kategorieë: VerhoudingsJou lewe

Ou liefdes en die roes

Richard Burton en Elizabeth Taylor se smeulende verhoudings, herhaalde troues en egskeidings het altyd vir voorbladnuus gesorg. (Die knewels van diamante wat hy vir haar gegee het, ook.) Dié akteurspaar se kaperjolle is seker die bekendste voorbeeld van mense wat nie sónder mekaar kon nie, maar nog minder mét mekaar kon.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Lees ook: Elizabeth Taylor en Richard Burton se verterende liefde

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Maar niemand trou met die voorneme om te skei nie. Jy beplan ’n loopbaan of ’n reis. Jy studeer en word deeglik opgelei. Voor jy mag motor bestuur, gaan jy vir bestuursopleiding en oefen op veilige paaie om ongelukke te voorkom. Maar min mense berei hulle werklik voor vir ’n huwelik en maak seker dat hulle die verhoudingsvaardighede onder die knie kry. In elke huwelik is daar gevaartye van seerkry, swaarkry en situasies wat as verwerping ervaar word.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Trou of skei mense te maklik of te vinnig? Trou mense wat nooit moes trou nie, of skei mense wat nooit moes skei nie? Party huwelike eindig oor probleme soos ’n derde persoon of geweld in die huwelik. Ander eindig oor dinge soos verlore intimiteit en kommunikasie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Niemand trou met die voorneme om te skei nie

In ’n huwelik kry jy altyd meer en minder as waarvoor jy gehoop of gedroom het. Wat is jou verwagtinge? Om liefgehê te word, of om liefde te gee? Mense glo dat hulle geluk, sin, liefde, aanvaarding, begrip, respek en intimiteit gaan kry, wat hulle nie in hulself het nie. En ironies is die sin daarvan juis in die géé daarvan. Maar gronde vir egskeiding gaan meestal oor wat mense nié kry nie. As jy nie selfliefde en aanvaarding het nie, is dit moeilik om dit vir iemand anders te gee.

Nie trou of skei is ’n kitsoplossing vir enige situasie nie.

Die hunkering bly

Cleodi* sê: “Ek is jonk getroud en het geen idee van die huwelik gehad nie. Ek het myself nie eens geken nie en boonop met ’n moeilike man getrou. ’n Hoërisikomens: op en af – heeltemal onvoorspelbaar en impulsief. Hy kon my nie geborge laat voel nie. Ek kon ook nie vrede maak met ons verskillende waardes nie. Maar ek wil nie hê dit moet klink of hy die oorsaak van alles was nie.

“Ek dink as ons later getrou het, kon dit gewerk het; sou ons dalk ons verskille kon hanteer en mekaar meer waardeer. Ek is steeds vreeslik lief vir hom en mis hom nog. By hom het ek ’n baie spesiale ruimte waarin ek kan wegkruip of wegraak. Hy ken my so goed en weet presies wat ek intellektueel nodig het. Tog was hy soveel keer nie daar vir my nie. Maar hy bly vir my ’n geesgenoot. Hy voel ook so oor my.

“Ek dink as ons later getrou het, kon dit gewerk het; sou ons dalk ons verskille kon hanteer en mekaar meer waardeer”

“Albei van ons ervaar ’n gevoel van spyt en verlies oor wat ons verloor het en kon gehad het: ’n huis, huislikheid en kinders. By my is daar steeds die hunkering na hom en wie ek by hom (as hy op ’n goeie plek is) kan wees. Dis ’n soort kreatiewe stimulering wat ek nie by ander kry nie en wat ek mis.

“Dis nou sewe jaar ná ons egskeiding en ons is albei steeds enkellopend en sien mekaar gereeld. Daar is steeds niemand met wie ek ’n inniger geestesband het nie. Hy, en ek seker ook, het talle kere probeer uitbeweeg. Hy soek die ideale, perfekte vrou wat al sy behoeftes sal vervul – iemand wat hy nooit gaan kry nie. Ons bly terugkeer na ons verhouding. Ek besef as ons nie ons geestesband gaan breek nie, daar nie ruimte vir iemand anders is nie.

