“Ek het nie veel van koffie af geweet nie, en het ʼn vriend op George wat sy eie koffie rooster vir leiding gekontak. Hy het my gehelp om met die regte kennis, toerusting en gehaltekoffiebone my kiosk op die been te bring.” Nadat sy ʼn baristakursus voltooi het, kon haar planne ʼn werklikheid word en kort voor lank kon geen huurder op die perseel die reuk van varsgebroude koffiebone weerstaan nie.

“Die Here het egter vir my groter planne gehad as net ʼn oulike klein koffiekiosk wat koffie in wegneemhouertjies verkoop. Ek het van die begin af geweet ek wil ʼn koffiewinkel hê; een wat anders is as die gewone. Dit moes ʼn plek wees waar almal welkom voel; glad nie fancy, formeel of ‘neus in die lug’ nie. Ek mag dalk ʼn koffiesnob wees, maar ek hou net mooi niks van mense wat dink hulle is beter as ander nie!”

Nog vyf maande later het die kiosk ʼn volwaardige koffiewinkel geword. Sandra is nog altyd met Meksikaanse kleure en dekor gefassineer, en Frida Kahlo, die Mexikaanse kunstenaar, se styl het perfek hierby gepas. “Dit was veral Frida se aanhalings wat my aandag getrek het, omdat ek met so baie daarvan kan assosieer.” Coffee at Kahlo is hieruit gebore.

Daar is begin bou en breek om die gebou in te rig. “Ek was in my element! Die mure en plafonne is geverf, ek het skilderye van Frida gemaak, en ek het die mooiste muurpapier gekry. Ou ligte is met geskenkpapier ge-modge podge en die tuin is oorgedoen. Ek vat graag self ʼn graaf om te spit.”

Die spyskaart moes natuurlik happies insluit wat saam met koffie geniet kan word. Sandra het aanvanklik van bakkers gebruik gemaak, maar omdat sy elke dag varsgebak by Coffee at Kahlo wil hê, het sy besluit om eerder self te begin bak. “Ek het gedink as ek kan kook, kan ek seker bak ook. Maar ek het vinnig my woorde gesluk en die eerste paar koeke was ʼn hengse flop!” Aanhouer wen en sy kan nou met trots sê dat die koek wat hulle daagliks bedien heerlik en van hoë gehalte is. “Ek wil hê ʼn besoek aan Coffee at Kahlo moet vir elke persoon wat hier uitstap die moeite werd wees, soveel so dat sy die behoefte het om vir ander daarvan te vertel.” Sedert sy amptelik die deure op 5 Mei verlede jaar in Wapadrand, Lynnwoodweg, oopgemaak het, is dit presies wat gebeur het. Sandra se plasings het soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei. “Daar is baie wonderwerke daarbuite, en my koffiewinkel is een van hulle.”

Sy was en is steeds met dankbaarheid oorweldig en deel hoe vroue weer terugkom en volgende keer nóg vriendinne saambring. “My klante voel tuis hier. Ek probeer om hulle op hul name te noem en ek maak sommer in die proses ʼn paar nuwe vriendinne ook.” Behalwe vir die ervaring en atmosfeer wat die koffiewinkel met al sy fotohoekies bied, gaan dit bo alles oor gehalte.

Sy skryf haar sukses aan haar man en personeel toe: “My man ondersteun my en laat my toe om my passie uit te leef. Jy kan al die drome hê wat jy wil, maar as jy nie iemand het wat in jou drome glo nie, en nie personeel het met die vaardighede om dit uit te voer nie, gaan jy nêrens kom nie. Ek is vir hierdie mense in my lewe so dankbaar. Ook vir my lojale klante. Sonder hulle sou ek net ʼn leë ou winkeltjie gehad het.”

Om nog méér vreugde te verskaf, moes Sandra aanbou om meer mense te akkommodeer, en spog Coffee at Kahlo nou met ʼn speelplek vir kinders en ʼn boetiek, Phine Catwalk Fashion, wat Sandra se persoonlike klerereekse op die perseel vervaardig.

