Note-nostalgie

Op ’n onverwags koel sonskyn herfssoggend neurie ek uit die bloute die drie dekade-oue liedjie in my kop as ek my kinders se skooltasse help uitlaai by die skoolhek:

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

“Die lug is blou,

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Die voëltjies sing

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Ek trap my fiets

Die dag be-giiin …”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Ek het hierdie liedjie laas luidkeels op Potchefstroom in my standerd 5 jaar gesing met my laerskool se 100-jaarviering. Dit was een van verskeie liedjies wat ons senior koor vir maande aaneen geoefen het.

Die aand van die groot optrede op die skool se sportgrond, het ons die verhoog met niemand anders as die Afrikaanse musieklegende Rina Hugo gedeel nie. Dit was voorwaar ’n spoggerige affêre en ek onthou nog elke woord en die meeste note daarvan.

Dit is tog snaaks hoe musiek ’n mens oombliklik kan terugneem na ’n oomblik oor dekades heen.

Ek onthou daagliks as ek in die spieël kyk, my gunsteling Carike Keuzenkampplaat waarop ek my kop al dansende ’n fronsmerk teen my ouma se koffietafel geval het toe ek tussen twee en drie jaar oud was. Tog ironies dat my seuntjie presies drie dekades later op presies dieselfde plek op sy voorkop vir hom ook ’n fronsmerk teen ’n vensterbank geval het. Al wat ek onderweg Ongevalle toe kon dink om te doen om ’n gillende, bebloede tweejarige en sy skreeuende babasussie te probeer kalmeer, was om “Daantjie Kat” hard, vals en half histeries te sing en te hoop ek klink vaagweg soos tannie Carike en lei hulle aandag af.

As kleuter op Leeudoringstad in die Wes-Transvaal, het ek saans gesukkel om aan die slaap te raak. Hêng, wie sal nie sukkel om in die stad van leeus en dorings aan die slaap te raak nie …?

Maar, ek onthou dat ek dan met my pa se Albert Hammond– en Neil Diamond-kassette aan die slaap kon raak. “Peacemaker”, “Free electric band”, “I am, I said”, “Hello” en “Shilo” sal altyd gunstelinge bly. Hulle het steeds beter doepa as Klaasvakie.

Ek onthou hoe ek op skaars ses jaar oud, aan die einde van my laaste kleuterskooljaar met ’n wit rokkie, wit skoene en wit kanterige kniekouse “Net soos ’n herder” gesing het by ons afsluitingskonsert. As ek nou na die kleuterskoolfoto van daardie aand kyk, wonder ek wat het van dié vreeslose voornemende sanger geword.

Ek dink deesdae ook dikwels aan die sangklas kassetopname van “Pieter en die wolf” en juffrou Fick wat so skuinsweg na ons loer terwyl sy Pieter en sy wolf uit daardie klawers laat lewe. Sy het die manier gehad om noot te hou, diep asem te haal, keel te skraap, klawers te tokkel én nog die belhamels in die klas tot skaam stilswye te gluur- iets wat min veelsydige dirigente haar sou kon namaak. Ek verneem onlangs van ’n laerskoolvriendin dat hierdie geliefde juffrou steeds op my grootworddorp bly en steeds so statig is as van ouds. Dít laat my hart sing.

Soms, neurie ek ook my graad 1 tot standerd 5 Voortrekker Drawwertjie-spanliedjie. Dit was op die wysie van “Hier kom die roomysman” en ons moes behoorlik die pas aangee om “Ons is die Skilpadjies…” op dieselfde deuntjie in te pas. Ons roomysman-skilpadjies was darem jaar na jaar die wenners van die jaarlikse kamppotjiekoskompetisie – meestal te danke aan ’n luidrugtige, begeesterde sangpoging om die beoordelaars te beïndruk – en ’n geheime pakkie kitssop vir geur aan die pot.

Ek onthou heelwat Pop Shop-liedjies wat ek in my laat laerskooljare met my haarborsel as mikrofoon gesing het voor die spieël. Ek was Sandra, Kylie Minogue, Tiffany…! Die “Pretty Women”-tape wat ek aan die einde van standerd 5 vir my dertiende verjaardag gekry het, is nou nog een van my skatte. So ook die kaartjie en liedjieklankbaan wat my laerskoolmaats vir my gegee het om saam te vat na die verre Kaap. Michael W. Smith se “Friends” bring sedertdien maar altyd ’n knop in my keel.

