kategorieë: Bekendes

Sarah Jessica Parker: Meer as ’n modepop

Sarah Jessica Parker stap by die dakwoonstel van die Mandarin Oriental Hotel in New York in. Die wye uitsig oor Central Park is asemrowend, maar niemand kyk by die venster uit nie. Die fyn figuurtjie wat twaalf jaar lank Carrie Bradshaw in die Sex in the City-televisiereeks en twee rolprente gespeel het, staan voor jou en dis onmoontlik om weg te kyk. Sy is soos ’n kunswerk.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

As Carrie Bradshaw het sy die tydsgees van die oomblik vasgevang en in die proses ’n ikon geword; die verpersoonliking van die moderne vrou. Sex in the City het vroue uitgebeeld soos nog nooit tevore nie.Vroue met libido’s. Vroue met vriendskappe wat nie in katgevegte ontaard nie. Werkende vroue wat kwessies soos ouers wat oud word, die uitstel van ouerskap en natuurlik, die liefde, moet oplos. Boonop het hulle ontwerpersklere gedra en name soos Christian Louboutin en Manolo Blahnik aan die wêreld bekend gestel.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Hierdie nuwe geslag vroue wou alles hê en fantasties lyk. Dat hulle hiervoor ’n prys betaal het; dat dit pyn en teleurstelling en opoffering ingehou het, het elke karakter op ’n ander manier geraak. Die subteks was duidelik: vroue kan nie meer in ’n boksie gesit word nie. Ons kan wees net mooi wie ons wil wees. Ons dring daarop aan om gehoor en gesien te word; om ons eie lewe te skep eerder as om aan te pas by iemand anders se verwagting van wie ons moet wees.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Dit is maklik om die karakter met die aktrise te verwar. Albei vroue is suksesvol, eiesinnig en spog met ’n lyf wat ‘n ou sak goed kan laat lyk. Albei verskuif die modegrense. Met haar skoonheid en natuurlike aanvoeling vir styl kan Sarah Jessica wegkom met verregaande uitrustings waarin die gemiddelde vrou dit nooit op straat sal waag nie. En ja, sy dra ook daardie verspotte hoë hakke waarop haar alter ego in New York se strate rondstap.

Maar moenie dat die uiterlike ooreenkoms jou flous nie – Sarah Jessica die mens is ’n ander storie. Sy lyk broos in lewende lywe. Sy is nie popmooi nie. Haar neus is prominent, haar gesig lank en smal. Maar sy het iets wat beter is as skoonheid: sy het karakter en dit maak haar beeldskoon. Haar oë oorheers haar gesig – ’n vreemde soort turkoois wat heeltyd van kleur verander. Haar postuur laat jou aan dié van ’n ballerina dink. Vandag dra sy ’n swart kantrok met ’n lae rug van Christian Lacroix. Haar helder rooi bra skyn in die sye deur. Jou ma sou jou nooit so uit die huis laat gaan het nie! Dan is daar die persblou Nicolas Kirkwood-skoene met ses duim hoë platformhakke.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Sy oortree al die modereëls en sy lyk ongelooflik. Ja, jy vergaap jou! Sarah-Jessica is getroud met die akteur Matthew Broderick van Ferris Bueller’s Day Off-faam. Hulle hulle het ’n seun, James Wilkie en tweelingdogtertjies wat deur ’n surrogaat-ma gebore is. As ’n ouer vrou (haar woorde), was Sarah Jessica nie in staat om op die natuurlike manier geboorte te gee nie. Hulle het surrogaatskap en aanneming oorweeg, en toe op die eerste opsie besluit.Sy het in ’n Vogue-onderhoud gesê dit was ’n ongelooflike ondervinding om die tweeling vir die eerste keer te sien: “Dit was asof niks anders bestaan het nie. Tyd het stilgestaan. Dis baie anders as om geboorte te gee maar net so lewensveranderend.”

Is dit moontlik om “alles” te hê?
Ek is net soos baie ander werkende vroue, veral ma’s. Ek het nie baie ondersteuning nie, en die beloning is klein. Kry ek dit reg om alles gedoen te kry? Ek weet nie, en ek dink nie dis so belangrik nie. Ek is baie dankbaar dat ek ’n ma kan wees. Dis iets wat ek nog altyd wou wees. Ek het in ’n groot gesin grootgeword, een van agt kinders. Ek is mal oor ’n vol, chaotiese huis; oor die verhouding wat ek met my broers en susters het, selfs wanneer ons baklei het! Dit was vir my belangrik dat James Wilkie broers of susters kry. Hy is in ’n baie bevoorregte posisie, en hy moes leer om te deel en in ’n groter gemeenskap groot word. Ek sien myself eerstens as ’n ouer, tweedens as ’n eggenoot. Ek werk omdat dit ook vir my belangrik is. Dit
maak van my ’n beter ma. Ek doen my bes, al verloop alles natuurlik nie altyd vlot nie. Ek dink elke ma wat werk, sal met my saamstem.Solank almal gesond en gelukkig is, is dit goed genoeg vir my.

Word jy steeds deur die paparazzi gejag?
Dit het erger geword. Daar is gewoonlik soggens twintig tot dertig van hulle voor die huis. Hulle volg ons skool toe. Ek wil nie ondankbaar klink oor die blootstelling nie, maar kinders is nie gebruiks-goedere nie. Ek ervaar dit as indringing in ons privaatheid wanneer ek saam met my kinders is. Dis jammer dat die fotograwe dit nie besef nie. Hulle het ’n vyandige houding en probeer voor die kinders om my met snedige aanmerkings uit te lok om te reageer sodat hulle ’n foto of ’n storie kan kry .

