kategorieë: Bekendes

Sewe Dekades

Mev. 40’s

Sy ontwikkel ’n smaak vir die arbeidsmark en langbroeke omdat vroue in die oorlog moes uitspring en manswerk doen. Die einde van die Tweede Wêreldoorlog in 1945 stuur haar nie terug kombuis toe nie.
Haar rolmodelle is die lieflinge van die silwerdoek: Vivien Leigh in Gone with the Wind, Ingrid Bergman, Greta Garbo, Marlene Dietrich en Lauren Bacall.
Sy is behendig met ’n potlood: sy teken ’n “naat” vir denkbeeldige sykouse agter op haar bene en ’n dun, prominent geronde wenkbroulyn op haar gesig. Op haar smuktafel is Max Factor (1910), Nivea Crème (1911), Elizabeth Arden se Blue Grass (1934) en Chanel No 5 (1921).
In 1947 ontplof Christian Dior se New Look op die loopplank en prominent gestopte skouers, dun middeltjies, peplums en wye rompe bepaal die nuwe vroulike silhoeët.
In Suid-Afrika volg sy die opkoms van die Nasionale Party (1948) oor die radio en patriotisme, volkspele en volksfeeste is
aan die orde van die dag.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

1942 Mark Preston se droom word waar, en die eerste rooi rose sien die lig.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

1945 Die einde van die Tweede Wêreldoorlog, kort ná atoombomme die Japanse stede Hirosjima en Nagasaki platvee.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

1946 Die oupa van die rekenaars word bekend gestel. Dié rekenaar het 30 ton geweeg.

1947 Brittanje se koning George VI en sy gesin besoek Suid-Afrika. Dr. Robert Broom ontdek ’n miljoen jaar oue vroulike
skedel (“Mev. Ples”) in die Sterkfonteingrotte. Sy was vermoedelik nie ‘n prikkelpop nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

1948 Apartheid word ’n werklikheid toe dr. D.F. Malan se Herenigde Nasionale Party die algemene verkiesing wen.

Rolprente Casablanca met Humphrey Bogart en Ingrid Bergman; National Velvet met ’n jong Elizabeth Taylor en
Mickey Rooney; Lassie come Home laat die trane rol.

Boeke Animal Farm en Nineteen Eighty-Four deur George Orwell, Cry, the Beloved Country van Alan Paton.

Musiek “When You Wish upon a Star”, Bing Crosby se “White Christmas”, “Zip-a-dee-doo-dah”, Vaughn Monroe se “Riders in the Sky”. Die eerste langspeelplate verskyn in 1948.

Leefstyl In 1940 word Kolonel Sanders se Kentucky Fried Chicken die eerste keer geadverteer. In 1946 skryf die Amerikaanse pediater dr. Benjamin Spock ’n handleiding waarvolgens hy ouers aanraai om die lat te bêre. In Parys vertoon Micheline Bernardini ’n skokkende tweestuk-baaibroek wat die “bikini” genoem word.

Medies Op mediese gebied word kortisoon ontwikkel.

“Die veertigerjare is sinoniem met die Tweede Wêreldoorlog. Dat rooi rose in hierdie tydperk gebore is, spreek van die tydskrif se onstuitbare gees.” Anna-Mart van der Merwe, aktrise

Mev. 50’s

Sy twist en rock n roll met haar beehive of ’n wippende poniestert, uitskop-onderrok of denims en pedal-pushers en droom oor James Dean, Marlon Brando en Elvis terwyl sy haar bes doen om soos Marilyn Monroe, Brigitte Bardot, Gina Lollobrigida of Sophia Loren te lyk.
Sy gebruik die eerste aanrol-deodorant, Mum (1952), en danksy Coco Chanel se voorbeeld is ’n sonbruin vel hoogmode. Sy bekoor en verlei haar man met Estée Lauder se Youth Dew (1952), Diorissimo (1956) en Revlon se Intimate (1955).
In 1953 word koningin Elizabeth II gekroon en in 1958 word Suid-Afrika se pragtige Penny Coelen Mej. Wêreld.
Grace Kelly trou in 1956 met prins Rainier van Monaco. In 1959 maak die eerste Barbie-pop haar verskyning.

1950 Die bekendstelling van die handelsradiostasie, Springbokradio. Vic Toweel is die eerste Suid-Afrikaner wat ’n wêreldbokstitel wen.

1952 Die ANC begin ’n versetveldtog.

1953 Jan Smuts-lughawe word ingewy. Op 29 Mei bereik ’n Britse ekspedisie gelei deur Edmund Hillary die wêreld se hoogste piek, Everest, vier dae voor hul nuwe koningin Elizabeth gekroon word.

