Skryf ’n nuwe hoofstuk

Leeftye se gedagtes en ervarings kleur elke oomblik en gebeurtenis in ons lewe en tog kan ons so onwrikbaar glo in ons standpunte dat ons dit verhef tot die absolute waarheid van wat reg, verkeerd of die werklikheid is. Daarmee kan ons onsself en ander beperk, of vasgevang bly in moeilike situasies omdat ons daarop aanspraak maak dat ons weet en verstaan, en ons nie ons waarheid en werklikheid kan of wil bevraagteken nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Shakespeare het gesê dat niks werklik sleg of goed is nie, maar dat ons denke dit bepaal. Ons emosionele reaksies, besluite en optrede word deur ons persepsies en nie noodwendig deur ’n objektiewe werklikheid bepaal nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Mense veroorsaak meer lyding in die wêreld en onder mekaar as die verwoestende uitwerking wat die grootste natuurrampe kan hê.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Met ons persepsies skep ons ons wêreld en die wêreld rondom ons

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Bestaande kennis, gelowe, aannames, jou kultuur en die kondisionering van jou ervarings vorm jou persepsie van die realiteit dikwels meer as die huidige werklikheid. Ons brein neem nuwe situasies en inligting waar en interpreteer dit in verweefdheid daarmee en dit skep ons bewustheid van wat ons sien en ervaar. Dink maar aan die reaksie van die Koisan-man toe die Coke-bottel uit die lug val in die fliek The God’s Must be Crazy. Hy het nog nooit so iets gesien nie. Die naaste aan bekende en bestaande kennis waarmee hy dit kan integreer, is om te glo dis ’n geskenk van die gode.

Alle waarnemings en ervarings is vir elke individu baie spesifiek en uiteenlopend. Alles wat jy waarneem, word bepaal deur die betekenis wat jý daaraan gee as gevolg van jóú gedagtes, gelowe, emosies en verwagtinge. Einstein het verder gegaan en gesê dat die werklikheid bloot ’n illusie is.

Ons skep en beperk onsself, ander en die wêreld deurdat ons denke en persepsies dikwels ons identiteit vorm. Ons identiteit word bepaal deur ons rolle, kultuur, materiële dinge, ons beroep, voorkoms, geslagsidentiteit, ons gedagtes en vrese. Solank ’n mens jou identiteit hierin probeer vind, beperk en verloor jy jouself en ander. Dan het jy meer en beter nodig, voel jy ongelukkig, ontevrede en angstig. Dan glo kreatiewe en talentvolle mense of kinders nie in hulself nie, want die prestasie of dinge wat hul identiteit moet bepaal, is immer onvoldoende.

Die illusie en beperkende aard van persepsies

Die fokus van jou gedagtes bepaal jou persepsie: Verwagtende vroue sien oral ander verwagtende vroue en babas raak, en vervang jy die dag jou huis se dak, sien jy so ver jy ry net huise se dakke raak. Wanneer jy honger is, lyk kos lekkerder. Stoele en deuropeninge lyk vir groot mense kleiner. Wanneer jy glo jou man of kind is selfsugtig en help jou nie, sien jy hoofsaaklik alles raak waarmee hulle nie help nie, en kyk jy dikwels die dinge mis waarmee hulle wel help.

Almal neem selektief en gedeeltelik waar. In ’n eksperiment om die omvang daarvan te bepaal, is ’n groep mense gevra om na ’n video van ’n basketbalwedstryd te kyk en vas te stel hoeveel keer die bal van hande verwissel voordat ’n punt aangeteken is. ’n Man in ’n gorillapak het terselfdertyd tussen die spelers rondgeloop. Ná die video moes almal alles opnoem wat hulle gesien het. Minder as 10% het die gorillaman gesien. Die res was te besig om te kyk hoe die bal van speler tot speler verwissel. So mis ons almal dinge reg voor ons oë.

