kategorieë: ReisOntspanning

Samara: die warm hart van die Karoo

Ons was so gelukkig om vroeër vanjaar ’n uitnodiging te kry om die gasvryheid te gaan geniet van ’n baie spesiale plek. Samara Private Game Reserve is ’n privaatwildtuin van 28,300 hektaar, geleë in die Oos-Kaap. Samara dateer oorspronklik van 1997 en is saamgestel uit ’n netwerk van 11 voormalige veeplase in die Karoo wat ontstaan het uit ’n visie om die streek te herstel tot sy oorspronklike natuurlike staat.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Bewaringsfokus

In die jaar 2000 het Mark en Sarah Tompkins die eerste plaas, Monkey Valley, gekoop en mettertyd uitgebrei tot die volhoubare bewaringsgebied wat dit nou is. Sarah is steeds die direkteur van Samara, en haar dogter Isabelle is die volgende geslag wat nou die leisels begin oorneem. Die bewaringsgebied is baie divers en sluit digte bosse, berge en valleie in en beslaan ook ’n unieke plato wat bestaan uit grasveld. Oor die jare is aangeplante uitheemse plante en bome verwyder en die groei van inheemse plantegroei aangemoedig wat tot die bestaande ekosisteem gelei het soos dit nou daar uitsien. Daar word ook baie nou saam met ekologiese organisasies gewerk, en hulle fokus tans op uitgebreide aanplantings van die inheemse wonderplant, die spekboom. Dis ’n pioniersplant wat ook as veevoeding kan dien en veral ander inheemse plantegroei kan help om weer ’n vastrapplek te kry.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Gul verwelkoming

Ons het die Sondag omtrent so 12:00 op Samara aangekom, en is verwelkom deur ’n heerlike middagete op die groot stoep. Daarna kon ons uitpak en lekker rustig raak in ons lieflike huis met elke gerief wat jy moontlik kon of wou hê. Die verwelkoming is uiters spesiaal en alles moontlik word gedoen om jou tuis te laat voel. Die personeel is deurgaans hartlik en vriendelik en net mooi niks is te veel moeite nie. Moekie (Veronica le Gransie) en haar span is ongeëwenaard as dit daarby kom om jou welkom te laat voel. Margie Varney is die algemene bestuurder van Samara en is deurgaans betrokke by die welstand van gaste. Etes is hoogtepunte en deur die loop van die drie dae wat ons daar deurgebring het, het die maaltye op die spyskaart gewissel van wildschnitzel tot skaapboud en vis, met ’n pikante beesstert die laaste aand, volop groentedisse, koel slaaie en dekadente nageregte.

Skakel af!

Daar is WiFi in die hoofgebou, maar vir die res kan jy gerus jou elektroniese toestelle afskakel en die omgewing indrink om net totaal van alles te vergeet en wonderlik te rus. Bring gerus ’n verkyker, sonroom, hoed, sonbril en stapskoene asook warm klere vir die skielike aandkoue.

Van erdvarke tot jagluiperds

Rondom 15:30 vertrek ons toe saam met Jan Dunn, wildbewaarder extraordinaire, op ons eerste middag-wildrit. Daar is wyd gery en rondgekyk, nader kennis gemaak met erdvarkgate wat oral volop is, en baie geleer oor die termietneste waarop die erdvarke juis teer. Dit was interessant om die wildrit te deel met ’n lieflike gesin uit Nederland met tienerkinders, ware liefhebbers van die veld wat veral baie belang gestel het in voëls. Na ’n kort aandrit om die omgewing te verken het ons ’n smaaklike aandete saam genuttig en heerlike rooiwyn geniet. Daar het toe ook ’n jong paartjie by ons aangesluit wat vir die eerste keer sonder hul jong kind se geboorte ’n bietjie weggeglip het Karoo toe vir ’n rustydjie, en veral wou inhaal op verlore slaap. Die Karoo is voorwaar ’n magiese plek. Die natuurskoon is so ongerep en ongelooflik divers. Nêrens ter wêreld sien jy die sterre soos daar nie, hulle hang letterlik soos lae ligte aan die hemelruim.

Dis amper gewaarborg dat jy jagluiperds sal sien aangesien hulle elektroniese nekbande dra. Tydens Maandag se oggendrit neem wildbewaarder Jan Dunn ons met die wildvoertuig tot naby, maar ons stap die laaste entjie tot binne ’n paar treë van ’n jong jagluiperd waar sy salig uitgestrek onder ’n boom lê. Dit was eenvoudig ’n ongelooflike belewenis. Met die middagrit het ons weer te voet tot baie naby ’n kameelperd kon kom.

