kategorieë: Ons menseBekendes

Ons gesels met Lindi en Wynand van Anders

Ons het met Wynand en Lindi Delport van die groep Anders gesels wat eersdaags ’n nuwe album vrystel. Dié gospel-album, getiteld Bruid, word in September 2017 uitgereik. Ons het meer uitgevind oor die nuwe album, musiekmaak, hul verhouding en hoe ’n baba ’n mens se lewe verander.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Vertel ons meer van Bruid.

Die album se naam is Bruid. Dit is ook die eerste lied op die album. Dit gaan oor die feit dat ons God se bruid wil wees, en dat ons wil hê ons lewens moet sy naam eer.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Vertel ons meer van die album.

Dit is ons tweede gospel-album, maar ons het ses jaar gewag om weer ’n gospel-album uit te bring. Dis waar ons harte nog altyd gelê het, en ons is vreeslik opgewonde om nuwe Christelike musiek met Suid-Afrika te deel. Daar is agt splinternuwe liedjies wat deur ons geskryf is, sowel as twee bekende liedjies, naamlik 10 000 Reasons en Oh Heer my God, wat ons ’n bietjie verwerk het om “Anders” te klink.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Wat is jul gunstelingliedjie op hierdie album?

Elke lied wat ’n mens skryf is maar na aan die hart, maar ons sou sê die lied Nothing Less. Die boodskap in die lied is dat ons niks meer as Jesus nodig het nie, maar ook niks minder nie.

Watter ander musikante verskyn op hierdie album en hoe het hulle bygedra daartoe?

Ons orkes van die afgelope 10 jaar, Jason Moser op tromme, en Rixi Roman op baskitaar. Hulle stap al vir so lank ’n pad saam met ons, en ons voel ongelooflik geseënd om hulle nog steeds deel van Anders te hê. Wynand het verder die kitare, klavier, orrel en ander klanke op die album verskaf. Hy het dit ook vervaardig.

Hoe pak julle gospel aan en watter boodskap probeer julle daarmee oordra?

Ons dink dat ons gospel makliker aanpak as enige ander genre, omdat ons dit die langste al doen en omdat ons daarvan hou om positiewe opbouende musiek te skryf.

Gospel is egter nie die enigste genre waarin julle werk nie?

Ons vorige twee albums het alles liefdesliedere bevat, asook temaliedjies vir films soos Knysna en Die Pad (wat in die fliek Vrou Soek Boer was). Ons is al 16 jaar lank ’n paartjie, so ons moes weet dat daar vreeslik baie liefdesliedjies nog uit ons pen sou kom! Partykeer meng ons sommer al die genres, want ons wil nie noodwendig dit in kategorieë plaas nie. Alles wat ons doen en skryf moet getuig van God se liefde.

Soos julle genoem het is van julle liedjies al in flieks se klankbane gebruik?

Ons was al bevoorreg genoeg om al die musiek te kon skryf vir die film Knysna. Wynand het al die agtergrondmusiek ook gekomponeer, sowel as vir die fliek Die Pro. Hy het musiek studeer, so hy geniet dit vreeslik om aan ’n film se klankbaan te werk. In die toekoms sal hy graag weer wil komponeer vir ’n fliek. Dit maak nie regtig saak watter tipe fliek nie, maar hy droom nog om te kan komponeer vir ’n fliek waar die begroting so groot is dat hy werklikwaar alles wat hy droom om te skryf kan bewaarheid.

Julle sing nie net saam nie, maar julle is ook getroud. Hoe het julle ontmoet en wanneer het julle getrou?

Ons is hierdie jaar 10 jaar getroud (en is nog baie happy)! Ons het as tieners in die kerk ontmoet en saam in die jeugorkes gesing. Dit het nie lank gevat om te besef dat ons meer as vriende wou wees nie.

Hoe is dit om saam met jou wederhelfte musiek te maak?

