kategorieë: Sukses en geldJou lewe

Plan B

Klottervry

Ná Marie Kondo se ikoniese boek, The Life-changing Magic of Tidying Up, is “klottervry” op almal se lippe. Enigiets wat jy langer as ’n jaar laas gedra het en alles wat onnodig plek opneem, moet waai. Ai, jy weet jy moet minder maak en organiseer, maar die berg voel veels te hoog om aan te durf.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Plan B
As jy angstig raak by die blote gedagte daaraan dat jy die Moedersdagkaartjies moet weggooi wat die kinders 25 jaar gelede vir jou gegee het, is daar ’n wonderlike tweede opsie: organiseer.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Wanneer jy organiseer, skep jy orde en wanneer jy ontklotter maak jy minder. Maar wanneer jy ’n klomp goed weggooi, is jy nie noodwendig ook georganiseerd nie. Die geheim is om te weet wat jy het, waar jy dit kan kry, en dat elke ding ’n bêreplek moet hê. Klerekaste is gewoonlik die probleem. Pleks van wroeg of jy al jou klere nodig het en gebruik, begin eerder organiseer deur alle hemde op een plek te hang, alle broeke bymekaar, en so aan. Sommige mense hou daarvan om klere volgens kleure te groepeer. Dink aan enigiets wat dit makliker maak om te weet waar alles is.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Hegte gesinsbande

Jy vertrek soggens vroeg werk toe en kom laat tuis en daar is bitter min tyd om werklik met gesinslede te kommunikeer. Jy sou graag alle sportwedstryde wou bywoon, alleentyd met elkeen van die kinders deurbring en ’n naweek saam met jou liefie weggaan, maar die wrede werklikheid is maar eenmaal anders.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Plan B
As jy verhoudings by die huis op geoliede wiele wil laat rol, is die geheim om saans saam te eet. Dit is die geheim van hegte gesinne, sê sielkundiges. Selfs al kry julle dit net elke tweede aand reg, is dit steeds ’n hoeksteen. Die Universiteit van Oklahoma en Oklahoma State-universiteit in Amerika het die eetgewoontes van 24 000 kinders, asook hul gedrag, sosiale vaardighede en akademiese prestasies ontleed. Uit die studie het dit geblyk dat wanneer gesinne gereeld saam eet die kinders 10% meer betrokke was by skoolaktiwiteite en die moontlikheid van swak gedrag het met 8% afgeneem. Volgens ’n verslag wat in die Journal of Family Psychology gepubliseer is, gee etes weerlose kinders bestendigheid en ’n geleentheid om kontak te maak. Maak dit jou geheime wapen vir hierdie jaar.

Gee jou verhouding borrels

Jy en jou geliefde se verhouding is vaal en julle seil soos skepe in die nag by mekaar verby sonder om kontak te maak. Jy sou graag iets besonders wou doen, soos om een keer per week weg te glip vir ’n romantiese ete en oor dieper dinge as jul begroting en die kinders se skoolroetine te praat. Maar die tyd en begroting vir grootse, romantiese gebare ontbreek.

Plan B
Maak Vrydagaande spesiaal, trek netjies aan gaan drink ’n drankie by ’n deftige hotel of eetplek. Boonop is dit makliker om iemand te kry om twee uur lank na die kinders te kyk pleks van ’n hele aand. Maak dit ’n speletjie en maak beurte om ’n oulike plek te kies – dan wag daar die opwinding van ’n verrassing. Dis ook nie te duur nie, want julle eet agterna by die huis – of gaan eet by ’n goedkoop eetplek.

Skoonheidsroetine

Die badkamerkassie staan gepak met roompies en doepa wat jou jonger en varser sal laat lyk. Al wat jy moet doen, is om elke aand jou gesig ordentlik skoon te maak en die res van die skoonheidsroetine te volg. Helaas, dit gebeur nie altyd nie.

Plan B
Suzanne Kotzé, rooi rose se skoonheidsredakteur, gee haar wenke:

Velsorg Te moeg (lui) om jou aandroetine ordentlik te volg? Suzanne sê sy hou die aand se skoonmaakmiddels en roompies langs haar bed en doen wat gedoen moet word terwyl sy in die
bed lê.
• Hou ’n pakkie reinigingslappies byderhand om ordentlik te reinig.
• Of volg die Franse vroue se voorbeeld en gebruik Micellar-water. Dit lyk soos water maar het mikroskopiese oliedeeltjies wat aan die onsuiwerhede in jou vel bind sonder om jou vel uit te droog. Hou dié produk en watteskyfies langs jou bed. Dis ideaal om maskara en ooggrime-ring af te haal en reinig jou gesig sagkens. Boonop spaar jy water! Probeer Bioderma se Sensibio H2O.
• Serums en nagrome moet gewoonlik in die regte volgorde aangewend word en soms moet jy ’n tydjie wag voor jy die volgende een kan aanwend. Dan is dit ideaal as jy in die bed kan sit en ontspan.

