kategorieë: Bekendes

Ralph Fiennes: Kragtoer

Dis juis Ralph Fiennes se vermoë om gelyktydig begeerte en hartseer uit te straal wat vroue wêreldwyd op hom verlief laat raak het – wie sou hom ná The English Patient (1996) kon vergeet? Selfs sy vertolking van die bose Voldemort in die Harry Potter-reeks het nie sy beeld as romantiese held laat verkrummel nie en eerder die fokus op sy veelsydigheid as akteur geplaas. Dan was daar nog sy rol as die yskoue Nazi-offisier in Schindler’s List (1993) en dié van ’n wewenaar in The Constant Gardener (2005) wat kykers oor sy ongelooflike talent aan die praat gehad het. In Coriolanus, is hy hoofrolspeler én regisseur. Dis een van William Shakespeare se minder bekende werke en Ralph (uitgespreek as “Ray-fff”) het die tydlose verhaal van oorlog, politiek en mag in ’n hedendaagse konteks (met ’n kinkel) geplaas – TV-aanbieders laat waai met Shakespeare-Engels asof dit die natuurlikste ding op aarde is!

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Hy het hoofsaaklik Oscar-wenners en toekomstige wenners vir die sleutelrolle gekies: Vanessa Redgrave is fantasties as die berekende ma wat haar seun dwing om teen sy oortuigings op te tree; Gerard Butler lewer sy beste vertolking tot nog toe in die rol van Coriolanus se aartsvyand wat hom net soveel haat as wat hy hom bewonder, en Ralph is onoortreflik as die generaal wat oorloë vir sy mense wen maar te eerlik is om aan die grille van die massa toe te gee. Uiteindelik word hy uit dieselfde stad gesmyt wat hy met sy lewe beskerm het. Die fliek het daardie heart of darkness-gevoel wat ’n mens laat dink aan Marlon Brandon in Apocalypse Now. Fiennes het ’n meesterstuk geskep.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Was jy nie skrikkerig om een van Shakespeare se onbekendste werke vir jou eerste projek as regisseur te gebruik nie?
(Hy glimlag.) Ek het geweet dat dit ’n groot projek gaan wees, maar ek was vasbeslote om die rol te vertolk. Ek het ’n sterk konsep gehad van hoe die eindproduk moes lyk. Die storie het al ’n paar jaar lank in my kop ontwikkel en toe ons uiteindelik begin skiet, het ek al heelwat van die werk gedoen. Ek was ook gelukkig om saam met die draaiboekskrywer John Logan te werk. Hy het ’n fantastiese draaiboek geskryf wat baie tot die sukses van die eindproduk bygedra het.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Was dit moeilik om regisseur én hoofspeler te wees?
Baie moeilik. Ek het mense daar gehad wat my dopgehou en raad gegee het wanneer my regie nie werk nie. As akteur leer ’n mens hoe om jou rol met oorgawe te speel, maar as regisseur het jy nog ’n paar oë nodig. In my geval (en hy lag) twee of drie paar.

Wat het jou laat besluit om die fliek in ’n Oosblokland te laat afspeel?
Die stad moes bekostigbaar wees, want ons het ’n klein begroting gehad. Belgrado het gewen! Hulle het ons toegelaat om in die Serwiese parlement en die senaatsaal te skiet. Hulle het ook baie markte gehad wat ’n pluspunt was. Die stad waarin die fliek hom afspeel, word Rome genoem, maar dis nie die Rome wat ons ken nie. Iets van daardie gevoel van die destydse onrus en geweld het in die stad behoue gebly en die atmosfeer van ons tonele versterk.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Vanessa Redgrave wat in Coriolanus jou ma speel, laat jou twee keer van plan verander? Word jy ook maklik van stryk gebring?
My eie ma is seker die enigste mens wat my van plan kon laat verander, maar sy lewe ongelukkig nie meer nie. Met hierdie fliek het ek vaste idees gehad oor hoe dit op skerm moet lyk, maar soms het die span met ander idees vorendag gekom wat my nuwe perspektief gegee het. Ja, ek sal soms my planne verander.

Jy speel gereeld karakters wat alleen of buitestanders is. Hoe voel jy oor alleenwees?
Ek heg groot waarde daaraan. Ek is aangetrokke tot karakters wat hulle afsonder. Dit was een van Coriolanus se interessantste karaktereienskappe en die een wat my oortuig het om die storie te vertel, al dink die meeste mense dis vreemd as iemand hom van die gemeenskap distansieer. Dis in ons aard om saam met ander te werk en bly. Hoewel ek vriende en familie het, vind ek dat alleenheid my help om oor dinge te na te dink.

Waaraan heg jy waarde?
Ek heg deesdae baie waarde aan my familie en hegte vriende. ’n Mens is gewoonlik so gefokus op jou werk en namate jy ouer word, kom jy agter dat jy bande gesmee het met so baie mense wat ’n belangrike rol in jou lewe gespeel het. Ek het dit altyd as vanselfsprekend aanvaar, maar nou sien ek hoe waardevol dit is.

Jy doen glo joga?
Ek is ’n groot aanhanger van joga as ’n fisieke dissipline. Dit is nie ekstreem nie en dit hou jou op jou tone. Ek gebruik dit as deel van my opwarmingsoefeninge as akteur.

