Saamgestel deur Elna Rossouw.
Sewe keer sondig saamgestel deur Stefaans Coetzee en Anschen Conradie
- Stefaans Coetzee (Foto: Verskaf)
- Anschen Conradie (Foto: Verskaf)
Volgens oorlewering bestaan daar sewe dodelike sondes waaruit alle ander onheilighede voortspruit: hoogmoed, gierigheid, wellus, afguns, vraatsug, toorn, en luiheid. In Sewe keer sondig (Naledi, R260) het 44 skrywers twee-twee saamgewerk en ’n kortverhaal geskryf wat minstens een van dié sondes met ’n speur- of spanningselement inkleur.
Stefaans Coetzee (hy en Anschen Conradie het die bundel saamgestel) skryf in die voorwoord “hy’t gewonder wat sal gebeur as ’n krimi- en Romanza-skrywer saam aan een verhaal skryf. Skryf die een die bloedtonele en die ander een die nat soene? Gaan die karakters soos Tom Cruise en Cindy Crawford lyk? Bedags ondersoek hulle moorde en saans … sit hulle voor die TV. Sonder ’n draad klere. Of nie?”
Goed wat gebeur het met mense op plekke deur Anna-Bet Stemmet

Anna-Bet Stemmet (Foto: Verskaf)
Anna-Bet Stemmet se debuut word op die agterplat as “klein stukkies doodgewone heiligdom tussen die hustle en swoeg” beskryf. Die musikant Hunter Kennedy sê: “Met ’n oog vir detail en ’n tong in die kies vertel Anna-Bet van grootmensskap, braaibroodjies, familie-erfstukke, middernagtelike WhatsApps en hoenders wat beter ouers is as jy.”
Anna-Bet vertel: “Dit is ’n spul stories wat ek teëgekom het terwyl ek die kraaines van my twintigs probeer ontknoop en die daaropvolgende fees van my dertigs geniet het. Daar is baie gewigtige literatuur daarbuite. Ek skryf myne doelbewus as ’n alternatief daarvoor. Dis ’n skeppie sorbet vir die siel. Iets om jou gemoed af te koel wanneer alles te intens voel. Effens cheesy, en maklik om te verteer. ’n Guilty pleasure soos ’n koekie saam met jou tee, of ’n skelm sigaret.”
Die boek word deur Turksvy Publikasies uitgegee en kos R300.
Skimme en spoorsoekers deur Martin Steyn

Martin Steyn (Foto: Nardus Engelbrecht)
’n Man staan op ’n brug, reg om te spring. ’n Geheimsinnige vrou verskyn snags langs die Knysna-meer. Twee tieners volg ’n vreemde lig en maak ’n donker ontdekking. ’n Stiefpa hou aan terugkom.’n Meisie probeer haarself weer aanmekaarlas. ’n Ander een probeer haarself vermom. ’n Derde een worstel met die dood.
Skimme en spoorsoekers (LAPA/Penguin Random House, R320) is 21 kortverhale uit die pen van Martin Steyn, een van ons gewildste spanningsverhaalskrywers. Die bundel sluit sy eerste gepubliseerde storie “Kira” in, wat hy 27 jaar gelede geskryf het, en wat in Januarie 2004 in rooi rose verskyn het, asook “Boomgom” wat in April 2019 in rooi rose gepubliseer is, in. Die kortverhale is in die volgorde gerangskik waarin Martin dit geskryf het.
Dis stories oor hunkering, trauma en onmoontlike keuses. Stories met donker draaie en wrang kinkels. Stories oor skimme en spoorsoekers.
Boeke op Gerda Taljaard se bedkassie
In vandeesmaand se rooi rose − met Leandie du Randt op die voorblad − vertel Gerda Taljaard wat die vonk vir haar jongste roman, Die grafdigter (Penguin Random House, R330), was. Sy gee ook ’n lysie van boeke wat op haar bedkassie lê.

Lees ook: 13 flieks om na uit te sien in 2026!





