Fyn, fraai en vogliewend
Die nooienshaarvaring
Dié pragtige varing is een van die delikaatste van sy soort, met klein, fyn waaiervormige blare wat in liggroen bossies aan dun swart takkies groei. Die nooienshaarvaring is daarom een van die gewildste binnenshuise plante. Dit is ook ’n mooi toevoeging tot ’n tuin en word gereeld in hangmandjies geplant. Dit kan soms ’n tameletjie wees om dié varing aan die lewe te hou, maar dit is egter nie regverdig om die plant heeltemal as vol fiemies te klassifiseer nie. Net soos ander plante floreer dit onder die regte omstandighede – die belangrikste hiervan is genoeg humiditeit.
Jou nooienshaarvaring-plantgids
- Boots die plant se natuurlike groei-omstandighede (gewoonlik in die skadu van bome) na. Indirekte oggend- en middagson word aanbeveel. Vermy fel sonlig, aangesien dit die sensitiewe blaartjies gou beskadig.
- Warm, vogtige lug is ’n vereiste vir die plant om te oorleef. Plant die varing in ’n gedeelte waar die humiditeit hoog is en die temperatuur nie onder 16°C daal nie (badkamers is ideaal). Jy kan ook self humiditeit skep deur die plant gereeld met louwarm water te sproei, of die potplant langs ’n vogsproeier (humidifier) of op ’n bakkie gevul met klippies en water te sit.
- Die grond moet klam bly; voeg kunsmis of mos by om water langer te behou. Goeie dreinering is egter belangrik, aangesien die plant se wortels nie die heeltyd in water moet lê nie.
- Maak seker dat die grond ten alle tye vogtig bly. Voel elke dag aan die boonste lagie grond om te bepaal of dit water kort.
- Die nooienshaarvaring en koue briesies is nie maats nie. Maak dus seker dat die plant teen sterk wind beskerm is.
Wenk: Jy kan maklik aan die plant se blare sien of dit floreer of nie. Blare wat omkrul, bruin verkleur en afval, is ’n teken dat die varing nie genoeg water, humiditeit of die regte hoeveelheid lig ontvang nie. Moet egter nie bekommerd wees as ’n takkie se blare dan en wan verdroog en afval nie – dit is ’n doodnormale proses en as die varing al die nodige versorging ontvang, sal nuwes teruggroei. Maak seker om dooie takkies af te knip om nuwe groei te bevorder.
- (Foto: Gallo Images/Home)
- (Foto: Gallo Images / SA Garden / Elza Roux)
- (Foto: Gallo Images / SA Garden / Elza Roux)
- (Foto: Gallo Images / SA Garden / Elza Roux)
’n Kleurryke winter
Voeg ’n bietjie kleur by jou tuin met hierdie winterblommende plante.
- Groenviooltjie (Lachenalia-hibriede): Volson
- Skoenlapperamarillis (Hippeastrum papilio): Halfskadu
- Gousblom (Calendula officinalis): Volson of halfskadu
- Cineraria (Cineraria cruente): Skadu
- Sleutelblom (Primula acaulis): Skadu
- Algeriese iris (Iris Unguicularis): Volson of halfskadu
- Yslandse papawer (Papaver nudicaule): Volson
Lees ook: Beskerm jou plante teen ryp