Sensitiwiteit: ’n Gawe of ’n vloek?

Deur Anys Rossouw. Foto Pexels

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Sensitiewe mense het die gawe van ’n sagte gees en ’n fyn aanvoeling en deernis vir mense, diere, die omgewing en estetika. Hul beleef, gee, leef en het die vermoë om met intensiteit lief te hê. Hul trane vloei maklik oor die mooi of oor die hartseer van die lewe. Hulle is jammer vir en het deernis met die gebrokenes. Hulle hoor reeds as kinders dikwels: “Dis nie so erg nie, dis regtig nie nodig om so te oorreageer nie – kom net daaroor. Jy sal net taaier moet word, die lewe is nie maklik nie.”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Dit beteken nie sensitiwiteit is ’n swakheid nie. Inteendeel, dis juis die vermoë om werklik fyn en intuïtief te kan voel, empatie te hê en met passie kreatief te kan wees. Sensitiewe mense ervaar groter plesier in die klein dingetjies – kos, die natuur, die kunste.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Hulle smag na outentieke, diep betekenisvolle ervarings en verhoudings. Hulle verwag respek, eerlikheid en om presies te weet waar hulle met mense in verhoudings staan. As hulle jou vertrou, gee hulle hul eerlike self met egtheid en warmte maar dubbel-boodskappe, manipulasie en onsekerhede vreet hulle op. Hulle hou mense fyn dop en lees dikwels baie en selfs te veel in ander se woorde, stemtoon en lyftaal, en indien hulle ervaar dat jy hulle verloën, verwerp, verneder of minderwaardig laat voel, sal hulle die verhouding beëindig. Dis vir hulle ’n baie pynlike ervaring en hulle sal weke en maande lank worstel met intense emosies wat wissel tussen skuldgevoelens, wrokkigheid en hartseer. Maar hulle kan nie leef met situasies wat hulle as bedreigend beleef nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Sensitiewe mense het die gawe van ’n sagte gees en ’n fyn aanvoeling en deernis vir mense, diere, die omgewing en estetika

Hoogs sensitiewe mense is dikwels weerlose, gemartelde siele wat swaar dra aan die gebrokenheid van die wêreld. Hulle beleef ander soms as wreed, ongenaakbaar en bar en voel maklik uitgebuit, gewond en te na gekom. Onskuldige of gewoon onnadenkende opmerkings sal as kwetsend, verwytend en onsensitief ervaar word. Ander mense kan weer glad nie verstaan hoe iemand so fyngevoelig kan wees en ’n bohaai oor ’n grappie of onskuldige opmerking kan maak nie. Dis belangrik om te besef dat wanneer ’n sensitiewe mens daardie selfde opmerking sou maak, dit met die intensie sou wees om iemand te wond of te verkleineer.

Hul senuwee-eindpunte is prikkelbaar, hul vel letterlik en figuurlik dunner en daarom is hoogs sensitiewe mense hipersensitief in die wyse waarop hulle sensoriese stimuli prosesseer. Sensoriese prosesserings-sensitiwiteit (SPS) is niks anders as ’n eienskap van iemand se temperament en menswees nie. Dis geen versteuring of afwyking nie. Hierdie mense is hipersensitief vir eksterne stimuli en prosesseer kognitiewe, fisieke en sosiale stimuli dieper en reageer emosioneel meer reaktief en intens.

Die navorsingsielkundiges Elaine en Arthur Aron het bevind dat 15% tot 20% van die bevolking sensories prosesseringsensitief is en dat hulle sensoriese data dieper prosesseer vanweë die aard van hul sentrale senuweestelsel. Hulle het ’n hoër respons op stimuli soos pyn, honger, harde geluide en skerp ligte, asook vir stimulante soos kafeïen wat hulle boonop baie makliker oorstimuleer. Hulle reageer meer intens en dikwels stadiger omdat die verwerkingsproses daarvan hulle langer neem. Hulle sal daarom dikwels versigtiger wees om risiko’s te neem. Omdat hulle makliker deur eksterne stimuli oorweldig word, ervaar hulle makliker stres, angstigheid en depressie wat tot slaap- en gesondheidsprobleme kan lei. Sulke mense het boonop dikwels ’n fyner aanvoeling vir die estetiese – die skone dinge van die lewe laat hulle beter voel en maak hulle oop en toeganklik.

