Verskaf deur Penguinfilms
In plaas daarvan om nóg ‘n verrassingsgas bekend te stel, het Rian van Heerden self in die gasstoel ingeskuif en die veteraanjoernalis Ruda Landman gevra om hóm te ondervra. Dit is ‘n seldsame geleentheid om Rian aan die ander kant van die vrae te sien.
Voordat die rolle omgeruil is, het Rian en Ruda teruggekyk op haar uitsonderlike loopbaan in die joernalistiek. Sy het vertel hoe sy oor die jare die vertroue van mense gewen het tydens onderhoude en ook gesels oor die Not In My Name-veldtog wat sy en haar man, JP, ondersteun het.
Toe Rian haar vra hoe sy die kritiek rondom die veldtog hanteer het, was haar antwoord eenvoudig: “Ek het ‘n eienaardige verhouding met sosiale media, naamlik ek het geen verhouding met sosiale media nie. Ek lees dit nie. You do you and I’ll do me.”

Die veteraanjoernalis Ruda Landman. Foto: Verskaf
Die gesprek het daarna uitgebrei na die toekoms van Suid-Afrika en die invloed van Amerikaanse politiek.
Vir die tweede helfte van die program het Rian aangekondig dat hy besluit het om self die verrassingsgas te wees. Ruda het hom begin uitvra oor sy jare in radio.
“Dis wat ek mis van daai platform. Wat ons kon regkry met daai platform. Radio is ‘n magtige medium,” het Rian gesê voordat hy die storie vertel het van Sylvester, die leeu wat in 2015 uit die Karoo Nasionale Park ontsnap het. Nadat daar besluit is dat die leeu van kant gemaak sou word, het Rian en sy radioluisteraars die #SaveSylvester-veldtog laat momentum kry – ‘n veldtog wat uiteindelik gehelp het om Sylvester se lewe te red.
Ruda het hom ook gevra oor sy reputasie as iemand wat gereeld die grense op radio getoets het.
“Ek het altyd gewonder of dit doelbewustelik was en ek dink aan die begin was dit doelbewustelik. Ek wou sien wat die reaksie sou wees. Daar was ‘n tyd gewees waar jy kontroversieel moes wees as ‘n DJ. Dit was soos ‘n drug. Ek het altyd gewonder of dinge so moet wees. Hoekom kan ons dit nie bevraagteken nie? Hoekom mag ons nie sekere woorde gebruik op die lug nie? Hoekom mag ons nie oor sekere goed praat op die lug nie?”

Die veteraanjoernalis Ruda Landman en Rian van Heerden. Foto: Verskaf
Een van die mees persoonlike oomblikke van die onderhoud het gekom toe Ruda hom gevra het oor sy dokumentêre reeks, Beloofde Land, waarin hy ondersoek instel na Suid-Afrikaners wat ná Donald Trump se uitvoerende bevel na die Verenigde State verhuis het.
Rian het vertel dat sy eerste reaksie op die nuus hom self geskok het.
“Dit het my gepla. Hoekom is my eerste gedagte: ‘Where do I apply?’ Ek wat heeltyd so positief was oor die land en gesê het ons kan dit maak werk, wou gaan. Ek wou op hierdie reis gaan om te probeer vasstel of dit nog die moeite werd is om hier te bly.”
Aan die einde van dié reis, sê hy, was sy antwoord duidelik.
“Dit was vir my relatief duidelik gewees dat daar nie ‘n ander keuse is as om hier te bly nie. My wortels is te diep hierso.”
Die volledige seisoen van Laataand by Rian is op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.
