kategorieë: Bekendes

Jennifer Garner: Kuiltjies, kinders & kameras

TV-kykers het die Amerikaanse aktrise Jennifer Garner in haar ondersteunende rol in die TV-reeks Felicity leer ken. Sy is in 2000 met een van die manlike hoofrolspelers, Scott Foley, getroud en vier jaar later geskei. Sy is die middelkind van drie dogters wat in ’n baie konserwatiewe huis grootgeword het. Haar ma was ’n professor in Engels en haar pa ’n chemiese ingenieur. Maar toe kom die rol van CIA-agent Bristow in Alias en die middelkind uit WesVirginië moes sexy uitrustings en pruike dra en leer gat skop. Haar Alias-sukses het haar sterstatus en ’n rol in Daredevil (2003) teenoor Ben Affleck besorg. Hy het in daardie stadium met Jennifer Lopez uitgegaan, maar almal wat die fliek gesien het, kon nie uitgepraat raak oor die ooglopende aantrekkingskrag tussen die twee sterre nie. Hulle het net vriende gebly en eers teen 2004, toe albei enkellopend was, het hulle begin uitgaan en op 28 Junie 2005 is die twee getroud, (die twee het na die onderhoud verskyn het geskei). Jennifer was onlangs te sien in gewilde flieks soos Valentine’s Day en Juno. The Odd Life of Timothy Green wat pas hier begin draai het, is ’n magiese verhaal oor ’n paartjie wat ’n wenslys maak van die eienskappe wat hulle graag in hul ongebore baba sou wou hê. En een stormagtige nag verskyn die seuntjie op hul voorstoep …

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Waarvan het jy die meeste in hierdie fliek gehou?

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Die fliek smeer nie heuning om die mond nie. Dit wys ook die verootmoediging van ouerskap. Hoe nederig mens voel as ouer as jy foute maak, al probeer jy jou bes. Dis iets van ouerskap wat mens nie gereeld op die silwerskerm sien nie. Die fliek wys dat enige een ‘n gesin kan hê, dit maak nie saak hoe dit gebeur nie. Dit hoef nie die ‘normale’ gesinnetjie met ‘n ma en ‘n pa, 2 ½ kinders en ‘n hond te wees – daardie perfekte idee wat jy in jou kop het nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Ek hoor jy is lief vir tuinmaak?

Ek is baie gefrustreerd op die oomblik, want ek sit met ’n hele huis vol jalapeños – my jalapeño-plant
het handuit geruk. Ek kan niks anders maak nie, want ek sit met bosse en bosse jalapeños! Iets vreet al my tamaties op
en ek kan nie salsa maak nie. Ek is mal oor tuinmaak. Ek het dit by my ma geërf. Dit is nogal besonders om die bestanddele vir jou aandete in die tuin te kan hê. Ek dink nie ek sal vir die pot kan skiet nie, maar dis lekker om vir jou eie slaaie, vrugte en groente te kan sorg. My kinders en ek plant altyd mielies, tamaties, blaarslaai, groenbone, aspersies, spanspek, waatlemoene (kleintjies) en pampoene.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Julle het drie kinders. Wat verskaf jou as ouer die grootste vreugde?

Dis vir my heerlik om te sien hoe my kinders se gesiggies ophelder wanneer hulle iets nuuts ontdek, of jou verras, of vir die eerste keer iets regkry wat hulle nie verwag het moontlik sou wees nie. Om te sien hoe hulle ’n oomblik van onafhanklikheid beleef, of om buite die kamer te staan en luister hoe hulle saamwerk om ’n probleem op te los pleks van daaroor te baklei. Dis wonderlik.

Baie rolprentsterre speel deesdae in televisiereekse. Dis waar jy begin het. Sal jy ooit teruggaan?

Ek was nog nooit bang om terug te gaan televisie toe nie. Ek is glad nie snobisties oor die medium waarin ek werk nie. Toe ek swanger was, was ek so lus om te werk en daar duik toe ’n ongelooflike geleentheid op. Die prent is net op die internet vertoon en nêrens anders nie. Ek het dit net vir myself gedoen. Ek is baie bly dat televisiereekse so gewild is en daar soveel goeie rolle vir vroue is. Ek was gelukkig om een van hulle te kry. My kinders is op die oomblik te klein – ek kan nie daardie pas volhou nie. Maar wie weet, eendag …

Watse advies het jou ouers jou gegee?

My ma sien altyd die goeie in alles raak. Sy probeer om altyd vreugde in klein oomblikke te vind pleks van op die groot oomblikke te wag. Geluk hang nie af van hoeveel nuwe goed in jou lewe gebeur nie. Jy moet elke dag bewus wees van die dinge wat jou goed laat voel – ’n lekker koppie tee, ’n sonskyndag, of ’n voëltjie wat mooi sing. My ma het so geleef en ek dink dit het my goed gedoen.

Het jy en Ben dit oorweeg om weer saam te werk?

Ben is die een na wie ek toe gaan wanneer ek oor ’n rol moet besluit. Ek vra altyd: Maak hierdie rol sin? Dink jy dis iets wat ek kan doen? Ons praat nie regtig oor ’n gesamentlike projek nie. Hy doen op die oomblik so goed. Ek wil hê hy moet net fokus op wat op die oomblik vir hom werk. En dit kan net gebeur wanneer ek my werk doen (na die kinders kyk) sodat hy syne kan doen. Hy is ’n wonderlike regisseur en ek sal graag saam met hom wil werk, maar ons is op hierdie oomblik vennote op ’n ander gebied. Saamwerk is voorlopig nie ’n opsie nie.

