Deur CHRISTA SWANEPOEL
Daar is baie wanopvattings oor osteoporose, soos dat dit ’n “ouvrousiekte” is. Die probleem is dat dit oor dekades ontwikkel sonder dat daar enige waarneembare teken is. Jy ervaar geen pyn nie, maar jou gebeente verswak geleidelik en op ’n dag breek jy jou pols, heup of ’n ruggraatbeen en as jy dan by ’n dokter uitkom, word osteoporose gediagnoseer.
Osteoporose kan as ’n siekte van oorerflikheid en lewenstyl beskryf word. Jy kan ongelukkig nie veel aan eersgenoemde doen nie, maar met die regte lewenstylkeuses kan jy wel jou kanse verbeter om dit vry te spring. Kennis oor dié beensiekte is dus uiters belangrik.
Lyers vertel
Marietjie (77) van Pretoria onthou hoe dit begin het: “Ek het in my vyftigerjare my gewrig gebreek, maar dit nie daardie tyd met osteoporose in verband gebring nie. My gewrig het herstel en ’n paar jaar later het ek ná ek inkopies gaan doen het, die inkopiesakke uit die kattebak gelaai en beentjies in my ruggraat gebreek. Ek is toe eers met osteoporose gediagnoseer.
“Ek het daarna soveel as moontlik oor die siekte opgelees en het moeite gedoen om my kinders en kleinkinders se dieet aan te pas om hulle daarteen te help beskerm. Ek het ook op die dokter se aanbeveling ’n paar keer per week in ’n park gaan stap. Ek is baie meer bewus van wat ek doen en eet om myself teen verdere breuke te beskerm.”
Bernadette (59) van Northcliff: “Ek was 56 jaar oud toe ek in 2020 erge pyn in my regterboud en lae rug ontwikkel het. Ek het aanvanklik gedink daar is iets fout met my kolon.
“Ek het twee kolonoskopies en twee CT-skanderings ondergaan, maar die dokters kon niks fout vind nie. In 2021 het die dokters ’n MRI gedoen en osteoporose is by my gediagnoseer. Dit het getoon ek het spinale stenose en ’n rugwerwel wat geskuif het en uitstulp, waarskynlik weens die osteoporose.
“My oorlede pa en van sy sibbe het osteoporose gehad en daarom het ek na my gesondheid omgesien. Ek weeg 51 kg, ek het nog altyd geoefen, 90% van my dieet is vrugte en groente en ek neem aanvullings. Dit was dus vir my ’n skok toe osteoporose by my gediagnoseer is. Ek oefen steeds al het ek pyn. Die pyn is erger as ek sit of lê. Ek gebruik medikasie, maar ek weet dis op die duur nie goed vir my niere nie. Ek gaan binnekort weer vir ’n MRI.”
Wat is osteoporose?
Osteoporose beteken letterlik “poreuse bene”. Die siekte veroorsaak dat die digtheid en gehalte van jou gebeente afneem, wat die skelet verswak en die kanse om ’n fraktuur op te doen, verhoog. Jou bene kan so bros word dat jy met geringe inspanning ’n fraktuur kan opdoen, soos om van ’n bank af op te staan, ’n inkopiesak op te tel of te nies.
Dit gebeur egter geleidelik sonder dat jy dit agterkom. In jou leeftyd vind daar gedurig afbreking en heropbouing van jou skelet plaas. Dit is nodig vir die groei en instandhouding van gesonde bene. In jou kindertyd word been vinniger opgebou as wat dit afgebreek word – jy groei en jou gebeente word digter. Jou beenmineraaldigtheid neem toe tot jy volwassenheid bereik. Ná 30 begin beendigtheid geleidelik afneem en verloor die gemiddelde vrou elke jaar 0,5% beendigtheid. Jy moet dus van jongs af daarop bedag wees al toon jy geen simptome nie.
Wanneer jy skielik ’n been breek, is dit gewoonlik en ongelukkig die eerste “simptoom” van osteoporose. En dan is dit te laat. Die enigste fisieke teken dat jy dit onder lede het, is ’n afname in jou lengte en jou rug word geleidelik krommer weens die kompressiefrakture van die rugwerwels. Beendigtheid begin reeds van die vroeë dertigerjare afneem en die risiko dat ’n vrou in haar leeftyd ’n fraktuur weens osteoporose
kan opdoen, is 30% tot 40%. Dit is ook nie net ’n vrouesiekte nie en onlangse studies toon dat een uit elke vyf mans osteoporose kan opdoen.

Wat is die risikofaktore?
- Jy is ouer as 65 jaar.
- Jy het ná die ouderdom van 50 ’n been gebreek.
