Saamgestel deur Elna Rossouw.
Eleksie op Erdvark deur Rudie van Rensburg

Rudie van Rensburg (Foto: Brenda Veldtman)
In Rudie van Rensburg se nuwe komiese roman, Eleksie op Erdvark (Queillerie, R290), moet Soois Swart se sukkelende koerantjie op Erdvark in die Knersvlakte sonder moderne tegnologie oor die naderende munisipale verkiesing verslag doen. Vir die eerste keer in ’n dekade word die BA Minus deur twee ander partye teengestaan. Die regerende party beywer hulle vir die behoud van kleinhuisies en die opposisie vra vir vernuwing in die vorm van spoeltoilette. Wanneer ’n horingadder in ’n kleinhuisie ’n inwoner op ’n kwesbare plek pik, klap die eerste verkiesingskoot amptelik.
Die drie weduwees deur Irma Venter

Irma Venter (Foto: Brenda Veldtman)
Die drie weduwees (Tafelberg, R360) is die vierde boek in Irma Venter se krimireeks met die joernalis Ami Prinsloo as hoofkarakter. Ami het geweet sy gaan eendag moet afskeid neem van Paul de Jager, die afgetrede polisiegeneraal. Maar wat sy nie verwag het nie, is sy laaste opdrag aan haar: Sy moet ’n onopgeloste saak uit die 1990’s ondersoek. Wanneer ’n 15-jarige seun van Pretoria op pad kafee toe met net R20 in sy sak spoorloos verdwyn, behoort daar tog iewers ’n leidraad te wees – iets meer as die wit paneelwa wat daardie dag in die straat opgemerk is. Teen haar sin word sy al hoe dieper in die raaisel ingetrek. En toe verdwyn nog ’n kind …
Stories vir die siel
- Madeleine Venter
- Jacqueline Schmahl
- Tersia Gouws
Kortverhale kan soms jou hart breek en weer aanmekaar sit, jou laat skaterlag, dieper oor die lewe laat besin, en jou wegvoer na ander tye en plekke. Stories vir die siel: Inspirerende kortverhale (saamgestel deur LAPA en uitgegee deur LUCA, R300), is ’n versameling kortverhale wat uit bydraes van bekende skrywers, asook verskeie debuutskrywers saamgestel is. Aspirantskrywers soos Tertia Gouws (Verbreekte stilte), Jacqueline Schmahl (Die Kersparty) en Madelein Venter (’n Gewone engel) skuur skouers met gevestigde name soos dié van Maretha Maartens, Jeanette Ferreira, Elsa Winckler, Louise Viljoen, Elize Parker, Jeanette Stals en Malene Breytenbach.

Lees in ons Desember-uitgawe met Melinda Bam en haar ma, Wanda, op die voorblad watter boeke die skrywers Jozine Botha (Die jare tussen ons), Rina Cilliers (Die dogters van Casalina), Maretha Maartens (Bybelvroue Omnibus: Sara & Hanna) en Reggie Peace (Vredemaker) as Kersgeskenk wil lees en watter boeke hulle as geskenke wil gee. Ilse Roux vertel ook hoe haar boek, Die Bybelse vas, ontstaan het.
Lees ook: Drie gelukkige lesers kan Susan Coetzer se nuwe boek WEN!