Hoe lyk jou huis?

Deurmekaar! Toe ek alleen gebly het, het ek baie kleur en strepe in my huis gehad. En soms blomme. Toe ek en Ben saam ingetrek het – dis altyd ’n toets vir ’n verhouding – moes ons ’n middeweg vind. Iets tussen modern, wat sy smaak is, en meer tradisioneel, wat my smaak is. Ons kunswerke is gewoonlik foto’s. Ons het pragtige swart-wit foto’s van Darren Almond.

En jou klerestyl?

Niemand sal my as ’n trendsetter beskryf nie. Ek het nie ’n wonderlike verhouding met klere nie. Ons baklei. Wanneer ek my kas oopmaak, is dit ’n bakleiery. Ek wil jeans dra, en my kas wil hê ek moet ’n rok dra. Wanneer ek vir ’n spesiale geleentheid moet aantrek, kry ek hulp. Inkopies oorweldig my. Ek verstaan dit glad nie. Ek weet nie wat gaan saam met wat nie. Ek is net nie goed daarmee nie. Ek hou van Isabel Marant, A.L.C en Rag & Bones. Selfs om daaroor te praat maak my
senuweeagtig – ek is bang ek sê die verkeerde ding (lag).

Wat van juwele?

Ek is mal oor juwele. Enigiets wat blink. Watter vrou hou nie daarvan nie? My man bederf my!

In die fliek maak die paartjie ’n wenslys van die eienskappe wat hul baba moet hê. Watter eienskappe sien jy in jou kinders raak?

Die een is soos ek, en die ander een is meer soos Ben, en die baba sal soos een van hulle wees. Daar is ’n humorsin, gevatheid, rustigheid, vasbeslotenheid, ’n behoefte om mense te vermaak – die grapjas-ding. Dis wonderlik om te sien hoe hul persoonlikhede ontwikkel, sonder enige invloed van ons kant af. Hulle is wie hulle is vanaf die oomblik van geboorte.

Hoe bou jy en Ben jul verhouding?

Ons werk heeltyd daaraan. Ek en die kinders het onlangs vir hom op die rolprentstel in Puerto Rico gaan kuier en saam met hom middagete in sy aantrekkamer geëet. Dit was chaoties, glad nie romanties nie! Onthou, daar’s drie van hulle. Toe ek in Atlanta gewerk het, het hy die kinders skool toe gevat en in die bed gesit en hulle elke dag na my toe gebring sodat ek hulle kon sien. Dis vir my romanties. Hy het gesien hoe baie die projek vir my beteken het. Hy het sy dinge so gereël dat hy my kon ondersteun – hy was vasbeslote dat die feit dat ek ver van die huis af werk, nie ’n probleem word nie. Wanneer hy werk, sit ek partykeer by hom en kyk wat hy doen. Dis vir my heerlik om op stel by hom te kan wees, deel van sy dag, en met die span te gesels en te spog oor wat hy doen. Ek bestee so baie van my tyd aan ma-wees – dis belangrik om nie die eggenote-deel af te skeep nie.

Wat is jou wense vir jou kinders?

Ek wil net hê dat my kinders gelukkig moet wees. En dat hulle gesond en veilig moet wees. Wêreldnuus maak ’n mens bang wanneer jy kinders het. In The Odd Life of Timothy Green word die paartjie se ouerskapstyl bevraagteken.

Hoe moeilik was jou leerskool wat ouerskap betref?

Toe my derde kind gebore is, het ek gewens ek kan weer van voor af met my eerste een begin. Mense dink enige vrou kan nie wag om ’n trourok aan te trek nie, maar die waarheid is dat ons nie kan wag om ’n vir die eerste keer ’n doeksak te pak nie. In die begin koop jy elke soort uitslagroom wat bestaan, en pak vyftig doeke en tien verskillende uitrustings in. In die begin het ek en Ben net na mekaar gekyk en ons koppe geskud: “Ons is verskriklik; ons weet regtig niks.” (Lag).

Hoe hanteer jou kinders die paparazzi?

Ek het reeds ’n paar jaar gelede besluit om nie meer park toe te gaan nie, want dit het net te moeilik geword. Wanneer een van die kinders baie graag wil gaan, sal ek vasbyt en dit doen. Gelukkig steur my kinders hulle nie te veel aan die kamera-chaos om hulle nie – hulle hou net nie daarvan nie. Ons het daaroor gepraat en hulle verstaan verbasend goed hoekom dit so is. Hulle besef die paparazzi kan hulle irriteer, maar hulle kan nie aan hulle vat of hulle seermaak of ons tyd saam bederf nie. Hulle kry dit beter reg om die klomp te ignoreer as ek of Ben.

Watter soort pa is Ben?

Toe hy onlangs voor die huis stop ná hy die dogters amper agt dae laas gesien het, was hulle in sy arms voordat hy uit die kar kon klim: “Ons is lief vir jou. Jy is die beste pa in die wêreld.” Hy het ’n wonderlike verhouding met die kinders, maar hy verdien dit. Hy is ’n ongelooflike pa.

Vertaal deur Hannelie Diedericks

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

15 hours Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

21 hours Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

23 hours Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 day Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

2 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

2 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.