kategorieë: Ontspanning

Sê dit met ’n soen

“SOEN MY, SOEN MY WEER EN WEER! Jou liefkosings is beter as wyn,” het selfs wyse Salomo eeue gelede al oor soene geswymel. En soene word nie net in Hooglied en minnelied besing nie, dis die hart en hoogtepunt van menige boek, gedig, rolprent en soet herinnering.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Pienkvoete deel maklik natterige oopmondsoene uit – so sonder rede en so onverklaarbaar natuurlik dat ons dit maar gelate met warm ma-harte aanvaar en vertroetel.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Maar pienkvoete word groter, en die soentradisie van Afrikaanse bloedfamilie gee hulle nagmerries en word tot elke prys omseil.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Tog loop die lewe soos hy moet, en êrens kry die soen ’n passiegeurtjie. Tieners fluister agter bakhande oor hierdie inlywing in grootwees. Potloodblikkies word altaartjies van beroemdes wat soen en troetel. Die afwagting en opwinding van die eerste soen word tot in die fynste besonderheid deurgedroom. Hoe gaan dit wees? Veel belangriker: met wie?
’n Soen is immers baie meer as die blote aanraking van lippe en die eenword van twee asems. Om só intiem met ’n ander wese om te gaan dat julle ’n asem deel, is sielstaal.

Onthou jy jou weerloosheid ná jou eerste (onbehendige) soen; die vrees dat jou adolessente, hormoongedrewe, rankerige ridder op sy dikwielfiets die geheim met sy vriende gaan deel? Jy’s jou eetlus kwyt en huil maklik. Jy lê ure in ’n donker kamer met jou teddie onder jou blad en herleef die lewensveranderende ondervinding oor en oor. Die emosies is vreemd en nuut, maar die nasmaak onbeskryflik soet.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Die soen se spore lê diep in die geskiedenis. In die Steentydperk het ma’s glo hul kos fyn gekou en met hul monde vir hul suigelinge gevoer. Vandaar die baba se instink om oopmondsoentjies uit te deel. Nog ’n teorie is dat die soen sy ontstaan te danke het aan ’n heilige en godsdienstige gebruik. Sowat 2 000 jaar v.C. is geestelike eenheid tussen broers en susters met ’n kus gesimboliseer. Die ortodokse Indiaanse stamme glo die siel en die asem is een: As jy iemand soen, word jul siele vir ewig verenig.

In wat beskryf word as die langste verhandeling oor die soen, het Martin von Kempe in 1946 Opus Polyhistoricum de Osculis gepubliseer. Volgens hom het die betekenis van die soen in die vroeë twintigste eeu ’n herlewing ondergaan. Die erotiese betekenis van die soen het sterker na vore gekom en mense het vroeë spirituele soene deur ander gebruike vervang om verleentheid te vermy. Met die toenemende bewustheid van homoseksualiteit was mans nie meer gemaklik met die ritueel van soengroet nie. Die Franse het ingegryp en die gebruik waar mans mekaar op die wang soen, die norm gemaak.

Tot in die laat agttiende eeu kon mans wat mekaar soen van sodomie aangekla word. Die soen soos geskiedenis dit geken het, se dae was getel.

Waar lê die onvergeetlike soen? Dit wag ver buite die grense van voorafdroom en beplanning. Dit raak klein oor die horison – waar woorde opraak en net die hart luister. Om só te soen, kom soms net eenkeer in ’n leeftyd. Die danser en choreograaf, Agnes de Mille het gesê: “Then I did the simplest thing in the world. I leaned down … and kissed him. And the world cracked open.”

Legendariese soene

  • Die bekendste soen is ongetwyfeld die Judaskus toe Judas vir Jesus in die tuin van Getsemane gesoen het voor hy hom verraai het.
  • Die soen in Die Slapende skoonheid waar die prins die prinses uit ’n diepe slaap wek, is ’n kosbare kinderherinnering. Tog het feministe warm onder die kraag geword oor die simboliek van die storie. Stryders vir vroueregte sê die idee dat ’n vrou ’n man nodig het om seksualiteit te laat ontwaak, is twak. Maar die teendeel gebeur waar die prinses ’n padda soen om hom weer in ’n prins te verander.
  • Die balkonsoen van wyle prinses Diana en Charles, die prins van Wallis, is deur derduisende mense gesien en verromantiseer.

Silwerdoeksoene

  • Clark Gable en Vivien Leigh se soen in Gone with the Wind is volgens ’n Internetpeiling die onvergeetlikste silwerdoeksoen.
  • Sharon Stone en Michael Douglas se Basic Instinct-soen is tweede op die lys.
  • Andie McDowell en Hugh Grant beklee die derde plek met hul soen in Four Weddings and a Funeral.