1954 Jonas Salk ontwikkel entstof teen polio.

1955 Die inwoners van Sophiatown word onder polisiebegeleiding hervestig.

1957 Rusland lanseer die eerste satelliet, Sputnik 1, in ’n wentelbaan om die aarde.

1958 Sowat sewe duisend babas word gebore met ernstige liggaamsgebreke nadat ma’s wêreldwyd talidomied vir oggendnaarheid gedrink het.

1959 Gary Player wen die Britse Ope. Tretchikoff, die Koning van Kitch, se skilderye verkoop soos soetkoek.

Rolprente
Rebel without a Cause is die kultusfiguur James Dean se eerste rolprent. Hy verongeluk kort ná die uitreiking daarvan. A Streetcar named Desire met Marlon Brando en Vivien Leigh maak opslae. Daar is ook die singende Seven Brides for Seven Brothers, en Marilyn Monroe se wit rok wapper in die wind in The Seven Year Itch. Drie uur lank kyk fliekgangers na die Oscarwenner Ben Hur met Charlton Heston in die hoofrol. Jamie Uys maak vir ons Daar doer in die Bosveld.

Boeke The Diary of Anne Frank, The Catcher in the Rye van J.D. Salinger, Lord of the Flies deur William Golding, die eerste deel van Lord of the Rings deur J.R.R. Tolkien. Ernest Hemingway wen die Nobelprys met The Old Man and the Sea

Musiek Almal ruk en rol saam met Bill Haley en die Comets se “Rock around the Clock”. Aanhangers swymel oor Frank Sinatra, Pat Boone, asook Doris Day se “Que Sera Sera”. Die vragmotorbestuurder Elvis (The Pelvis) Presley betower tieners met “Hound Dog” en “Love me Tender”.

Leefstyl S.J. A. de Villiers se resepteboek, Kook en Geniet, leer ’n geslag vroue kos maak. Bevrore groente en die vervaardiging van plastiekkombuisware maak vroue se lewe makliker. In 1955 word blou jeans die topverkoper onder vroue. Die hoelahoepel laat groot en klein lyfswaai.

“Sewentig! Allamapstieks! Mag jy net so deurwinter en tydloos soos die meeste van Elvis se liedjies word!
Baie geluk met jou verjaardag – moet nooit ophou rock ‘n roll nie, en hou altyd aan om ons uit te daag met jou warm blaaie en uitdagende en tydlose elegansie!”
Elma Postma, aktrise

Mev. 60’s

Sy pronk parmantig rond in hot pants, want die wêreld word op sy kop gekeer … daar is revolusie in die lug. Dis die tyd van feminisme, “make love, not war”, vrye liefde, hippies, jeugopstande, popmusiek, Twiggy se regaf lyfie, kort blonde hare en groot oë, slooprokke, OP-kuns, die twist, Francoise Hardy se lang gordynkuif en reguit hare, Julie Christie in Dr Zhivago, Elizabeth Taylor in Cleopatra en bowenal Mary Quant en die mini, wat die ooms op die platteland laat blou sweer dis die oorsaak van die droogtes en pestilensies (maar hulle hou nie op kyk nie!)
Sy leer ’n nuwe woord: sexy.
Sy bewonder die elegansie van Jackie Kennedy se klassieke pakkies en pildooshoede. Sy omlyn haar oë gitswart met dik lyne terwyl sy luister na die Beatles en die Rolling Stones en saam neurie aan “If you’re going to San Francisco, be sure to wear some flowers in your hair … ” in die nadraai van Woodstock en Flower Power. In die splinternuwe Republiek van Suid-Afrika dra sy tentrokke, oranje madeliefie-oorbelle en koop haar blou Yardley-oogskadu en vals wimpers met rand en sent ná die omskakeling na ’n desimale geldstelsel.

1960 Menseslagting by Sharpeville naby Vereeniging toe die polisie op ’n skare mense skiet wat teen die paswette betoog. Meer as vierhonderd mynwerkers sterf in die Clydesdale-steenkoolmyn se Coalbrook-skag.

1961 Suid-Afrika word ’n republiek. Die Berlynse muur word gebou om Oos- en Wes-Berlyn te skei en talle families word in twee geskeur. Albert Luthuli wen die Nobelprys vir Vrede.

1963 Lee Harvey Oswald skiet die Amerikaanse president John F. Kennedy in Dallas, Texas.

1964 Die Rivonia-verhoor. Nelson Mandela en ander vooraanstaande ANC-lede word tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis.

