Wanneer Nataniël op ’n verhoog klim, weet jy jy gaan vir die duur van die vertoning weggevoer word. Vir die Suidoosterfees bring hy vanjaar Händel en die donkie waarin hy die waarde en wonde van indrukke dissekteer. Daardie oomblikke wat jou lewenslank bybly en vorm.
Verwag jazz en pop en die barokklanke van Georg Friedrich Händel, en natuurlik Nataniël se verbeeldingryke stories. Saam met hom op die verhoog is die Steinway-pianis Charl du Plessis asook ’n strykkwartet wat bestaan uit Petrus de Beer, Renée van der Westhuizen, Emile de Roubaix en Anjulie de Vos-Nock. Nataniël se kostuums is oudergewoonte deur Floris Louw ontwerp.
Waar is die saadjie vir Händel en die donkie geplant?
Ek wou ten alle koste een lied van Händel weer sing nadat ek dit verlede jaar met my en Charl du Plessis se 25-jaar-viering by Aardklop gedoen het. Die maklikste is om nie vir die geleentheid te wag nie, maar om ’n produksie rondom dit te bou, en die grootte en die atmosfeer van die operaverhoog by Artscape is perfek.
Waar kom die titel vandaan?
Soos altyd moet die gehoor maar wag om dit uit te vind, maar dieselfde tyd wat ek as kind en jong orrelstudent die klank van Händel leer ken het, was daar ook ander gebeure – goed en sleg – wat my tot vandag bybly.
Jy deel die verhoog met Charl du Plessis en ’n strykkwartet. Wat het hierdie besluit beïnvloed?
Om gestand te doen aan die styl en klank van Händel moet daar ten minste ’n paar uitstekende strykers wees. Daar is natuurlik heelwat meer musiek in die vertoning as net dié van Händel, maar ek is klassiek opgelei en hou daarvan om dit waartoe ek in staat is te gebruik.
Wat is die proses om die kostuums te ontwerp? Is dit ’n spanpoging tussen jou en Floris?
Die storie bepaal onmiddellik in watter rigting die kostuums moet beweeg, en dikwels is daar ook ’n baie ou kostuum wat ek weer wil gebruik. Ek het ook antieke lap in Frankryk gekry, maar daar is ook uiters moderne inspirasie uit die Paris Fashion Week wat sopas plaasgevind het. Ek maak sketse, praat ure oor die foon met Floris, soek verwysings, koerier stukke lap. Dis elke keer ’n ander proses, maar ek val hom lastig sodra ek ’n nuwe idee het. Floris het ongelooflike geduld met my.
Hoe fyn moet die logistiek om die kostuums beplan word?
Kostuumveranderinge moet haarfyn met die verhoogbestuurder en dresser (die persoon wat my help aan- en uittrek) beplan en ingeoefen word. Wanneer ek weet daar is nie ekstra hande nie, maak ons ander planne tydens die ontwerp van die kostuums sodat ek dit binne sekondes kan aantrek of panele kan afruk.
Wat is vir jou die grootste vreugde om by die Suidoosterfees op te tree?
Ek is mal oor die Artscape-gebou. Nog voor ek ’n solo-loopbaan gehad het, meer as 40 jaar gelede, was ek al deel van produksies daar. Dis een van die laaste teaters hier wat nog funksioneer soos wat ek teaters leer ken het. Enige geleentheid om by Artscape ’n speelvak te hê, is ’n groot vreugde. Ek ken ook soveel van die personeel al vir dekades!
Jy het onlangs 39 jaar as solo-kunstenaar gevier. Wat is die raad wat jy aan jong kunstenaars sal gee?
Moenie opgee nie, ek het geveg soos ’n jong leeu om deure oop te skop en geleenthede te kry. Dis nie ’n maklike lewe nie. Teater of die kunste is nie ’n prioriteit in hierdie land soos wat sport of besigheid is nie. Jy moet sewe dae per week opoffer om werklik enige sukses te beleef.
Wees dapper. Kweek ’n dik vel. Gebruik die goeie deel van sosiale media, ignoreer die nonsens. Luister en kyk, soek inspirasie, volg dié wat briljant is, bly weg van dié met persoonlike agendas. En geniet elke oomblik, dis ’n roeping.
Raak jy nog op jou senuwees voor jy op ’n verhoog gaan?
Ek raak mal, ek twyfel oor alles – my lewe, my keuses. Ek is naar en laat val alles en sukkel om my kostuums aan te trek. Elke vertoning is ’n groter trauma as die vorige een. Dit raak nooit makliker nie.
Wat hoop jy kry gehore uit Händel en die donkie?
Skoonheid, vermaak en hopelik iets onverwags.
Händel en die donkie is op 30 April om 20:00 en 1 Mei om 11:30 tydens Suidoosterfees op die planke in The Capetonian Operahuis, Artscape. Kaartjies is beskikbaar hier.
