kategorieë: Ons menseBekendes

Sandra Maartens gesels oor Mooimaak

Die eerste ding wat jy opmerk wanneer jy met Sandra Maartens gesels, is haar positiewe houding en meelewing. Dis byna tasbaar oor die foon. Sy het met ons gesels oor haar deelname aan die eerste seisoen van kykNET se werklikheidsprogram, Mooimaak met Clare Wiese-Wentzel, waar deelnemers die geleentheid kry om hul voorkoms te verander met behulp van ’n span kundiges.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Sandra is gebore en getoë in Port Elizabeth en het ook vir die meeste van haar kinderjare daar skoolgegaan. Sy is een van ses kinders wat hul biologiese ma vroeg verloor het. Sandra was maar vyf jaar oud toe haar ma oorlede is en omdat hulle ’n groot kroos was, moes hulle ongelukkig opgedeel word. “Mens kan nie verwag dat een gesin vir soveel kinders moet sorg nie,” vertel Sandra. Tog kon sy en haar jongste suster darem bymekaar bly deur saam in kinderhuise geplaas te word en later ook saam aangeneem te word. Sandra en die res van haar broers en susters het mekaar as kinders baie min gesien, maar hulle het steeds ’n sterk band gehad. “Weet jy, elke keer wanneer ek hoor dat broers en susters so baklei dan dink ek, ‘Jinne, julle weet nie waarop julle uitmis nie,’ want ek wou altyd so graag my broers en susters by my gehad het. Dis hoekom ons nou nog, wanneer ons mekaar sien, ’n gebeurtenis daarvan maak. Dis ’n groot geskenk om bymekaar te kan wees en ons vier dit. En ons is werklik lief vir mekaar, ons vul mekaar aan en ons is daar vir mekaar.” Sy sê dat alhoewel sy in die Kaap woon, een suster in Oos-Londen, en die res in Port Elizabeth, hulle moeite doen om mekaar te sien en in kontak te bly.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Sandra het onderwys studeer, maar het nooit as onderwyser gewerk nie. Sy was wel betrokke in verskeie bedrywe; onder andere in bemarking en sy was ook ’n personeelkonsultant. Sy, haar man en hulle kinders het ook al ’n paar keer getrek. Hulle het gewoon in Pretoria, in Gonubie buite Oos-Londen en toe uiteindelik in die Kaap waar hulle al sedert 1999 is. Sandra is veral lief vir Gonubie. Volgens haar is dit die “mees fantastiese plek in die wêreld. Dit voel soos ’n vakansie-oord!” Hulle het Kaap toe getrek sodat haar man sy besigheid van die grond af kon kry. Omdat dit nie speletjies is om ’n maatskappy te begin nie, het Sandra hom in die begin baie gehelp met die besigheid. Daarna het sy haar aandag geskoei op die grootmaak van haar kinders en om meer betrokke te wees by hul lewens. Sandra en haar man het twee volwasse kinders, een seun en een dogter. “Twee uitblinkers,” sê dié trotse ma.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Dit is veral omdat Sandra as kind nie ’n vaste fondament gehad het nie, of nie ’n raamwerk gehad het waarop sy kon bou nie, dat sy gevoel het sy wil die beste ma vir haar kinders wees. Sy vertel dat sy altyd die volgende vir haarself gesê het: “As daar een ding is wat ek graag vir die toekoms wil hê, is dit ’n fantastiese vaste fondament, ’n vaste gesin en ’n goeie basis vir my kinders. Ek sal alles in my vermoë doen om dit vir hulle te skep.”

Besig is Sandra verseker. “Ek hou van die buitelewe, ek hou van bergklim, ek gaan elke dag gimnasium toe … Ag, nie elke dag nie, net so vyf keer ’n week,” lag sy. Sandra is ’n baie aktiewe persoon en sy het die figuur om dit te bewys, maar vir haar is dit nie waaroor oefening en fiksheid gaan nie. Sy glo dat gereelde oefening vir ’n gesonde lewensuitkyk sorg. “’n Gesonde liggaam huisves ’n gesonde gees,” is haar motto. “Dit is soos om elke dag tande te borsel,” sê sy oor oefening. Sy voel ook dat oefening haar motiveer om uit haar gemaksone te beweeg en dit inspireer haar om meer dinge aan te pak. Sy hou ook van tuinwerk en kweek selfs haar eie bonsai-boompies. Deesdae au pair sy smiddae vir ’n gesin en saans doen sy huistake en sorg vir administratiewe sake.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Sandra oor haar kinders