1965 Die digter Ingrid Jonker pleeg selfmoord. Karen Muir, ’n twaalfjarige sproetgesig van Kimberley, veroorsaak ’n opskudding toe sy die 110 tree-rugslag in ’n wêreldrekordtyd wen.

1966 Suid-Afrika se eerste minister, dr. Hendrik Verwoerd, word vermoor. Kaapstad se Distrik Ses met al sy bruin inwoners word “blank” verklaar en met stootskrapers platgestoot.

1967 Ons harte klop warm toe dr. Christiaan Barnard en sy span die wêreld se eerste hart in die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad oorplant.

1969 “One small step for man, one giant leap for mankind.” Neil Armstrong toe hy die eerste mens word wat sy voet op die maan sit.

Rolprente Audrey Hepburn verower die wêreld met haar besonderse elfie-skoonheid in My Fair Lady en Julie Andrews sing harte oop in The Sound of Music en Mary Poppins. James Bond-rolprente met beeldskone Bond-meisies soos Ursula Andress is lokettreffers en Sean Connery laat harte vinniger klop as Agent 007. Alfred Hitchcock se Psycho met Janet Leigh het fliekgangers aan die gil. En wie sal Omar Sharif se broeiende oë in Dr. Zhivago vergeet? Plaaslik het Gé Korsten en Min Shaw gehore bekoor met Hoor my Lied.

Boeke To Kill a Mockingbird deur Harper Lee, Lady Chatterley’s Lover deur D.H. Lawrence, When the Lion Feeds deur Wilbur Smith (verbied deur plaaslike sensors vanweë die sekstonele) en Catch-22 deur Joseph Heller en Ken Kesey se One flew over the Cuckoo’s Nest.

Musiek
Die mopkoppe van Liverpool, The Beatles, oorheers die musiektoneel en natuurlik steeds Elvis Presley en Cliff Richard. “Release Me” van Engelbert Humperdinck klink oral op. Bob Dylan, Jimi Hendrix en Janis Joplin verskyn op die toneel en plaaslik het ons aan Gé Korsten en Min Shaw se lippe gehang. Die student, Carike Keuzenkamp, maak haar buiging met “Timothy”.

Leefstyl Menseregte, wat ook vroueregte insluit, is voorop en die jeug neem die voortou om die ouer geslag te dwing om hul foute reg te stel. Dis ook tyd vir die twist, kaas-en-wyn onthale, vormslaaie en roomrosette. Raymond Ackerman koop vier klein winkeltjies in Kaapstad – die begin van Pick n Pay!

“Rooi Rose, as jy ’n mens-vriendin was, het ek vir jou op jou sewentigste verjaardag ’n diskobal gegee om in jou sitkamer op te hang – en elke keer wanneer jy dink die ouderdom is ’n booswig, sou jy kon opkyk en onthou dat daar tog sprankel is waar ’n mens dit die minste verwag – nét soos jy. Dankie vir die afgelope 70 jaar!” Nadia Valvekens, Aktrise

Mev. 70’s

Sy is ’n bietjie skisofrenies: sy is ’n hippie met kopbande en psigedeliese bell bottoms van crimplene, sy drink die Pil en gaan werk toe in broekpakke en platforms. Sy bestee ure in haarrollers om soos Farah Fawcett in Charlie’s Angels te lyk en disko op die musiek van Hair en The Rocky Horror Picture Show. Feministe verbrand hul bra’s in die naam van Women’s Lib en die Viëtnam-oorlog eindig in 1973.
Uiteindelik hoor sy nie meer net op die radio wat in die wêreld gebeur nie – televisie tref Suid-Afrika in 1976 en ’n hele tuisnywerheid van inheemse celebs en sepies kry gestalte. Sy kyk eerstehands op die skerm na die 1976-opstande in Soweto en hoe Suid-Afrika se Margaret Gardiner in 1978 Mej. Heelal word.
Sy spuit Revlon se Charlie (1973), wat die nommereenparfuum van die dekade word, agter haar ore en verkyk haar aan Lauren Hutton se gaping tussen haar voortande, die eerste model wat ’n kosmetiekhuis se “gesig” word – Revlon betaal haar US$100 000 hiervoor. In 1975 stel Chanel vir die eerste keer ’n skoonheidsreeks bekend.
Anneline Kriel, Sandra Prinsloo en Barbara Barnard oorheers die SA glanstydskrifte se voorblaaie. Diane Keaton se Annie Hall laat almal gryp na eksentrieke onderbaadjies, slaprandhoede en lang rompe.

