Saamgestel deur Elna Rossouw.
Jan Braai Junior in die kombuis deur Jan Braai

Jan Braai (Foto: Verskaf)
Jan Braai Junior in die kombuis (Penguin Books, R250) is in die gemaklike geselstrant van die TV-kok Jan Braai geskryf. En die hele gesin sal hul lippe aflek as die jongspan met dié resepteboek voor die stoof inskuif. Die boek is vol sakpasresepte, goeie wenke en raad vir jong kokke. Met maklike resepte vir maaltye soos hoender-taco’s of botterhoender kan kinders selfvertroue in die kombuis bou, terwyl hulle met malvapoeding en piesangbrood harte kan steel. Dié boek word nie verniet as ’n kombuisgids vir die volgende geslag beskryf nie.
Kombuistaal deur Vickie de Beer

Vickie de Beer (Foto: Verskaf)
Vickie de Beer se Kombuistaal (Lapa, R260) gee kinders die woordeskat en vaardighede om seker te maak dat hulle van jongs af weet hoe om kos wat gesond en heilsaam is te kies. In dié boek vol gesonde resepte, kan jou kind leer om reg te eet met maklike resepte wat sy self kan maak. Vickie deel nie net gesonde eetgewoontes vir kinders nie, sy gee ook resepte om “jou brein slim te hou”, “meer woema te kry” en deel tien goue reëls vir ’n veilige kombuis. Dit is boonop ’n lekkerleesboek propvol nuwe gedigte deur Antjie Krog. Die resepte en rympies is deur Roelien Immelman geïllustreer.
Marinda se kinderkombuis met Sjef Sout & Prof Pretzel deur Marinda Engelbrecht

Marinda Engelbrecht (Foto: Verskaf)
Marinda se kinderkombuis met Sjef Sout & Prof Pretzel (Human & Rousseau, R320) het wel ’n paar jaar gelede verskyn, maar is steeds gewild. Dit is ’n kleurryke kookboek met ’n kinkel. Benewes die liplekker-resepte is daar ’n skatkis van wenke hoe kinders by kosmaak kan baat, en hoe bak en brou die jongspan op ’n prettige manier met wiskunde, wetenskap, lees en skryf kan help. In Marinda (Engelbrecht) se kinderkombuis kan kinders leer om saam met Sjef Sout ’n omelet te maak of ’n brood te bak. En saam met prof Pretzel op ’n kosreis en wetenskapsavontuur verdwyn!
- Lees op die boekeblad in rooi rose se November-uitgawe wie die glanssjef Elmarie Berry graag vir ete sou wou nooi. Kyk ook wat op haar Kersspyskaart is.
Vyf gelukkige lesers kan Skepselkos WEN!

Vyf gelukkige lesers kan ook Skepselkos, die pragboek van Isabella Niehaus & Louis Jansen van Vuuren met die komplimente van Naledi-uitgewers wen. Lees meer oor die plantgegronde resepteboek in “Lekker lees” (bladsy 107) van November se rooi rose.
Bepalings en voorwaardes: Alle pryse in rooi rose is onderhewig aan beskikbaarheid en is nie oordraagbaar, herverkoopbaar of terugbetaalbaar vir kontant nie. Vir nog bepalings en voorwaardes, besoek www.rooirose.co.za
Om in te skryf, voltooi die onderstaande vorm:
*Slegs een inskrywing per persoon
Sluitingsdatum: 27 November 2025



