Reise na die ewigheid

Sy gesin is op die ergste voorberei en breinskanderings het massiewe breinskade gewys. Dr. Eben Alexander sou waarskynlik nooit weer normaal wees nie – sou hy oorleef. Maar toe hy uit sy koma wakker word, het dié wetenskaplike – voorheen ongelowig – ’n topverkoperboek geskryf oor sy belewing van die hiernamaals, en hy wy nou sy lewe daaraan om mense te oortuig dat sy ervaring nie blote versinsel was nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Tog is nabydood-ervarings nie iets waaroor gewone mense maklik praat nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Ek kon twee mense opspoor wat bereid was om oor hul ervarings te praat, maar albei wou anoniem bly, want dis ongelukkig so dat die samelewing sinies oor sulke ervarings is.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Esmé*, ’n vroedvrou, het kort ná een van haar kinders se geboorte ’n nabydood-ervaring gehad.

“Geboorte en die dood lê ongemaklik na aan mekaar. ’n Mens kan dalk dink dat hierdie twee uiterstes is – teenoorgesteldes – maar eintlik is hulle eerder twee kante van dieselfde munt.”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Sy glo die meeste swanger vroue is heimlik bang dat hulle tydens geboorte sal sterf, al gebeur dit deesdae min dat ’n ma en/of baba tydens die geboorteproses sterf.

“Ek dink dis deel van ons DNS, van ons sellulêre geheue, want ons is maar die tweede, dalk derde, geslag wat redelik seker kan wees dat ons ’n swangerskap gaan oorleef. Voor die ontdekking en algemene gebruik van antibiotika was kraambedkoors, ’n nageboortelike infeksie van die uterus,’n algemene oorsaak van sterftes onder jong vroue.”

Volgens Esmé is dit nie ongewoon vir ’n vrou om in die laat stadium van kraam te vra of sy nie dalk sal doodgaan nie.

“Die membraan tussen lewe en dood is besonder deurlaatbaar rondom geboorte.”

Dít het sy twaalf jaar gelede, ná ’n normale, gesonde swangerskap, met die geboorte van haar derde kind aan eie lyf ervaar.

“Drie weke voor my verwagte datum het my water gebreek. Die kontraksies het nie dadelik begin nie, maar my vroedvrou en ginekoloog het my gerusgestel en gesê hulle gryp in so ’n situasie nie meer dadelik in nie.”

Haar dokter het antibiotika en hoë dosisse vitamien C voorgeskryf. Twee dae later is haar pragtige, gesonde dogtertjie tuis gebore. Sy het met die watergeboorte selfhipnose vir pynbeheer gebruik, en onthou dit as ’n “wonderlike, hemelse ervaring”. Sy onthou dat sy aanvanklik so goed gevoel het dat sy skaars kon glo sy is pas deur kraam. Die baba was ook gesond en rustig. ’n Paar dae ná die geboorte het sy koorsig geword met vreeslike pyn in haar bene. Op aanbeveling van haar vroedvrou is sy ginekoloog toe.

“Hy was bekommerd omdat my uterus nog nie genoeg gekrimp het nie, en die sonar het gewys daar het ’n lagie van die nageboorte agtergebly, en nie ’n stukkie, soos soms gebeur nie.”

’n Skraap was al uitweg, maar die dokter wou die volgende oggend eers ’n “dringende gholfafspraak” nakom, en sou dit die volgende middag doen. Haar man en baba sou saamkom, en sy sou ná die tyd dadelik ontslaan word. Sy was glad nie bekommerd oor die prosedure nie, maar eerder oor wat haar man sal doen as die baba begin huil, want sy wou nie hê die baba moes bottel drink en daarna haar bors weier nie.

Maar dit was ’n lewensveranderende ervaring. Kort nadat sy aan die slaap geraak het van die narkose, het sy ervaar hoedat sy “bykom”.

“Ek het gevoel asof ek bo in die hoek van die kamer dryf, en kon sien hoe paniekerig die dokters is. Die ginekoloog het gevloek en gesê ek kon doodbloei as ek so aanhou bloei.”

Nie eens medikasie in die drup het gehelp om die bloeding te stop nie. Sy onthou hoe rustig sy was, ondanks al die paniek in die teater.