“Hy heroorweeg nie ’n huwelik nie, vanweë sekere aannames uit ons verlede. Ons tye saam is goed, gemaklik. As hy ontsteld is, gee ek hom ’n veilige ruimte (wat nie myne bedreig nie), luister ek, gee hom kos en dan gaan hy huis toe. Die verhouding werk vir my, meer as vir hom. Tog bly die hunkering … ”

Gevaarlike roete

’n Mens verbind jou op verskillende vlakke aan jou huweliksmaat: met ’n emosionele band van gevoelens, wat ook finansiële sekuriteit insluit, en met ’n fisieke, spirituele, morele en intellektuele band. Op al die vlakke moet jy aan die huwelik werk, én laat gaan as die huwelik verby is.

Emosies is nie die kernbestanddeel van huweliksgeborgenheid en stabiliteit nie, want emosies kom en gaan. Liefde is ’n keuse en ’n wilsbesluit – emosie is die lekker deel daarvan. Liefde se grootste vyand is verveeldheid, onverskilligheid en verlore passie, toewyding en waardering – ’n onvermoë om dankbaar die goeie in die verhouding te waardeer en geniet. ’n Fiksasie op alles wat verkeerd is, vernietig ’n verhouding.

Liefde is ’n keuse en ’n wilsbesluit – emosie is die lekker deel daarvan

As gevoelens ons lewe en verhoudings beheer, is ons op ’n gevaarlike roete met onvoorspelbare en onhanteerbare berge en dale: uitbarstings, stilstuipe en depressies. Maar as gesonde waardes ons lewe beheer en bestuur, raak ons rustig, voorspelbaar en konsekwent betroubaar dáár vir ons maat. Dan verloor jy jou nie in liefde nie, maar vind jou daarin.

Rondte twee

Janine* sê haar huwelik met Jaco* het glad nie gewerk nie. “Dit het gevoel of hy my emosioneel aftakel. Ons persoonlikhede en agtergronde is so verskillend. Hy is suid en ek noord – ek’s ’n emosionele gevoelsmens, hy ’n realistiese denker. As ek met hom oor my behoeftes en gevoelens gepraat het, was dit vir hom Grieks. Hy het niks daarvan verstaan nie en nie geweet hoe om emosies te hanteer nie. Een keer moes ek ingaan vir ’n operasie, en was vrekbang. Maar hy het gim toe gegaan en was nie daar toe ek ingaan of uitkom nie.

“Dit het altyd vir my gevoel hy sien neer op my omdat ek gesondheidsprobleme het. Ek het skuldig oor alles gevoel, of ek nie goed genoeg is nie. Hy is ’n moeilike mens wat oor alles kla. Mense beleef hom negatief, en het my nie kwalik geneem toe ek uitgetrek het nie. Maar ek was so pateties en sonder selfvertroue.

“Hy het my bederf met juwele en materiële goed – ’n pragtige huis en meubels. Maar ek het altyd gevoel ek mis ’n man wat my waardeer vir wie en hoe ek is. Ek was onvergenoegd, verbitterd en alleen.

“Hy het gedink ek is net emosioneel en ons huwelik is oukei. Hy was verslae en geskok dat ek dinge so intens beleef en my goed wil vat en loop. Hy het grootgeword met ouers wat mekaar sonder respek behandel en op mekaar skree. Hy het my nooit werklik gevloek of geskel nie, maar dit was tog daar in sy stilswye, koue oë en liggaamstaal.

“Ek het uitgetrek. Toe kom die blomme en geskenke. Ek het gedink hy het groot genoeg geskrik en het ná ’n kerkkamp verander, maar dit was nie blywend nie, en ons is geskei.