Kan jy meer uitbrei oor die verhouding tussen Coriolanus en die beheer wat sy ma oor sy lewe gehad het?
Dié graad van beheer is afbrekend. Afgesien van die bydrae tot sy manlikheid en sy vaardigheid as ’n vegter, het dit die res van sy persoonlike ontwikkeling grootliks gestrem. Hy word gedefinieer deur sy ma en het geen ervaring van intieme verhoudings nie. ’n Geveg is die enigste plek waar hy kontak met ’n ander mens maak. Hy is soos ’n renperd wat geleer is om net op een manier te funksioneer. Vanessa se toneelspel is briljant, want sy kom sag en liefderyk oor, asof daar ’n band tussen hulle is, maar eintlik gaan alles net oor haar houvas op hom.

Wil jy eendag ’n gesin hê?
Ek het nie sulke planne nie (lag). Hulle sê altyd vroue het ’n biologiese wekker, maar ek dink mans het dit ook. Ek luister na my horlosie, maar ek hoor niks (lag).

Ons het jou oorspronklik leer ken in rolle wat jou sagter, romantiese kant gewys het, maar onlangs was jy die slegte ou, soos in Harry Potter en in die nuwe James Bond-fliek. Hoe het dit gebeur?
Ek was nie oortuig dat ek die rol van Voldermort in Harry Potter moes speel toe dit my aangebied is nie. Ek het nie die storie geken nie, nooit die boeke gelees of die flieks gesien nie. My susters- en broerskinders het my oortuig om dit te doen. Ek het toe pas ’n klomp ernstige dramas gedoen, soos The Constant Gardener en The White Countess waarin die karakters almal goeie ouens was en Voldemort het interessant gelyk. Ek het op my instink staatgemaak en die rol aanvaar. My vriendin wat die rolverdeling-regisseur was, het ook ’n bietjie van Volumnia (die naam van sy ma se karakter in Coriolanus) in haar persoonlikheid en sy het ook daarop aangedring dat ek Voldemort speel.

Hoe het jou broers- en susterkinders reageer?
(Sy broerskind Hero Fiennes-Tiffin het die rol van Tom Riddle, die jong Voldemort gespeel). Aan die begin was hulle beïndruk, maar namate hulle ouer geword het, al hoe minder (lag). Aanvanklik het hulle stel toe gekom, maar toe ek hulle die derde keer nooi, het hulle nie meer belang gestel nie.

Watter karakter wat jy vertolk het, het jou regtig bang gemaak?
Amon Goeth, die Nazi-offisier in Schindler’s List. Hy het regtig bestaan en daar is heelwat oor hom geskryf. Hy is nie net ’n karakter wat in een of ander fantasiewêreld bestaan nie. Dis vreeslik om te dink dat daar regtig so ’n mens was. Toe ek Harry Potter gedoen het, het kinders soms die stel besoek en nogal geskrik as hulle my sien. Een seuntjie het in trane uitgebars toe ek net verby hom geloop het (lag).

As jy ’n towerstaf gehad het, hoe sou jy die wêreld wou verander?
Daar is baie dinge in die wêreld wat moet verander, dit sou ’n baie besige towerstaf gewees het (lag). Die probleem is dat dit baie oordeelkundig gebruik moet word. Jy dink dalk jy doen die regte ding, maar as jy die staf wild en wakker rondswaai, kan jy baie dinge deurmekaar krap. Daar is baie menseregte-vergrype en misbruike wat uitgeroei moet word, maar die aarde is besig om vernietig te word. Ek sou waarskynlik die horlosie wou terugdraai om die planeet te red.

Hoe hou jy jou voete op die aarde?
Ek weet nie of ek so goed is hiermee nie. Ek wens soms ek het meer geluister na raad wat mense in die verlede vir my gegee het. Dit kan oorweldigend wees as jy gelukkig genoeg is om werk te kry. Enige akteur is honger vir werk en wil raakgesien word. So, hoe hou jy jou voete op die grond? Deur jou met goeie vriende te omring.

Jy het die rol van generaal Cominius vir die Suid-Afrikaner John Kani gegee …
Ek het van die begin af gevoel dat dié Romeinse regering verskeie etniese groepe moet insluit. Ek het ’n sterk, charismatiese, swart akteur gesoek wat ’n presidensiële rol moes speel, geïnspireer deur Barack Obama en Colin Powell. Ek wou nie net nog ’n ou wit man hiervoor gebruik nie. Ek het ander etniese groepe gebruik waar ek kon. Ek wou nie hê die regering moet soos een of ander land s’n lyk nie. John Kani is ’n fantastiese akteur wat baie menslik is maar ook ’n goeie leier kan uitbeeld. Dit het goed gewerk om hom in hierdie sentrale rol te plaas.

Jou ma is oorlede, maar hoe het sy jou beïnvloed? (Ralph is die oudste van ses kinders. Sy broer Joseph is ’n akteur, Martha is ’n regisseur, Magnas ’n komponis, Sophie ’n fliekmaker en Jacob doen bewaringswerk. Hy het ook ’n pleegbroer, Michael Enemy, wat ’n argeoloog is.)
My ma het ’n reuse-invloed op ons kinders gehad. Sy het ons aangemoedig om onsself uit te druk en was minder beïndruk deur prestasie. Sy wou ’n omgewing skep waarin ons ons kon uitleef, of dit nou musikaal, visueel of dramaties was, enigiets wat ons innerlike kon verryk. Sy het goed gedoen om ons meer bewus te maak van wat om ons aangaan en het ons gereeld na kunsuitstallings of teater toe gevat en het dikwels vir ons gelees. Ons het altyd verf en papier gehad. Sy was baie streng daaroor dat ons goed voltooi. Sy het nie daarvan gehou as ons ’n stuk papier vat en iets begin teken en dit nie klaarmaak nie. Dit het ons dissipline geleer. My kindertyd bly my by.

Vertaal deur Hannelie Diedericks

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.