Hul senuwee-eindpunte is prikkelbaar, hul vel letterlik en figuurlik dunner en daarom is hoogs sensitiewe mense hipersensitief in die wyse waarop hulle sensoriese stimuli prosesseer

Madeleine* sê: “My lewe lank beskuldig almal my dat ek ’n berg van ’n molshoop maak. Mense verstaan my nie. Ek moes gereeld hoor dat ek oorreageer, paranoïes is en my dinge verbeel. Ek moet leer om nie so emosioneel te wees nie, nie alles so te ontleed nie. Ek het regtig gevoel daar is fout met my. Wat blykbaar vir ander kleinighede is, soos die voortdurende eise wat aan jou gestel word, ’n oorvol skedule en ’n raserige omgewing, is vir my een te veel en mergel my uit. Ek probeer om gaaf en sensitief teenoor ander te wees maar dit bly voel asof ander sonder rede op my trap. In ’n desperate poging om te oorleef, het ek my met verloop van tyd al hoe meer onttrek en mure om my gebou.”

Ander mense se goedbedoelde pogings om sensitiewe mense te help, het dikwels juis die teenoorgestelde uitwerking. Hulle beleef jou optrede as kritiek en verwerping – hulle glo dat ander nie werklik omgee nie en hulle eintlik as minderwaardig en ontoereikend beskou. Dit verhoog hul stres, verminder hul selfvertroue en steel hul geluk.

Johan* vertel: “My vrou is ’n moeilike, oorsensitiewe mens. Dit voel of ek heeltyd op eiers loop. Sy ervaar alles as kritiek. Ek mag nie van haar verskil nie, want dan hoor ek haar nie en wil net my sin hê. Ek word voortdurend daarvan beskuldig dat ek nie omgee nie – ek het immers die aanvoeling en sensitiwiteit van ’n vis! Kyk ek televisie, is dit te hard. Die huis is deurmekaar – alles moet silwerskoon en pynlik netjies wees. As ek nie dadelik haar teksboodskap antwoord nie, is dit ’n krisis. Raas ek met die kinders, of praat ek net ernstig met hulle, skree ek. As ek met haar oor iets wil praat, is die tyd nie reg nie. Sy reageer met ontsteltenis en woede op die kleinste goedjies.”

Hoe om sensitiewe mense te hanteer

Aanvaar en hanteer hulle met deernis en nie met oordeel nie. Hul reaksies word immers bepaal deur ’n sentrale senuweestelsel wat anders as joune is.