1970 Winnie Mandela word onder huisarres geplaas ná sy eensame aanhouding van 17 maande uitgedien het. Die Beatles se paaie skei en die kultus-sangeres Janis Joplin en kitaarmeester Jimi Hendrix sterf.

1972
Elf lede van die Israeliese Olimpiese span sterf in ’n skietgeveg by die Spele in München.

1973 Ons kruie stadig voort toe die wêreldwye oliekrisis spoedbeperkings van 50 km/h in beboude gebiede en 80 km/h daarbuite meebring.

1974
Anneline Kriel word in 1974 Suid-Afrika se tweede Mej. Wêreld. Die Rosenkowitz-sesling word by die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad in die lewe gehelp.

1975
SA magte gaan Angola binne. Digter en skrywer Breyten Breytenbach word gearresteer toe hy Suid-Afrika met ’n vals paspoort binnekom en word tot sewe jaar tronkstraf gevonnis.

1976 Leerlinge in Soweto kom in opstand. Die skokfoto van die gewonde Hector Peterson word die wêreld ingestuur.

1977 Steve Biko sterf in polisie-aanhouding. Die VN stel sanksies teen Suid-Afrika in. Superster Elvis Presley sterf ná hy blykbaar ’n oordosis dwelms gebruik. Flater: “There is no reason for any individual to a have computer in their home.” Ken Olsen, van die Digital Equipment Corporation.

1978 Die Inligtingskandaal kelder eerste minister B.J. Vorster. PW Botha volg hom op.

1979 Die gebore Suid-Afrikaner Alan Cormack deel ’n Nobelprys vir die ontwikkeling van die CAT-skandeerder.

Rolprente Love Story (“Love means never having to say you’re sorry”) en Francis Ford Coppola se The Godfather is die gewildstes. Daar is ’n ryk oes treffers: Dirty Harry met Clint Eastwood, Jaws van Steven Spielberg, The Rocky Horror Picture Show, Rocky met Sylvester Stallone, Star Wars en ons kry diskokoors saam met John Travolta in Saturday Night Fever.

Boeke The French Lieutenant’s Woman deur John Fowles, Op die eiland van Karel Schoeman, The Conservationist deur Nadine Gordimer, Thorn Birds deur Colleen McCullough, ’n Droë wit seisoen deur André P. Brink, Magersfontein, O Magersfontein deur Etienne Leroux.

Musiek “Bridge Over Troubled Water” van Simon en Garfunkel, Don McLean se “American Pie” en Queen se grote, “Bohemian Rhapsody”. Die viertalle van Abba en Boney M sowel as Anton Goosen se “Boy van die Suburbs” laat ons sing.
Leefstyl Ons hou fondues, safari-etes en eet yskasterte! Dit is ook die tyd van sitsakke (poef), troetelklippe, macramé, ikebana en Chopper-fietse.

“Om ’n voorblad te deel met ikone soos Karin Berman, Anna-Mart van der Merwe en Minki van der Westhuizen is so ’n groot voorreg – en dan is dit boonop rooi rose se groot verjaardaguitgawe. Sjoe! Dis omtrent ’n verjaardagpresent vir my.
“Voor ek kon lees, het ek deur my ma se rooi roses geblaai en die mooi prentjies bekyk. Toe ek uiteindelik kon lees, het ek met my ma se grimering en klere modeparade gespeel soos een van julle voorbladmeisies. En nou pronk ek sowaar op die bladsye. Baie dankie dat ek julle verjaardag saam kon vier en ek sien uit na jare en jare se leesgenot saam met julle.”
Jo-Ann Strauss oud-mejuffrou Suid-Afrika en televisie-aanbieder

