kategorieë: InspirasieJou lewe

Gee om – dis goed vir jou!

Die pad werk toe is besig. Dit beproef jou geduld. En nou kyk ’n voetganger wat die straat wil oorsteek boonop vol verwagting in jou rigting. Hoe reageer jy? Om diep asem te haal en met ’n glimlag te wys sy kan maar stap, rek dalk jou goedheid ’n bietjie ver. Maar dié stukkie welwillendheid tel nie net in haar guns nie – dis ook in jou belang!

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

In The Five Side-Effects of Kindness (Hay House, 2017) beskryf dr. David Hamilton die uitwerking van medemenslike optrede op ons geluk, gesondheid, tempo van veroudering en verhoudings. David het ’n doktorsgraad in organiese chemie en gis nie net nie, maar haal die een wetenskaplike studie na die ander aan. Hy wys dat kindness aansteeklik is en hoe ’n enkele bedagsame gebaar na tientalle mense kan uitkring. Dié boek noem soveel voordele dat jy begin wonder of dit selfsugtig is om goedhartig op te tree … Hier is vyf “newe-effekte” van welwillendheid:

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

1 Goedheid maak ons gelukkiger

Het jy iemand al op die ingewing van die oomblik gehelp, al was dit net om ’n pakkie trapop te dra, en agterna so goed gevoel dat daar sommer ’n hup in jou stap was?

Verskeie navorsingstudies bevestig dat meelewende optrede ons gelukkiger maak. Aan die Universiteit van Kalifornië is vrywilligers gevra om ses weke lank vyf goeie dade per week te doen, terwyl die kontrolegroep nie doelbewus vriendeliker opgetree het nie. Die deelnemers het onder meer bloed geskenk, geld in vreemdelinge se parkeermeters gegooi, of ’n kind met huiswerk gehelp. Binne ses weke het hulle beduidend gelukkiger gevoel; die kontrolegroep het nie. Deelnemers wat vyf goeie dade op een dag ingepas het, het die grootste goedvoelstyging getoon.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

In ’n ander studie moes mense ’n maand lank net mooi alles aanteken waarop hulle geld uitgee. Hul vlakke van geluk is deurentyd gemonitor. Dié wat gereeld geld aan ander bestee het, was die gelukkigste.

Om gaaf te wees maak selfs kleintjies bly. In ’n navorsingstudie was kinders onder twee wat met ’n marionet gespeel en bederfies gekry het, op hul gelukkigste wanneer hulle die speelgoed of lekkergoed vir die marionet kon “gee”.

Om gaaf te wees maak selfs kleintjies bly

In ’n Japanse navorsingstudie is deelnemers gevra om dit noukeurig aan te teken wanneer hulle iets gaafs vir iemand doen. Almal in die groep se geluksvlak het gestyg, maar 30% was báie gelukkiger. Die afleiding was dat hulle nie voorheen besef het hoeveel waarde hulle tot ander se lewe toevoeg nie, en dat hul selfrespek toegeneem het.

“Ons is bedraad vir oomblikke van connection,” skryf David. “Ons kan elkeen goedvoel-oomblikke skep deur bewustelik klein dingetjies vir ander te doen, al is dit net om ’n pen wat geval het op te tel.”

2 Goedheid bevorder hartgesondheid

Verleentheid laat ons bloos, opwinding laat ons pols versnel, en liefdevolle optrede – selfs al sien ons dit net in ’n video op sosiale media – gee ons ’n warm gevoel om die hart. Die rede hiervoor is die “liefdeshormoon”, oksitosien.

Oksitosien is nie net betrokke wanneer ’n ma geboorte gee of haar baba voed nie, maar help mense van alle ouderdomme om bande met mekaar (of met diere) te smee. Dit bevorder begrip en vertroue in ander. Tydens seks en warm emosionele kontak is die oksitosienkraantjie wyd oopgedraai.

Oksitosien is goed vir jou hart, soos die “Roseto-effek” bewys het. Die inwoners van Roseto, ’n dorp in die Amerikaanse staat Pennsilvanië, is 50 jaar lank wetenskaplik bestudeer nadat die 1960-sensus getoon het geen inwoner onder 45 is aan hartsiekte dood nie. In die res van die VSA was dit ’n ander storie. Wetenskaplikes het Roseto se water, atmosfeer, en die inwoners vergeefs bestudeer. Uiteindelik het hulle agtergekom die sterk gemeenskapsbande en kultuur van kindness hou die harte in die dorp gesond.

