Saamgestel deur Elna Rossouw.
Die rooi angelier deur Eleanor Baker


Eleanor Baker (Foto: Verskaf)
DIE ROOI ANGELIER (Human & Rousseau, R270) is ’n heruitgawe van die tweede titel in ’n speurreeks wat ELEANOR BAKER in die laat jare negentig onder die skuilnaam Alex Muller geskryf het. In dié boek is speurder Adriaan Kruger op die spoor van ’n reeksmoordenaar wat só pynlik netjies te werk gaan dat hy oënskynlik geen leidrade agterlaat nie. Wanneer sy geliefde in die moordenaar se kloue beland, voel dit vir Adriaan asof hy hom in ’n nagmerrie bevind waarin die tyd stilstaan. Sal hy haar kan opspoor voordat dit te laat is?
- Eleanor Baker het ook liefdesverhale en jeugboeke onder die skuilnaam Christine le Roux geskryf. Sy is in 2002 op die ouderdom van 57 oorlede.
Op pad na ‘n klooster in die sneeu deur Johannes de Villiers


Johannes de Villiers (Foto: Verskaf)
JOHANNES DE VILLIERS se OP PAD NA ’N KLOOSTER IN DIE SNEEU (Human & Rousseau, R350) is ’n roman oor die soeke na identiteit, na vrede en betekenis, maar bowenal oor ’n pelgrimstog na aanvaarding van die self.
’n Jong apteker is ontnugter met sy lot – is hierdie sinlose bestaan ál wat vir hom vir die volgende 60 jaar voorlê? Wanneer hy toevallig op die geskrifte van die 15de eeuse mistikus Thomas à Kempis afkom, begin hy oor ’n asketiese lewe as monnik te droom.
Op die vooraand van sy reis na ’n Franse klooster, hoor hy van ’n verlangse oom wat ’n Katolieke priester geword het, en nou as afgetredene in Parys woon. Só begin ’n kosbare vriendskap tussen ’n bejaarde pater en ’n ietwat verlore siel uit die Vrystaat.
Sekelmaan deur Jaco Wolmarans


Jaco Wolmarans (Foto: Verskaf)
In SEKELMAAN (Tafelberg, R360) van JACO WOLMARANS is dit een jaar ná Gasa. Israel is geïsoleer deur wêreldopinie, terwyl Hamas vir ’n volgende aanslag oorgehaal is. In Johannesburg sit ’n verbitterde imam aan die spits van pogings om Hamas se jihad te befonds. ’n Groep Suid-Afrikaanse Jode is die teiken van ’n terreuraanval in Kaïro. In die middel hiervan is die Reuters-joernalis Ruby Heyns met verdoemende inligting wat die skaal in dié konflik kan swaai. Staatsekuriteit se Reuben Kruger probeer die geheime ontrafel. Die skadu-verlede van Ruby se ma, ’n voormalige Mossad-spioen, en haar eertydse hanteerder, gooi egter ’n sluier oor die gebeure. Wanneer Ruby oornag verdwyn, moet Reuben al sy kennis inspan om haar op te spoor … voordat die sekelmaan kom.

Lees ook: Tienerfiksie vir die skoolvakansie!