Mev. 80’s

Sy dra haar disnis aan die skouerkussings van haar “power suit”, kyk Dallas en Dynasty. In 1981 sit sy saam met die res van die wêreld en kyk op televisie hoe prins Charles met die beeldskone lady Diana Spencer trou. Kort voor lank raak sy van haar Brooke Shields “big hair” ontslae om soos Shy Di te kan lyk en oefen om net so skugter en bekoorlik onder ’n kuif uit te loer. Sy voel die byt van isolasie en sanksies met sportboikotte en talle internasionale televisieprogramme wat nie in Suid-Afrika mag wys nie.
Sy raak erg lyfbewus en meld haar aan in leotards en leg warmers om aerobics op maat van Jane Fonda se video te doen. Die mini onttroon die maksi van die jare sewentig en sy leer ’n nuwe woord ken: jappies. VIGS saai verwoesting wêreldwyd en tienermeisies word slagoffers van anorexia nervosa.
In Suid-Afrika sorg die Sindikaat van Couturiers met talentvolle ontwerpers soos Chris Levin, Peter Soldatos, Elzbietha Rosenwerth, Henry Schickerling en Greta Abrahamson dat ons in pas met die mode bly en die plaaslike modebedryf beleef ’n bloeitydperk. Superwoman maak haar buiging – sy kan álles doen, van cordon bleu-maaltye tot haar kinders se wiskundehuiswerk en die maatskappy se strategiese beplanning. Teen 1990 is haar doppie geklink – die lewe is te kort om te leer hoe om ’n sampioen te stop, verklaar die opnuut bevryde vrou.
Sy is dol op die astrante, uitdagende name van haar nuwe parfuums: Poison van Dior (1985), Obsession van Calvin Klein (1985) en droom van liefde en romanse as sy Beautiful van Estée Lauder (1986) of Paris van YSL (1983) aantik. Haar grimering is natuurlik en vars sodat sy moeiteloos van die gim na die kantoor kan wip.
Sy ontdek Bio-Oil, ’n wonderolie van eie bodem wat haar vel jonk en vlekkeloos hou.

1980 ’n Versteurde aanhanger vermoor John Lennon.

1981 Nieu-Seelandse betogers maak die Springbokrugbyspan se lewe moeilik.

1982 Grace van Monaco sterf in ’n motorongeluk.

1982 Suid-Afrika stem “Ja” in die referendum.

1984 Aartsbiskop Desmond Tutu ontvang die Nobelprys vir Vrede. Zola Budd neem met ’n Britse paspoort aan die Olimpiese Spele in Los Angeles deel en “pootjie” Mary Decker in die 3 000 m.

1985 Die Koeberg-kragsentrale noord van Kaapstad kom op dreef.

1987 SAL se Boeing 747 Helderberg stort in die see naby Mauritius en almal aan boord van die vliegtuig sterf.

1989 Die Berlynse Muur val en die Koue Oorlog is verby. FW de Klerk vervang PW Botha as staatspresident en begin met hervormingsinisiatiewe.

Rolprente
Richard Gere steel vroueharte in American Gigolo. Chariots of Fire, Tootsie met Dustin Hoffman en natuurlik Steven Spielberg se ET the Extra-Terrestrial is gewilde flieks. Barbra Streisand verskyn in Yentl en “Who you gonna call” … Ghostbusters! Plaaslik het Jamie Uys se The Gods Must be Crazy ons laat skater.

Boeke
Die swerfjare van Poppie Nongena deur Elsa Joubert, The Life and Times of Michael K deur J.M. Coetzee, Kringe in ’n bos deur Dalene Matthee.

Musiek Michael Jackson stel sy langspeler “Thriller” bekend. Ander treffers: “The Lion sleeps Tonight”, “Physical” van Olivia Newton-John, UB40 se “Red Red Wine” en Bonny Tyler se hees stem met “Total Eclipse of the Heart”. En wat sou die 80’s sonder Madonna gewees het? District Six deur David Kramer en Taliep Petersen trek vol sale. Bles Bridges ook.

Leefstyl Almal sit ure lank en draai aan Rubik se kubus om die regte blokkies in ’n ry te kry. Diet Coke betree die koeldrankmark.

“Ek het grootgeword met my ma wat elke maand die rooi rose koop, so dit voel of ek “haar” al my lewe lank ken.
“Dit was vir my ’n groot eer en voorreg toe ek vir die eerste keer op rooi rose se voorblad kon verskyn en so ook al die kere daarna. Ek sou nooit kon droom dat ek so ’n spesiale band met rooi rose sou vorm nie. Dankie dat julle alles met integriteit, deernis en opregtheid doen. En dankie dat ek ’n deel kon vorm van ’n ongelooflike reis saam met julle.
“Ek gaan sorg dat daar altyd ’n rooi rose in ons huis is sodat my dogter haar ook eendag daarin kan verlustig.”
Minki van der Westhuizen, model en televisie aanbieder