“Toe trou ek met Jaco se teenpool, ’n intense en emosionele man. Ek het gedog ek het my geesgenoot gekry. Aanvanklik was dit wonderlik – tot hy my in ’n woedebui te pletter geduik het. Nou weet ek ek het te gou getrou. En ek weet ek moes nooit geskei het nie. Ek het een stel probleme vir ’n ander stel verruil.

“Ek het uitgetrek. Toe kom die blomme en geskenke. Ek het gedink hy het groot genoeg geskrik en het ná ’n kerkkamp verander, maar dit was nie blywend nie, en ons is geskei.”

“As Jaco die kinders kom oplaai, wou my hart breek. Ons het vir mekaar briefies in die kinders se tassies begin los. Ek het weer geskei.

“Ek en Jaco is weer getroud. Ek weet nie regtig wat ek anders kon doen nie. Maar albei van ons het verander. Ek voel nie meer ek kry nie wat ek wil hê nie. Nou wil ek hê, en waardeer wat ek gekry het. Die Here het sy lewe verander. Hy het ’n verhouding met God, is positief en betrokke by die kerk. Ons verwagtinge van die huwelik en mekaar is anders: Ons is meer verdraagsaam, tevrede en dankbaar, sal meer dinge oorsien. Ons gee meer ruimte vir mekaar om onsself te wees. Op materiële vlak het ons baie verloor, maar in mekaar gekry wat geld nie kan koop of jy in boeke kan leer nie.

“Tog is daar nog tye wat die ou patrone en seer weer deurslaan. Dan fokus ek maar daarop om hom soos ’n koning te behandel, want dan maak hy my sy koningin.”

Verkeerde redes

Mense trou of herenig dikwels te gou en om die verkeerde redes, soos om gods-dienstige redes of vanweë skuldgevoelens. Hulle voel hulle het gesondig en trou dan sonder om die verhoudingsprobleme op te los. Of hulle trou omdat hulle skuldig voel oor die kinders, verlange en alleenheid. ’n Behoefte aan geborgenheid laat mense vinnig vergeet waarom hulle geskei het. As daar nie werklik verandering en groei was nie, stamp mense maklik hul koppe teen dieselfde klip en kom hulle in ’n volgende verhouding gou weer op dieselfde punt. Beloftes van verandering is nie genoeg nie.

Die meeste hertroues sneuwel oor dieselfde redes as wat die eerste huwelik gesneuwel het.

Goethe, die Duitse digter/dramaturg het gesê: “Ons mag nooit die dinge wat werklik saak maak, uitlewer aan die genade van dit wat nie belangrik is nie.” Dit is belangrik waarin jy jou tyd, energie, fokus, passie, gedagtes, geld en emosies belê, want dis wat groei en wat jy kry. Verande-ring en groei in verhoudings is altyd moontlik, maar dit gebeur net as jy jou persepsies en gewoontes verander. As jy nie deel van die oplossing is nie, is jy moontlik deel van die probleem. Egskeiding behoort die laaste uitweg te wees, ná alles reeds probeer is.

Die meeste hertroues sneuwel oor dieselfde redes as wat die eerste huwelik gesneuwel het

*Skuilname is gebruik en verhale is met betrokkenes se goedkeuring vertel.
Anys Rossouw is ’n sielkundige.

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

Kristen Raath oor haar snaaksste, en vernederendste, oomblik op die stel van Wyfie

Dié toekennings, wat deur Screen International aangebied word, word op 20 Mei 2024 in Cannes, Frankryk, uitgedeel.…

9 hours Gelede

Kokkedoor se inskrywings is oop! Is jy gereed om oor die kole gehaal te word?

Soos in die eerste aflewering van Kokkedoor Vuur & Vlam in 2023, moet deelnemers vanjaar…

1 day Gelede

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

2 weeks Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

2 weeks Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

2 weeks Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

2 weeks Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.