Erken hul gevoelens; dis nie versin of oordryf nie. Hulle ervaar werklik dinge met groter intensiteit. En dis nie hulle skuld nie.
Geniet en gee ook erkenning aan die sagtheid, deernis, detail en daardie spesiale sensuele ervarings wat danksy haar sensitiwiteit deel van jul verhouding is.
Praat sagter en rustig wanneer jy naby haar staan.
Wees eerlik oor jou gevoelens. Moenie sê alles is reg wanneer dit nie is nie. Sensitiewe mense kan aanvoel wanneer dinge ’n ander loop neem en dit vreet hulle op as hulle nie weet wat die probleem is nie.
Probeer om werklik soos hoogs sensitiewe mense te luister. Sit, wees rustig, moenie advies gee of hulle probeer oortuig dat hul persepsie verkeerd is nie, of dit vir jou sin maak of nie. Luister om te verstaan wat hulle werklik ervaar.
Gun hulle die ruimte om met hul eie gedagtes en take besig te wees. Moenie hulle onderbreek, of skielik planne verander en allerhande goed op hulle stort nie. Skeduleer ’n tyd wanneer julle kan praat en sê vooraf waaroor dit gaan.
Help hulle om sensoriese stimuli, soos harde klanke en geraas, skerp, flitsende ligte en onaangename reuke wat vir hulle oorweldigend is, op ’n vlak te bestuur wat vir hulle hanteerbaar is. Sommige mense hou dalk nie van bepaalde reuke, ligte, of klanke nie, maar hoogs sensitiewe mense háát dit en kan dit nie hanteer nie.
Gun hulle die ruimte om hul omgewing en program so uit te werk dat dit vir hulle hanteerbaar is. Hulle kan vir ander veel-eisend voorkom, maar wanneer hulle voel dat daar ruimte vir hul menswees is, het hulle gewoonlik ook ruimte vir ander se behoef-tes en menswees.
Maak seker dat julle jul verwagtinge duidelik en gereeld aan mekaar kommunikeer. Jy moet weet wat die dinge is wat haar oorstimuleer en ’n emosionele reaksie gaan uitlok. Leer om saam maniere uit te werk wat albei se verwagtinge sal balanseer, of hoe om moeilike situasies met deernis en sensitiwiteit te bestuur.
Kommunikeer. Sy moet ook verstaan dat jy dit werklik anders as sy beleef, bedoel en sien. Jy moet besef dat te veel dinge wat gelyk gebeur, ’n chaos, of ’n deurmekaar omgewing tot oorstimulasie lei. Probeer saamwerk aan ’n ruimte en ’n program, maar ook ’n lewe met meer openheid en eenvoud. Gooi weg, maak minder.
Aanvaar dat al probeer jy hoe hard, daar steeds situasies gaan wees wat hom gaan ontstel en oorweldig. Hanteer dit met kalmte en skep ruimte sodat die emosie kan uitwoed. Bespreek die kwessie eers wanneer albei weer kalm is. Fokus op wat elkeen kan doen om die situasie te ontlont en ’n oplossing te kry, eerder as op wie nou eintlik reg of verkeerd is.
Onthou hulle het al soveel keer seergekry. Verseker hulle van jou liefde en bedoeling. “Niks kan ooit my liefde vir jou in gedrang bring nie. Jy sal altyd vir my spesiaal en deel van my lewe wees.”
Vra om verskoning. Ná konflik is daar altyd iets waarvoor jy om verskoning kan vra, al voel jy dit was nie jou skuld nie. Jy vra nie verskoning vir iets wat jy voel jy nie verkeerd gedoen het nie maar jy kan wel sê: “Ek is jammer dat ons baklei het”.

Wat glad nie werk nie

Kritiek, verwyte, vernederende en afbrekende opmerkings, veral rakende hul sensitiwiteit en emosies: “Jy is net oorsensitief … ” “Kom oor jouself, moenie alles so persoonlik neem nie.”
Sarkasme en grappies oor hul sensitiwiteit. Hul sien nie die humor daarin nie, maar beleef dit as bytende spot.
Speel op hul emosies en laat hulle skuldig voel: “Dis nie net jy wat gevoelens het nie … Is dit nodig om oor alles te kla?”
• Neem hulle onder kruisverhoor en peper hulle met gelaaide vrae: “Hoe seker is jy dat jy jou nie net verbeel het nie?”
• Probeer om hulle met leë beloftes gerus te stel: “Ag, dis nie so erg nie. Ontspan net, alles sal uitwerk.”
Beskuldig hulle daarvan dat hulle emosioneel is en nie logies redeneer nie.
• Laat hulle verstaan dat daar iets met hulle fout is. “Gaan spreek iemand, jy het hulp nodig. Jy maak jou dinge wys.”

Hulle is dikwels engele wie se vlerke deur die hardheid van die lewe geskroei word, maar wat soveel het om te gee

Sensitiewe mense is meestal die kampvegters teen onregverdigheid en wreedheid en maak die wêreld ’n emosioneel veiliger plek. Hulle is dikwels engele wie se vlerke deur die hardheid van die lewe geskroei word, maar wat soveel het om te gee. Hulle kan vlieg en die son vir ander gee, en wys as hulle gemaklik in hul dun velle kan wees en geliefd en aanvaar voel. Weerlose, aanvaarde en gekoesterde sensitiwiteit is die geboorteplek van kreatiwiteit, intimiteit, liefde en die vreugdevolle gevoel van hier is ek tuis, hier hoort en behoort ek.