- ’n Naby familielid het ’n been gebreek of is met osteoporose gediagnoseer.
- Jou gesondheid is swak.
- Jy is ondergewig vir jou lengte.
- Jy rook.
- Jy het voor 45 jaar deur menopouse gegaan.
- Jy kry nie genoeg kalsium in nie.
- Jy drink meer as twee alkoholiese drankies ’n paar keer per week.
- Jou sig is swak.
- Jy kry nie genoeg oefening nie.
Hoe kan dit gediagnoseer word?
Jou dokter sal ’n Dexa-masjien gebruik (Dual Energy X-ray Absorptiometry). Die masjien skandeer jou heup en ruggraat om jou beendigtheid te bepaal in vergelyking met ander mense s’n van jou ouderdom en geslag. Verder kan ’n bloedtoets gedoen word of ’n sonar, gewoonlik van die hak, of ’n kwantitatiewe CTskandering van die lae-ruggraat.
Wat is nodig om dit te voorkom?
- Kalsium: Kalsium is ’n belangrike bousteen vir beenweefsel wat osteoporose en beensiektes kan voorkom. Die kalsiumvlakke in die bloed, wat noodsaaklik is vir die senuwees en spiere, word onderhou deur die kalsium in jou bene, wat as ’n reservoir dien. Die hoeveelheid kalsium wat ons liggaam nodig het, verander met ouderdom, maar die liggaam se vermoë om kalsium op te neem, neem ook met ouderdom af en daarom moet jy meer kalsium inneem. Voedsel ryk aan kalsium is suiwelprodukte soos melk, jogurt, kaas en botter; groen groentes soos broccoli en spinasie; geblikte vis waarvan die bene ryk is aan kalsium, soos salm en sardiens; en neute, veral amandels en Brasiliaanse neute.
- Vitamien D: Vitamien D help met die opname van kalsium uit die kos wat jy eet en verseker die hernuwing en mineralisasie van beenweefsel. Dit is dus noodsaaklik vir die onderhoud en ontwikkeling van bene. Vitamien D word in jou vel vervaardig wanneer dit aan die son se ultravioletstrale blootgestel word. Dit kom ook in kos, soos salm, sardiens en makriel, eiers en lewer voor. Jy kan ook vitamien D-aanvullings gebruik. Onlangse navorsing toon ’n minimumbloedvlak van 25- hidroksievitamien D wat optimaal vir voorkoming van frakture sal wees, is 70-80 nmol/l. Om dit te bereik, sal die gemiddelde ouer mens se vitamien D-inname minstens 800-1 000 IE/dag moet wees.
- Oefening: Oefening is noodsaaklik vir beengesondheid op enige ouderdom. Jy kan ook op enige ouderdom met beenoefeninge begin, selfs al val jy in die hoërisikogroep of selfs al het jy reeds osteoporose. Omdat oefening bene en spiere versterk en balans, koördinasie en soepelheid verbeter, kan dit help dat jy nie val en dalk iets breek wat tot gestremdheid of selfs ’n voortydige dood kan lei nie. Volgens die Nasionale Osteoporose-stigting is stap en weerstandsoefeninge die beste oefeninge wat kan help om beendigtheid te bevorder omdat jy teen gravitasie werk. Weerstandsoefeninge sluit vinnige stap, draf en dans in. ’n Vinnige stap van 45 minute drie keer per week word aanbeveel. Dra net gemaklike skoene. Die spier wat die been “trek”, genereer elektriese impulse op die beenoppervlakte, wat beenvorming stimuleer. Oefening stel ook hormone vry wat beenvorming aanhelp en dit stimuleer bloedvloei binne die been.

Simptome van ’n heupfraktuur
As jy vermoed dat jy ’n heupfraktuur opgedoen het, moet jy onmiddellik mediese hulp kry.
Simptome van ’n heupfraktuur sluit in:
- Pyn in die lies of dy.
- Jy kan nie staan nie.
- Jy kan geen gewig op die geaffekteerde been hanteer nie.
- Jy kan nie die boonste deel van die been beweeg nie of sukkel om dit reg te kry.
- Die deel om die heup en bobeen is geswel en gekneus.
- Die geaffekteerde been is in ’n vreemde posisie gedraai of lyk korter as die ander been.
Behandeling
Hoewel osteoporose nie genees kan word nie, is daar behandeling beskikbaar. Jou dokter sal die regte behandeling vir jou aanbeveel afhangende van jou ouderdom, geslag, hoe ver die osteoporose gevorder het en of jy ander siektetoestande onder lede het, asook persoonlike voorkeur.
Lees ook: Planne vir goeie kraakbeen
