kategorieë: Verhoudings

Sit die vonk terug

Op jou troue sou jy nooit kon glo dat daar ’n tyd sou kom waar jy ’n ononderbroke nagrus met jou hele hart gaan begeer nie; en nie gaan omgee wanneer jou man kom slaap nie, solank hy net die drie-uurvoeding behartig. Vergeet van roosblare en drywende kersies in die bad, al wat jy begeer, is slaap, wondersoete slaap. Of dalk is dit maar omdat julle mekaar as vanselfsprekend aanvaar en so besig is dat julle nooit meer tot stilstand kom om net op mekaar te fokus nie. Neem jou voor om weer die vlam van hartstog en romantiek aan te blaas en die onweerstaanbare dinge in mekaar raak te sien. Skep die geleentheid sodat julle mekaar onbevang(sonder bekommernisse oor die werk, kinders en begrotings) kan geniet. En onthou, dis dikwels die kleiner, toevallige dinge wat werk – jy hoef nie soetsappige versies te skryf nie.Ons het vroue van alle ouderdomme na hul blink planne uitgevra.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Middagfliek Ons een kind is in die laerskool en die ander een in die hoërskool en naweke moet ons behoorlik rondspring om hulle by sport- en sosiale verpligtinge te kry. Dit is moeilik om iets op ’n naweekaand te doen omdat jy heeltyd besig is om iemand iewers op of af telaai. En ná ’n Saterdag van rondjaag tussen sportwedstryde het ons selde lus om uit te gaan. Toe ontdek ons dat Saterdagmiddae “dooie tyd” is en dat jy heerlik kan gaan fliek en koffie drink, of selfs ’n vroeë aandete eet en weer die drade optel. Dit het ons verhouding baie meer romanties gemaak. Anna (36) en Stefan (36).

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Komplimente Komplimenteer mekaar. “Jy lyk so sexy in daai jeans,” kry  my eerder in ’n romantiese bui as ’n bos rose. Elaine (27) en Karel (28).

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Maak ’n formele afspraak Omdat ons albei voltyds werk en ons kinders nog klein is, voel ons dat naweke gesinstyd is. In die week is dit weens werkverpligtinge moeilik om in die aand uit te gaan en ons het besluit om een keer per week ’n formele afspraak met mekaar te maak vir koffie, ontbyt of ’n drankie ná werk. Ons kry dit nie altyd een keer per week reg nie, maar al is dit net elke tweede week, dwing dit ons om tot stilstand te kom en mekaar se geselskap te geniet. Arina (32) en Kobus (35).

SMS Dis nie altyd die grootse goed wat jou in die regte luim kry vir romantiek nie. Baie mense dink dis onpersoonlik om ’n SMS te stuur, maar ons stuur vir mekaar kort “stoute” SMS’e wat ons heeldag aan mekaar laat dink. Iets soos “Hmmm, gisteraand was baie lekker.” Dis iets kleins, maar herinner jou tog daaraan dat die ander een op ’n romantiese manier aan jou dink. Thea (47) en Dylan (50).

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Briefies My man het gereeld vir werk gereis toe ons jonger was en dan het ek dikwels ’n nota in sy tas tussen sy klere gelos. Sommer iets lafs en prettigs, maar hy het dit baie geniet en hy het geweet ek dink aan hom al is hy nie tuis nie. Karin (40) en Neil (41).

Bad Ons groot bederf is om saans saam te bad. Dis tog iets wat jy in elk geval moet doen – dus “mors” jy nie tyd nie. My man is nie ’n groot prater nie en ná ’n dag se werk as kleuterskooljuffrou is ek ook “uitgepraat”. Dis baie ontspannend en die nabyheid skep beslis groter kanse vir intimiteit. Soms sal die een kerse aansteek, maar selfs al sit ons net in die warm water en was mekaar se rûe, bly dit ’n intieme tydjie wat ons nader trek en wat soms tot groter pret lei. Linda (42) en Andre (50).

Hy blaas my hare droog Ek het baie lang en dik hare en my man is mal daaroor. Hy het toe in die gewoonte gekom om dit vir my oor naweke droog te blaas. Nie in ’n styl of iets nie, sommer net met sy vingers droog geblaas. Dit is baie ontspannend as iemand met jou hare vroetel en ook baie romanties. Cathy (28) en Colin (30).

Belê in romantiek Ek het vroeg in ons huwelik besluit om bewustelik in ons verhouding te belê. Ons het ook doerie tyd so vier tot vyf huweliksverrykingsessies bygewoon oor die seksuele kant van die huwelik. Ek is seker dit het my baie gehelp. Toe die drie kinders nog in die huis was, het ons twee gereeld alleen vir ’n naweek weggegaan. Noudat die kinders elders studeer, het ons nog meer pret. Ons swem laataand sonder klere en dan masseer ek hom agterna met ’n lekkerruikolie. Hoewel my seksdrang met die jare effens afgeneem het, sou ek sê ons het meer romantiek in ons huwelik as ooit tevore. Ronelle (49) en Peter (51).

Stap voor werk Ons het drie tieners in die huis en bring saans nie veel rustige tyd saam deur nie. Boonop is jy moeg ná ’n lang dag en geïrriteerd met die kinders se lang gesigte en beterweterige antwoorde. My man se cholesterol was hoog en op aanbeveling van die dokter het ons soggens vroeg  (dit was darem in die somer) vir ’n halfuur gaan stap. Ons was albei dan meer ontspanne en dit het beslis ’n hegter band geskep. Dit was heerlik om sonder enige onderbrekings net op mekaar te fokus. Suné (49) en Jan (59).