Meelewendheid produseer oksitosien, en oksitosien laat aarwande ontspan. Meer bloed vloei deur die are, bloedtoevoer na die hart en ander organe word verhoog en bloeddruk daal. Dit help hartaanvalle en beroerte voorkom. David beskryf ses praktiese maniere om die produksie van oksitosien aan te help:

1 Laat jou inspireer
Wanneer ons medemenslike optrede beleef deur byvoorbeeld na ’n besielende fliek te kyk, skei ons oksitosien af.

2 Troos iemand
Vertroostende woorde en gedrag verhoog albei mense se oksitosienvlakke.

3 Ervaar warm emosionele kontak
Die bevredigende gevoel van verbintenis word aan oksitosienproduksie gekoppel.

4 Ondersteun ander
Oksitosienvlakke styg in die gewer én ontvanger van steun. Herhaalde positiewe interaksies kan tot ’n volgehoue verlaging in bloeddruk lei.

5 Stel jou goedhartige optrede voor
Nes die gedagte aan ’n spanningsvolle situasie streshormone kan sneller, kan die gedagte aan ’n geliefde of minsame optrede die oksitosien laat vloei.

6 Drukkies
’n Drukkie ’n dag laat die kardioloog wag!

3 Goedheid vertraag veroudering

Die algemeenste tekens van veroudering is plooie, spieragteruitgang, gewrigslytasie en ’n groter vatbaarheid vir siektes en beserings. Tog is daar beduidende verskille tussen twee mense van dieselfde ouderdom, omdat ons chronologiese en biologiese ouderdom meestal verskil. Ons biologiese ouderdom – die skynbare ouderdom van ons liggaam – kan jonger of ouer wees as ons chronologiese ouderdom, die aantal jare sedert ons geboorte.

Faktore soos dieet, aktiwiteitsvlakke, lewensuitkyk, streshantering en die mate waarin ons medemenslik optree, speel ’n groter rol in ons lewensduur as genetika.

Ons biologiese ouderdom kan jonger of ouer wees as ons chronologiese ouderdom

David lys sewe verouderingsprosesse wat deur kindness gerem kan word:

1 Spieragteruitgang
Spiere gaan nie net agteruit namate ons ouer word nie, hulle word ook hernu. Spierselle hergenereer hulself voortdurend. Veroudering is slegs merkbaar wanneer agteruitgang vinniger as hernuwing geskied. Wetenskaplikes het bevind oksitosien vuur selhernuwing aan.

2 Verminderde swerfsenuweetonus
Die vagus- of swerfsenuwee help ons liggame om te rus, kos in energie te omskep en slytasie te herstel. Dit laat ons organe goed saamwerk en beskerm ons teen veroudering.

“Deernis en goedhartigheid versterk hierdie senuwee,” skryf David. “Die Boeddhiste se loving-kindness meditasie, wat ingespan word om ander vrede, gesondheid en welsyn toe te wens, is deur wetenskaplikes bestudeer. Mense wat die meditasie ses weke lank daagliks gedoen het se swerfsenuweetonus het beduidend toegeneem.”

3 Inflammasie
Die swerfsenuwee word ook gekoppel aan inflammasie, die immuunstelsel se reaksie op ’n besering. Inflammasie lei bloed, suurstof en nutriënte na die wond om dit te help genees. Maar raak inflammasie buite beheer, veroorsaak dit chroniese laegraadse ontsteking wat die hart, are, brein, vel en interne organe kan skaad. Dit word onder meer met kanker, hartsiektes, diabetes, artritis, veelvuldige sklerose en Alzheimer se siekte verbind en speel ’n deurslaggewende rol in veroudering. Volgens navorsingstudies was gereelde beoefenaars van die loving-kindness meditasie se inflammasievlakke beduidend laer.

4 Oksidasiestres
’n Oormaat vrye radikale in die liggaam lei tot oksidasiestres, wat op sy beurt plooivorming, plaakvorming in ons are, konsentrasieprobleme en geheueverlies veroorsaak.