Is jy hoogs sensitief?

• Jy ervaar emosies intens.
• Jy raak maklik emosioneel en ontsteld en huil maklik oor jou eie of ander se hartseer, of wanneer jy ’n boek lees of na ’n rolprent kyk.
Onregverdigheid, of enige vorm van geweld, is vir jou ontstellend en jy kan dit nie aanskou of hanteer nie.
• Jy tree uiters goedgemanierd en sensitief op.
• Te veel klanke, ligte, reuke, drank of sensuele ervarings kan jou maklik oorstimuleer.
• Jy is ingestel op die kreatiewe.
• Jy het jou eie ruimte nodig en hou nie van oopplanwerkplekke nie.
• Jy verkies om alleen en in ’n rustige omgewing te oefen.
• Jy kom dit dadelik agter wanneer ander ontsteld is.
Detail is belangrik en jy is oplettend.
• Jy sukkel om nee te sê en probeer ander tevrede hou.
Kritiek en konflik is baie ontstellend.
• Jy is meer bewus van die subtiele nuanses in geselskappe en mense se reaksies as die meeste mense.
• Jy is in talle opsigte perfeksionisties en kreatief.
• Die skone kunste trek jou aan. Jy hou van ’n mooi, netjiese en skoon omgewing.
• Jou liggaam is sensitief en jou pyntoleransie is nie hoog nie. Jy raak maklik siek en beleef die simptome intens.

Om sensitief te wees, is nie iets wat weggesteek of reggemaak moet word nie, want dis nie verkeerd nie. Dis wel iets waarvan mense van hulself of hul maat moet weet, erken, en moet leer om te hanteer en bestuur.

Wat sensitiewe mense kan doen

Erken jou sensitiwiteit en aanvaar dit as deel van wie jy is. Dis nie ’n fout of swakheid nie, dis net hoe jy is. Kry hulp, of ontwikkel jou eie maniere om te leer hoe om hierdie eienskap te bestuur sodat dit nie jou verhoudings versuur, jou geluk steel en jou selfbeeld aftakel nie.
• Besef dat jy jou grootste vyand kan wees. Kyk met sagtheid en empatie na jouself en jou hoë standaarde.
Geniet jou gawes: jou intuïsie, jou fyn waarneming en daardie aanvoeling wat jou dryf om goed en reg op te tree.
• Gebruik jou kreatiwiteit as ’n uitlaatklep. Skep goeie roetines: genoeg slaap, goed en reg eet en genoeg oefening. Dit sal help om oorstimulering te voorkom.
• Maak seker jy het genoeg tyd om jou batterye te herlaai. Luister na jou liggaam, anders sal jy voortdurend tussen te veel en dan weer te min stimuli fluktueer.
• Skep ’n minimalistiese lewe en omgewing: minder is vir jou meer.
• Besef daar gaan altyd mense wees wat jou nie kan verstaan nie. Hulle is anders en is dus nie doelbewus daarop uit om jou af te takel en te vermorsel nie.
• Probeer om ’n ander perspektief, asook ’n begrip vir hul menswees te ontwikkel.
• Soek ander sensitiewe mense wat jou sal verstaan en met wie jy naby-verhoudings kan bou.
• Moenie emosionele mure om jou bou wat jou teen die wêreld se onsensitiewes moet beskerm nie. Leer eerder om grense te stel met inagneming van jou behoeftes en wat jy kan hanteer en kommunikeer dit duidelik aan ander.

Anys Rossouw is ’n sielkundige in Menlopark. 012 460 7366 / anys@anys.co.za).

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

6 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

6 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

6 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

6 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

7 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

7 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.