Jou eerste persepsie of ervaring bepaal wat jy later raaksien. Wanneer jou eerste ontmoeting met ’n buurman ’n negatiewe ervaring is, kan dit ’n negatiewe invloed op jul toekomstige gesprekke of verhouding hê. Indien jou eerste ete in ’n restaurant niks besonders was nie, sal jy moontlik nie teruggaan nie en later verbaas wees wanneer jy by vriende hoor hoe heerlik hulle daar geëet het. Dieselfde geld talle ander ervarings, soos leer of terapie.

Wanneer jy in ’n negatiewe bui, of ontsteld en omgekrap is, kan jy ook situasies, jouself of ander meer negatief beoordeel. Dit voel dalk niks werk uit nie, of dinge bly maar vir jou skeefloop.

Vorige gebeure en die assosiasies daarmee kan jou persepsies kleur. Wanneer jou man se vorige blonde sekretaresse hom probeer verlei het, kan jy agterdogtig wees oor sy verhouding met sy huidige sekretaresse, of telkens jaloers en ontsteld wees wanneer hy met enige blonde vrou praat, al is dit hoe onskuldig. Indien jy ’n weersin in drank het omdat jou pa te veel gedrink het, kan jy dalk ontsteld of negatief raak indien jou lewensmaat alkohol gebruik, selfs wanneer hy sosiaal net een of twee glase wyn drink. Ons kategoriseer dinge op grond van assosiasies: Mense wat dit dra, of dat doen, is sus en so.

Dit wat jy oor jouself glo, beïnvloed jou persepsies: ’n Man wat hom as selfgeldend beskou, beland gedurig in situasies waarin hy voel dat hy hom moet laat geld. Glo jy dat jy ’n mens is wat omgee, kan jy ervaar dat mense jou uitmergel omdat iemand gedurig op jou steun en op jou bystand aanspraak maak. Wanneer iemand dink jy tree selfsugtig op, kan jy dit dalk met ontsteltenis afmaak omdat dit nie pas by die beeld wat jy van jouself het nie.

Daar is altyd dele van die waarheid of werklikheid wat jy nie kan sien nie. Die motoris wat voor jou injaag, is dalk ’n padvark wat niks vir ander voel nie, of ’n ontstelde pa wat hospitaal toe jaag ná sy kind van ’n dak afgeval het. Jou persepsie gaan bepaal of jy met geduld, rustigheid, irritasie, frustrasie of woede hierop gaan reageer.

’n Mens maak ook jou eie persepsies en vrese waar. Maretha is in ’n winkelsentrum en sien haar vriendin, Sanet. Sanet groet nie en verdwyn in die eerste winkel. Maretha dink dat sy haar ignoreer en nie wil groet nie, en wonder wat sy verkeerd gedoen het. ’n Paar dae later sien sy Sanet by ’n skoolgeselligheid en stap nie soos gewoonlik nader en groet haar met ’n drukkie nie. Sanet sien haar koel afsydigheid en wonder wat fout is. Sy is seergemaak en reageer ook maar koel. Toe Maretha dit sien, is haar persepsie bevestig dat Sanet haar ignoreer en dat daar fout met die vriendskap is. En eintlik was Sanet net ingedagte en het haar bloot nie in die winkelsentrum raakgesien nie.

Jou vooropgestelde gedagte of emosionele persepsiefilter laat jou dikwels dinge as negatief, positief of bedreigend beleef en goed sien wat nie eens werklik daar is nie. Wanneer jy glo jy kan mense nie vertrou nie, is onskuldige voorvalle soos iemand wat bloot laat kom, iets vergeet of ’n optelfout maak, ’n bevestiging van dié geloof.

Mense word hul eie of ander se persepsies. “Ek is goed vir niks en gaan niks bereik nie,” word jou werklikheid solank jy die persepsie glo. Glo jy uitlatings soos, “Jy sal nooit matriek slaag nie”, of “Die ekonomie is sleg en dis nie nou die beste tyd om ’n nuwe onderneming te begin nie,” sal jy keer op keer geleenthede misloop en nooit daardie nuwe onderneming aan die gang kry nie.