Ons was so gelukkig om ook aan die begin van ons laatmiddag uitry ’n erdvark oor die pad te sien draf. Dit was ongelooflik om die komieklike bleekwit dier met sy lang snoet in daglig te gewaar. Weer raadpleeg Jan die elektroniese toerusting en neem ons tot binne ’n paar honderd treë van drie wit renosters waar hulle rustig wei. Daar is heelwat damme, met baie watervoëls, en Jan doen moeite om die voëlliefhebbers se lysies te help aangroei. Gedurende die aandrit maak ons kennis met die skielike koue wat die Karoo saans kenmerk, en ons hoor kort-kort bobbejane veraf blaf. Maar knus onder komberse in die veldvoertuig is ons aan die saligheid oorgegee …

’n Oorvloed aan wild en voëls

Daar is ’n hele paar troppe wilde bobbejane. Hulle kuier soms op die werf rond, maar hou meestal by hulleself. Daar is ook troppe en troppe blou-ape wat tans deur Australiese navorsers bestudeer word. Die primate is glad nie indringerig of lastig nie, omdat hulle heeltemal wild is en die navorsing aan streng regulasies onderwerp is sodat die diere nie aan mense se nabye teenwoordigheid gewoond kan word nie, en veral nie mense met kos leer vereenselwig nie.

Ek het vir die eerste keer ook kennis gemaak met elande, daardie trotse diere wat oral in Santekeninge verewig is. Hulle is baie groter as wat ek my voorgestel het, en daar is troppe van hulle op Samara. Omdat die omgewing so divers is, is daar in die verskillende klimaatstreke ’n verskeidenheid diere te vinde. In die laagliggende dele sien ’n mens veral blouwildebeeste en sebras, maar bo-op die plato is daar ook swartwildebeeste en kwaggas. Ons het in ons tydjie in die veld daar vyf bakoorjakkalse gesien en ’n gebande muishond. Tel daarby die talle koedoes, rooi hartebeeste, rooibokke, gemsbokke en duikers wat ons gesien het, en jou beker loop oor. Boonop is die plek ’n voëlkykersparadys met tot 225 spesies wat daar voorkom! Die uitsig vanaf die plato oor die vlaktes van die Kamdebo het behoorlik ons asems weggeslaan.

Bederfverblyf

Ons akkommodasie was luuks en ons is behoorlik bederf. As jy saans na aandete kamer toe gaan, is jou warm bad reeds getap en jou sagte handdoeke hang aan ’n verwarmde reling. Voeg daarby die elektriese kombers en die vereduvet op die salige dubbelbed en jy’s in Karoohemel. Smiddae na ete kan jy in jou rietdakhuisie op heerlik gemaklike rusbanke ’n middagslapie geniet, of buite op die patio uitstrek en luiweg ’n boek deurblaai. Daar is ook fasiliteite vir koffie en tee (en beskuit en koekies!)en ’n yskas met lekker koue water of ander drinkgoed.

Die fasiliteite is baie goed, en daar is ’n lapa vir buite kuier as die weer dit toelaat en ’n yslike swembad waarin kinders kan afkoel en baljaar. Die lieflike tuine met pragtige koeltebome en grasperke met blomme en struike lok jou buite toe. Jy maak ook op jou omwandeling rondom die pragtige herehuis kennis met ‘n yslike skilpad of drie wat die tuin bevolk. Dié huis is die hoofgebou met twee yslike gesinskamers en beslaan ook die restaurant en kroeg, asook die kantore en ’n winkeltjie met interessante snuisterye en pragtige artikels wat in die omgewing gemaak word. Die breë kuierstoepe aan twee kante is kenmerkend van die gasvryheid van die Karoo.

Die res van die verblyf bestaande uit die individuele huise is almal net ver genoeg van mekaar geleë vir privaatheid en die stilte van die Karoo. ’n Voetpad waarlangs daar saans ligte brand verbind die huise met mekaar en die hoofgebou. Bowendien word jy altyd vir jou veiligheid in die donker na jou kamer vergesel.

Samara se besonderhede

Samara is 40 minute van Graaff-Reinet en 2.5 uur se ry van Port Elizabeth geleë

Petersburg Road (afdraai op die pad na Pearston, R63, Graaff-Reinet, 6280)

Posbus 649, Graaff-Reinet, 6280

www.samara.co.za
Besprekings: +27 (0)31 262 032427 | (0)31 262 0324 en reservations@samara.co.za
Lodge: +27 (0) 49 891 0880 | +27 (0) 49 891 0880 | Faks: +27 (0) 49 892 4339

Deel
Gepubliseer deur
Mariette Snyman

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

2 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

3 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

3 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

3 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

3 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

3 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.