“Ek het bewus geword van ’n lang vrou in swart klere. Sy was net skielik langs my. Sy het soveel liefde, begrip en kalmte uitgestraal dat ek net geweet het sy is ’n engel. Ek het ook geweet dat sy my kom haal – daar was iets so bekends aan haar. Ek het verskeurd gevoel: aan die een kant onverklaarbaar bly om haar weer te sien en haar teenwoordigheid te ervaar, aan die ander kant bekommerd oor my kinders wat nog so klein was. Ek was veral jammer dat my baba nie die voordele van borsvoeding sou ervaar nie, en het gewonder hoe ek die boodskap by my man kon kry dat hy vir haar bokmelk moes gee. Vreemd genoeg het ons later agtergekom dat sy wel ernstige allergieë het – die enigste een van my kinders met so ’n probleem. Daar het dalk tog meer in hierdie kommer gesteek as wat ek aanvanklik gedink het.”

Die vrou het Esmé gerusgestel dat sy haar kind sou borsvoed, en dat sy haar eendag sou kom haal, nie daardie dag nie.

“Ek was tegelykertyd teleurgesteld en verlig. Sy het aan my voorkop geraak en ek het alle bewustheid van die teater verloor.”

Toe Esmé in die herstelkamer wakker word, was haar man by, en sy het vir hom vertel wat in die teater gebeur het, selfs watter middel in haar drup ingespuit is. Sy het ook gesê dat die dokter haar vir binneaarse antibiotika en bloedstollingsmiddels ’n paar dae in die hospitaal sou hou.

“Toe die dokter inkom, het hy my storie probeer aflag. Totdat ek sy woorde verbatim vir hom herhaal het. Toe was hy woedend omdat die narkotiseur ‘nie sy werk gedoen het nie’ en my nie behoorlik verdoof gehou het nie. Maar ek het bly dink daar was iets meer.”

Esmé het vir weke daarna met ’n weerstandige infeksie gesukkel en byna haar uterus verloor.

“Gelukkig het ek gesond geword en daarna nog twee kosbare kinders gehad.

“Vir maande ná die ervaring was ek vreemd eufories, en ook verskeurd: oneindig dankbaar omdat ek by my kinders was, maar met ’n heimwee na daardie engel in swart en die ander dimensie wat ek weet sy verteenwoordig het. Ek was skoon depressief en het ’n soort ‘homesickness’ ervaar. Ek het verlang na my ander huis, my eerste huis, al was ek dankbaar om by my gesin te wees. Ek glo nie ek sal ooit regtig bang wees vir die dood nie. Daarvoor was die ervaring te vreedsaam.”

Manie* het ’n NDE gehad nadat hy in 1968 in ’n stilstaande bus vasgery het. “Ek het 28 frakture gehad en twee en ’n half jaar in die hospitaal deurgebring.”

Hy was so ernstig beseer dat die dokters drie weke lank niks aan sy beserings gedoen het nie.

“Hulle het gedink ek sal in elk geval doodgaan.”

Sy onder- en bobene en bekken was onder meer vergruis, en hy het drie gekraakte rugwerwels gehad. Sedertdien het hy al 28 groot ortopediese operasies gehad. Hy onthou ’n ervaring wat hy eers toegeskryf het aan die morfien waarop hy vir pynbeheer was.

“Ek het afgekyk na myself en gedink iemand moet my ore skoonmaak, want dit was steeds vol bloed.” Later het hy nog twee ervarings gehad waartydens sy gees sy liggaam verlaat het.

“Ek het net geweet ek kan nie nou doodgaan nie. Ek was aanvanklik koel en kalm toe ek besef wat gebeur, maar het toe vreeslik daarteen baklei om dood te gaan, want my vrou en kinders – toe vyf, drie en een jaar oud – het my nodig gehad.”

Manie onthou dit as ’n baie vreedsame ervaring. Hy glo God het hom ’n tweede kans gegee.

“Ek het myself destyds beskou as ’n kind van die Here, maar ek het eers lank daarna werklik tot bekering gekom.”