Spanning, kommer en volgehoue woede sneller oksidasiestres.

Oksitosien, daarteenoor, werk vrye radikale teë – nog ’n voorkoms- én gesondheidsvoordeel wanneer ons deernisvol dink en doen.

5 Vermindering van stikstofmonoksiedproduksie
Stikstofmonoksied (nitric oxide) beheer onder meer bloeddrukvlakke, hernu bloedvaatjies, beveg infeksie en bevorder konsentrasie. ’n Afname in stikstofmonoksied, dikwels met ouderdom, kan manlike seksuele funksie benadeel, spiere stadiger laat herstel ná oefening en geheue laat verswak. Dit dra ook by tot hartaanvalle, beroerte en Alzheimer se siekte. Navorsers het bevind gereelde beoefening van die loving-kindness meditasie verhoog stikstofmonoksied-vlakke beduidend. Om die beste in ander te sien en met aandag te luister verhoog ook dié vlakke.

6 Verkorting van telomere
Telomere is “proppies” wat keer dat DNS uitrafel wanneer selle verdeel, amper soos skoenveters se plastiekpuntjies. Wanneer DNS uitrafel, sterf die sel. Die lengte van telomere word gebruik om biologiese ouderdom vas te stel en hoe langer hulle heel bly, hoe stadiger verouder ons. Eksperimente wys emosionele warmte en steun het ’n meetbare invloed op die lengte van telomere.

7 Agteruitgang van die immuunstelsel
Ouderdom en stres gaan albei met ’n swakker immuunstelsel gepaard. ’n Positiewer gesindheid en groter fokus op warmhartigheid verminder stres en versterk indirek ons immuunstelsel. ’n Bekende studie aan die Universiteit van Harvard dui ook op ’n direkte verband tussen ons immuunstelsel en welwillendheid, empatie, deernis, liefde en inspirasie.

Voor en nadat ’n groep studente ’n besielende video gesien het waarin Moeder Teresa mense help, is elkeen se speeksel-immunoglobulien – ’n belangrike komponent van die immuunstelsel – gekontroleer. Direk ná die video was die immunoglobulienvlakke beduidend hoër, en ’n uur later steeds. Vandag staan dit as die Moeder Teresa-effek bekend.

4 Goedheid bevorder verhoudings

Wat sou jy sê, is die één eienskap wat mense in ’n romantiese maat soek? ’n Aantreklike voorkoms dalk, of goeie finansiële vooruitsigte? ’n Navorsingstudie wat meer as 10 000 mense tussen 20 en 25 jaar op ses vastelande betrek het, het die nommereen-behoefte vasgestel: kindness.

Goedheid was nog altyd deurslaggewend vir die oorlewing van die mens, skryf David. “Ons gene is oor miljoene jare gevorm. Gestel een stam in antieke tye het geen A gehad, en ’n ander stam geen B. Geen A – kom ons noem dit die welwillendheidsgeen – maak mense gewillig om hul bronne te deel en na mekaar om te sien. Geen B is die ek-kom-eerste-geen, en dié mense is net oor hul eie veiligheid en welsyn begaan.

Goedheid was nog altyd deurslaggewend vir die oorlewing van die mens

“In die natuur is energie en verbintenisvorming kernkomponente van oorlewing. Die stam met geen A gebruik minder energie omdat net sommige lede kos gaan soek en almal dit deel. Die stam met geen B moet almal kos gaan soek. Net so is die stam met geen A se verbintenisse kragtig, en dit maak hulle sterk. Hierdie krag laat hulle makliker oorleef en mettertyd is daar meer A-gene as B-gene in die genepoel.

“Die A-geen in die verhaal is die een wat oksitosien produseer! Na raming is dit sowat 500 miljoen jaar oud. Dit het ons help oorleef en deel geword van talle van ons biologiese stelsels. Daarom word ons op soveel maniere daardeur beïnvloed.”

Navorsing deur prof. John Gottman van die VSA, ’n groot naam in huweliksterapie, wys dat welwillende optrede paartjies se verhouding kan maak of breek. Deur ’n paartjie net 15 minute dop te hou, kon hy met 94% akkuraatheid voorspel of hulle tien jaar later nog saam sou wees.