Mev. 90’s


Sy ryg ’n hand vol modeneigings in – unisex, grunge, punk, terug-na-die natuur met katoen en linne en teen die einde van die eeu dra sy net waarvan sy hou en wat haar pas.
Denim bly immergroen. Haar rolmodelle is die supermodelle wat die dekade oorheers: Kate Moss, Linda Evangelista, Claudia Schiffer, Cindy Crawford, Naomi Campbell en Christy Turlington word almal skatryk as koninginne van die loopplank en boender die glansvroue van Hollywood van die voorblaaie af. Behalwe Charlize, natuurlik! ’n Hoogswanger Demi Moore verskyn poedelkaal op die voorblad van Vanity Fair.
Dit is ook die dekade van grimeerkunstenaars – Bobbi Brown en MAC word toonaangewende rolspelers; in 1990 skep Bobbi Brown ’n natuurlike voorkoms met die bekendstelling van tien neutrale skakerings lipstiffie. In Amerika word Botox vir die eerste keer as ’n kosmetiese hulpmiddel gebruik.
Lang, blonde reguit hare soos dié van Gwyneth Paltrow laat almal na warm haarstrykers gryp. Prinses Diana sterf tragies in ’n motorongeluk in Parys en die wêreld treur saam. Kort voor haar dood word die Italiaanse modeontwerper Gianni Versace in Miami vermoor en sy suster Donatella neem sy kroon oor.
Thierry Mugler se Angel (1992) word oornag ’n fenomeen en in 1997 sit Clinique se Happy letterlik ’n glimlag op ons gesig.
Model Elizabeth Hurley verskyn aan die sy van akteur Hugh Grant in ’n swart Versace-aandrok wat met haakspelde aanmekaar gehou word, oorskadu hom heeltemal en word ’n ster uit eie reg.
Juweelontwerper Jenna Clifford gee haar eerste tree as suksesvolle juweelontwerper en entrepreneur. 1990 Die verbod op die ANC word opgehef en ná 26 jaar stap Nelson Mandela by die hekke van die Victor Verster-gevangenis uit.

1991 Charlize Theron word as rooi rose se Model van die Jaar aangewys. Nadine Gordimer ontvang die Nobelprys vir Letterkunde. Sank-sies teen SA word opgehef. Queen se Freddie Mercury sterf aan VIGS.

1993
Nelson Mandela en FW de Klerk ontvang die Nobelprys vir Vrede.

1994 Suid-Afrika word ’n demokrasie, Nelson Mandela neem die leisels en die reënboognasie het eensklaps tientalle vroue in die Parlement.

1995 Francois Pienaar se Springbokke wen die Wêreldbeker.

1996 Prins Charles en prinses Diana skei. Die swemmer Penny Heyns en marathonatleet Josiah Thugwane wen goue medaljes by die Olimpiese spele in Atlanta. Bill Gates van Microsoft word die rykste mens in die wêreld.

1997 Prinses Diana sterf in ’n motorongeluk en die wêreld treur saam. Gholfspeler Ernie Els wen die Amerikaanse Ope.

1998 Die middel teen impotensie, Viagra, word bekend gestel.

1999 Madiba tree uit en Thabo Mbeki word president.

Rolprente Vroue word liries oor Julia Roberts en Richard Gere in Pretty Woman. Kevin Costner se Dances with Wolves maak skoonskip by die Oscars. Hannibal the Cannibal (Anthony Hopkins) se lus vir mensvleis in Silence of the Lambs laat almal ril en Sharon Stone wat haar bene kruis in Basic Instinct is vir die mans sag op die oog.
Die tranetrekker van die dekade is Titanic met Kate Winslet en Leonardo diCaprio.  Nog treffers verskyn soos Steven Spielberg se Schindler’s List, Pulp Fiction en Forrest Gump. Plaaslik huil ons van die lag vir There’s a Zulu on My Stoep en Panic Mechanic.

Boeke The Celestine Prophecy deur James Redfield, Men are from Mars, Women are from Venus deur John Grey, Marita van der Vyver se Griet skryf ’n sprokie, Harry Potter and the Philosopher’s Stone deur J.K. Rowling.

Musiek Die Righteous Brothers se “Unchained Melody”, Whitney Houston met “I will always love You” en Meat Loaf se “I would do anything for Love”. Wet Wet Wet sing “Love is all around” en Seal “Kiss from a Rose”. Sterre soos Alanis Morisette, Celine Dion en die Spice Girls se aanhang is groot. Plaaslik is Laurika Rauch en Valiant Swart van die gewilde sangers.

Leefstyl Gesondheidskos en Mediterreense en pastageregte is gewild. Rekenaars word tot ’n nuwe vlak verhef met die bekendstelling van Bill Gates se Microsoft Windows 95. Aardverwarming en die be-skadigde osoonlaag het die wêreld op hol. El Niño saai verwoesting.