*Skuilname is gebruik

Ons is meer as vleis, bloed en been …

Amos van der Merwe, ’n afgetrede uroloog en deesdae skrywer, het ’n boek Facing Surgery with Christ geskryf om terminaal siek pasiënte te bemagtig. Nadat hy in ’n ernstige ongeluk was, het hy ook ’n soort NDE ervaar, iets waaroor hy skryf in SHIMMERstate. Hy glo daar is baie meer aan die mens as wat medies verklaar kan word.

“Ek glo dat ons uit iets méér as net ons liggaam bestaan. Ons het iets soos ’n siel of ’n gees. DNS kan ook nie iets soos persoonlikheid, intelligensie, houding en gedrag verklaar nie – dit word beheer deur die brein. Ons almal het ’n instink, maar wat is dit presies? En ons gewete – die kennis van goed en kwaad – is nie noodwendig aangeleerde gedrag nie.”

Hy onthou ’n spesifieke pasiënt se ervaring. “Hy was sterwend, en het dit geweet. Ek het lang tye by hom deurgebring, maar sy angs oor sy naderende dood het die laaste bietjie lewensgehalte vernietig. Tot hy my een oggend met ’n groot glimlag gegroet het, en vertel het dat daar die vorige aand twee mans in wit geklee by hom was. Hulle het vertel dat hy moet ontspan, alles is gereël en hulle sou hom daardie aand om 23:00 kom haal. Daar was vrede in sy hart, hy het die dag saam met sy kinders deurgebring, almal gegroet en my bedank vir die pad wat ons saam kon stap. Presies om 23:00 het hy sy oë toegemaak en met ’n glimlag gesterf.”

Hy vertel ook van ’n tweede pasiënt wat ná ’n motorongeluk in ’n kritieke toestand was. “Sy hart het in die waakeenheid gaan staan en ons moes 45 minute lank spook om dit weer aan die klop te kry. Ná sy herstel het hy ’n klassieke NDE beskryf, kompleet met die gevoel van vrede, buite-die-liggaam wees, en die tonnel van wit lig. Hy het ook vertel van sy teësinnigheid om na sy liggaam ‘terug te keer’.”

Nog een van sy pasiënte het vertel van die “hemelse musiek” wat sy tydens haar NDE gehoor het. “Sy was ’n musikant, wat my laat besef het dat ons dalk ‘persoonlike’ NDE’s kan beleef. So ook met ’n diereliefhebber wat haar troeteldiere wat al dood was aan die ander kant van die tonnel gekry het.”

Dink hy die mediese wêreld kan van die Goddelikheid geskei word? “Die grootste struikelblok is die Kerk se aandrang om God as ’n mensbeeld voor te hou. Tog vertel die Kerk ons moet God, die Heilige Gees en Jesus as ’n drie-eenheid sien. En wat doen ons? Ons sê maar ons verstaan nie; en aanvaar blindelings ’n onverklaarbare begrip wat ons in ’n menslyf probeer indwing. Hierdie mensbeeld bring bepaalde beperkings. Hoe kan Hy oral wees as Hy lyfgebonde is? Kan twee oë en twee ore genoeg wees om alles te sien of te hoor? En wat van die Hiernamaals? Moet ons dit regtig verbeeld as ’n plek met goue strate en pêrelpoorte? Ons probleem is dat ons op ’n fisieke God en ’n fisieke hiernamaals aandring.”

Hoe ’n mens ook al daarna kyk, dit bly ’n komplekse kwessie, en hy dink nie NDE’s kan in ’n paar paragrawe bespreek word nie.

“Die mediese wêreld erken dat die gemoedstoestand baie te doen het met weerstand en die wil om te oorleef. Hoe ook al ons die siel/gees-begrip verpak, is dit duidelik dat ons gevoelslewe en gesondheid met mekaar verweef is. ’n Dokter kan sy pasiënt nie bloot as ’n fisieke entiteit benader nie. Daar is méér in die liggaam.”

Hy aanvaar dat sommige NDE’s versinsels is en dat heelwat kreatiewe (en bewuste) denke ingespan is om van hierdie ervarings te beskryf.

“Maar ek glo NDE’s is ’n natuurlike verskynsel wat op ’n volgende dimensie van bestaan dui. Ons lewe op aarde dien bloot as voorbereiding om met die Godheid te verenig, en NDE’s is wat my betref ’n aanduiding hiervan.”

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

7 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

7 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

7 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

7 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.