kategorieë: InspirasieJou lewe

Shéri Brynard: gelukkig nes sy is

Voorkoms en verstandig eet

Toe Shéri klein was, vertel Susette, het ‘n pediater wat betrokke was by die stimulering van kinders met spesiale behoeftes,  die gebrek aan insig in Downsindroom en die negatiewe denke van sy tyd gedeel. “Ek was nooit kwaad daaroor nie, eerder soms moedeloos en bang. Hy het vir my gesê hy glo nie dat kinders met Downsindroom in enige opsig gehelp kan word om werklik betekenisvolle vordering te maak nie. Ondervinding het hom geleer dat eet dié kinders se grootste plesier is. Hulle kan eenvoudig nie genóég eet nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

“Hierdie eet-storie het my gehinder. Oor my dooie liggaam sou ons dogtertjie se grootste lewensvreugde éét wees. Die lewe is meer as die kos wat ’n mens eet. En sekerlik geld dit ook vir kinders met Downsindroom of enige ander vorm van gestremdheid.”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Susette het haar eie benadering gevolg, en in Shéri: nes ek is skryf Shéri só hieroor:

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

“My ma beteken die wêreld vir my en sy is – soort van – geduldig, regtig liefdevol en altyd ondersteunend. Sy druk my glad nie en alles wat ek regkry, is vir haar ’n bonus. Wanneer ek sukkel met my gewig, is sy vreeslik streng en dan vat sy my afstandbeheer van my TV weg sodat ek nie my stories kan kyk of opneem wanneer ek verkeerd eet nie. Ek weet sy doen dit met die grootste liefde omdat sy my wil help. Wanneer ek self besluit ek wil reg eet, is my ma trots op my. So, as iemand ’n kind met Downsindroom het, moet daai ma nie vir die kind jammer kry en hom toelaat om verkeerd te eet nie. Sy moet die kind leer om die regte kos te kies, al is sy nie by nie.

“My ma is baie besorg oor my gesondheid en my gewig, en ook my voorkoms. Vandat ek kan onthou, het sy my altyd gehelp om mooi te kyk wat ek eet en om gesond te lewe. Ek mag ook nie sommer met vuil hare geloop het nie. Omdat eet vir my baie lekker is en ek baie kort is, word ek maklik vet. Toe my pa nog gelewe het, was hy ook baie besorg oor my gewig. Hy het vir my gesê sodra ek 47 kilogram weeg, sal hy vir my my eie TV koop. Ek weet eintlik ek moet gesond eet, nie net om ’n TV te kry of ter wille van my ma of pa nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

“Oor my dooie liggaam sou ons dogtertjie se grootste lewensvreugde éét wees”

“Ek weeg vandag baie minder as die 47 kilogram waarvoor ek in my pa se tyd gemik het, en dis baie lekker. Ek kan self sien dat ek baie mooier lyk. Ek is gelukkig nogal gaande oor gesonde kos. Ek eet amper glad nie koolhidrate soos mielies, aartappels, pasta, pizza, beskuit, brood en koekies nie. Ek vermy ook suikers soos sjokolade, koek, lekkers en ook fudge, waarvoor ek baie lief is. Ek eet meer proteïene en vrugte, slaai en groente. Ek eet graag ’n bietjie vleis, eiers, biltong, klein kasies, Woolworths se Slimmers Choice Chips, dieetjellie, geblikte sampioene en aspersies. Ek geniet die proteïene, maar ek moet nie te veel daarvan eet nie, want dan maak dit regtig ook vet. Saans eet ek my eie nagereg soos dieet-marshmallows, -lekkers en -koekies.

“Eet bly ’n stryd vir my. Wanneer ek in die oggend op die skaal klim en ek het gewig opgetel, voel ek glad nie goed oor myself nie. Eintlik voel ek dan net stupid. Wanneer selfs vreemde mense vir my sê dat ek mooi en maer lyk, voel ek goed oor myself. Ek weet ook dat ek nie in my klere pas as ek gewig optel nie en dan gaan mense vir mekaar sê daar loop slonsige Sannie.

“Hoekom ek so sukkel om van die kos af weg te bly, weet ek glad nie. Ek drink elke dag vyf tot ses botteltjies water. Ek vra elke aand en deur die dag vir die Here om my te help. Ek wil graag mooi lyk vir myself, en dis vir my vreeslik sleg as ek en my ma oor my gewig baklei. Wanneer ek skelm eet en gewig optel, voel ek ook regtig lelik vir myself. Wanneer ek aanhou skelm eet, voel ek of ek die hele dag in ’n gat is waaruit ander mense my nie kan help nie. Net ek kan myself daar uitkry.”