Verban die TV Ons het die TV uit die slaapkamer verban en dit deur ’n CD-speler vervang. Die TV het dikwels gemaak dat ons nooit saam gaan slaap nie omdat die een nog na iets kyk. Nou speel ons mooi musiek en lees ’n tydskrif en vind dat ons veel meer kere in ’n romantiese bui is. Louna (32) en Chris (31).

Goed versorg Ek is ’n groot vrou, sê Elisma. Daar’s geen manier dat ek my ruimfiguur in ’n deurtrekker of eina nagkleertjies gaan vertoon nie. Ek en my man sal waarskynlik so lag dat ons by niks uitkom nie! Ek maak eerder seker dat ek baie goed versorg is en altyd lekker ruik. “Oe, jy ruik so lekker,” sal hy altyd sê, en in my nek snuffel. Ek sorg ook dat ek waks waar daar gewaks moet word en andersins altyd netjies en mooi lyk. Ons is byna dertig jaar getroud en my man kan sy hande nie van my afhou nie. Elisma (53) en Juan (55).

Stort saam Ek en my man werk saam en toe die kinders uit die huis is, het ons saans omtrent niks gehad om vir mekaar te sê nie. Toe baie goeie vriende van ons ná dertig jaar skielik skei nadat húl kinders uit die huis is, het ek die gevaartekens herken. Uit die aard van sy werk moet hy ná werk gereeld kliënte spreek, maar as ek weet dat hy nie werk nie, bel ek hom as ek by die huis kom en sê hy moet probeer om vroeër huis toe te kom. Dan weet hy ook dat daar pret by die huis wag. Ons sal lekker op die stoep sit, ’n wyntjie drink en later saam gaan stort. In die stort was ons mekaar van kop tot tone en dit het nog nooit gebeur dat ons nie daarna lus gehad het vir intimiteit nie. Ellie (55) en Johan (59).

Lag is sexy My man was in die Ooste en kom toe met ’n stel satynlakens en -nagklere vir ons albei by die huis aan. Ons maak ons toe reg vir ’n heerlike romantiese aand, maar ons het nie rekening gehou daarmee dat satyn op satyn so glad soos ’n vetgesmeerde blits is nie. Ons was lam van die lag toe ons ewe romanties in die bed seil en woeps! amper tot onder in die bed skiet. Die satynlakens is agter in die kas gepak, maar tussen die gelag het ons steeds groot pret gehad. Martie (32) en Adriaan (37).

Doen dinge saam Net omdat jy ouer is en baie tyd het, beteken nie noodwendig dat jy meer dinge deel nie. Ons wend ’n daadwerklike poging aan om dinge saam te doen, sê Elna en Stan wat pas vyftig jaar getroud is. Ons probeer elke Dinsdag na die Walter Sisulu Botaniese Tuine gaan wanneer dit gratis vir senior burgers is, en stap vir ’n halfuur ’n klein staproete. Soms neem ons broodjies en koffie saam vir ’n piekniek, of gaan drink koffie by die restaurant. Die stap hou ons gesond en die samesyn hou ons in voeling met mekaar. Elna (78) en Stan (78).

Sexy danslesse Ek en my man het met dansklasse nuwe vuur in ons verhouding geblaas, sê Lindi wat 15 jaar getroud is. Ons hou van dans, maar waar kry jy nou werklik geleentheid om te dans? Toe my gimlidmaatskap boonop verval omdat ek nooit daar uitkom nie, het ek op dansklasse besluit. Ons het by een van die dansinstellings aangesluit waar jy vier gratis lesse kry om te sien of jy daarvan hou. My man het aanvanklik net ingestem omdat hy gesien het hoe graag ek dit wou doen, maar ná die proeflopie was hy die een wat voorgestel het dat ons permanent aansluit. Die dans laat ons baie sexy voel en jy hoef ook nie vreeslik goed te wees om dit te geniet nie. Boonop kry ek my oefening in. Lindi (38) en Alex (40).

Ons lees vir mekaar Pieter en Sandra is in hul sewentigerjare en lees baie aande vir mekaar. Hierdie gewoonte kom al van hul pasgetroude dae. Ek het grootgeword in ’n ouerhuis waar daar altyd saans vir mekaar voorgelees is, vertel Sandra. As daar nie ’n spesifieke televisieprogram is waarna ons wil kyk nie, skakel ons die televisie af en luister na mooi klassieke konserte, of maak beurte om vir mekaar te lees. Dit kan ernstige leesstof of ligsinnige kortverhale wees. Dan bespreek ons die storie of lag oor die grappe. Dis ’n lekker manier om iets te deel, eerder as om vaak-vaak voor die TV te sit en kla oor die swak programme. Sandra (72) en Pieter (77).

Foefies Ons is vir ’n romantiese vakansie Mauritius toe en sjokoladelyfverf het net op die rakke verskyn. Ons is albei gek na sjokolade en ek pak toe ’n botteltjie in. Ons is slim en sprei swemhanddoeke oor die spierwit bed uit en die pret begin. Dit was ’n gegiggel en gelag soos ons mekaar gekielie het met die verwery, maar toe ons die sjokolade moet begin aflek, is dit die slegste sjokolade denkbaar. Ons moes gaan stort en skrop om die sjokolade af te kry en sien toe boonop dat die handdoeke met die aansmeerdery geskuif het en ons ook die hele bed vol taai sjokolade gekry het. Ek weet nou nog nie wat die skoonmakers die volgende dag gedink het nie! Bernadine (33) en Frans (33).

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

5 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

6 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

6 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

6 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

6 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

6 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.