Gottman praat van ’n magic ratio van 5:1 in paartjies se interaksie. Solank ons vyf positiewe dinge vir elke negatiewe ding doen of sê, sal die verhouding waarskynlik werk. Voorbeelde van positiewe dinge is liefde, steun, gaafheid, toegeneentheid en om waarlik te luister. Negatiewe dinge sluit minagting, vyandigheid, woede, skerp oordele, selfsug en onverskilligheid in.

5 Goedheid is aansteeklik

Wanneer iemand ons deernisvol behandel, lig dit ons gemoed. “Dit spoor ons aan om ook in die gees van goedheid op te tree,” skryf David.

Navorsing wys die ontvangers van goeie dade, en selfs die getuies daarvan, word gemotiveer om ook iets gaafs vir iemand te doen. Proefpersone wat aan ander se goedheid blootgestel word, tree daarna hulpvaardiger en vrygewiger op – ook in die werkplek. Lees meer hieroor in The Five Side-Effects of Kindness.

Wanneer iemand ons deernisvol behandel, lig dit ons gemoed

Die sogenaamde kindness paradox kan opgesom word in die woorde “hoe meer jy gee, hoe ‘ryker’ word jy”. Goedhartigheid skep ’n wen-wen-situasie. Só kan ons ’n leeftyd van voordelige “newe-effekte” beleef!

Goedhartigheid en depressie

Depressie is ’n ingewikkelde verskynsel en daar is geen kitskuur nie. Mense met depressie onttrek hulle maklik, en om na ander uit te reik is teenintuïtief. “Wanneer ons wel die energie kan vind om op ander se swaarkry en behoeftes te fokus, kom ons natuurlike neiging om versorgend op te tree na vore. Dit kan die las van depressie geleidelik ligter maak,” skryf David.

Navorsing dui daarop dat vrywilligers en ander mense wat welwillend optree ’n helper’s high beleef. In een studie met 3 296 proefpersone het 95% goed gevoel nadat hulle iemand gehelp het, 80% het ure of dae later nog ’n positiewe gevoel ervaar, 57% se eiewaarde het gestyg en 29% het meer energie gehad.

• Volgens kenners verander kindness die chemiese samestelling van ons brein. Dit verhoog die vrystelling van die goedvoelhormone dopamien en serotonien, die “liefdeshormoon” oksitosien sowel as endorfien, die brein se natuurlike, onskadelike weergawe van morfien en heroïen. Liefdevolle optrede kan ons ’n wettige high gee!

Navorsing dui daarop dat vrywilligers en ander mense wat welwillend optree ’n helper’s “high” beleef

• Depressie gaan soms met ander toestande soos sosiale angs gepaard. Oksitosien kan sulke toestande verminder omdat dit aktiwiteit in die amigdala, die breingebied wat vrees en angs prosesseer, inkort. Navorsingstudies toon dat mense met sosiale angs wat goedheid aan ander bewys se selfvertroue en sosiale gemak toeneem, en hul vermyding van situasies wat hulle met vrees vervul, verminder.

• ’n Uitgebreide studie het bevind mense wat vrywilligerswerk doen, toon minder tekens van depressie.

Hierdie verskynsel is die sterkste in mense bo 65. Die afleiding was dat ouer mense makliker nutteloos voel en nuttig voel wanneer hulle uitreik.

• In die verlede is goedheid as ’n behandelingsmetode vir depressie ingespan. In 1796 is “moral treatment” in York in die Verenigde Koninkryk gebruik; 30 pasiënte met depressie in ’n klein gemeenskap het geen medikasie of konvensionele terapie ontvang nie, maar is aangemoedig om diens te lewer aan mekaar. Dit was so suksesvol dat dit na die VSA versprei het en in die 1820’s en 1830’s algemeen gebruik is. Die psigiaters van daardie tyd was oortuig dit lei tot “organiese verandering in harsingmassa”. Later het hierdie benadering in onbruik geraak.

Lees ook: Stres: Gee aandag aan jou liggaam se waarskuwingstekens

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

3 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

3 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

3 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

3 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

3 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

3 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.