“Elke rooi rose-artikel waarin ek die afgelope twintig jaar verskyn het, was vir my pure plesier! rooi rose is ’n tydskrif vol passie vir die lewe, liefde en skoonheid. Die 90’s is vir my ’n betekenisvolle dekade, ook vanweë die trotse dag in ons geskiedenis toe Nelson Mandela ons president geword het en aan die modefront het alle elemente van vroeëre dekades deel van die 90’s geword.” Karin Berman, styl-ikoon

Mev. 2 000’s

Sy is gemaklik met haarself en bestee nougesette aandag – en hope geld – aan haar jeugdige voorkoms. Die millennium word gekenmerk deur enorme deurbrake in teenveroudering; dit is die dekade van Botox, vullers, lasers, liposuiging en mooimaak-masjiene en -tegnologie. Die New York Times berig dat vroue wat grimering dra, 30% meer verdien as vroue wat dit nie doen nie. Verkope van superserums en -rome soos La Mer en La Prairie skiet die hoogte in.
’n Merkwaardige verskynsel is die kopskuif in persepsies oor ouderdom: Sestig word die nuwe veertig. Aktrises in hul 60’s en 70’s, soos Helen Mirren (65 in daardie rooi bikini!), Meryl Streep (62) Candice Bergen (66), Judy Densch (78) en Sophia Loren (78) ryg toprolle en pryse in en gedra hulle nie soos tradisionele oumas nie.
Ondanks die jeugobsessie is Sex and the City en Desperate Housewives se heldinne ook nie bloedjonk nie, maar o, so stylvol! En steeds is Madonna (53) op die toneel; sy verseg om oud te word en herontwerp haarself opnuut elke dekade om ’n model van tydloosheid te bly.
Ouer ma’s word mode. Hollywood-aktrises soos Nicole Kidman (40) en Halle Berry (41) stel hul eerstelinge tot in hul veertigerjare uit, terwyl Madonna op 42 haar tweede kind het.
Die Macho Camel-man verdwyn met sy Old Spice-naskeer-room oor die horison en die nuwe Metro-man gaps sy vrou se oogroom en koop sy eie Chanel, Dior en Boss Cologne. Die verkope van velsorgreekse en colognes vir mans skiet die hoogte in en die einde is lank nie in sig nie. Nivea, Clarins, L’Oréal en Dove vryf hul hande ingenome saam – die Suid-Afrikaanse mans laat die kasregisters klingel en koop hul eie vog- en nagrome.
Stilettos en platforms skiet die hoogte in en Jimmy Choo, Louis Vuitton, Gucci en Burberry kom maak hulle in Suid-Afrika se glansrykste koopsentrums tuis. Eweneens maak Mev. SA 2000 kennis met die parfuumgeure van Jo Malone wat tot dusver nog net ons Europese, Britse en Amerikaanse susters beskore was. Sy raak ’n slaaf van status-etikette en handelsmerke op handsakke, skoene en klere. Die opkoms van ’n ryk swart elite-klas in Suid-Afrika lei tot die term “Black Diamonds” – en ’n ongebreidelde ontwerpersetiket koopmanie.

2000 Die nuwe millennium breek met groot gedawer en skouspelagtige vuurwerkvertonings aan. Dis toe nie die einde van die wêreld nie. Die gevreesde Y2K-millenniumgogga het toe nie gebyt nie en die digitale werêld stort nie ineen nie.

2001 11 September. Al-Kaïda-terroriste vlieg met gekaapte vliegtuie teen twee torings van die World Trade Centre in New York vas. ’n Ander vliegtuig tref die Pentagon in Arlington, Virginia, en nog een val in Shankville, Pennsilvanië. Byna 3 000 mense sterf in die terreuraanvalle. Dennis Tito word die eerste toeris wat die ruimte besoek. Dit kos hom ’n netjiese 19 miljoen dollar.

2004 ’n Aardbewing en gevolglike tsoenami in die Indiese Oseaan ruk die wêreld toe byna 230 000 duisend mense in die watervloed in 14 lande in Suidoos-Asië sterf. Charlize Theron, die meisie van Benoni, wen ’n Oscar vir haar vertolking van die reeksmoordenaar, Aileen Wuornos in Monster.

2007 Die Springbokke wen die Rugbywêreldbeker in Frankryk.
Amerika se geldprobleme kring wêreldwyd uit.

2009 Jacob Zuma word ingehuldig as president van Suid-Afrika. Die H1N1-virus, oftewel varkgriep, breek uit. Barack Obama word die eerste swart president van Amerika.