Hoe hanteer jou seun dit?
Hy is nogal verstandig daaroor. As ek soms my humeur verloor en iets kwytraak soos: “Wat moet jou ma van jou dink!”(lag) sê hy vir my dat dit geen verskil sal maak nie, ek kan dit netsowel los. Ek is seker hy wens dit was anders. Dié soort optrede beperk die mate waarin jy dinge kan beleef. Ek is mal daaroor om kruideniersware te gaan koop, op die moltreine ry, of om saam met my kinders skool toe te loop. Maar die paparazzi se alewige teenwoordigheid verander dinge. Jy moet in ’n seepbel lewe waarbinne jy niks met die regte wêreld te doen het nie.

Wat het jy in jou klerekas?
Ek het baie ou goed in my kas; ek hou alles wat sentimenteel en van betekenis vir my is. Ek het klere wat by ’n ma pas – jeans en corduroys en toppies waarmee ek ’n kind se neus en hande kan afvee. Ruimte in New York is beperk, ek het eintlik ’n baie klein klerekas. Ek hou nie my ontwerpersklere in my kas aan nie. Daarvoor het ek ’n argief, ’n bergplek van byna honderd vierkante meter onder seevlak waarop ek baie trots is.

Wat is jou gesondheidsroetine?
Ek probeer so gereeld oefen as wat ek tussen my kinders se besige programme kan inpas. Ons bly in ’n gebou sonder hysbakke – ek klim baie trappe met kinders in my arms. Soms moet ek my seun bed toe dra en hy weeg byna 20 kg. Dit voel partykeer soos ’n ystermankompetisie! Ek hou van kos, en ly nooit honger nie.

Hoe groot is jou skoenversameling?
Ek kon alles hou wat ek tot nog toe in die reeks of in flieks gedra het.Ek bêre dit omdat ek respek het vir die kreatiwiteit, harde werk en vakmanskap wat die eindproduk verg. Klere vertel ook ’n storie van die politieke, sosiale, ekonomiese en seksuele rolle wat vroue speel.

Hoe verskil die grootmaak van ’n tweeling van dié van ’n enkelkind?
Dis baie moeiliker! En ek praat nie net van die mannekrag wat jy nodig het nie. As jy die een vashou, voel jy skuldig omdat jy nie die ander een ook op jou heup het nie. Die een wat jy nie vashou nie,sal ’n manier kry om die ander een uit jou arms uit te kry. Hulle is so slim, dis ongelooflik. Die belangrikste is om hulle nie met mekaar te vergelyk nie. Hulle is individue. Hulle verskil heeltemal van mekaar. Fisiek lyk dit nie eens of hulle verwant is nie. Hul persoonlikhede verskil ook heeltemal. En dis ’n goeie ding. Een aand laat het hulle gelyktydig histeries begin huil. My man was nie by die huis nie. Ek moes James Wilkie wakker maak om my te help. Toe Matthew soos ’n ridder op ’n wit perd by die huis kom, het hy hulle natuurlik dadelik gekalmeer.

Beskryf die tweetjies …
Tabitha is baie ambisieus. Sy is bang vir niks nie. Ons moet altyd sorg dat sy ’n sagte mussie op haar kop het, want sy staan heeltyd regop en val dadelik weer om en stamp haar kop gereeld. Die oomblik wanneer sy soggens haar oë oopmaak, kry sy nou haar “helm” op haar koppie. Loretta deurdink goed en is versigtiger. Sy is stil en eis nie baie aandag nie. Sy tree soos ’n ouer suster op, asof sy wil hê ons moet eers na Tabitha se behoeftes omsien voor ons aan haar aandag gee.

Wat gaan jy doen as die tweeling jou klere wil begin dra?
Hoekom dink jy sluit ek dit onder die seevlak toe? Enigiets wat in die huis is, is hulle s’n ook. Alles wat gevaarlik of onvanpas is, sluit ek toe. Dis hoekom ek ou klere hou waarvoor ek nie jammer is nie. Hulle kan daarmee speel. Ek sien uit daarna om my juwele vir hulle te gee sodra hulle uit die skool is. My grootste vrees is dat hulle te lank gaan wees om in my klere te pas! As hulle op 14 my grootte gaan dra, gaan ons ’n probleem hê! (lag)

Wat gee jou dryfkrag? Hoekom sit jy nie net terug en geniet jou lewe nie?
Geleenthede gee my energie. Ek het nooit gedink ek gaan so baie geleenthede kry nie. Dis fantasties. Ek is mal oor ’n uitdaging, om te werk, kreatief te wees, nuwe mense te ontmoet en nuwe dinge te leer. Ek hou daarvan om saam met ’n spul mans in ’n raadsaal te sit en oor die ekonomie te praat. Of om te sien hoe word klere ontwerp, en meer oor die tegniese sy daarvan te leer. Ek is nuuskierig.

Jy moes Marokko toe gaan vir Sex in the City 2 pas nadat jy die tweeling gekry het …
Ek was die vervaardiger en dit was beslis nie ’n goeie tyd daarvoor nie. Die moeilikste deel was om van die tweeling weg te wees. Hulle was te jonk vir hul inentings en kon nie reis nie. Boonop was hulle prematuur. Maar ek het baie ondersteuning gehad, want almal op die stel het geweet hoe swaar dit vir my was. Ek het leer Skype en daar was tye dat ek deur die rekenaarskerm wou klim net om hulle te kan ruik!

Vertaal deur Hannelie Diedericks

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

6 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

6 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

6 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

6 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

7 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

7 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.