Aan die einde van my laerskooljare het ons Kaap toe verhuis. Skielik het ek en my “tape”-radio ’n nuwe wêreld van Kaapse radiostasies ontdek. My vingers was skoon eelte van die “Record”-knoppie druk op nét die regte tyd voor die platejoggie van Radio Kontrei (die hedendaagse kfm) of Good Hope FM die liedjie onderbreek. Daardie eerste mixed tapes was gelaai met die paradokse van tienernostalgie en lewenskennis. Ons het maar gedóg ons weet van harte wat breek, liefdesverklarings en die lewe.

Ons skool se groot revue in my standerd 9-jaar is een van daardie hoogtepunte wat moeilik is om vir iemand te beskryf wat nie self daar was nie.

Maande en maande én maa-aaa-aande het ons saans, moeg en óf natgesweet óf verkluimd na sportoefening, op die verhoog gesing, gedans, en geoefen aan ons skool se spesiale verjaardagrevue. Ek kyk deesdae soms na die foto van my in ’n blou jean met ’n vlootblou T-hemp wat ’n plakkaat met E=MC2 vashou terwyl my gesigsuitdrukking die verhaal van hoërskoolromanses-midde-in-eksamen probeer vertel. Dit was net nou die ander dag; dit was 23 jaar gelede.

Ek weet nou nog nie hoe ons alles in daardie kort skooldae ingepas het nie – die meeste van ons het toe nog skool toe gestap, die luukse van aangery word oralheen was maar enkeles beskore.

My universiteitsjare was vol van Matie FM se klanke bedags in die Neelsie tussen klasse, saans soms op my CD-speler, en ook Sondagaande terwyl ek wag dat my kêrel bel om te sê hy is veilig tuis, ’n anderhalfuur se ry vanaf my koshuis.

Baie van hierdie laatnagstudenteliedjies het dit tot op my en hierdie kêrel se trou-album wat tydens ons onthaal gespeel is, gemaak.

Daarna het gevolg wat ek in my gedagtes noem die “reisalbum”. Jare en jare en jare se radioliedjies wat op versamelalbums bymekaar gemaak is om die tyd in die motor met musiek te begelei. Weens werk het ons dikwels lang afstande gery. En daar was altyd die nuutste radiotreffers om ons geselskap te hou.

Daar was inderdaad talle treffers. Liedjies waarvoor ek nou nog die motorradio dadelik harder stel.

Daar is spesiale albums soos dié van Laurika Rauch, Stef Bos, ddisselblom en Gian Groen – liedjies met vasvatlirieke wat mens opsluit terugvoer na ’n sekere tyd en tog steeds van toepassing is op die hier en nou. Daar is James Blunt, Adele, Kaleidoskoop, Ed Sheeran, Karen Zoid en Coldplay. Daar is die Beatles en Bruce Springsteen, Leonard Cohen en Bob Dylan. Bon Jovi, maar ook Breyten Breytenbach se Mondmusiek. Celine Dion se hoë hartstogtelike note, soms in Frans, en dan Edith Piaff se suiwer Franse chansons.

Ek sal nooit vergeet nie hoe my seuntjie op skaars twee sy kop ritmies op Anggun se “La neige au Sahara” (Snow on the dessert) begin knik het na ek dit na ’n lang stilte weens ’n oordosis luister, een middag in die motor begin speel het. Hy was nog in my maag toe ek dit die laaste keer oor en oor en oorverdowend in die motor geluister het. Hy het dit herken. Jare daarna herken hy dit steeds en ek moet elke keer vir hom weer vertel waaroor dit gaan – en hoekom hy dit ken, al weet hy. Dis sy musiekstorie.

Met twee laerskoolkinders wat geesdriftige koorsangers en klavierstudente is, ontdek ek deesdae van vooraf weer liedjies uit my kinderdae. Maar, ek luister ook hedendaagse liedjies asof vir die eerste keer as my junior koor-stemmetjie dit vir my sing. Volgens haar Ouboet is dit erg uncool om so te loop en sing vir jou ma, maar ek hoor hom tog soms as hy stort of in sy kamer is en dink niemand hoor hom nie.

Dan sing my hart saam – ek is só bly hulle is ook so lief vir musiek.

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

5 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

5 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

5 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

5 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

6 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

6 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.