2010 Suid-Afrika is die gasheerland van die FIFA-sokkerwêreld-beker.

2011 Osama Bin Laden word in Pakistan opgespoor en doodgemaak.

2012 Die Maja-kalender eindig … Die gewilde Afrikaanse vrouetyd-skrif, rooi rose, word sewentig jaar oud!
Wat ’n fantastiese viering dat rooi rose ’n volle sewentig jaar gehaal het! Sy is getuie van ’n leeftyd se veranderinge en stories van ongelooflike menslike prestasies.

Rolprente Die Franse rolprent Amélie, die skokkende Hotel Rwanda, Quentin Tarantino se bloedige Kill Bill 1 & 2 is treffers. Regisseur Ang Lee pak gay kwessies in Brokeback Mountain en almal is gaande oor die kunsfilm Little Miss Sunshine. Clint Eastwood maak nog ’n treffer: Gran Torino. Suid-Afrika kry ’n Oscar-benoeming vir District 9.

Boeke Agaat deur Marlene van Niekerk, Atonement deur Ian McEwan, The Kite Runner van Khaled Hosseini, The Book Thief deur Markus Zusak, Shantaram deur Gregory David Roberts. Plaaslik is almal gaande oor Deon Meyer se misdaadrillers en John van de Ruit se Spud-boeke.

Musiek Iets van alles – U2, Britney Spears, Lady Gaga, Coldplay. Die plaaslike musiekmark bars uit sy nate en groepe soos The Parlotones, die Heuwels Fantasties en %@*Polisiekar het groot aanhang. Die Afrikaanse musiekmark bly nie agter nie en Juanita du Plessis, Chris Chameleon, Jay en Lianie May is lieflinge.

Leefstyl Dit is ook die era van sosiale netwerke met die koms van Facebook en Twitter. Organiese produkte is die wagwoord en daar is ’n groot fokus op alles wat groen is. Ons moet krag spaar (plaaslik het ons deurgeloop onder Eskom se beurtkrag), herwin, die renoster red en doen wat ons kan om ons koolstofspoor klein te hou.

Wat ’n voorreg om deel van die besonderse reis te kon wees. Ek bewonder rooi rose omdat sy kon bybly met al die veranderinge, veral in die lewe van Suid-Afrikaanse vroue, en die toets van die tyd deurstaan het.  Geluk, en ek hoop daar is nog baie sulke sinvolle, stylvolle en propvol jare!” Amy Kleinhans, oud-mejuffrou Suid-Afrika en sakevrou

En tot op hede …

Vroeg in die nuwe dekade weet Mev 2 000’s reeds: Tom Ford is die millennium-man wat die nuwe eeu se neigings en voorkoms simboliseer en hy kan nie ’n voet verkeerd sit nie. Sy R300-stuk lipstiffies vlieg van die rakke en sy peperduur reeks persoonlike parfuums kry ’n kultusaanhang onder mans sowel as vroue.

Kate Middleton trou met Diana se seun prins William en volg in Diana se voetspore as ’n modieuse pasaangeer.
Dit is ’n tyd van celeb-manie, werklikheidsreekse, bottel-bruin bene (fake tans), body piercing, tatoeëring en oogomlyner in alle variasies. Naels is die nuwe bykomstighede en daar is geen einde aan wat alles met ’n stel vinger- en toonnaels aangevang kan word nie. En uiteindelik maak dokters en dermatoloë se pleitredes vir sonskerm, elke dag en heel jaar, ’n deurbraak. Sonbeddens kry ook ’n afjak.

Apple regeer – iMac, iPod, iPhone, iPad; hierdie is die i-generasie. Sonder toegang tot ’n tiener is jy tegnologies omtrent ge-strand. Slim selfone en e-pos speel klaar met private, persoonlike onbereikbaarheid soos wat die inligtingsgolf onkeerbaar oor die wêreld spoel.
En dan is daar die opmars van die i-Dols. Amper elke land het ’n eie Idols-reeks vir ’n ieder en ’n talentvolle elk wat na sterstatus smag.

Andy Warhol het destyds gesê dat elke mens op die aardbol sy eie 15 minute van faam sal smaak. Vandag se immer teenwoordige sosiale media het dit minder as vyf sekondes gemaak met ’n Twitter-twiet, ’n Facebook-“like” of ’n blink blog van kits-faam, binne ’n mini-moment, ’n oogwink-oomblik of ’n nano-sekonde.
En dan is dit oor.

Uiteindelik is die grootste versugting van die hedendaagse tydvak maar net vir meer tyd.

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.