Saamgestel deur Elna Rossouw.
Gertruida Gans leer ’n les deur Halrika Breytenbach

Halrika Breytenbach (Foto: Verskaf)
In dié storie van Halrika Breytenbach (Naledi, R240) woon Gertruida Gans saam met haar ouers by Vygieboomdam. Sy verontagsaam Pappa en Mamma Gans se reël, verdwaal en beland amper in groot moeilikheid. Gelukkig kom Hanna Hadida tot haar redding. Gertruida leer ’n belangrike les: reëls is daar om ons te beskerm en ongehoorsaamheid het gevolge.
Dié verhaal gaan oor die Bybelse beginsel dat kinders aan ouers gehoorsaam moet wees. Daar is ook ’n feitegids met vrae agterin om die beginsel vas te lê.
Geskik vir 4 tot 8-jariges
Sprokies wat leef! deur Pieter de Villiers

Pieter de Villiers (Foto: Verskaf)
Sprokies wat leef! deur Pieter de Villiers (Naledi, R275) bied vir ouers en hul kinders die geleentheid om oor lewensvrae te gesels en saam in hul gedagtes te speel. Dit leer kinders om te luister en hul verbeelding in te span om die wêreld van die sprokie in ’n gedagtevlug te sien.
Sprokies soos “Waterdruppelmaats”, “Willie wil nie werk nie” en “Om saam te lewe” help skep ’n grondslag vir sterk waardes en sosiale vaardighede. Die skryfspan onderstreep Albert Einstein se woorde: “As jy wil hê jou kinders moet intelligent wees, lees vir hulle sprokies. As jy wil hê jou kinders moet nog meer intelligent wees, lees vir hulle nog méér sprokies.”
Geskik vir 4 tot 12-jariges.
Alten Akkedis se sewe sterte deur Riana Scheepers

Riana Scheepers (Foto: Verskaf)
Hierdie boek van Riana Scheepers (LAPA, R190) is ’n storie van vriendskap en avontuur.
Alten, ’n akkedis met die merkwaardige vermoë om sy stert te verloor en weer te laat groei, vind homself in ’n tuin vol gevare. Wanneer sy vriendin, Frida, die verkleurmannetjie, in die moeilikheid beland, moet hy al sy moed bymekaar skraap om haar te red. Saam droom hulle van ’n plek waar hulle veilig kan wees, weg van die bedreigings van die menslike wêreld.
Lees hoe Alten se unieke talent help om sy maat te red en leer só meer oor die verdedigingsmeganismes van akkedisse.
Geskik vir 5 tot 7-jariges.
Lees ook: Lekker kosblik-idees