Hare ’n Mens het altyd goeie voornemens om nooit met onver-sorgde hare rond te loop nie, maar … en soms is daar meer goor-haar-dae as goeies in ’n week.
• Kry gekleurde haarpoeier wat jy by die wortels aanwend om nuwe uitgroei te verbloem. Dit lyk soos ooggrimering en werk vir alle haarkleure.
• Droë sjampoe is op baie vlakke ’n staatmaker. “Ek gebruik dit selfs op skoon hare om meer volheid te kry, en dit werk veral goed as my hare op die tweede dag plat lê. Dit gee lekker tekstuur en laat jou hare skoon ruik as daar dalk van die vorige aand se kosreuke of rook aan jou hare kleef.”
Moroccanoil se droë sjampoe vir blonde hare het ’n bonus: dit het ’n pers ondertoon wat ook die geel in platinum blonde hare demp.
• As jy desperaat is en nie droë sjampoe het nie, kan jy babapoeier gebruik. Maar net as jy blond is. Vryf die poeier liggies met jou vingerpunte deur jou haarwortels eerder as om die poeier op jou kopvel te stuif.
• Wees kreatief met vlegsels, skewe poniesterte en bollas as jou hare nie so skoon is nie, en gebruik kopbande en serpies as die grys by die wortels wys.

Oefen

Dis geen geheim dat oefening jou beter laat voel en lyk nie. Die gulde reël is ’n halfuur se oefening vyf keer per week, maar daar is ook kortpaaie sodat jy sonder ure se bloedsweet vele voordele uit korter oefensessies kan trek.

Plan B
• Oefen kort (10 min.) maar baie intens: Navorsers het vasgestel dat kort, intense sessies dieselfde resultate as tradisionele langer sessies kan hê. Kanadese navorsers het twee oefenroetines vir jonger mans vergelyk: ’n intense oefensessie van 10 min. drie keer per week waarvan net 1 min. hard geoefen word. Die ander groep het die tradisionele matige intensiteit oefening vir langer tydperke gedoen.

Die gesondheidsvoordele vir die eerste groep was meer as vir die tweede groep. Hul insuliensensitiwiteit het met 53% verbeter (34% vir die matige groep) en hul spiere het suurstof doeltreffender opgeneem (48% vs 27%). Navorsers het tot die gevolgtrekking gekom dat 30 min. se oefening per week net soveel en meer gesondheidsvoordele kan inhou as 150 min. se oefening per week.

*As jy ouer is, moet jy eers met jou dokter praat oor die wenslikheid van kort, intense sessies omdat die studie op mans met ’n gemiddelde ouderdom van 27 gedoen is. Die studie het oor drie maande gestrek en gee geen aanduiding wat op die lange duur gebeur nie.

• Probeer Tabata: Prof. Izumi Tabata het dié oefenmetode ontwikkel om Olimpiese snelskaatsers af te rig. Twee groepe atlete is oor ses weke op verskillende maniere afgerig. Die een groep het vyf dae per week vir ’n uur teen ’n gemiddelde intensiteit geoefen. Die Tabata-groep het vier dae per week vir 4 min. 20 sek. (met 10 sek. rus tussen elke sessie) teen hoë intensiteit geoefen.
Die resultaat: Die eerste groep het hul kardiovaskulêre fiksheid (aërobiese meganisme) verbeter, maar het min resultate vir spierbou (anaërobiese meganisme) gewys. Die Tabata-groep se aërobiese fiksheid het beduidend verbeter en hul anaërobiese fiksheid het met 28% toegeneem. Soek onder “tabata workout” vir oefeninge om te doen.

Zzzzzzz

Jy het sewe tot agt uur slaap nodig om jou volle potensiaal te bereik, maar soms is dit bloot onmoontlik. Of dit ’n baba is wat jou wakker hou, spertye, of slaaploosheid, op die lange duur is dit uitmergelend.

Plan B
Dr. Dominique Stott, uitvoerende beampte van mediese standaarde en dienste by PPS, sê ’n gebrek aan slaap kan keer dat jy inligting prosesseer en dit kan tot swak oordeel, insig en geheue lei. “Die funksie van slaap is om jou brein af te skakel sodat die gebeure van die dag kan insink en geheue en insig kan skep.”

Sewe tot agt uur is genoeg, maar oppas as jy oor die naweek verlore slaap probeer inhaal. As jy sukkel om te slaap, kan dit jou slaappatroon net verder versteur.
• As jy werklik moeg is, kan jy iewers deur die dag ’n uiltjie knip. Dit sal jou brein help herstel en jou verfris laat voel. Die geheim is om nie langer as 20 min. te slaap nie, want daarna gaan jy in ’n dieper slaap en word jy deur die blare wakker.
Slaappille kan op kort termyn help om jou roetine te herstel, maar op die lange duur is dit nie volhoubaar om kunsmatige maniere te gebruik om jou aan die slaap te sus nie. As jy langer as ’n maand slaappille drink, raak dit minder doeltreffend, en jy kan nog meer sukkel as jy die medikasie staak.
• Probeer ander maniere om jou brein deur die dag te ontspan, soos meditasie, joga of enige aktiwiteit waar jy jou brein bewus-telik stadiger dwing.
Geen alkohol, kafeïen en sigarette drie uur voor slapenstyd nie.
Geen skermtyd ’n halfuur voor slapenstyd nie. Die blou lig van skerms het ’n hoër konsentrasie kort golflengtes wat die produk-sie van die slaaphormoon, melatonien, benadeel.
• Probeer vasstel hoekom jy sleg slaap en stel dit reg. Daar is landwyd verskeie slaapklinieke waar jy om raad kan aanklop.

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

6 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

6 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

6 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

6 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

7 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

7 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.