Deur Christa Swanepoel
In Engels word dit ’n pocket garden genoem. Dit beteken om tuin te maak in onbenutte en onverwagse plekkies om lewe en groenigheid te skep. Dit kan insluit: die openinge tussen stapklippe, op die rand van ’n patio, op trappies, in ’n hol boomstomp, die deel tussen die oprit na jou huis en die huis of heining. As jy nie grond het nie, kan jy ook ’n tuintjie in houers of hangmandjies skep.
Die pret van so ’n tuin is dat jy jou verbeelding kan gebruik om onbenutte plekkies in jou tuin op te kikker en jou unieke groen lafenis te skep.
Waar begin jy?
Hou die ruimte wat jy het vir ’n paar dae dop om te sien watter dele son of genoeg lig kry.
Daarna kan jy besluit of jy blomplante, net groen plante, vetplante of eetbare plante wil plant, wat voordelige insekte lok en jy boonop jou deel tot die ekostelsel kan bydra.
Daar is nie net een manier om so ’n sakpas tuin te skep nie, want dit sal van jou spesifieke plek afhang. En as dit klein hoekies en gaatjies is, moet jy daarteen waak om nie groot en aggressiewe groeiers te kies nie. Kies klein groeiers wat ’n groot indruk maak.

Voordele van so ‘n piepklein tuin
- Dit is hanteerbaar en verg minder werk.
- Jy gebruik minder water.
- Jy sal nie so baie met tuinpeste en -plae sukkel nie.
- Jy help met plantbestuiwing.
- Dit verskaf kleur in ’n andersins dooie kol.
- Jy kan jou eie kruie en groente kweek.
- As jy potte gebruik, kan dit rondgeskuif word.
- Dit verg minder bemesting.
- Jy het minder bossies om te beheer.
- Dit kos nie so baie geld nie.
- Dit kan op ’n balkon, patio of selfs trappe geskep word.
Versorg jou tuin
Al word piepklein tuine gesien as ’n tuin wat nie baie onderhoud nodig het nie, moet jy steeds die plante wat wel daar is goed versorg en gesond hou. Omdat die plante in klein ruimtes en houers groei, kan dit vinniger uitdroog. Stap elke tweede dag deur jou tuintjie en kyk of die plante water nodig het, veral op warm dae. Vetplante hoef egter eers water te kry as die grond amper heeltemal droog is.
Idees
- Potte: Dis die maklikste manier om groenigheid of kleur in ’n kaal kol te verseker.
- Hangmandjies: Plant ’n paal êrens in, bring hake aan en hang hangmandjies met plante of blomme daarteen. Hang hangmandjies op jou patio of êrens teen ’n muur.
- Vetplante: Vetplante is ideaal om ’n klipperige kol op te kikker.
- Groente: As jy nie tuingrond het nie, gebruik ’n houtkis of groeisakke om groente in te plant. Groente soos ertjies, boontjies en ranktamaties kan teen ’n vertikale oppervlak opgelei word.
- Vrugte: As jy graag ’n vrugteboom in jou tuintjie wil hê, gebruik ’n muur waarteen jy ’n boom kan lei (espalier).
- Vertikale tuin: ’n Mens kry deesdae baie nuttige stellasies wat jy teen ’n muur kan laat staan of hang en waarin jy plante kan plant. Selfs ’n ou skoensak kan daarvoor werk. Plant jou kruie daarin.
Lees ook: Doen-dit-self: Kokedama