Vir ons is dit heerlik en ’n baie groot voorreg. Ons wil niks sonder mekaar doen nie, omdat ons juis so lank gewoond is om alles saam te doen. Natuurlik was daar tye wat ons vasgesit het, maar ons het vinnig uit ons foute geleer en weet al hoe om ’n situasie te hanteer, veral wanneer dit by ons musiek kom.

Watter raad sou julle gee oor verhoudings en om saam te werk aan iets soos ’n musiekgroep?

Eerstens moet ’n mens mekaar én mekaar se opinies respekteer. Ons moes vinnig leer hoe om dit te hanteer wanneer die een byvoorbeeld ’n lied skryf en die ander een nie so mal is daaroor nie. ’n Mens leer ook vinnig hoe belangrik dit is om jammer te sê, en dat jy so gou as moontlik konflik moet uitsorteer sodat dit nie met die tyd saam een groot probleem word nie. Die belangrikste ding is om ook te kan afskakel en te besluit om glad nie oor werk of musiek te praat nie; dis soms moeilik.

Julle het ook ’n dogtertjie, Karmin. Hoe het sy julle lewe verander?

Op elke vlak, op elke manier. Sy is die beste ding wat nog ooit met ons gebeur het. Ons spandeer vreeslik baie tyd saam met haar (sy’s deur die week by die huis saam met ons) en ons is bevoorreg genoeg om elke nuwe dingetjie saam met haar te beleef. Ons kan nie uitgepraat raak oor haar nie. Sy het ons nog nader aan mekaar gebring as wat ons gedink het ons kan wees, en sy het God se liefde nog beter aan ons kom openbaar.

Wat is die grootste les wat Karmin julle al geleer het?

Om te slaap wanneer jy kan [lag.] Ons sou sê dat sy ons geleer het dat geld nie gesondheid en liefde kan koop nie. Dat tyd kosbaar is en dat ons elke oomblik van die dag moet geniet.

Hoe balanseer julle werk- en gesinslewe as albei so inmekaargevleg is?

Naweke is maar besig omdat die meeste van ons optredes dan gebeur, maar deur die week kan ons baie rustiger wees en net papierwerk inhaal en ’n paar TV/radio/tydksrif-onderhoude doen. Ons probeer om Karmin na die meeste van ons optredes te neem, sodat ons nie te lank van mekaar af weg hoef te wees nie. Sover werk dit goed vir ons, en ons spandeer eintlik 90% van ons tyd as gesin saam. Partykeer is die moeilikste deel om af te skakel en glad nie te dink aan nuwe idees vir Anders, of opkomende optredes of sulke tipe goed nie.

Wat doen julle graag saam wanneer julle nie musiek maak nie?

Ons is baie lief vir ons huis en om net voor die TV te lê en series te kyk. Behalwe vir dit is ons mal oor die see, en sal enige verskoning gebruik om te gaan vakansie hou en om in die see te swem. Wynand is ook mal oor kosmaak en probeer gereeld nuwe resepte uit. Ons nooi dan graag goeie vriende om sy nuutste disse te probeer.

Wynand, watter bydrae lewer Lindi tot Anders?

Lindi skryf die meeste van die liedjies en ek verwerk dit dan. Sy het ’n talent vir skryf en sal somtyds met ’n hele lied in haar kop na my toe kom. Sy het ook ’n fantastiese persoonlikheid op die verhoog en sorg vir baie energie wanneer ons optree.

Lindi, watter bydrae lewer Wynand tot Anders?

Wynand maak elke lied wat dit is op die album. Hy moet luister na my (somtyds snaakse) idees, en dit dan ’n realiteit maak. Hy is ’n fantastiese musikant wat amper enige instrument goed kan speel. Hy is ook ongelooflik snaaks en sorg vir soveel pret wanneer ons in die studio is, wanneer ons onderhoude doen, of wanneer ons op die verhoog is.

Deel
Gepubliseer deur
Catherine Schenck

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

7 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

7 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

7 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.