Saamgestel deur Elna Rossouw.
Die moord op Deveney Nel deur Julian Jansen

Julian Jansen (Foto: Verskaf)
In DIE MOORD OP DEVENEY NEL (Tafelberg, R280) vertel Julian Jansen, ondersoekende joernalis en misdaadskrywer, van die gebeure wat tot die dood van die 16-jarige Deveney gelei het. Haar liggaam is ‘n jaar gelede in ‘n pakkamer op ‘n plattelandse skoolterrein ontdek. Julian volg die spoor van 17-jarige beskuldigde wat vantevore deur die krake van die Suid-Afrikaanse regstelsel geglip het. Hy dra die boek op aan alle slagoffers van geslagsgeweld, asook rolspelers en instellings wat daagliks stoei om ‘n veiliger omgewing vir kinders te skep.
Hoe haal ek nou asem? deur Cliffordene Norton

Cliffordene Norton (Foto: Verskaf)
Cliffordene Norton se HOE HAAL EK NOU ASEM? (LAPA, R200) kan beskryf word as ‘n grootwordverhaal waarin ie skrywer temas soos die dood van ‘n ouer, verhoudings met sibbe, en LGBTQ+ romanse aanraak. Die agterplat lees: “Pa is weg, en skielik moet ek ‘n grootmens wees … Ek wil nie die man van die huis wees nie … Ek wil teruggaan na twee jaar gelede – toe ek net Ethan was. Ethan met die koel broer en ôsim ouers. Ethan wie se ouers Sondagmiddae in die agterplaas gedans het.” Die boek is op tieners dertien jaar en ouer gemik.
Donker vuur deur Pieter Stoffberg

Pieter Stoffberg (Foto: Verskaf)
DONKER VUUR (Penguin, R320), Pieter Stoffberg, se vierde roman speel in die Oekraïene af. In dié boek, verweef hy elemente van godsdiens en geloof, aksie en spanning met die sentrale tema van liefde in ’n verhaal oor ’n klein groepie mense wat teen skadumagte te staan kom. Die hoofkarakter is Jacques Lombard, ‘n oudrecce wat na ‘n Protestantse kerk in Kiëf vlug om weer heel te word. Die boek is ‘n tuimeltreinrit na ’n tyd van misdadigers en heiliges, antieke boekrolle en vreesaanjaende, moderne wapens.
In vandeesmaand se rooi rose, met die sprankelende Reandi Grey op die voorblad, kan jy ons onderhoud met Leon van Nierop lees en hoor wat hy oor Het van Verlangekraal én sy nuwe boek, Die volmaakte moord, vertel. Leon sê ook watter boeke op sy bedkassie lê.
![]()