Foto: Andrea Caldwell

Sy sluk hard toe haar nat wimpers haar weggee: “Ek word sommer emosioneel as ek dink aan hoe goed die Here vir my is.” Terwyl sy tussendeur help om skottelgoed te was en kos te maak, droom sy voort: “Ek wil nog wyn-en-kuns-gesellighede hou, wynproëe en stoeljoga vir die ouer klante. Daar is ʼn legio moontlikhede!”

Enige onderneming kom met uitdagings, maar Sandra kies om die onvoorspelbaarheid van die sakewêreld saam met dinge soos kragonderbrekings met ʼn positiewe houding aan te pak. Haar raad aan entrepreneurs is om op jou eie onderneming te fokus en van die mededinging te vergeet. “Bestee jou energie op jou eie belange en vergeet wat jou buurman doen. Ek kan nie bid om suksesvol te wees as ek wil hê my mededingers moet sink nie. Almal verdien ʼn plekkie onder die son. As jy bereid is om hard te werk en uit jou foute te leer, móét dit net werk. Hou op om oor alles te tob wat dálk verkeerd kan gaan.”

Hoewel Coffee at Kahlo ʼn kaleidoskoop van kleur is, is hul huis se dekor in teenstelling daarmee heel eenvoudig en het Sandra se dogter, met ʼn graad in binnenshuise argitektuur, ʼn handjie hiermee bygesit. “Xandrie se hulp tydens die proses om die huis oor te doen, was regtig waardevol. Dit is baie kontemporêr met neutrale kleure en natuurlike materiale.”

Dit is ook hier waar die familie saamkuier, baie pret het en speletjies speel. “Ek bak graag poetse en my man, kinders en vriende loop gereeld deur, maar ek kan darem ook ʼn grap vat!” Xandrie en Wicus is verlede jaar getroud, en Johan en Alicia is universiteitstudente. “Ons kan sommer net lekker laf wees as ons almal bymekaar is.”

Die fietsrygogga het die De Clercqs in die grendeltydperk gebyt. “Ons het in daardie tyd begin om in groot detail ʼn fietstoer te beplan en sowat tien paartjies het daaraan deelgeneem. Oor ses dae het ons net fietsgery en dan by sekere plekke oorgeslaap. Die toere het later ʼn instelling geword en ons was reeds in die Karoo, Prins Albert en Barrydale.” Hulle beplan tans aan hierdie jaar se toer wanneer hulle die speke deur Hongarye gaan laat sing.

Sandra de Clercq wil nie inpas nie, sy wil behoort. “Dis maklik om soms stil te bly en goed te doen sodat almal van jou moet hou. ʼn Mens moet egter getrou bly aan jouself en nie jou persoonlikheid verander net om in te pas nie.” Sy draai nie doekies om nie en staan op vir mense wat te na gekom word, want dit is presies wat “Sandra” beteken.

Hierdie koffie-en-koek-vrou pas beslis nie net in nie. Haar uniekheid staan bloedrooi, goudgeel en grasgroen uit – nes Coffee at Kahlo.

Kyk saam met ons:

rooi rose en ontbytSAKE op kykNET en kykNET&kie (kanale 144 en 145) fokus op ’n reeks – vrouesake.

Kyk Saterdae om 07:30 met sewe herhalings in die week.

Vir meer inligting, besoek gerus Ontbytsake se webtuiste.

Lees ook: 10 redes waarom jy die Maart-uitgawe van rooi rose móét lees!

Deel
Gepubliseer deur
Karlien Meiring

Onlangse plasings

Besoek Stellenzicht se unieke ekowyn-pod vir ’n uitsonderlike wynproe-ervaring

Soos jy aankom, word jy deur welige wingerde en groen heuwels begroet. Die wyn-“pod” self…

2 hours Gelede

Geurige roerbraairys

Hierdie geurige roerbraairys kry die lekkerste dadel-en-sjerrie-hoender by.

4 hours Gelede

Die beste gebruik van herfsblare in jou tuin

Die helder skakerings van oranje, rooi, geel en bruin blare gedurende die herfs is werklik…

6 hours Gelede

Leer jou breipatrone beter verstaan

Ons deel breilesse uit ons argiewe.

24 hours Gelede

Gebruik oogomlyner vir langer wimpers

Nie almal is geseënd met lang wimpers óf weet hoe om vals wimpers aan te…

1 day Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.