Voorverhit die oond tot 200 °C.
- Geur 4 prima riboogskywe met of sonder die ribbeen met sout en swartpeper. Braai 4 min. aan elke kant in ’n verhitte riffelpan oor hoë hitte. Pak op ’n bakplaat en rooster verder in die oond tot gaar na smaak – sowat 5-8 min. vir halfgaar/ pienk steak.
- BOONTJIES: braai 125 g (½ pak) blokkies spek in 15 ml (1 e) verhitte olyfof avokado-olie oor hoë hitte tot bros. Haal uit die pan en hou eenkant.
- Kap 1 stingel seldery, 1 groot ui, 3 klein preie, 3 klein wortels en braai in dieselfde pan met 5 ml (1 t) gekapte knoffel tot goudbruin. Gooi 60 ml (¼ k) witwyn by en laat wegkook. Voeg die spek by en meng 200g (½ blik) kersietamaties en 1 x 400 g-blik cannelini-boontjies (met die sous) deur. Hou eenkant warm.
- Maak ’n vinnige sampioensous deur 250 g (1 pakkie) gesnyde sampioene van jou keuse (soos knopie-, portobellini- of eksotiese sampioene) in 15 ml (1 e) verhitte olyfolie oor hoë hitte tot goudbruin te braai.
- Gooi 45 ml (3 e) brandewyn of port by en laat wegkook. Voeg 125 ml (½ k) room by en laat kook tot verdik. Geur met sojasous na smaak, gemaalde swartpeper en neutmuskaat.
- Indien jy jou sous dunner verkies, kan jy dit nou met ekstra room verdun.
- Sny die riboog-steak in skywe en sit voor met die sampioensous en die Provensaalse boontjies waaroor basiliekruidblare gestrooi is.