Baie mense glo dat hulle die produk van hul huidige lewensstorie is. Hou jy nie van jou huidige storie nie, verander net jou persepsie van jouself, jou toekoms, die wêreld, jou loopbaan en werk, die huwelik of mense in die algemeen.

Vryheid is die moontlikheid om al jou persepsies te laat vaar en net te kan wees wie jy is

Irrasionele denke wat persepsie kleur

Die donkerbril: Jy sien net die negatiewe raak, die gevare, teleurstellings en mislukkings en ontken die positiewe.
Oor-veralgemeen: Maak een voorval die norm. Gebruik woorde soos “altyd”, “nooit” en “almal”. Mense is óf goed óf sleg.
Katastrofering: Jy verwag vreesagtig die ergste. Bekommer jou en die “wat as”-sindroom. Wat as ek dop? My werk verloor? Hy my nie aanvaar nie? Ek kan nie foute maak nie, anders is ek nie bekwaam en aanvaarbaar nie.
Emosionele redenering: Wat ek voel, is die waarheid: Ek voel ek is ’n mislukking, daarom is ek ’n mislukking.
Ek is reg, die mag kom my toe: Wat ek dink, doen, wil hê en sê, is reg. Wanneer ander van my verskil, is ek op die verdediging. Ek probeer hulle verkeerd bewys en oortuig om soos ek te dink, of my standpunt te aanvaar.
Ek gee ander die skuld – vir wat in my kinderjare gebeur het, of ander is vir my foute en hartseer verantwoordelik en dis buite my beheer. Of ek neem myself kwalik vir alles wat skeefloop: “Ek is hopeloos, dom.”
Moets en moenies: Ek moet presteer, dit doen, of nie doen nie. Ek moet kry wat ek wil hê. “Jy moet dit doen, anders het jy my nie lief nie.“
Vermyding: Dis makliker om liewer onaangename dinge te vermy as om die probleem te probeer oplos.
Martelaar-sindroom: “Ek het so hard gewerk, soveel opgeoffer en kyk wat kry ek.” Bitterheid wanneer ek nie kry wat ek wil hê nie.

Eckhart Tolle sê die grootste menslike prestasie is nie kunswerke, die wetenskap of tegnologie nie, maar die erkenning van menslike wanfunksie, want dis waarmee ons onsself en die wêreld vernietig. Selfs verskillende godsdienste wat in wese dieselfde beginsels van liefde, genade, vrede en die welstand van die mensdom en wêreld voorstaan, kan ’n bittere, verdelende en gewelddadige mag word. Mense vorm God en Sy wil na hul beeld, identiteit en volgens hul denke. Hoe meer jou gedagtes en gelowe jou identiteit raak, hoe meer sluit jy jou van ’n spirituele dimensie af en word dit noodsaaklik om jou denke en geloof aan jou absolute waarheid gelyk te stel. Wanneer ander nie soos jy glo of dink nie, is hulle verkeerd en selfs die vyand. Woede en verdediging is sprekend van ’n ooridentifisering met eie persepsies. Dis hoe sterk ons oor ons “regte” voel.

Denke sonder bewustheid en bevraagtekening is ’n tronk. Ons verknogtheid aan ons idees en goed ketting ons vas. Baie mense besef eers op hul sterfbed dat soveel dinge waaroor hulle so sterk gevoel het, eintlik betekenisloos is.

Die antwoord, sê die filosoof Jean-Paul Sartre, is dat jy bewus moet wees van wat jy dink. Eckhart Tolle noem dit ’n “mind gap”. In daardie gaping lê die moontlikheid om te verander, asook die vermoë om enigiets te kan bevraagteken en geluk, vrede, liefde, kreatiwiteit en sin te beleef en die lewe nie so ernstig op te neem nie. Vryheid is die moontlikheid om al jou persepsies te laat vaar en net te kan wees wie jy is.

Anys Rossouw is ’n sielkundige in Menlopark, Pretoria:
• 012 460 7366
anys@anys.co.za

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

5 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

6 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

6 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

6 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

6 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

6 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.