Saamgestel deur Elna Rossouw.
Rebecca deur Wilna Adriaanse

Wilna Adriaanse (Foto: Verskaf)
REBECCA (Tafelberg, R350) is ’n hersiene weergawe van WILNA ADRIAANSE se liefdesverhaal wat in 2004 verskyn het. WILNA dra die boek op aan “almal wat hul voosgeleesde eksemplare met kleeflint aanmekaar hou; ook aan ma’s wat dit vir hul dogters koop, en vriendinne wat dit vir mekaar leen”. Sy skryf verder: “Ná 20 jaar het Rebecca gevoel dis tyd vir ’n nuwe rok, en ’n slimfoon. Verder het sy nie aan haar laat torring nie, sy het steeds al haar geliefde hebbelikhede.”
Die roman is ook digitaal beskikbaar teen R300.
Wanneer die krieke stil word deur Petro Kotze-Odendaal

Petro Kotze-Odendaal (Foto: Verskaf)
WANNEER DIE KRIEKE STIL WORD (Naledi, R275) is PETRO KOTZE-ODENDAAL se lewensverhaal. Sy vertel hoe sy een donkernag uit die hande van ’n alkoholis-pa weggevlug het; hoe sy in die greep van ’n gewelddadige eggenoot beland het; en hoe sy en haar vierjarige seuntjie vroeg op die stormwaters van die lewe moes leer loop. PETRO (’n pastoor en radio-omroeper in die Noordwes) ken, preek en skryf uit die hardheid van die lewe; nie om te oordeel nie, maar om te motiveer.
Woestynblom deur Kristel Loots

Kristel Loots (Foto: Verskaf)
WOESTYNBLOM deur KRISTEL LOOTS (Luca, R320) is ’n gemoderniseerde weergawe van MUURBLOM wat oorspronklik in 2008 by Carpe Diem verskyn het. In die verhaal soek Isabella avontuur en liefde, en vlug uit die stad om van haar oorbeskermende ouers weg te kom. Maar ’n gesinskrisis dwing haar om geraamtes te konfronteer wat uit die kas tuimel. Sy besef dat die waarheid soms reg voor ’n mens se oë versluier kan wees en dat ’n vrou sommige antwoorde net op haar knieë by die Here kan vind.
Lees ook: Ja, jy kan! Hoe om goeie eiewaarde van jongs af te bou