Ek en Sandra gesels later oor haar hardwerkende kinders. Haar seun is ’n vlieënier wat saam met sy vrou in Hong Kong woon. “Ons mis hom verskriklik baie, maar ek is so trots op wat hy vermag het en om so braaf te wees om vir hulle ’n lewe daar te bou,” sê Sandra. Haar dogter het sopas haar finale jaar in Medisyne voltooi . Die dag voordat ek met Sandra gesels het, het haar dogter graad gevang. Oor haar betrokkenheid by haar kinders se lewens sê sy die volgende: “As my kinders iewers was, was ek daar. En ek was altyd daar om hulle te ondersteun.” Alhoewel Sandra baie bly is dat sy haar kinders kon ondersteun en dinge saam met hulle meemaak, weet sy dat alle ouers opofferings maak vir hulle kinders. “Mens gee nie altyd baie aandag aan jouself nie. Ek dink dis eintlik so met die meeste ma’s. Ek weet ek is nie ’n uitsondering nie, maar ek dink mens voel veral so as jy dit nie self as kind gehad het nie. Met liefde gesê het ons as ouers baie ontbeur. Jy hoor mense gaan hierheen en daarheen met vakansie, en ons het eerder die geld en tyd gebruik vir ons kinders.” Vakansies en duur besittings is glad nie vir haar belangrik nie. Om twee gelukkige en suksesvolle kinders te kan hê, en om ’n goeie verhouding met hulle te kan hê, is vir haar belangrik. “Ons twee kinders, soos hulle vandag is, is die dierbaarste mense en ek sal hulle vir niks verruil nie. As dit nie was vir ons as ouers wat van onsself teruggehou het en van onsself vir hulle gegee het nie, sou hulle nie so suksesvol gewees het soos wat hulle vandag is nie. Ek weet hulle waardeer dit en mens kan sien hoe hierdie ondersteuning hulle gehelp het om suskesvol te wees en gesonde selfvertroue te hê.”

Selfvertroue is juis die een wens wat sy vir haar kinders gehad het. Sy wou ook hê dat hulle dié selfvertroue gebruik om ander te help. Sandra het self met selfvertroue gesukkel, maar sy het besef dat as sy heeltyd in haar gemaksone gaan bly, sy nie mense sal kan bereik of ’n verskil sal kan maak nie. En, sê sy, dit is waar haar kinders haar inspireer: “Hulle is nie bang nie, hulle lewe voluit.”

Dit is juis die rede waarom sy ingeskryf het vir Mooimaak. Dit was nie soseer omdat sy ongelukkig met haar voorkoms was nie. Dit was meer omdat sy uit haar gemaksone wou beweeg en omdat sy geglo het ’n verbeterde voorkoms haar verder sou help om uit daardie gemaksone te beweeg. “Ek het die advertensie op televisie gesien waar Claire so met haar handsakkie na die klavier toe stap en mense uitnooi om deel te neem en vertel wat hulle alles aan jou voorkoms kan doen. En toe dink ek dis ’n wonderlike ding wat sy hier vir mense aanbied.” Sandra was lus om in te skryf maar sy vir weke lank daaroor gewik en weeg. “Ek het daaroor gewonder en gewonder en gewonder tot seker so twee weke voor die sperdatum van die inskrywings. Toe besluit ek dis sommer nonsens dat ek so wonder en in my gemaksone bly.” Sy het toe ingeskryf.

“Die hele Mooimaak-ervaring was baie verrykend en dit het my lewensuitkyk in meer as een opsig verander. Innerlik sowel as uiterlik het dit my positief beïnvloed. Ek het net weer besef dat dit belangrik is om jouself te versorg – nie dat ek myself nie versorg het nie, maar ek het byvoorbeeld daai goue reël van skoonheid heeltemal gemis. Dié reël is om sonblok te dra en ek het voorheen nooit daaraan geglo nie. Ek het niks daarvan gedink om ure in die son te lê nie en ek het twee keer in my lewe al sonsteek gekry. En dit los definitief sy newe-effekte op jou – al die lyne. Maar nou gaan ek amper nie eers by my voordeur uit sonder om sonroom te dra nie!”

Sy was nie besonders selfbewus oor enige spesifieke aspekte van haar voorkoms nie, maar sy sien nou ’n groot verskil ná Mooimaak. Haar witter tande staan veral vir haar uit. “Soos mens ouer word, word jou tande mos maar geler en dit was lekker om skielik in die spieël te kyk en spierwit tande te sien.” Ander aspekte van haar voorkoms waaroor sy nou baie gelukkig is, is die CO2-behandelings wat haar vel gladder gemaak het en die sonvlekke weggeneem het. “My frons is ook versag,” voeg sy by oor haar plooie wat nou minder is. “Ek wou nie al my plooie verloor het nie, en ek het dit ook nie verwag nie, maar dit is lekker dat die voorkoms daarvan verminder.” Sy is veral bly oor die lyn wat tussen jou neus en wange afloop na die ken toe wat versag het. “Daai lyn laat jou so kwaad lyk.” Aan die einde van die dag is dit wat binne jou aangaan, baie belangrik. “Dit is lekker om biejtie die mooi binne en buite saam te kan bring.”

