Saamgestel deur Elna Rossouw.
Die moord op Liezel de Jager deur Anena Burger


Anena Burger (Foto: Verskaf)
Die dood van ds Liezel de Jager, wat in die oprit van ’n pastorie vermoor is, het geskok. In Die moord op Liezel de Jager (Lapa, R300) vertel die joernalis, Anena Burger, die verhaal van Liezel se dood en die nog vreemder gebeure in die dae en jare ná haar moord. Haar man, Werner, het verdwyn en is later in ’n bedenklike toestand in ’n suikerrietplantasie gevind. Hy was ook in ’n ongeluk betrokke waar nog twee vroue dood is. Om alles te kroon, het die polisie twee jaar lank gesloer voordat hulle met die moordondersoek begin het. Liezel se ouers het egter vir geregtigheid vir hul dogter geveg en Werner is vir die moord op sy vrou in hegtenis geneem. Die moord het egter onopgelos gebly toe Werner onder raaiselagtige omstandighede in die hospitaal gesterf het.
Die dood van Rachel April deur PP Fourie


PP Fourie (Foto: Verskaf)
In PP Fourie se Die dood van Rachel April (Queillerie, R350) word Rachel se lyk met ’n steekwond in haar hart gevind. Lesea du Plessis, ’n mede-student stel ondersoek in. Sy het Rachel se dogtertjie belowe sy sal uitvind wat met haar ma gebeur het. Dit blyk dat Rachel tydens ’n internskap by die Anglo-Boereoorlogmuseum iets ontdek het. Maar wat kan dit wees? En het die ontdekking dalk tot haar dood gelei? Terwyl Lesea die vrae rondom Rachel se dood probeer beantwoord, word haar eie familiegeheime losgetorring en moet sy haar hele identiteit in heroënskou neem. Maar voordat sy en haar aanneembroer van die onthullings probeer sin maak, trek hulle die aandag van ’n gevaarlike karakter – iemand wat Rachel se geheim vir hulself wil hou.
Weg is nie ’n plek nie deur Santie van der Merwe


Santie van der Merwe (Foto: Verskaf)
In Weg is nie ’n plek nie (Human & Rousseau, R290) herinner Santie van der Merwe ons hoe die liefde ons almal raak, en dat verlies soos ’n kooltjie bly smeul en onverwags weer kan vlamvat.
Natasja se hart is in stukke. Johnny het haar weer in die steek gelaat. Ná ’n lang nag bevind sy haar in die verre noorde, met al haar aardse besittings in haar motor. Eers nadat sy op die N18 afgedraai het en die bordjie opmerk, onthou sy: George, haar pa se boesemvriend, woon nog hier op Lelievlei. Miskien moet sy gaan aanklop? As sy ’n rukkie rus, sal sy dalk helderheid oor haar pad vorentoe kry. Maar wat op haar anderkant die voordeur van die vervalle huis wag, sou sy nooit kon raai nie. Nog minder hoe hierdie afdraai na Lelievlei haar én George se lewe onherroeplik sou verander.