Stroomopsoene

  • Madonna en Britney Spears se soen voor ’n jillende skare, asook die storm-agtige soen tussen die twee cowboys in Brokeback Mountain is dalk van die mees omstrede soene.
  • Die Franse kus is verreweg die mees erotiese van alle soene en nie toe te pas op familie en vriende nie. Met dié soen gooi jy alle vooropgestelde Calvinistiese idees by die agterdeur uit en verdrink jou in die oomblik. Volgens Ten Facts You Need to Know about Kissing, gebruik jy vir ’n Franse soen minstens dertig spiere in jou mond. Jou hartklop styg van 70 tot 150 slae per minuut vanweë die seksuele stimulasie en opwinding.

Steel ’n soentjie …

Die wangsoen
’n Vriendelike, onskuldige ek’s-lief-vir-jou soen op die wang. Die Franse glo aan ’n kus op elke wang – eintlik meer van ’n wangvryf terwyl kusgeluide met die lippe gemaak word. Die Nederlanders gee mekaar ’n hartlike drie kusse op elke wang en ons Boere glo tradisioneel aan ’n soen op die mond. Dié gewoonte is aan die veran-der en baie mense verkies deesdae ’n hartlike drukkie met of sonder ’n soen op die een wang. As jy nog tuis voel in die ou skool, probeer om die soen immers droog te hou. Niks is erger as ’n nat soen van byna onbekendes nie.

Die voorkopsoen

Dis ’n troossoen, ’n manier om vir iemand te sê, “ek’s hier, ek wens ek kan help”.

Die kroonsoen
Ook ’n versorgende soen met min seksuele ondertone, want dit sê, “ek koester jou, jy is vir my belangrik”.

Die blitssoen
Dié soen kan romantiese ondertone dra, maar dis die ideale manier om vir jou tienerseun of -dogter – wat lankal nie meer soene van ma af wil hê nie – ’n soentjie te gee. Dis ’n vinnige soen in die verbygaan – sommer op die neus, oog, of waar ook al jy tref. Jy moet weg wees voor die gekuste tot verhaal kom.

Die piksoentjie
Dis ook ’n onskuldige, baie vinnige soentjie, maar omdat dit op die lippe is, is dié een gewis romanties van aard. Jou lippe raak die ontvanger so liggies en vlugtig aan dat hy inderdaad wonder of dit ooit gebeur het.

Die mistelsoen
Dié tradisionele een vra ’n bietjie voorbereiding, maar bly die perfekte manier om by ’n skaam geliefde ’n soentjie te steel, want julle sál in die loop van die Kerstyd vroeër of later saam onder die deurraam beland. Horingoue verleidingskunsie of nie, hang ’n Kerskransie of misteltakkies in ’n deurraam wat dikwels gebruik word … en laat dinge hul loop neem.

Die skoenlappersoen
Leun vorentoe met jou gesig net ’n haarbreedte weg van syne en fladder jou wimpers teen sy vel – soveel keer as wat jy wil. Dit vra intieme nabyheid en oorgenoeg tyd, want jy wil dit nie so afjaag dat hy dit dalk nie eens voel nie.

Die knabbelsoen
Dié een is sensueel, en jy knabbel jou maat se lippe saggies terwyl julle soen. Maar wees versigtig, want jy wil jou geliefde darem nie stukkend byt nie.

Die skouersoen
Die vel op en aan die voorkant van die skouer is gevoelig, en dus is dit ’n baie sensuele soen, veral as dit talmend gedoen word.

Die leeusoen
Sluip saggies op jou geliefde af. Gryp hom uit die bloute en byt liggies in sy nek terwyl jy saggies grom. Hy sal verras wees. Maar jy moet jou geliefde goed genoeg ken dat jy seker is hy sal hiervan hou – anders gaan hy hom vererg.

Die vampiersoen
Dis ’n ernstige, erotiese soen. Die keelvel is baie sag en as jy effe hard soen-byt is jou “merk” op jou geliefde geplaas – en is hy eksklusief joune!

Die beroemde Franse soen
Die Franse noem dit glo die Engelse soen! Dis in sommige ou kulture die sielsoen genoem omdat daar geglo is dat die siele van geliefdes tydens dié intieme soen tydelik verenig.

Die fluistersoen
Fluister soete woordjies in sy mond
terwyl julle soen. Die woorde moet so sag wees dat hy wonder wat hy hoor.

Dieetsoene
Met die soort soene ruil die soeners ’n ysblokkie, kougom, sjokolade, slukkies wyn of happies vrugte uit. Beslis nie vir almal nie.

Soenfeite

  • Vyftig persent van alle seuns soen hul eerste soen tussen 13 en 14 jaar.
  • Die langste soen in die geskiedenis het tien en ’n half uur geduur.
  • 63% van mans verkies ’n lipstiflose soen – al sê die adverteerders wat.

Aanhalings van bekendes

  • ’n Eenvoudige gebaar wat liefde, belediging of verraad kan uitbeeld. ’n Soen is nooit net ’n soen nie – Keith Thomas
  • ’n Soen is die kortste pad tussen twee mense – Youngman
  • Vroue onthou die eerste soen lank nadat mans die laaste een
  • vergeet het – Gourmont
  • ’n Soen is ontwerp deur die natuur om die mond stil te maak wanneer woorde onnodig is – Ingrid Bergman

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

3 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

4 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

4 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

4 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

4 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

4 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.