Die ander twaalf deelnemers het haar ook innerlik beïnvloed. “Ek  het geweldig baie van myself geleer deur hierdie vroue.” Sy sê dat hulle almal verskillende persoonlikhede en sieninge oor die lewe het, en deur tyd met almal te spandeer, het sy baie insig oor haarself en ander gekry. “Ek het by hulle geleer dat jy net jouself moet wees en jou nie met ander mense moet vergelyk nie. Jy moet net jou beste self wees. Die Mooimaak-deelnemers kuier gereeld saam – ’n groepie van hulle het juis ’n paar dae voor die onderhoud saam gekuier. Hulle het mekaar deur die program ondersteun en hulle ondersteun mekaar steeds ná die program. Gedurende die tyd wat al die deelnemers hul behandelings ondergaan het, het hulle mekaar aangemoedig en meelewing gehad vir mekaar met die proses. Hulle sou selfs oor WhatsApp-groepe vir mekaar foto’s en boodskappe stuur en grappe maak om mekaar te bemoedig. Dit is vir Sandra ook baie lekker om die uitsendings van Mooimaak te kyk. “Ek is amper meer opgewonde om hulle episodes te sien as my eie!” roep sy uit.

“Die span by Mooimaak het my ook verstom,” vertel Sandra oor die skoonheidskundiges, die dokters, die ontvangspersoneel en die vervaardigers. “Wanneer jy deelneem aan so ’n program weet jy die behandelings is gratis, so dan wonder jy hoe jy hanteer gaan word. Maar dan kom jy daar en hulle is sulke omgeemense.”

Wat het haar geliefdes gesê?

“My dogter het my van die begin af aangemoedig om deel te neem en sy het self die foto’s vir die inskrywing geneem.” Haar susters was ook baie opgewonde oor hierdie geleentheid wat Sandra gekry het. “Hulle het na my review toe gekom!” Die liefde wat in Sandra se gesin gedeel word, is merkbaar wanneer jy so na haar luister. Haar seun, wat tydens die onthulling in Hong Kong was en dit dus nie kon bywoon nie, het vir twee van haar se susters vliegkaartjies gekoop om die geleentheid by te woon. “Hulle was vol lof!” sê sy van haar susters se reaksies. “Ek was nogal bekommerd oor wat my man sou dink want ek is nie die tipe persoon wat al ooit botox of snaakse behandelings oorweeg het nie. Ek dink hy was in die begin dalk bietjie skepties, maar toe hy sien hoe positief dit my beïnvloed het, het hy van mening verander en het hy my bygestaan.” Almal wat naby aan my is was baie positief hieroor, en dit was lekker.”

Dit was vir Sandra ook baie spesiaal om die ervaring met ander mense te kon deel. “Jy moet nooit dink jy is alleen nie, en jy moet ook nie altyd alles op jou eie probeer doen nie,” sê sy. “Dis lekkerder en beter om dit saam met ander mense te kan deel en dis belangrik om meelewing met ander te hê.” Sy voel ook dat sy bly is sy kon dit doen, want dit bewys weer die verantwoordelikheid wat jy teenoor jouself en jou situasie moet neem. “Niemand anders beheer jou nie, en niemand anders besluit wie jy moet wees nie. Jy moet verantwoordelikheid vir jouself en jou besluite neem, en jy kies self wat ’n invloed op jou het en wat nie. Jy kan nie altyd kies wat met jou gebeur nie, maar jy kan wel kies hoe jy daarop reageer en wat jy vorentoe gaan doen.”

In haar aansoek vir Mooimaak het Sandra geskryf dat sy hierdie ervaring as ’n vakansie sal sien, aangesien sy self nie baie vakansie neem nie. Sy het gesê dit sal haar vlerke gee vir die toekoms en meer selfvertroue verleen sodat sy meer mense kan aanraak. Ek het haar gevra of dit toe wel die geval was. Haar antwoord was ’n sterk “ja.” “Ek sê vir Mooimaak dankie vir die vakansie wat my vlerke en hoop gegee het en vir die geleentheid om meer van myself te kon leer – innerlik en uiterlik.”

Lees ook ons onderhoude met Sandra se mede-deelnemers Jacoline Kritzinger en Bernice du Plessis.

Een van die opknappingstegnieke wat by Mooimaak gebruik is, is Microblading. Lees hier om meer oor hierdie tegniek uit te vind

Lees hier ons onderhoud met Clare Wiese-Wentzel, die aanbieder van Mooimaak.

Deel
Gepubliseer deur
Catherine Schenck

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

6 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

6 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

6 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

6 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

7 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

7 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.