Saamgestel deur Elna Rossouw.
Patmos deur Willem Anker

Willem Anker (Foto: Jaco Marais)
Ná ’n meteoriet op ’n plattelandse dorp neerstort, kom soek ’n komponis inspirasie vir die klankbaan van ’n wetenskapsfiksiefliek. Hy loseer by ’n astronoom wat navorsing oor gravitasiekolke doen. Haar agtjarige seun praat nie.
Die astronoom wil van haar verlede ontsnap. Die komponis het ’n toekoms wat hy nie wil trotseer nie.
In Patmos deur Willem Anker (Queillerie, R320) ontstaan ’n aarselende verhouding tussen dié twee mense en wentel hulle om mekaar met kragte wat tot vernietiging óf vernuwing kan lei.
Roulette deur Sidney Gilroy

Sidney Gilroy (Foto: Gareth van Nelson)
In September 1998 vertrek die vier Ludick-sibbe en drie maats na Ballito. Net die drieling en hul vriende keer ’n week later terug na hul Vrystaatse tuisdorp. Van die 13-jarige Lara Ludick se lewe het net haar dagboek oorgebly.
Sewe-en-twintig jaar later worstel die Ludick-drieling steeds met skuldgevoelens. ’n Mediese student verdwyn nie ver van waar hulle grootgeword het nie. Dae later word die vermiste student se pa se liggaam ontdek. Kort voor lank duik nog liggame op en sersant Sollie Mthembu se ondersoek lei hom terug na die onopgeloste Ludick-dossier.
In dié vyfde krimi van Sidney Gilroy (Human & Rousseau, R320) word familiegeheime en gevaarlike speletjies onder die vergrootglas geplaas.
Al die swendelaars deur Chris Karsten

Chris Karsten (Foto: Verskaf)
In Chris Karsten se Al die swendelaars (Human & Rousseau, R350) tel speurder Arrie Dogh die dae af tot hy en vroulief hul oudag saam kan geniet. Maar op die vooraand van sy aftrede beland ’n oënskynlik doodgewone inbraaksaak op sy lessenaar. En wanneer hy begin ondersoek instel na die inbrekers op Louis Jooste se perdeplaas besef hy daar is ’n slang in die gras … Jooste is nêrens te vind nie, en nog minder die blonde polospeler wat immer aan sy sy is.
In dié hoogs vermaaklike dog ongewone speurroman is daar kinkels en kullery en volop skelmstreke, maar soms vang slim weliswaar sy baas.

In die eerste rooi rose van 2026 − met die glanspaar Donnalee Roberts en Ivan Botha op die voorblad − som Ingrid Winterbach haar bekroonde boek, Onrus op Steynshoop in Lekker lees op. Sy vertel ook watter boeke op haar bedkassie lê en verklap watter soort boeke sy glad nie lees nie.
Lees ook: Kokkedoor: Son & see: Volstoom vorentoe na die wenstreep vir die laaste twee spanne!