Hoe Shéri die kinders in haar klas hanteer

Shèri is die enigste mens ter wêreld met Downsindroom wat ’n tersiêre onderwysdiploma (in Educare) verwerf het sonder spesiale bystand of vergunnings. Sy werk as ’n onderwysassistent by ’n pre-primêre skool vir leerders met spesiale behoeftes in haar geboortestad, Bloemfontein.

“Wanneer ek kinders nou as onderwysassistent met skryf en lees help, weet en verstaan ek dat niks vir hulle maklik voel nie. Maar ons hou aan. Ek moet, en hulle moet. Want as ’n mens stadig is, moet jy alles insit. Jy moet aanhou en aanhou, totdat mense glo jy het ook ’n plek waar jy iets vir ander mense beteken. Jy moet harder werk as ander, en jy mag nie moed verloor nie.

“Ek is bly as my kinders iets regkry. Dit maak my bly om hulle te sien lag. Ek is bekommerd as hulle koorsig of siek is. Ek sien partykeer dat van die kinders ongelukkig is. Dan wens ek dat ek en hulle na ’n koffiewinkel toe kan gaan en so kan gaan sit en praat soos wat ek en my ma praat as ek ongelukkig is. Nou ja, as ons nie in ’n koffiewinkel kan praat nie, praat ek en hulle maar op ’n bankie in die skool se tuin. As hulle hartseer is omdat hulle met iets sukkel, sê ek vir hulle ek verstaan, want ek het ook altyd so gesukkel. Dan sien ek hulle voel beter. As hulle eers weer ’n bietjie glimlag, weet ek hulle het weer moed.

“Ek en Marisa, my jonger sussie, het saam geleer toe ons op skool was. Sy kon die meeste van die goed regkry. Ek het die meeste van die tyd gesukkel. My ma het my altyd my werk laat herhaal. Dan voel ek soos ’n gek omdat ek so sukkel, maar sy het vir my mooi verduidelik dat dit deel van die lewe is om soms te sukkel. Party mense sukkel meer as ander, maar dit maak nie saak nie. Hulle moet steeds hulle bes doen.

“By die huis, aan ons eie etenstafel, moes ek leer kyk of iemand anders aan tafel iets nodig het: sout, suiker, melk, slaai. Gewone, opgevoede kinders is bedagsaam en gedissiplineerd, het my ma en my pa gesê.

“Ek weet dit is baie goed vir ’n kind met Downsindroom om ’n ma soos my ma en ’n pa soos my pa te hê. Almal is nie so gelukkig soos ek nie. Sommige ouers dink hulle kind met Downsindroom is ’n verlore saak wat niks kan leer nie. Dan word so iemand met Downsindroom baie eensaam, want mense wil nie graag vriende wees met iemand wat nie maniere het of nie sosiaal aanvaarbaar optree nie.

“Sommige kinders met Downsindroom kan baie mooi viool speel. Ek het baie kinders met Downsindroom ontmoet. Baie van hulle kan lees, en van hulle gebruik selfone en werk op hulle laptops, nes ek. Hulle het vriende, en Downsindroom is nie meer ’n tragedie in hulle gesinne en families nie.”

“As ’n mens stadig is, moet jy alles insit”

Susette voeg by:

“Shéri word moedeloos by die skool wanneer ouers nie hul kinders dissiplineer nie. Ouers moet hul kinders wat ‘anders’ is op presies dieselfde manier as hul ander kinders dissiplineer, met die verskil dat die kind moet verstaan waarom die ouer die kind dissiplineer. Normale kinders mag nie oorneem nie, so ook nie kinders met Downsindroom nie.

“Alle kinders moet na hul ouers se teregwysings luister. Die kinders moet dit van kleins af geleer word. In ’n huis moet die ouer se liefdevolle outoriteit geld, anders word die kind onbeheerbaar wanneer hy/sy grootword. Die wêreld draai nie om ’n kind met Downsindroom nie. Hulle moet inpas en aanpas en luister. Hulle kan nie altyd die middelpunt van belangstelling wil wees nie. Dis die ouers se taak om hulle te leer dis nie reg nie. Hul boeties en sussies is net so belangrik soos hulle en die normale kinders van hulle ouderdom moet net soveel aandag van almal kry as die kind met Downsindroom. Daar is ’n paar ouers wat oorreageer na die een of ander kant; òf die kind is hulle alles en die kind word bederf, òf hulle steek die kind weg. Gelukkig is die meeste ouers oulike, gebalanseerde mense wat hul kinders met gemak grootmaak om sosiaal in te pas.”

’n Besonderse boek

Shéri: nes ek is deur Shéri Brynard en Colleen Naudé (Lux Verbi, 2017, aanbevole prys R210) is by goeie boekwinkels beskikbaar.

Deel
Gepubliseer deur
Mariette Snyman

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.